Sunday, January 15, 2012

Preek 15 Jan 2012

Matteus 14: 22-33

Ons het die vakansie by Porterville gaan kamp. Die kampterrein se naam is Waterval omdat daar ‘n kloof met 22 watervalle op die plaas is. Eintlik 14 watervalle en ‘n paar stroomversnellings. Dis baie mooi daar in die kloof met die watervalle en daar is ‘n staproete wat verby al die watervalle gaan. So het ek en my 2 seuns die een dag die roete gaan stap.  Dis ‘n heel gemaklike stap en die paadjie word duidelik aangedui met geel verfstrepe en pyle. Op ‘n stadium kom ons by ‘n rots waarop 2 geel pyle geteken is – in verskillende rigtings. Die een pyl wys boontoe vir mense wat op stap en die ander wys ondertoe vir mense wat terugkom op die paadjie. Die 2 pyle was nogal vir ons amusant en ons het gewonder of hulle ons wil deurmekaar maak – moet ons op, moet ons af, moet ons op, moet ons af. 
Christiaan sê toe dit laat hom dink aan die blonde grappie – hoe hou jy ‘n blonde vir ‘n paar uur besig? Jy gee vir haar ‘n vel papier waarop jy op albei kante “draai om” geskryf het.

Hierdie hele ervaring het my laat dink – is dit nie hoe ons ook voel so aan die begin van ‘n jaar nie. Aan die een kant is daar mos ‘n klomp goed wat verby is, wat afgehandel is, goed wat ons agter ons moet sit en moet los. Aan die ander is daar ‘n nuwe jaar met nuwe vooruitsigte, en planne en geleenthede wat vir ons wag. Die goed wat ek moet los en die nuwe goed wat voorlê.En dikwels is ons vasgevang tussen die goed – ek huiwer tussen die goed wat ek moet los en my vrese vir die nuwe die goed wat voorlê – en op die ou end kom ek nêrens nie.

Dit het my aan ‘n bekende teksgedeelte laat dink. Matteus 14:22-32
Jesus sê vir sy dissipels hulle moet solank ‘n boot kry en oor die see van Gallilea vaar terwyl hy berg toe gaan om te bid. Terwyl hulle daar op die bootjie is beland hulle in ‘n storm, maar die volgende dag, uit die bloute uit, sien hulle vir Jesus wat na hulle toe aangeloop kom. In vers 26 lees ons dan:
Toe sy dissipels Hom op die see sien loop, het hulle groot geskrik en gesê: “Dis 'n spook!” Van angs het hulle hard begin skreeu. Maar Jesus het dadelik met hulle gepraat en gesê: “Wees gerus, dit is Ek. Moenie bang wees nie.”     

Nadat hulle van die skok herstel het en weer tot hulle sinne gekom het, doen Petrus nogal ‘n waagmoedige ding. Vers 28:
“Here, as dit regtig U is, beveel my om op die water na U toe te kom.”

Jesus antwoord hom en sê hy moet kom. Vol bravade klim Petrus uit die skuit uit en en begin op die water na Jesus toe loop. Maar op ‘n stadium begin sy moed hom begewe. Hy raak bewus van die sterk wind en die golwe en dit maak hom bang en daar begin hy sink en hy roep uit dat Jesus hom moet red.

Jesus steek toe sy hand uit en gryp vir Petrus en sê vir hom: “kleingelowige, hoekom het jy begin twyfel?
In ander woorde: Hoekom is jou vrese sterker as jou geloof?

Petrus was soos ek en die seuns daar op die berg met die 2 pyle – moet ek vorentoe gaan of moet ek teruggaan, vorentoe of terug, vorentoe of terug – boot of Jesus, boot of Jesus. En toe sink hy.

Wat ons hier sien, is die verskil tussen vrees en geloof. Vrees hou jou terug, vrees maak dat jy nie kan groei nie, vrees maak dat jy stagneer, vrees maak dat jy sink.
Geloof laat jou vorentoe kyk. Geloof maak dat jy geleenthede gebruik. Geloof maak dat jy leer en groei. Geloof maak dat jy vorentoe gaan selfs al lyk dinge onseker en soms moeilik.
Kom ek verduidelik dit met ‘n beeld – balanseer besemstok op my hand. Om die besemstok te balanseer moet ek boontoe kyk, sodat ek kan sien wanneer dit val en daarvoor kan kompenseer. As ek op my hand kyk, gaan die besem val, want ek gaan nie kan sien wanneer dit val nie.
Vrees is om na jou hand te kyk, vrees is om na jouself te kyk, om vasgevang te wees in die dinge wat was en die dinge wat moontlik kan gebeur. Vrees is om die bobbejaan agter die bult te gaan haal.
Geloof is om weg te kyk van jouself af. Geloof is om na Jesus toe op te kyk. Geloof is om Hom te vertrou en spreekwoordelik op die water te loop.

So, hier aan die begin van die jaar wil ek jou uitnooi om oor ‘n paar goed te dink en te bid. Vra die Here om jou met die volgende te help:
  • Sit die goed van die afgelope jaar agter jou. Los dit waar dit hoort – in die verlede.
  • En in 2012 – los nou al jou vrese. Moenie bang wees vir die lewe nie. Moenie bang wees vir trauma nie; krisisse by die werk; konflik; finansiële onsekerheid; mislukking; moenie bang wees vir foute maak nie; moet vir niks bang wees nie.
  • Bevestig jou geloof en vertroue in Jesus. Stel jou lewe in sy hande.

Ek wil afsluit met ‘n laaste stukkie goeie nuus. As jy hierdie jaar met geloof instap en langs die pad raak dit dalk moeilik. Of jy voel onseker. Of slegte dinge gebeur. Of jy begin twyfel. Jy voel of jy begin sink. Dan is die goeie nuus dat jy soos Petrus kan uitroep: “Here, red my!” En dan sal Jesus sy hand uitsteek en jou weer oplig. Soos Hy vir die dissipels gesê het – “wees gerus, dit is Ek. Moenie bang wees nie.”



No comments:

Post a Comment