Sunday, November 11, 2012

Preek 11 November 2012


Wees eg! Selfs as niemand kyk nie. (2 Kor 6: 1-13)


Die HAT beskryf iemand met integriteit as iemand wat eerlik en opreg is en met karakter leef, in volledige eerlikheid, is onomkoopbaar en die Oxford woordeboek beskryf dit as die kwaliteit om sterk morele beginsels te hê sowel as ‘n “state of being whole”. Integriteit is die woordeboek woord vir vandag se tema: Wees eg: selfs as niemand jou sien nie. ‘n Tema waaroor ek nie sommer uit my eie sal preek nie, bloot omdat dit nie so eenvoudig is nie. Daar is net te min van ons wat altyd kan sê dat ons altyd met integriteit leef. En die Woordeboek definisie is nog eenvoudig. Vir Jesus-volgelinge beteken dit om vreesloos jou lewe te leef, omdat jy die God-pad loop én jy boonop weet, jy lewe 24/7 in God se teenwoordigheid!
As ek dit reg verstaan, beteken Integriteit dan vir ons as gelowiges, en seker ook vir alle ander mense, dat dit wat jy glo en doen, sal ooreenstem. 

Ek wil vanoggend saam met julle lees uit 2 Kor. 6: 1-13.  Daar is klomp agtergrond wat ek vir julle kan gee oor hierdie 2 Korintiërs, waarvan sommige dalk heeltemal irrelevant is vir vanoggend, maar tog wil ek dit gee sodat julle darem kan weet dat ek studeer het. Maar ook as ons oor integriteit praat, is dit belangrik om die verhouding wat daar op hierdie stadium tussen Paulus en die Korintiërs was, te verstaan.

Die eerste 7 hoofstukke van 2 Korintiërs handel oor die krisis wat daar ontstaan het tussen Paulus en die gemeente in Korinte.  Om van die misverstande en probleme op te los oor sy amp as apostel en sy reisplanne op te klaar, skryf hy vir hulle hierdie brief terwyl hy in Masedonië is.  Dit moes omtrent hier tussen 55 en 56 n.C. gewees het.  Hulle verhouding is eintlik op hierdie stadium nie so goed nie. Hy oorweeg dit selfs op ’n stadium om sy beplande reis na hulle toe af te stel omdat hy nie lus het vir die konflik nie. In 2:1 sê hy: Daarom het ek besluit ek kom nie weer na julle toe as my besoek op droefheid uitloop nie. En in 2:4 verwys hy na ’n brief wat hy onder baie droefheid en groot beklemming van die hart geskryf het sodat hulle kan besef dat hy eintlik wel lief is vir hulle. En in 7:8 skryf hy dat daardie brief hulle hartseer gemaak het.

Histories weet ons min van hierdie brief en moontlike besoek aan die Korintiërs aangesien dit nie in Handelinge (waar ons van al Paulus se reise lees) saamgevat word nie maar dit is duidelik dat daar een of ander vorm van konflik voorgekom het en dat dit so erg was dat Paulus huiwerig was om enigsins weer terug te gaan na hierdie gemeenskap van gelowiges toe. Soos dit vir my klink, het hy eintlik geen verwagting van hierdie groepie gelowiges om goed en reg te leef volgens die wet – om met integriteit te leef nie. Hulle maak hom eintlik net bedroef. So erg so dat hy hulle nie eers meer wil besoek nie.

So as ons dan 2 Korintiërs 6 lees, moet ons dit lees teen die agtergrond van die Korintiërs se skeptisisme oor Paulus se apostelskap en die versteurde verhouding wat daar tussen hulle was. Geen wonder dat hy in die laaste vers van ons gedeelte vandag by hulle pleit om nie hulle harte vir hom te sluit nie. En hy doen dit deur in die hele hoofstuk 6 voortdurend aan hulle te probeer bewys dat hy altyd met integriteit optree, maar hy vra ook van hulle om dan met dieselfde integriteit op te tree.

“As medewerkers van God doen ons ’n beroep op julle om te sorg dat julle die genade van God nie tevergeefs ontvang het nie. Hy sê: ”Op die regte tyd het Ek jou gebede verhoor, en op die dag van redding het Ek jou gehelp.” Kyk, nou is dit die regte tyd, nou is dit die dag van redding.”
Paulus haal hier Jesaja 49: 8 aan.  Met hierdie aanhaling wys Paulus daarop dat in die dood en opstanding van Jesus het die dag van God se beloofde verlossing aangebreek. Met  Die genade van God waarvan Paulus praat in vers 1, word daar verwys na die werklikheid van God se verlossing wat aangebreek het.  Deur die opstanding van Jesus het daar ‘n nuwe tydvak in die geskiedenis van die heilsgeskiedenis aangebreek en gelowiges leef daarom in die nou van God se genade en nie net in die eendag nie.

Hierdie genade waarin ons leef het implikasies vir die manier hoe ons optree teenoor ander, teenoor God en wanneer daar niemand naby is nie. Dit het implikasies vir ons integriteit. Paulus gee reg aan die begin vir hulle die grootste rede om met integriteit op te tree asook die rede hoekom hy self met integriteit lewe: Die genade kan nie goedkoop wees nie. Ons kan nie maak asof dit nie bestaan nie. Dit is hier. Ons leef in die tyd van genade. Nou is die regte tyd.  Maar integriteit beteken dat ons nie in teenstrydigheid met daardie genade sal leef nie. Genade gee aan ons integriteit. Deur genade is ons verlos en ‘sondevry’, maar genade vra ook van ons integriteit sodat ons nie die genade goedkoop sal maak, soos wat Bonhoeffer gesê het nie.

“3Ons wil nie hê dat daar met ons bediening fout gevind word nie. Daarom gee ons ook niemand aanleiding tot aanstoot nie, 4maar in alles laat ons ons ken as dienaars van God.”
In vers 1 en 2 skryf Paulus aan hulle hoe belangrik dit is om integriteit te he.  Maar gaan gaan verder in vers 3 en begin om sy eie integriteit te herstel onder mense wat moontlik vertroue in hom verloor het. Hy beklemtoon hier ‘n kenmerke van God se gesante.  1)  hulle gee nie aanstoot nie, maar laat hulle hulself ken as dienaars.  Met die eerste kenmerk kom sê Paulus dat hy nie onnodig vir die mense kom aanstoot gee het nie – dit was nie sy bedoeling nie. Sy bediening is vir hom belangriker as hyself. Wanneer ons Paulus se briewe lees kan hy nogal as redelik arrogant voorkom, maar hier sê hy duidelik dat sy bediening vir hom bo alles belangrik is. Die werk wat hy in diens van die Here Jesus Christus doen, trumps all – sy eie wil, sy eie dunk van homself, sy eie behoeftes, sy eie gemaklikheid en daarom is dit vir hom nodig om onberispelik te leef.  

“Dit doen ons met baie geduld in verdrukking, ontbering en nood. 5Ons is geslaan, in die tronk gegooi en het in oproere beland; ons het swaar gewerk, nagte sonder slaap deurgemaak en honger gely. 6Ons het onberispelik opgetree, met begrip, met verdraagsaamheid en vriendelikheid. Dit alles het ons gedoen deur die Heilige Gees, deur opregte liefde, 7deur die woord van die waarheid en deur die krag van God. Ons wapen vir aanval en verdediging is om die wil van God te doen.”
Hierdie werk t.w.v. die bediening gebeur egter nie net vanself nie. Dit verg baie geduld. Ons hoor hier ‘n tweede eienskap van gesante van God.  Hulle kan volhard onder alle omstandighede, al het dit soms swaar gegaan.  Om te volhard was ‘n belangrike eienskap in die Vroeë kerk. Hierdie geduld gaan dus nie net oor “tot 10 tel as ek geïrriteerd is nie” dit gaan ook daaroor om geduldig te wag, ook wanneer dit sleg gaan.

Ons integriteit gaan dus nie net daaroor om reg teenoor ander op te tree of om reg op te tree wanneer ons alleen is nie, maar om op ’n seker manier op te tree wanneer dit sleg ook gaan. Dit beteken nie dat ons ’n glimlag sal fake maak nie saak hoe sleg dit gaan nie, want dit is juis nie integriteit nie, maar dat die geduld en selfs vrede waarmee ons die swaar tye hanteer ook aan ons kredietwaardigheid sal gee.
Dit gebeur egter nie vanself nie. Hierdie hang nie van ons af en hoe vinnig ons geduld kan vang nie. Paulus sê self dat dit gedoen word deur die Heilige Gees, deur opregte liefde, deur die Woord en deur die krag van God. Dit is onmoontlik vir ons as mense om self so te leef. Om self met integriteit in ALLE omstandighede te leef, daarom gee God self aan ons die krag om dit te doen. En dit moet ons kan vryspreek van die las wat ons dalk tot nou toe nog gevoel het. Ons integriteit hang nie van onsself af nie. Dit vra net van ons om in fyn aanvoeling met die Gees te wees.

“8Ons ontvang eer en oneer, ons word beledig en geprys.
Ons word behandel as verleiers, en tog is ons betroubaar;
9as onbekendes, en tog is ons goed bekend;
as sterwendes en, soos julle sien, ons lewe;
as gestraf, maar ons is nie doodgemaak nie;
10as bedroefdes, en tog is ons altyd opgeruimd;
as armes, maar ons maak baie ander ryk;
as mense wat niks het nie, en tog besit ons alles.”
God se krag en die werking van die Heilige Gees stel ons in staat om op te tree soos wat daar nie van ons verwag word nie. Die mense kyk al vir eeue na die Christen gemeenskap en wonder oor die skynheiligheid wat hulle sien. Hulle verwag nie meer mense wat met integriteit gaan optree nie. En ons word volgens hierdie siening behandel. Die uitdaging van integriteit is dus nie net om op te tree soos wat ons sê ons sal nie, maar ook so op te tree al verwag mense dit nie van ons nie.

“11Ons het openhartig met julle gepraat, Korintiërs. Ons harte is vir julle wyd oop. 12Ons het nie ons harte vir julle gesluit nie; julle het julle harte vir ons gesluit. 13Ek praat met julle as my kinders. Doen aan ons wat ons aan julle gedoen het: maak julle harte ook wyd oop!”
In die laaste gedeelte spreek Paulus die Korintiërs persoonlik aan.  Dit kom wys hoe na hierdie saak aan sy hart lê.  Hierdie is van die mees persoonlike woorde van Paulus.  Eerstens omdat hy hulle by die naam noem (wat net op twee ander plekke gebeur) en Tweedens omdat hy sy hart aan hulle oopgestel het.  Hierdie persoonlike pleidooi kom openbaar sy hart agter die hele voorafgaande gedeelte. Eintlik wil hy net weer in hulle vertroue staan. Dit maak nie saak wie verkeerd was nie, dit is duidelik dat hierdie integriteit waarvan hy hierbo gepraat het, nodig is om die verhouding te herstel. 

Die verhouding tussen Paulus en die Korintiërs het egter niks met ons te make nie. Dit was 2000 jaar terug. So hoekom vanoggend hierdie gedeelte lees? Want ons verhouding lei vandag nog so skipbreuk soos daardie verhouding omdat ons nog nie die volle omvang van integriteit verstaan nie.

Paulus noem in vers 4: “maar in alles laat ons ons ken as dienaars van Christus”.  In ALLES.  Is dit nie wat Christelike integriteit is nie?  Hy gaan verder en noem voorbeelde van hoe hulle integriteit getoets is.  Hy noem drie voorbeelde van algemene swaarkry: verdrukking, ontbering, nood.  Dan is daar drie voorbeelde van wat mense aan hulle gedoen het: geslaan, in die tronk gegooi, mense het oproerig geraak en laastens noem hy drie voorbeelde van opofferings wat hulle gemaak het:  hulle het swaar gewerk, nagte sonder slaap gegaan en honger gely.  En tog, in alle hierdie moeilike omstandighede het hulle laat ken as dienaars van Christus. Verstaan ons dat integriteit ook van belang is ons seerkry en alleenwees?

Verstaan ons dat integriteit ook van belang is wanneer niemand kyk nie?  Is jy bereid om met integriteit te leef selfs al sien niemand wat jy doen nie, of is dit net vir jou belangrik om reg te doen as jy weet daar is klomp belangrike mense is wat jou dophou. Paulus sê dat hulle hul in alles laat ken het as dienaars van God.  In alles, in die tye wat ons alleen is, in die tye wat ons swaarkry.

Opsomming
By die eerste reformasie wat deur Martin Luther gelei is, het dit gegaan oor reg gló.  Maar nou het ons ‘n tweede reformasie nodig:  om reg te leef.  Reg glo en reg leef gaan hand aan hand en ons noem dit integriteit. 
Toe hulle Lloyd George Patterson, ’n kerk geskiedkundige, gevra het wat die geheim van die vroeë kerk se volhardende groei was  t.s.v. die tekort aan kommunikasie hulpmiddele (waaraan ons groei vandag so sterk verbind is) en te midde van so ’n vyandige omgewing,  was sy antwoord:
 “The early Christian communities were characterized by unusual integrity, and people were attracted to that.”

Geen wonder dat Calvyn, ons kerkvader, gesê het: die strategie van die duiwel is om die wangedrag van die kerkmense uit te snuffel en die evangelie so te onteer.
En ons almal ken Ghandi se bekende opmerking dat hy ’n Christen sou word as hy ’n Christen ontmoet.

So hoe help 2 Kor. 6 ons hiermee? En ek som hiermee op:
1.    Ons moet soos mense leef wat die genade verstaan wat ons ontvang het.
2.    Ons moet altyd die bediening ingedagte hou – die getuienis wat ons het om te bring
3.    Dit verg baie geduld (veral in die tye wat dit nie goed gaan nie)
4.    Maar ons het hulp deur die Heilige Gees, deur opregte liefde, deur die Woord en deur die krag van God
5.    Ons moet ook kan optree soos wat mense nie van ons verwag nie
6.    En die vrugte van hierdie dade is te sien in al ons verhoudinge

Die gevolge van Integriteit
Die gevolg is dat ons anders lewe.  Ons kan nie meer leef om mense te beïndruk nie.  Ons leef nou vir God.  In als wat ons doen wil ons eerstens vir God eer.  Dan maak dit nie meer saak of ons alleen is of tussen mense is nie.  Dit gaan oor God. 

En wanneer God eerste is, dan raak ons glo en doen dieselfde ... in alle omstandighede

No comments:

Post a Comment