Sunday, April 22, 2012

Preek 22 April 2012


2. Die liefde is geduldig en vriendelik

Alle mense het ‘n behoefte aan liefde. Ons is gemaak daarvoor. Iemand het gesê:
“Die liefde is God se eerste woord, die eerste gedagte wat by Hom opgekom het.  Toe hy gesê het: “Laat daar lig wees,” het die liefde ontstaan. En alles wat hy geskep het, was baie goed en Hy wou niks daarvan weer ongedaan hê nie.” 
God het ons geskep vanuit liefde en vir liefde.

Verlede week het Jalize verduidelik: Liefde kom van God af. Dit kom uit sy hart uit. God is liefde. As volgelinge van Jesus word die agape-liefde waarvan Jalize verlede week gepraat het, deur die Gees in ons harte gevestig. Agape-liefde is liefde wat bereid is om op te offer. Dis liefde wat jy gee ten spyte van hoe jy voel.

Ons word gemeet aan hoe ons hierdie liefde uitleef. Dis deel van ons getuienis.
Johannes 13:34 sê: “Ek gee julle ‘n nuwe gebod: julle moet mekaar liefhê. Soos ek Ek julle liefhet, moet julle mekaar ook liefhê.”
Dis ‘n opdrag, ons het nie ‘n keuse daaroor nie.
Johannes 13:35 sê: “As julle mekaar liefhet, sal almal weet dat julle dissipels van My is.”
Die manier hoe ons liefde uitleef, wys vir mense dat ons volgelinge van Jesus is. Dit wys wie Jesus is.

Dit is daarom belangrik dat ons sal weet hoe hierdie Agape-liefde lyk en hoe ons dit moet uitleef. Paulus noem ‘n klomp karaktertrekke in 1 Korintiers 13. Ons gaan vandag na 2 kyk.
Lees 1 Korintiers 13: 4 “die liefde is geduldig, die liefde is vriendelik…”

Die liefde is geduldig
Ander vertalings vertaal dit as volg:
“liefde is lankmoedig” (1933) “love suffers long” (KJV)   of “Love never gives up” (The Message) of “Love gives people space and time” (Word on the Street) of “Om ander lief te hê beteken om nooit iemand sleg te behandel wat jou irriteer nie” (die Boodskap)  
Die Griekse woord beteken letterlik: “stadige woede” of “iemand wat lank vat om woedend te word”.

Dis hoe God is - Eksodus 34:6: “Ek, die Here, is die barmhartige en genadige God, lankmoedig, vol liefde en trou.” 
Robert Ingersoll is ‘n bekende Ateis wat gereeld lesings aangebied het teen die bestaan van God. Hy het die gebruik gehad om aan die einde van sy lesings uit te roep: “Ek gee vir God 5 minute om my dood te maak vir die goed wat ek gesê het”. En dan na 5 minute het hy gesê die feit dat hy nog lewe is ‘n bewys dat God nie bestaan nie. Totdat Theodore Parker eendag gesê het: “Jy kan nie God se liefde en geduld in 5 minute uitput nie”. 
Ons moet na God kyk as ons iets wil verstaan van geduld. Selfs vir mense wat dit nie verdien nie.

Geduld van Agape liefde maak dat mens jou naaste kan liefhê sonder om enigiets terug te verwag. Dis om vir mense nog kanse te gee soos wat God elke dag vir elkeen van ons nog kanse gee. Geduld is om aan te hou soek vir die goeie in ander mense, selfs al stem ek nie met hulle saam nie. Selfs al hou ek nie van hulle nie. Die geduld van Agape-liefde maak dat ons nie die luukse het om op te gee op mense nie.

Die skrywer Ralph Waldo Emerson het gesê: “Die sleutel tot omtrent enigiets van waarde is geduld. ‘n Mens kry nie ‘n hoender deur die eier stukkend te breek nie, maar deur dit te laat uitbroei. Leer by die natuur. Sy geheim is geduld.”

Liefde is vriendelik
Die ou kerkvader Origenes het gesê: “liefde is gaaf teenoor almal”. 
Of soos iemand gesê het: “Some people say that love is blind. It isn’t blind, but it is kind.”

Ongelukkig sien mens nie dit altyd by Christene nie. Jy kry goeie Christene, kerkmense wat dikwels onvriendelik is.
Philip die tweede van Spanje, was ‘n baie godsdienstige, gelowige mens, maar hy was ook die koning wat die Spaanse kruistogte begin het. Hy het gedink hy dien God deur mense wat anders gedink en geglo het, te vermoor.
Vandag kry ons nog steeds kerkmense wat ander mense emosioneel doodmaak met hulle kritiese en onvriendelike ingesteldheid. Mense wat baie soos die Skrifgeleerdes en Fariseers in Jesus se tyd optree.

Ek wil gou vir julle ‘n voorbeeld noem wat onlangs in die media, veral die sosiale media aandag geniet het. Ons kerk se moderator, prof. Nelis Niemand is skerp aangeval en uitgedaag op Facebook en in ander media deur ‘n klein groepie beswaarde lidmate. Hulle het sy geloof en integriteit aangeval omdat hulloe nie hou van die goed wat hy al gesê en geskryf het nie. Hy het toe daarop gereageer en dit sê vir ons iets van sy belewenis daarvan. Ek wil gou vir julle enkele sinne daaruit lees.
“Dit is duidelik dat hy en andere nie in ware gesprek belangstel en van my goeie trou oortuig wil word nie. Hulle stel self die reëls vir die gesprek op en bepaal die agenda, en is nie huiwerig om aan te dui dat hulle net belangstel in hulle eie gesprek nie.
Die vraelys wek die indruk van ‘n moderne inkwisissie – en hulle soek na geleentheid om my "uit te vang" en dan uit te lewer.
Ek is nie geneë om hulle liefdelose houding teenoor my en ander wat van hulle verskil, te versterk deur aan ‘n gesprek op hulle trant deel te neem nie.
My indruk is dat hulle gesprekke en eise ontbloot word. Daar word vals getuienis oor mense afgelê. Dit is duidelik ‘n kwaadstekery. Mense word onverhoord veroordeel. Woorde word verdraai. My en ander se goeie naam en eer word aangetas. Die kerk word verdeel. Gelowiges word tot ewige verdoemenis veroordeel.”

Van die wreedste en ongenadigste mense is ongelukkig ook dikwels kerkmense. Mense wat vergeet het dat liefde vriendelik is. Vriendelikheid maak dat ons kan verskil van mense sonder om lelik en persoonlik te raak of mekaar se bona fides of geloof in twyfel te trek.    

Die vriendelikheid van Agape-liefde beteken verder dat ons ander mense moet seën met goedheid.
J.B. Philipps vertaal dit so “Love looks for a way of being constructive.”
Die vriendelikheid van liefde gee aan mense wat op die rand van die lewe is en mense wat verstoot word weer hulle menswaardigheid terug. Dit help hulle om die beeld van God weer in hulleself te ontdek en help hulle om te sien hoe mooi en goed God is!

Dink byvoorbeeld aan iemand soos Moeder Theresa. Sy en haar helpers het in haar leeftyd ongeveer 54 000 straatmense van Kulkutta versorg. Hulle het dit met liefde, deernis en vriendelikheid gedoen en so vir hulle hulle menswaardigheid teruggegee. Sy het die volgende gesê:
“Ek dink nie mense besef hoeveel ‘n vriendelike glimlag aan ander doen nie. Ons Christene vertel gedurig vir mense dat ons ‘n vriendelike, genadige, liefdevolle God aanbid. Maar aangesien hulle Hóm nie sien nie, moet hulle iets van dié eienskappe in óns gewaar. Maar sien mense regtig soveel vriendelikheid, soveel genade, soveel liefde in ons optrede? Moet nooit toelaat dat iemand wat in jou geselskap was, van jou af weggaan sonder dat hy of sy gelukkiger of getroos voel nie. Wees ‘n lewende vergestalting van God se liefde – met deernis in jou glimlag, in jou oë, in jou woorde, in die aanraking van jou hande. Hier in die krotbuurtes van Kulkatta probeer ons om nie net ons hulp te gee nie, maar ook ons hart.”  

Die liefde is geduldig en die liefde is vriendelik…dit is goed vir mense in die algemeen, dis goed vir die getuienis van die kerk, dis goed vir ons gemeente, dis goed elke huis, dis goed vir elke werksplek en speelplek en sportplek. Dis goed vir die wêreld waarin ons leef.

No comments:

Post a Comment