Sunday, April 29, 2012

Preek 29 April 2012


Die liefde hou van die waarheid!
Soos almal hopelik al weet is ons tans besig met ‘n 40 dae van liefde reeks in die gemeente.  Die afgelope twee Sondae het ons gepraat oor 1) Die liefde maak die meeste saak en 2) Die liefde is vriendelik en geduldig.  Ek is seker daarvan dat elkeen baie uitgedaag is en weer ‘n slag of wat moes gaan introspeksie doen het, want as ons eerlik met onsself is, dan besef ons dat ons maar sukkel om met liefde op te tree, liefde wat geduldig en vriendelik is, agape liefde, liefde wat onvoorwaardelik liefhet.

Vanoggend gaan ons verder in hierdie reeks:  Liefde hou nie van die onreg nie, want liefde hou van én bly by die waarheid.  Ja, ons gaan weer uitgedaag word, ons gaan weer bietjie introspeksie moet doen vanoggend.

Kom ons lees saam uit so paar verskillende vertaling van 1 Kor 13: 6
NLV:  Liefde treur oor die onreg wat plaasvind en juig as die waarheid seëvier
The word on the Street:  Love doesn’t smile when dark stuff goes on, but throws a party when the truth gets out.
Die Lewende Bybel:  Oor verkeerde dinge kan hy nooit gelukkig wees nie. Dit is net die waarheid wat hom gelukkig maak.
The message:  Doesn’t revel when others grovel, takes pleasure in the flowering of truth.
Bybel vir almal:  Hy is nie bly wanneer mense verkeerde dinge doen aan ander mense nie, hy is bly wanneer mense die waarheid praat.
NAV:  Liefde hou nie van die onreg nie, want liefde hou van én bly by die waarheid

Kindertyd
Ek wil he so veel as moontlik kinders moet hier voor by my kom sit.  Ek wil sommer dadelik met ‘n baie moeilike vragie begin – praat julle altyd die waarheid? 
Hierdie volgende eksperiment leer ons iets oor die waarheid en oor hoekom ons maar eerder altyd eerste die waarheid moet praat.

Kry iemand om bal onder die water te hou - Bal skiet op
Vra om bal dieper in te druk - Bal skiet op
Vra om bal langer onder die water te hou – Bal skiet op
Waarheid werk ook so.  Baie mense dink as jy net die waarheid sal wegsteek, sal niemand weet nie.  Soos die bal kom dit op.
Ander dink weer die probleem is dat die waarheid nie diep genoeg weggesteek word nie. Ook dit sal nie die waarheid nie laat uitkom nie.
Ander dink die oplossing is om net baie lank die waarheid te onderdruk, weg te steek.  Ook dit werk nie! Uiteindelik sal alles aan die lig kom as ons voor God se troon verskyn.
Wat leer ons vandag oor mense wat met liefde leef?
DIE LIEFDE HOU VAN DIE WAARHEID

 

Luister dieper na die Woord

Ek wil begin deur vanoggend se teksvers in twee op te deel. Aan die eenkant hoor ons iets oor onreg en aan die ander kant hoor ons iets oor die waarheid. Die vers handel dus oor ‘n teenstellings. En om te weet wat die een is, moet ons weet wat die ander is. 

1.  So die eerste gedeelte kom herinner ons dat die Liefde nie van onreg hou nie, want volgens Paulus (die skrywer) is dit die teenoorgestelde van die waarheid.  As Paulus hier van die liefde praat, dan laat fokus hy ons van die begin af op interpersoonlike verhoudings.  Dit is maar net ‘n baie groot woord wat verwys na die verhoudings wat ons met mekaar het.  Die verhouding met jou ouers, die verhouding met jou kinders, die verhouding met vriende, geliefdes en selfs die wat jy nie van hou nie. En Paulus wil weet: hoe tree ons binne hierdie verhoudings op en wat is ons motief of rede hoekom ons so optree?

Dit gaan nie vir Paulus so seer nét oor die kwaad of onreg wat ons sélf aan ander mense doen nie, maar ook oor daardie lekkerkry of plesier wat ons ervaar as ons iets sleg/ negatief/ afbrekend van iemand anders hoor.  Hy kom spreek ons dus nie net aan oor ons dade nie, maar ook aan oor die emosie wat ons oor ander ervaar - al voel ons soms asof ons geen beheer daaroor het nie.  So Paulus kom sê dat die liefde nie daarvan hou as ons dit geniet om slegte dinge van ander hoor nie.  Ongelukkig is dit een van daardie vreemde dinge van die mens – dat ons dikwels verkies om eerder te hoor van die slegte dinge van mense eerder as die goeie.

As Paulus dan skryf en sê dat die liefde nie van onreg hou nie, dat dit nie van die verkeerde dinge hou nie, dan praat hy van hierdie tipe gedrag.  Hy praat van daardie kere wat ons lekkerkry as ons iets slegs van iemand anders hoor.  Die volgende storie help ons om dit beter te verstaan.

Een dag, lank terug, as deel van Ronald Patterson se opleiding as predikant, het hy as ʼn hospitaalkapelaan in die Boston City Hospitaal gewerk. Hy is gevra om in die saal van die gevangenes te werk – waar een van die gevangenes ’n berugte dwelmhandelaar was.  Dit was Ronald se plig om hom te besoek, maar hy het die taak maar halfhartig gedoen.
Hy het dit later bely teenoor ʼn Rooms Katolieke non, wat ook sy supervisor was:  “Hoe kan ek bid vir iemand wat die stad verwoes.  Hy verdien sy siekte en sommer ʼn klomp ander goed ook.” 
Weet jy wat die non hom geantwoord het?
“Patterson, wie het gesterf en jou tot God verkies?  Iewers diep binnekant daardie man, bedek deur lae van pyn en ontkenning en elke slegte dinge wat hy al ooit gedoen het, is daar 'n saadjie van die  beeld van God.  Jou enigste taak is om daardie vonk te sien en die enigste manier wat jy dit ooit sal sien, is om alles te vergeet wat iemand anders vir jou ooit vertel het van reg en verkeerd en met jou hele hart te glo dat die vonk daar is. Hy, nes enigiemand anders wat jy ooit sal ontmoet, is 'n kind van God se liefde.”

Ongelukkig leef ek en jy in ‘n samelewing wat daarvan hou om die slegte te hoor en om dit te glo.  Dink maar aan die koerante – dis die koerante met die skindernuus of slegte nuus op die voorblad wat verkoop.  Dink aan die nuus – wanneer daar goeie nuus is gaan dit maar net by ons verby, maar oor die slegte nuus praat ons ure en ure.  Wanneer ons slegte of skindernuus hoor word daar ook stertjies bygelas en kort voor lank weet niemand meer wat die waarheid is nie.

Die verhaal van Ronald Patterson leer vir ons dat ons verby al die slegte dinge wat ons al van ‘n persoon gehoor het moet kyk en moet soek vir daardie stukkie van God wat in iemand is. Dit beteken dat, as ons terug verwys na 1 Korintiërs toe, dat die waarheid altyd iets goed ook bevat – dat enige storie met net sleg, nie die volle waarheid is nie. Een van die kommentare som dit goed op as die skrywer se: Love takes no joy in evil of any kind.

Hierdie Christelike liefde waarvan Paulus ons kom leer, is dus nie ‘n liefde wat plesier kry uit kwaadwillige berigte nie, maar altyd iets goed, iets waar’s ook soek.  Die gedeelte roep ons basies tot die volgende reëls:

a)    As jy net sleg oor iets of iemand kan sê  – moenie!
b)    As jy niks goeds oor iemand te sê het nie, bly stil!
c)    As jy iets negatief oor iemand hoor, bedink dit en sink dit!

2.  Die 2de gedeelte van vers 6 kom verduidelik dan wat dit is wat ons wel moet doen. As ons dan nie bly moet wees oor onreg nie, waaroor moet ons dan bly wees? Paulus sê vir ons dat die ‘liefde hom verheug oor die waarheid’.  / “liefde hou van én bly by die waarheid”. Die eerste vraag is natuurlik waarom Paulus kies om die  woord ‘waarheid’ hier te gebruik, want die logiese woord sou eerder die teenoorgestelde van ‘onreg’ gewees het, soos bv. goedheid.  Maar hy kies waarheid. 

Wat interessant is, is dat die direkte vertaling uit die Grieks eintlik sê: ‘die liefde verheug hom met die waarheid’ en nie oor die waarheid nie.  As liefde uitgenooi sou word na ‘n heerlike ete of dans toe, sou sy/hy saam met waarheid gegaan het.  Liefde is op sy/haar beste met waarheid aan die sy. 

Wanneer waarheid by liefde is, dan is liefde eerlik en realisties.  Dit beteken dat liefde nie blind is en dat ons mense lief het omdat ons glo hulle is perfek nie, maar waarheid laat ons juis hulle foute sien en ware liefde maak dat ons dan t.s.v. hierdie foute vir hulle lief is.  En daarom moet die twee saam gaan.  Daarom hoort die twee saam. Daarom word waarheid ook teenoor onreg geplaas: want as liefde en onreg die grootste mismatch is, dan is liefde en waarheid die beste couple.

Liefde hou waarheid eerlik, want sonder liefde trek waarheid se beheptheid met feite die feite skeef of nog erger, dit word gevoelloos.  Maar as liefde saam met waarheid is, dan verbreed dit die omvang van waarheid se lens om die hele persoon in te sluit sodat waarheid herinner word daaraan dat iemand wat droogmaak, steeds die beeld van God is!

Ons kan die volgende dinge sê wat die Bybel bedoel met waarheid:
·         Waarheid is groter en breër as akkurate stellings, korrekte syfers/statistieke en konsekwente  beredenering.
·         Waarheid is 'n Persoon, 'n Persoon wie se dade en woorde saamvloei (“blend”) om 'n profiel van die menslike lewe te skilder soos God bedoel het om geleef te word.  Waarheid is Jesus.  Jesus se self in Joh 14: 6 ‘ek is die weg,die waarheid en die lewe”.  As ons dan enigsins iets oor waarheid wil leer of wil weet, moet ons daarvoor gaan soek by die bron van waarheid.

Die tweede gedeelte van vers 6 het dan die volgende praktiese implikasies vir ons lewens:
a)    Praat die waarheid altyd in liefde. Veral in moeilike omstandighede moet die waarheid altyd in die sagtheid van liefde toegevou word. Daar is ’n ou Arabiese spreekwoord wat sê:  Wanneer jy ’n pyl skiet, doop dit eers in heuning. Die waarheid is net effektief as dit hand aand hand met liefde stap, want dit is hoe God dit wil he.  As jy reguit moet praat, laat jou woorde soos sonlig in die ander persoon se hart skyn.  Sagte oë praat altyd die waarheid met sagte woorde.

So wanneer praat ’n mens die waarheid in liefde? Hier is die toets: Wie gaan by jou woorde baat? As jy self goed gaan voel omdat jy ‘n baie goeie toespraak gelewer het terwyl jy iemand sleg gesê het, het jy waarskynlik nie die toets geslaag nie. Maar as jou woorde die ander persoon sal help om in sy of haar menswees te groei, sê dit dan met liefde – en slaag daarmee saam die toets.

b)    Praat die waarheid altyd met takt. Spreuke 16:23-24 gee wyse raad: ’n Wyse mens praat verstandig en kies sy woorde so dat hy ander kan leer. Aangename woorde is heuning, soet en geneeskragtig vir die mens.
Dink voor jy praat.  Moenie oor ’n moeilike saak praat voor jy daaroor nagedink het nie. Takt is baie nodig as dit by die waarheid kom.


Dit laat dink 'n mens aan die die storie oor die twee broers:
Die een broer was weg met vakansie en hy het die ander broer gevra om sy geliefde kat op te pas! Toe hy by die lughawe instap, bel hy dadelik sy broer om uit te vind na die welstand van sy kat. “Jou kat is dood!” was sy broer se antwoord en hy het die telefoon neergesit.  Die man was verpletter deur die nuus, maar veral deur sy broer se onsensitiwiteit!
Hy bel weer sy broer terug: “Jy moes nie so direk en sonder hart die nuus oorgedra het nie”. “Hoe moes ek dit dan gedoen het?” kap die broer terug.
“Wel, jy kon die nuus geleidelik aan my gebreek het!” het hy verduidelik. “Jy kon gesê het die kat het op die dak gespeel. Dan kon jy later gesê het dat die kat van die dak afgeval het en sy been gebreek het. As ek later die kat kom haal het, kon jy vir my gesê het dat die kat dit nie gemaak het nie... Terloops hoe gaan dit met Ma?” Na 'n lang stilte antwoord sy broer hom: “Man, Ma speel op die dak.”

Leer om die waarheid altyd met taktvolheid, met sagtheid te sê soos hierdie gediggie van WB Yeates dit uitstekend illustreer:

A truth that’s told with bad intent,
beats all the lies you can invent.

Met waarheid as liefde se metgesel, kom liefde goed reg in 'n wêreld soos ons s’n, maar liefde keur nooit goed of verheug in die onreg/kwade/boosheid wat hierdie goeie wêreld die deurmekaar werklikheid maak wat dit is nie.

Kinders
EK weet julle het my al lankal verloor:  so ek wil net vandag se preek vinnig vir julle in kort opsom.  1 Kor 13:6 kom se vir ons dat Liefde nie van verkeerde dinge hou nie – dit hou nie daarvan dat ons lekker kry as ons slegte dinge van ander mense hoor nie.  Dit hou ook nie daarvan as ons slegte dinge oor ander mense vertel nie.  En tweedens – liefde hou van die waarheid.  Liefde hou van eerlikheid.  En al hoor ons die stories oor ander mense wat sleg is, wat dalk selfs waar is, moet ons verby al die lelike dinge van ‘n persoon kan kyk en steeds daardie persoon liefhe!

No comments:

Post a Comment