Sunday, January 20, 2013

Preek 20 Januarie 2012


Johannes 8: 1-11

Ek het gedink dit sal goed wees as ons hierdie jaar begin deur ‘n slag weer by ons gemeentevisie stil te staan.
“Table View gemeente wil 'n biddende, omhelsende liefdesgemeenskap vorm wat ruimte skep vir jonk en oud. 'n Plek waar almal tot hoopvolheid begelei en toegerus word, sodat elkeen 'n onselfsugtige, daadkragtige, diensbare getuie sal wees tot eer van God”.

Toe ek weer die week na die visie kyk toe kom daar ‘n baie mooi teks by my op. Ek het al voorheen oor die teks gepreek, maar elke keer ontdek mens mos weer nuwe goed in ‘n teks. Die teks is Johannes 8: 1-11.

Die skrifgeleerdes en fariseërs bring nie hierdie vrou na Jesus toe omdat hulle bekommerd was oor haar. Hulle bring haar met bymotiewe. Hulle wil haar gebruik om vir Jesus uit te vang. Hulle wou sien hoe streng Jesus by die wette van die OT gaan hou of nie. As hy streng by die wette hou, dan sou hy in hulle oë aanvaarbaar wees, maar as hy nie streng by die wette hou nie, dan kon hulle Hom brandmerk as iemand wat die wette oortree.

Kom ons kyk gou wat sê die Ou Testament wet oor owerspel:
Levitikus 20:10 - “Iemand wat egbreuk pleeg met die vrou van ‘n medeburger, moet doodgemaak word. Dit geld vir die man en ook vir die vrou wat egbreuk pleeg.”
Deuteronomium 22:22 - “Wanneer ‘n man betrap word terwyl hy gemeenskap het met ‘n ander man se vrou, moet die man en die vrou wat gemeenskap gehad het, altwee doodgemaak word.”

Die wet sê die man en die vrou moet gestenig word, maar let op dat die skirfgeleerdes en fariseërs vir Jesus net oor die vrou uitvra. So hulle probeer Hom uitvang – as Jesus saamstem dat net sy gestenig moet word, dan bewys dit dat Jesus nie die wet ken nie. die wet sê mos die man moet ook gestenig word.
As hy sê dat sy gespaar moet word en nie doodgemaak word nie – dan gaan Hy in teen die wet van Moses. En dan keur Hy sonde goed.Jesus is nogal in ‘n moeilike situasie.

Sy antwoord vermy al die slaggate en hy ontmasker hulle. Hy gebruik ‘n Joodse beginsel teen hulle. Die Jode het geleef met ‘n beginsel dat jy nie aan ander moet doen wat jy nie aan jouself gedoen wil hê nie. So, die maatstawwe wat vir ander geld, geld vir my ook.
In hierdie sin beteken dit - ons almal is ewe sondig en verdien straf. As ek dus vinger wys na ander mense of klippe gooi na ander mense – dan wys ek ook vinger na myself en gooi klippe na myself. So, dis beter om nie te oordeel nie en om eerder te vergewe. Dis beter vir myself en vir die ander persoon.

Toe die Skrifgeleerdes en Fariseërs dit hoor, toe loop hulle weg, want hulle weet hulle het verloor teen Jesus. Hulle verkeerde motiewe is ontmasker en hulle is die mense wat verkeerd was.

Kom ons kyk gou na die verskillende maniere hoe die skrifgeleerdes en fariseers na die vrou kyk en hoe Jesus na die vrou kyk.
Die skrifgeleerdes en die fariseërs sien haar as ‘n sondige vrou wat gestraf moet word. Iemand wat hulle maar kan gebruik vir hulle eie motiewe. Hulle oordeel en veroordeel haar, hulle het geen respek en omgee vir haar nie.

Jesus kyk anders na haar. Hy sien iemand met ‘n gewonde en stukkende lewe. Hy sien iemand wat die gevolge dra van verkeerde keuses. Hy sien ‘n vrou wie se selfwaarde heeltemal afgebreek is deur sonde, vernedering en skuldgevoel.
Maar - Hy sien ook iemand met ongelooflike waarde en potensiaal en wie se toekoms heeltemal anders kan wees as haar verlede. Hy sien iemand wat deur God omhels wil word met sy onvoorwaardelike liefde. 
Omdat Hy so na haar kyk, kan Hy nie anders as om die verrassende woorde van genade en liefde oor haar uit te spreek nie. Soos iemand gesê het: “He speaks words of grace to the disgraced woman”.
Sy was skuldig, maar Hy laat haar nie skuldig laat voel nie. Hy veroordeel haar nie. Hy gee vir haar genade en vergifnis. “Ek veroordeel jou nie”, sê Hy vir haar. En daarmee spreek Hy haar vry.

En dan stuur Jesus haar weg om op ‘n nuwe manier te gaan leef. Hy stuur haar terug na die wêreld waar sy vandaan kom. Dieselfde mense. Dieselfde omgewing. Dieselfde versoekings. Hy sê dus vir haar – jy is nou anders, so gaan leef nou anders in hierdie bekende wêreld.
Wat hier gebeur is - sy het nou God se genade, liefde en vergifnis beleef, daarom is sy nou God se instrument van genade, liefde en vergifnis in die wêreld. 

Kom ons gaan weer terug na ons gemeentevisie en kyk hoe hierdie teks onderliggend is daaraan. Ons gemeentevisie bestaan uit 3 goed wat ons ook in hierdie teks kry.
“Table View gemeente wil 'n biddende,
1)    omhelsende liefdesgemeenskap vorm wat ruimte skep vir jonk en oud.
2)    'n Plek waar almal tot hoopvolheid begelei en toegerus word,
3)    sodat elkeen 'n onselfsugtige, daadkragtige, diensbare getuie sal wees tot eer van God”.

Ons wil ‘n “omhelsende liefdesgemeenskap vorm wat ruimte skep vir jonk en oud.”
Die skrifgeleerdes en fariseërs veroordeel die vrou en wil haar uitsluit. Volgens hulle is sy ‘n sondaar en nie goed genoeg om deel van hulle geloofsgemeenskap te word nie.
Jesus aan die ander kant veroordeel haar nie. Hy keur nie haar sonde goed nie, maar hy oordeel en veroordeel haar ook nie. Hy sluit haar in. Hy maak haar deel. Hy sê vir haar – jy is goed genoeg. 
Dis die tipe gemeente wat ons wil wees. Niemand mag voel hulle is nie welkom hier nie. Hier mag niemand geoordeel en veroordeel word nie. En daarmee keur ons nie sonde goed nie. Ons sê ons gaan jou nie oordeel nie, want niemand van ons kan immers ‘n klip na jou gooi nie – ons is almal sondaars. Jy is welkom, en hier tussen God se mense kan jy kom heel word en kan God jou verander soos Hy wil.

“'n Plek waar almal tot hoopvolheid begelei en toegerus word”
Wanneer Jesus met die vrou begin besig raak, dan maak Hy haar vry. Hy verander haar. Hy empower haar. Hy gee vir haar ‘n nuwe toekoms. Hy gee vir haar hoop.
Dis wat ons ook in ons gemeente wil doen. Ons wil mense bekendstel aan die hoop wat God vir ons gee. Die hoop wat gesetel is in Jesus se sterwe aan ‘n kruis en opgevolg is deur sy opstanding. In ‘n wêreld waar daar soveel dinge is wat mense se hoop steel, is dit ons taak om weer vir mense te herinner aan die hoop van die opstanding.

Ons wil vir mense herinner aan die hoop waarvan ons lees in Romeine 8: 38-39
“Hiervan is ek oortuig: geen dood of lewe of engele of magte of teenswoordige of toekomstige dinge of kragte of hoogte of diepte of enigiets anders in die skepping kan ons van die liefde van God skei nie, die liefde wat daar is in Christus Jesus ons Here. 

“sodat elkeen 'n onselfsugtige, daadkragtige, diensbare getuie sal wees tot eer van God”.
Wanneer Jesus die vrou vrygespreek en nuut gemaak het met Sy genade en liefde – stuur hy haar uit om as ‘n nuwe mens in die wêreld te gaan leef. Sy word nou die instrument, die kanaal van God se liefde, genade en vergfinis.
Wanneer mense tuisgekom het in ons gemeente, wanneer hulle die hoop van God beleef het dan wil ons mense toerus en uitstuur om in die alledaagse wêreld ‘n instrument van God se liefde, genade en vergifnis te wees. Ons is nie net hier vir mekaar nie. Ons is nie hier om mekaar warm te broei of net agteroor te sit en na ‘n preek te luister nie. Ons word gestuur om as nuwe mense in die wêreld te gaan leef.

Om op te som:
In die teks en in ons gemeente is daar dus 3 belangrike goed:
wees oop en verwelkomend teenoor alle mense;
wys vir mense die hoop wat in God opgesluit is;
en word uitgestuur as Sy dissipels in die wêreld.


No comments:

Post a Comment