Sunday, February 3, 2013

Preek 03 Februarie 2013


Jeremia 1: 4-10

Fred Craddock, Amerikaanse professor in Teologie vertel van ‘n keer toe hy as 20-jarige student vir Albert Schweitzer, die mediese doktor, teoloog, skrywer, musiekkant en sendeling in Afrika,  ontmoet het.  Hy vertel dat hy een van Albert Schweitzer se boeke gelees het en gedink het dat sy verstaan van Jesus gebrekkig was. Kort daarna toe sien hy ‘n advertensie dat Albert Schweitzer in ‘n ander stad ‘n orreluitvoering gaan lewer. Hy besluit toe om te gaan luister en ook sommer vir hom ‘n paar vrae te vra oor sy verstaan van Jesus.
Hy het toe ‘n lysie gemaak met vrae wat hy wil vra, ‘n buskaartjie gekoop en die orreluitvoering gaan bywoon. Dit was ‘n wonderlike uitvoering en na die tyd by die tee en verversings was hy gereed met sy vrae. 
Albert Schweitzer het almal toe bedank en toe sê hy die volgende: ‘
You’ve been very warm, hospitable to me. I thank you for it, and I wish I could stay longer among you, but I must go back to Africa. I must go back to Africa because my people are poor and diseased and hungry and dying, and I have to go. We have a medical station at Lambarene. If there’s anyone here in this room that has the love of Jesus, would you be prompted by that love to go with me and help me?’
Fred Craddock vertel dat hy toe sy vrae so bekyk het en opgefrommel het, want hy het weer geleer wat dit beteken om ‘n Christen te wees en hoe hy graag wil wees.

Albert Schweitzer het geweet wat sy doel in die lewe is – om Jesus en ander mense te dien.
Dis nogal belangrik om te weet wat ons doel in die lewe is. Hopelik sal Jeremia 1: 4-10 ons hiermee help.

Jeremia skryf “Die woord van die Here het tot my gekom”. In Hebreeuse is dit “Dabar Adonia”. Dit kom meer as 50 keer in Jeremia voor – so dis nogal belangrik.  Die “woord van die Here” is ‘n kragtige, aktiewe, dinamiese krag wat ons uitdaag, aan die beweeg kry en ondersteun.

Die ‘woord van die Here” roep vir Jeremia om as profeet te gaan optree. Saam met hierdie “woord van die Here” kom daar 3 gerusstellings na Jeremia (en ons). Ons kry dit in vers 5.

Voor Jeremia vir God geken het, het God hom reeds geken
Alles begin by God. God neem altyd eerste die inisiatief. In die Nuwe Testament lees ons dat Hy ons eerste liefgehad het en dat Jesus vir ons gesterf het toe ons nog sondaars was. Alles begin by God. Dis wat die doop ook weer vanoggend vir ons bevestig het.
Ons identiteit begin by God. Dit hang nie af van hoe ons is of wie ons is nie. Hy maak ons wie ons is. En dit beïnvloed alle aspekte van my lewe.

Voor jy gebore is, het Ek jou aan My gewy
Ons moet hoor dat God ons al vir Hom gekies het, voordat ons gebore is.
Eugene Peterson vertel dat hy die kleinste kind in hulle buurt was. So, as daar spanne gekies is, dan is hy altyd laaste gekies. Eendag toe stry die 2 kapteins weer oor wie hom gaan kies – niemand wou hom in hulle span hê nie. Hy vertel: “In one moment I changed from a zero to a minus!”
By God sal ons nooit ‘n zero of ‘n minus wees nie. God het reeds besluit dat elkeen van ons goed genoeg is.  Hy het ons aan Hom gewy. Ons is verbind aan ons. Niemand kan ooit jou plek vul nie. 

Ek het jou as profeet aangestel.
Die woord aangestel beteken eintlik “gee”. Soos in – ek het jou as profeet vir die nasies gegee. Dis mos hoe God dinge doen in die Bybel.
Joh 3: 16 – God gee sy seun…
Rom 12 – gee jouself as heilige offer
Hand 20 – om te gee maak ons gelukkiger as om te ontvang.
God gee wat nodig is. God gee Jeremia as profeet vir die nasies.

Profete was God se verteenwoordigers by die volk. Hulle lewens wys wie God is. Die Bybel is baie duidelik daaroor dat alle gelowiges profete is. Ons almal is verteenwoordigers van God. So ons moet leef soos verteenwoordigers. Soos die bekende spreekwoord moes sê: “ons is dalk die enigste Bybel wat iemand ooit gaan lees”.

So, God roep vir Jeremia en saam met die roeping stel hy hom gerus. Maar dan kom die verskonings.  
“Ek kan nie goed praat nie”
“Ek is nog te jonk”
Jeremia is eintlik besig om vir God “nee” te sê.
Iets wat ek nog nooit verstaan het nie. Dis vir ons moeilik om ‘nee’ te sê vir mense – ons doen goed wat ons nie wil doen of waarvan ons nie hou nie, want ons sukkel om nee te sê vir mense – maar dis baie maklik vir ons om nee te sê vir die goed wat God van ons vra. Ons is tog so vol verskonings as dit kom by die goed wat God van ons vra.
En dis nie moeilik om te weet wat God vra – alles wat Hy vra kan eintlik in 3 sinne saamgevat word:
Hy vra dat ons in ‘n verhouding met Hom moet leef;
Hy vra dat ons lief moet wees vir ons naaste;
Hy vra dat ons ons geloof prakties moet uitleef.
Maar ons is vol verskoning en sê maklik nee as God hierdie goed vir ons vra. Ons sal nog ja sê vir die verhouding met Hom, want dit vra nie so baie, maar as dit kom by liefde vir my naaste en praktiese uitleef van my geloof….dan is ons vol verskonings.

Daar is die mooi storie van die juffrou wat vir haar klas elkeen ‘n papiertjie gegee het en gesê het dat hulle “ek kan nie” daarop moet skryf. Toe het hulle uitgegaan en ‘n “ek kan nie” begrafnis gaan hou. Die begrafnisrede was soos volg:
"Vriende, ons is hier bymekaar ter herinnering aan “Ek kan nie.” Terwyl hy hier op aarde was, het hy baie van ons lewens aangeraak. Ons het vir “Ek kan nie” ’n finale rusplek gegee. Hy word oorleef deur sy familielede, “Ek kan”, “Ek wil”, “Ek gaan dadelik”. Mag “Ek kan nie” in vrede rus en mag ons saam met “Ek kan” vorentoe beweeg.” 

God kies ons elkeen reeds voor ons geboortes. Hy wy ons aan Hom. Hy verbind ons aan Hom. Hy wil elkeen van ons gebruik. Maar Hy het ook nodig dat ons sal ophou verskonings maak en sê ons “kan nie”. Kom ons sê ‘n slag ja met die wete dat Hy ons nie sal los nie.

No comments:

Post a Comment