Sunday, June 23, 2013

Preek 23 Junie 2013

1 Kon 19               Tableview gemeente                    23 Junie 2013


Ons gaan vandag ‘n verhaal van Elia lees – seker een van die bekendste verhale van Elia.  Soos julle weet was Elia een van die mees gesiene en soms ietwat dramatiese profete.  Vanoggend se verhaal is ‘n verhaal wat meeste van ons al gelees het en ken.  Ek moet erken, dat toe ek dit in die week weer lees, was ek so ietwat moedeloos, want wat sal ek nou sê oor hierdie gedeelte wat nuut is.  Maar, soos baie ander kere, het die Here my kom verras en ‘n ander kant van die verhaal kom wys.  ‘n Kant wat veral van toepassing is op die einde van ‘n kwartaal, tye wanneer ons moeg en oorlaai is.

Ons gaan saam lees uit 1 Kon 19

Die verhaal begin waar ons lees hoe Elia vlug vir sy lewe.  Hy is bang.  Dit is eintlik vreemd dat hy hier vlug, veral as ons in ag neem wat net in die vorige hoofstuk gebeur het.  Elia het al die Baal profete in hoofstuk 18 uitgedaag:  Kom ons kyk wie aanbid die ware God!  Hulle moes ‘n bul op die altaar plaas, maar nie die vuur aansteek nie.  Elia het dieselfde gedoen.  Daarna moes hulle van hulle god vra om die vuur aan te steek.  Hulle het die hele dag lank gebid, harder en harder, maar niks het gebeur nie.  Dan bid Elia tot God, en die hele altaar, al die klippe en hout, verbrand heeltemal.  Daarna kon niemand meer twyfel dat die Here die ware God is nie.  Elia het hulle toe opdrag gegee om die Baäl profete te vang en hulle is doodgemaak. 

So dit is amper n hoogtepunt.  Die Here bewys Homself as GOD.  Klomp mense erken vir God as Here.  Hy is groter en magtiger as Baal.  Maar dan dreig Isebel hom en sê dat sy hom gaan laat doodmaak.  Elia vrees vir sy lewe en hy vlug.  T.s.v. die groot wonderwerk wat pas gebeur het.  Hy vlug diep in die woestyn in.  Ons kry die idee dat hy erg depressief was.  Hy gaan lê onder ‘n besembos en wens dat hy eerder doodgaan. Hy vra eintlik maar dat die Here sy lewe neem. Sy woorde aan die Here in vers 4b:  “Nou is dit genoeg Here!  Neem my lewe want ek is niks beter as my voorvaders nie.”   Ek dink hy het heeltemal oorgegee en was gereed om te sterwe.  Hy het nie meer hoop gehad nie. 

Wat het als aanleiding gegee tot Elia se krisis:
1.  Hy was fisies afgetakel – hy was dood moeg gewees.  Ons lees hoe die engel vir hom ‘n dubbele opdrag gee om wakker te word en te eet. 
2.  Hy het alleen gevoel.  Hy het selfs sy slaaf agter gelaat.  Dit voel vir hom asof hy die enigste een is wat oorgebly het.  Ons hoor twee keer in die verhaal hoe hy voel asof hy die enigste een oor is.  En daar is nou niemand naby hom nie.  Stoksielalleen...
3.  Vrees.  Hy vrees vir sy lewe.  Isebel – Agab se vrou en ‘n Baal aanbidder – het gesê sy sal hom doodmaak.  Hy was doodbang gewees. 
4.  Hy beleef ‘n antiklimaks na Hfst. 18.  Hy was skielik sonder ‘n taak en ‘n doel.  Eerder as om ‘n applous of erkenning te kry vir dit wat in hfst. 18 gebeur, ervaar hy vervolging.  Hy het verwag dinge sal anders afspeel.
5.  Hy is ontnugter oor homself.  In vers 4 sê hy:  “Ek is niks beter as my voorvaders nie”.  Hy het moontlik by homself gedink – my voorvaders het soms afgedwaal, maar ek...nooit.  Maar dan tref dit hom – hy is dalk niks beter as sy voorvaders nie.  Dit was ‘n groot skok vir hom op daardie oomblik.
6.  Hy ervaar teleurstelling is sy geloofsgenote.  Hoor vir Elia in vers 10 - “Ek het my met hart en siel gewy aan U saak, Here, Almagtige God. Die Israeliete het die verbond met U verbreek. Hulle het U altare afgebreek en U profete doodgemaak. Net ek alleen het oorgebly, en hulle soek my om my ook om die lewe te bring.” Hy voel asof hy die enigste een is wat nog geloof in God oor het.

Ons kan aflei dat dit nie goed gegaan het met Elia nie.  Die lewe was net te veel vir hom.  Hy was in ‘n krisis.  Soos ons hier gehoor het het klomp goed aanleiding gegee tot hoe hy gevoel het.  Dis die eerste keer wat ek dit besef het nadat ek die verhaal gelees het.  Elia, hierdie groot profeet wat soveel wondertekens gedoen het, was uitgebrand.  Hy was ook moeg.  Ja, self hy.  Hy het nie meer kans gesien vir die lewe nie.  Dit word hieruit vir my duidelik – ‘die man van God’ was ook maar net ‘n mens.  Dit het my laat dink aan al die kere wat ek al so gevoel het.

T.s.v. die feit dat Elia besluit het hy is nou klaar met sy bediening en dat hy nie verder wil lewe nie, lees ons tog iets van herstel. Die Here is nog nie klaar met hom nie... Waaruit het Elia se herstel bestaan en wat het dit moontlik gemaak.
1.Alhoewel Elia vlug, vlug hy eintlik na God.  Elia is na Horeb (ook Sinai genoem) wat die berg van God was. Dit was ook die plek waar God vir Moses ontmoet het.  Verskeie elemente van die verhaal herinner ’n mens aan Moses se ervarings met die Here.  So hy vlug na ‘n plek waar hy weet sy voorvader die Here al ontmoet het. 
2. God kom hom daar opsoek en versorg: Geestelik sowel as fisies (vers 5 en 7).  God kom sorg vir hom op die mees basiese manier – kos en water.  God weet wat hy nodig het.
 3. God vra verantwoording van hom: "wat maak jy hier""  (Vers 9 en 13). ’n Gelowige is tog op aktiewe diens.  Elia moes weer bewus word van sy opdrag.
 4. Hy word bemoedig deur ’n verskyning van God self (anders as op Karmelberg waar God verskyn met krag en mag, is dit by Horeb in stilte).  Let op: daar is drie hewige natuurverskynsels (die baie sterk wind of in die aardbewing of in die vuur nie) waarin die Here nie verskyn nie. Hy kom eerder saggies, soos in die tuin van Eden (Gen 3:8) in ’n  fluistering in die windstilte.
 5. Hy kry nuwe opdragte - voltooi die revolusie (salf twee konings: Gasael tot koning van Aram en Jehu tot die nuwe koning van Israel en maak Elisa tot profeet).    Die salwing van Gasael wys op God se universele heerskappy.
 6. Hy ontvang ’n korreksie -  hy is nie alleen nie.  Die waarheid is eerder dat alhoewel Isebel die profete van die Here laat doodmaak het, Obadja ’n honderd profete gered en onderhou het (18:4)!  Elia staan dus nie werklik alleen nie.

Dis egter nie maklik om ’n geknakte gees te genees nie.
Alhoewel ons hoor van hierdie dinge wat aanleiding gegee het tot Elia se genesing, was dit steeds nie ‘n kort en maklike proses nie.  Dit belangrik om te besef dat dinge nie dadelik verander nie.  Nadat die engel hom wakker maak, gaan hy ‘n tydperk van herstel binne.  Ons lees dat God 40 dae met hom werk (vers 8).  Hy het tyd nodig gehad om weer te herstel.

Tog verander dinge...
 1. God se opdrag verander egter sake – Hy kry ’n opvolger.  Wanneer hy Elisa op pad teëkom, besig om te ploeg, gooi Elia sy mantel oor hom.  Elisa het sy roeping dadelik verstaan en gehoorsaam nadat hy almal gaan groet het
 2. Later is Elia na Agab se paleis om vreesloos God se oordeel aan te kondig.  Hy het nie meer uit vrees vir Isebel geleef nie.

Wat leer ons uit Elia se verhaal
Daar kom beslis tye in ons lewens wat ons ook soos Elia voel en wat ons wil vlug.  Die redes is dalk anders as Elia s’n, maar op ‘n manier voel ons dieselfde. Ons hoef dalk nie te vlug vir ons lewens nie, maar ons wil vlug van ‘n samelewing wat toenemend druk op ons plaas.  ‘n Samelewing wat sekere dinge van ons vereis.  Dalk voel ons depressief soos Elia omdat ons dink ons het nie ‘n doel nie.  Dalk beleef ons ook ‘n antiklimaks na ‘n groot besigheids transaksie.  Die redes is oneindig...

Ek sien vir Elia moedeloos onder die besembos sit - hy is uitgebrand – “burnout” slagoffer!  Hy het alles vir die Here gegee, maar kyk wat is die gevolge - hulle wil hom doodmaak. Hy het nou genoeg gehad... ’n Man wat 450 profete van Baal en 400 profete van die godin Asjera man alleen teengestaan het op die berg Karmel, word bang, moedeloos en wil handdoek ingooi toe hy die boodskap kry van koningin Isabel: “Môre is jy ’n lyk!”

Maar, ten diepste dink ek is hierdie nie ‘n verhaal oor Elia nie, maar eerder oor God.  Selfs Elia moes hier besef dat nie hy nie, maar God, die hoofkarakter is in hierdie verhaal.  Dat die uitkoms van die verhaal nie van hom afhang nie, maar van God.  In hoofstuk 18 kom wys God dat hy, en nie Baal, die ware God is.  In hoofstuk 19 word daar dan sterk gefokus op Wie hierdie God is en hoe die Here anders as Baal is. 

1.  Die eerste ding wat God ons van Homself kom leer in die verhaal, is dat Hy vir Elia sorg – op die heel basiese manier.  Daar waar Elia in die woestyn was, met geen kos of water nie, stuur God ‘n engel om vir hom te sorg.  God kom stry of argumenteer nie met hom nie.  God kom sorg net vir hom.  Dis juis in tye wat ons wil vlug en alleen voel, wat God die naaste aan ons is.  Dalk is dit soms nodig vir ons om ‘n tyd na die woestyn te vlug en daar te gaan rus, sodat ons weer God se sorg kan ervaar.  Ek dink Elia het gehoop God kom sorg op ‘n ander manier – soos om van Isebel ontslae te raak, of om die volk tot bekering te dwing.  God sorg dus op maniere wat ons nie altyd verkies nie.  Soms is TYD deel van herstel en die Here weet wat ons daarvoor nodig het.  God sorg op vele maniere.

2.  God kom openbaar Hom op maniere wat ons nie altyd verwag nie.  Ons verwag dat God Hom op ‘n spesifieke manier aan ons kom openbaar, maar dan verras Hy ons.  God het Hom net in die vorige hoofstuk en in baie ander dele in die OT op ‘n kragtige manier geopenbaar, maar nie in hierdie hoofstuk nie.  Hier kom God in stilte.  God openbaar homself nie net op kragtige maniere nie, maar ook in stiltes en fyner dinge.  Die teks kom wys dat ons God altyd op ‘n nuwe ek kreatiewe manier kan ervaar.  God kan in die groot en magtige dinge wees, maar ook in die klein alledaagse dinge.

Hierdie verhaal wil nie sê dat ons vir God net in die stilte ervaar nie, maar dat God juis homself aan ons openbaar op maniere wat ons die minste verwag.  Op basiese maniere.  Elia het iets groot verwag – dalk eerder ‘n aardbewing of vuur, soos in die vorige hoofstuk, maar dan is dit in die stilte.  Ek dink wel dat ons as gelowiges te min vir God in die stilte gaan soek.  Met lewens wat gejaag is en waar daar meestal geraas is, hoor ons nie meer stiltes nie.  As ek moet gaan dink wanneer laas ek in die stilte van die natuur vir GOD gaan soek het, moet ek met skaamte erken dat ek nie kan onthou nie. 

3.  Derdens: God gebruik hom weer. God stuur hom.  Nadat God vir Elia versorg en hom op so ‘n ongewone manier in die stilte openbaar het, stuur Hy vir Elia om sy profetiese taak te gaan voltooi nl. om nuwe konings te salf.  Elia het nutteloos gevoel en seker gedink God sal hom nie weer kan gebruik nie.  Nee, God stuur hom weer.  God gee vir hom ‘n nuwe opdrag en doel.  Dit is dan onder hierdie nuwe konings wat Elia salf wat Isebel sterf en die volk gestraf word.  God kies om juis mense te gebruik wat voel hulle is nutteloos, hulle het nie meer ‘n doel nie.  Al voel ons soms soos Elia – moedeloos – kan God ons steeds gebruik.

Ek sluit af – in hoofstuk 18 kom wys God deur vuur te stuur dat Hy werklik God is.  In hierdie hoofstuk leer ons wie hierdie werklike God is.  Ons lees dat wanneer ons op n plek van moegheid en uitbranding is, is Hy ‘n God wat sorg – selfs op die heel basiese manier. Op maniere wat Hy weer die beste is. Ons leer dat Hy homself aan ons openbaar op maniere wat ons nooit verwag nie. En laastens, hy stuur ons met ‘n nuwe opdrag. En daarom, alhoewel ons moeg is hier in die middel van die jaar en waarskynlik die behoefte het om eerder iewers onder ‘n besembos te gaan lê, hoef ons nie moed op te gee nie, want God verskyn op onverwagse maniere en kom gee aan ons onverwagse energie om nuwe opdragte uit te voer.


No comments:

Post a Comment