Sunday, July 7, 2013

Preek 07 Julie 2013


Die president van die American Medical Association vertel die storie van ‘n dokter, Dr Ray, wat in ‘n arm woonbuurt gewerk het. Vir ‘n deel van sy tyd het hy die heel armstes en behoeftiges behandel, selfs al kon hulle hom die meeste van die tyd nie betaal nie. Omdat hy nie wou gehad het dat die mense welsynsgevalle gebrandmerk moet word nie, het hy privaat trappe beskikbaar gemaak vir hulle. Aan die onderpunt van die trappe het hy ‘n bordjie gesit wanneer hy daar was en dan kon hulle reguit opgaan na sy spreekkamer. Op die bordjie het gestaan: “Dr Ray is up there”.
Toe Dr Ray die dag dood is, wou sy pasiënte ‘n spesiale bronsplaaitjie op sy graf laat sit, maar hulle kon dit nie bekostig nie. Skielik toe kry iemand die blink idee om die bordjie aan die onderkant van sy trap op sy graf te laat sit: “Dr Ray is up there.”
Dr Ray was iemand wat liefde uitgedeel het. Vanoggend se storie is van ‘n dogtertjie wat liefde uitgedeel het. Waar Christene begin om liefde uit te deel, besef mense dat God nie net “Up there” is nie, maar ook “down here.” 


Hierdie verhaal is ‘n verhaal van wonderwerke. So ek wil net vanoggend vir julle die wonderwerke in die verhaal uitlig.

Eerste wonderwerk is ‘n slawe dogtertjie wat haar nek uitsteek om haar siek baas te help. Die kind het geen titel of naam nie. As ‘n slaaf was sy ‘n blote besitting met geen regte nie. Dan was sy nog ‘n kind ook wat gehoor of gesien mag word nie. Maar ten spyte hiervan steek sy haar hand uit om haar baas te help.

Ek dink 2 Kronieke 16: 9 help ons om te verstaan wat hier gebeur het: “Die Here het sy oë oral op die aarde sodat Hy dié kan help wat met hulle hele hart op Hom vertrou.
Die naamlose dogtertjie het Iemand wat Sy oë op haar het. Die wete gee aan die eenkant vir haar die moed om met haar baas te gaan praat. En aan die anderkant gee dit vir haar deernis en liefde om uit te reik na Naäman.

Duidelik het sy ook daarin geslaag om vir Naäman te vergewe. Onthou hy is die generaal wat haar gevange geneem het en haar weggevat het van alles en almal wat aan haar bekend was. Sy het alle rede gehad om hom te haat en haar te verlekker in sy siekte. Dis mos sy verdiende loon.
Maar sy doen die gelowige ding – sy vergewe en reik in liefde na hom uit om hom te probeer help. Sy gee met ander woorde vir hom wat hy nie verdien nie. En dis genade.
Liefde en vergifnis maak ‘n nuwe toekoms moontlik, vir die persoon wat dit ontvang en vir die persoon wat dit uitdeel.
Dis soos die 3 Amerikaanse soldate wat tydens die  Vietnam oorlog krygsgevangenes was. Een dag toe staan hulle by die Vietnam Memorial in Washington en die een vra: “Het julle al die Vietnamese vergewe vir wat hulle aan ons gedoen het? Sy vriend antwoord: “Nee, ek sal hulle nooit kan vergewe nie”. Die derde een antwoord toe: “dan hou hulle jou nog steeds gevange, nie waar nie”.
Wanneer ‘n mens nie vergewe nie, dan bly jy ‘n gevangene.

Die naamlose dogtertjie het haarself nie as ‘n gevangene of ‘n “victim” gesien nie. Sy was ‘n kind van God en toe God ‘n getuie nodig het, toe was sy reg om dit te doen.
Vraag: Is ek bereid om ‘n getuie te wees as iemand dit nodig het?
Is daar dalk onvergewensgesindheid of liefdeloosheid wat maak dat ek sukkel om ‘n getuie van God te wees.

Die tweede wonderwerk is die wonderwerk van deel en gee. Die naamlose, gelowige dogtertjie was bereid om dit wat sy gehad het, met Naäman te deel. Weereens, sy het nie nodig gehad om dit te doen nie. Trouens, daar was genoeg redes vir haar om niks te doen nie en hom aan sy lot oor te laat. Ek dink nie enige iemand sou haar kwalik geneem het as sy niks gedoen het nie.
Maar sy deel met hom wat sy het om te deel.  Sy deel met hom haar kennis. Sy doen wat in Die Bybel staan:
Spreuke 11: 25: “Wie ’n ander voorspoed gun, sal self oorvloed hê. Wie die dors van ander les, sal self genoeg kry as hy dors is”.
Lukas 6:38: “Gee en vir julle sal gegee word”. 
Handelinge 20:35: “Om te gee, maak ‘n mens gelukkiger as om te ontvang”.

By die dogtertjie leer ons: Vrygewigheid kweek vrygewigheid. Wanneer ons gee, ontvang ons ook. Dit laat jou ook beter voel, dit maak jou gelukkiger.

Die derde wonderwerk het met Naäman te doen. Naäman word melaats. Dit beteken, dis klaar met hom. Daar was nie genesing vir melaatsheid nie. Gelukkig is daar hierdie dogtertjie wat hom vertel van Elisa, die man deur wie God hom sal genees.  

Naäman gaan soek eers vir Elisa op die verkeerde plek. Dis mos iets wat mense geneig is om te doen. Ons gaan soek God op verkeerde plekke.

Uiteindelik kom hy dan by Elisa uit en hy kry die opdrag om hom te gaan was in die Jordaanrivier. Waaroor hy hom vervies. Hy het ‘n vooropgestelde idee van hoe God en Elisa die genesing moet hanteer. Weereens, is dit nie maar hoe ons almal soms is nie? Ons gaan soek eers oplossings op allerhande plekke of ons wil vir God voorskryf hoe die oplossings moet lyk. Lekker arrogant. In plaas daarvan dat ons van die begin af na God toe gaan en luister en doen wat Hy sê.
Ons noem dit ABC-godsdiens. Ons is geneig om Alles Behalwe Christus mense te wees. Ons gaan soek orals behalwe by Christus vir oplossings.
Ons moet eerder Alles Begin by Christus mense wees. Ons moet eerste na Hom toe gaan.

Na alles gaan doen Naäman tog wat Elisa van hom vra en hy word genees. En in die proses besef hy daar is net een God. Soos ons lees in vers 15: “Ek weet nou, daar is geen God op die hele aarde behalwe in Israel nie.”  
M.a.w. hy kom tot bekering. Wanneer God so in jou lewe werk, kan jy nie anders as om te verander nie.

Dan gebeur daar ‘n interessante ding. In vers 17 lees ons dit: “Toe sê Naäman: As u dan nie iets wil hê nie, wil u nie asseblief vir my twee muilvragte grond laat kry nie? Daarop wil ek brandoffers en ander diereoffers bring, net aan die Here, nie langer aan enige ander God nie.”

In die Ou Testament tyd het die mense geglo dat ‘n god net in ‘n spesifieke area gewoon, daarom dat Naäman gesê het, daar is geen God behalwe die God in Israel nie. Nadat hy genees en verander is, begin hy vir God ook nou in sy eie land aanbid. Op daai manier word God nou ook in ‘n ander land erken en aanbid.
Kom ek som dit alles op.
God gebruik ‘n slawe dogtertjie as ‘n getuie in ‘n heidense soldaat se lewe.
Sy gee wat sy het om te gee – haar vergifnis en liefde.
En in die proses word Naäman genees, hy kom tot bekering en hy word dan ‘n getuie van God in sy eie land.

Wat ons moet hoor. Daar is baie Naämans waar ons elke dag ons lewens leef. Mense wat behoefte het en nodig het om nuut te begin. Vraag is: Is jy bereid om die slawedogtertjie vir hulle te wees? 


No comments:

Post a Comment