Sunday, August 18, 2013

Preek 18 Augustus 2013

Matteus 9: 9-13 (Nagmaal)
Die evangelie volgens Tony Soprano

James Gandolfini, is ‘n bekende akteur wat onlangs oorlede is. Hy was saam met sy seun met vakansie in Italië, waar hy dood is aan ‘n massiewe hartaanval. Hy was veral bekend vir die rol van Tony Soprano in die TV reeks, The Sopranos. Die reeks het gegaan oor die Mafia, met Tony Soprano wat die leier was van die Mafia familie.
The Sopranos was een van my gunsteling programme op die TV. Hoop nie dis vir julle vreemd om dit te hoor van ‘n NG Kerk dominee nie. Ek dink dis een van die beste reeks wat daar nog was.

Ek dink die rede hoekom die reeks so gewild was, (hoekom ek dit geniet het) was omdat mense met Tony Soprano kon identifiseer. Ons het elke week gekyk, want Tony Soprano het iets van ons almal gereflekteer. Hoekom sê ek dit? Want sover ek weet het niemand van ons nog ooit aan die Mafia behoort of mense doodgemaak nie.
Ek sê dit, want soos Tony het ons almal al dinge gedoen waaroor ons spyt was. Dinge waarop ons nie trots is nie. Dinge wat ons hoop niemand sal van uitvind nie.
Almal van ons is goeie mense, maar ons het ook almal ‘n donkerder kant wat ons gewoonlik goed kan wegsteek(al is dit net iets soos ‘n kwaai humeur). Soms kom dit uit, maar die meeste van die tyd kry ons dit reg om dit weg te steek. Net soos Tony.

Kom ek vertel julle bietjie van Tony se goeie en donker kante.
Hy was die Mafia baas met baie mag oor mense, maar hy het ook weekliks ‘n sielkundige gaan sien om hom te help deel met sy issues en met depressie.
Elke nou en dan het hy ‘n moord gepleeg of laat pleeg of hy het ouens aangerand, maar hy was ook die eerste ou wat gehelp het wanneer sy familie of vriende hom nodig gehad het.
Al het hy gereeld sy vrou verneuk, was dit ook duidelik dat hy baie lief was vir haar en hy sou enige iets vir haar doen.
Hy was baie lief vir sy kinders, al het hy hulle soms met die plathand bygekom en op hulle gevloek. Daar was een toneel waar Tony se seun, A.J., vir hom kom sê het dat hy dink God is dood en daarom gaan hy nie meer sondagskool toe gaan of in die Katolieke kerk bevestig gaan word nie. Tony se reaksie was: “even if God is dead, you go to Catholic school…your mother wants it.”
Dis hoe Tony was – hy mors sy eie lewe op, maar hy wil sorg dat sy kinders nie hulle lewens opmors nie. Hy leef daai spreekwoord: Doen wat ek sê, nie wat ek doen nie.

Tony Soprano was vol kontradiksies. Hy is hierdie nice ou, maar hy het ook ‘n donker kant. Dis juis hoekom ons van hom gehou het. Hy laat ons beter voel oor die kontradiksies in ons eie lewens. In vergelyking met hom is ons baie goeie mense.

Die Bybel is ook vol voorbeelde van sulke mense. Dink aan Noag wat teveel gedrink het. Lot wat sy dogters aanbied vir vreemde mans. Moses wat die Egiptenaar vermoor. Jakob wat sy broer en pa en ander bedrieg het. Simson wat nie die vrouens kon uitlos nie. Dawid wat egbreuk pleeg met Bathseba en dan haar man laat vermoor. Paulus wat Christene vervolg en uitgemoor het. Petrus wat vir Jesus verloën het. So kan mens aangaan.
Tog ten spyte van hulle foute en die dinge wat hulle gedoen het – was hulle geloofshelde deur wie God groot dinge gedoen het.

Jesus self stel vir ons die voorbeeld as dit kom by mense wat vol foute is. In Matteus 9 lees ons…(The Message vertaling)
Passing along, Jesus saw a man at his work collecting taxes. His name was Matthew. Jesus said, “Come along with me.” Matthew stood up and followed him.
Later when Jesus was eating supper at Matthew’s house with his close followers, a lot of disreputable characters came and joined them. When the Pharisees saw him keeping this kind of company, they had a fit, and lit into Jesus’ followers. “What kind of example is this from your Teacher, acting cozy with crooks and riffraff?”
Jesus, overhearing, shot back, “Who needs a doctor: the healthy or the sick? Go figure out what this Scripture means: ‘I’m after mercy, not religion.’ I’m here to invite outsiders, not coddle insiders.”

Jesus gee nie vir Matteus ‘n klomp voorwaardes waaraan hy eers moet voldoen nie, hy nooi hom net uit. Jesus was ook gemaklik met die sondaars en die tollenaars en hulle was gemaklik by Hom. Hy gaan eet saam met hulle, Hy oordeel hulle nie.

En later,  toe Hy die nagmaal ingestel het, het hy nie vir Petrus en Judas oorgeslaan nie. Hy het geweet hulle gaan hom verraai en verloën, maar hy het nog steeds vir hulle die nagmaal bedien.

Die nagmaal is die teken, die herinnering dat Jesus vir alle mense gesterf het. Vir Tony Soprano met al sy kontradiksies. Vir die ouens in die Bybel met al hulle foute.  Vir my met al my kontradiksies en foute. Vir elkeen van julle met al jou kontradiksies en foute.

Ek wil afsluit met ‘n aanhaling. Twee Sondae terug het Jaco Strydom hier by ons gepreek. Hy is die leier van Echo bediening in Pretoria. Hulle werk veral met mense in nood. Voor hulle kerkgebou en op hulle website, het hulle die volgende kennisgewing.
Dwelmverslaafdes, misdadigers, alkoholiste, daggarokers, ateïste, prostitute, prokureurs,
morsjorse, gomsnuifers, Blou Bul ondersteuners, vandaliste, boemelaars, kriminele, rokers,
studente, boeremusiekliefhebbers, gays, freedom fighters, speed cops, swartmense,
pastore, geldgieriges, onnies, kwaadpraters, tronkvoëls, egbrekers, witmense, gomtorre,
geheelonthouers, bruinmense, boelies, dominees, rowers, boere, losbandiges, stadsjapies, tieners, apartheidshelde, nerds, wash-outs, sataniste, hoofdogters, ou tannies, kommuniste,
kunstenaars, materialiste, wewenaars, leuenaars, metal heads, orreliste, skinderbekke,
kerkmense, kerkloses, gewone mense, sondaars...
WELKOM!

Dalk is jy vanoggend deel van hierdie lysie – dan wil ek jou spesiaal uitnooi na hierdie nagmaalstafel – jy is welkom. Hierdie tafel bevestig dat God se liefde en genade vir jou genoeg is.



No comments:

Post a Comment