Sunday, August 11, 2013

Preek 11 Augustus 2013


Maak jou oë toe. Verbeel jou die volgende situasie. Jy en jou gesin hou vakansie in ‘n woonstel op die vierde verdieping.  Skielik breek daar ‘n brand in die gebou uit. Julle is vasgekeer op die balkon. Agter julle is daar net vlamme en rook. Onder op die grond is daar ‘n skare mense besig om te versamel. Hulle begin matrasse op die grond pak en  skree “spring”.
Dink bietjie. Sal jy jou kinders laat spring? Sal jy spring?
Wat jy doen in sulke omstandighede sê iets van jou geloof en van jou vermoë om ander mense te vertrou.
Ons teksgedeelte van vandag wil ons help om geloof so te verstaan.

Lees die teks

Helde – ons almal het helde. Dis mense na wie ons opkyk. Mense wat vir ons ‘n voorbeeld is en wat ons inspireer. Ons gaan dalk nie noodwendig saamstem oor hoekom iemand ‘n held is nie, maar helde bly belangrik in ons lewens. 

My held is…Desmond Tutu – oor sy integriteit, sy eerlikheid, sy sterk geloof, omdat hy so lekker stir en mense kwaad maak en laat dink.
Neem gou ‘n oomblik – dink aan iemand wat jy sal beskou as ‘n held?
Fred Smith het in ‘n boek geskryf:
We cannot live fully without heroes, for they are the stars to guide us upward. They are the peaks on our human mountains. Not only do they personify what we can be, but they also urge us to be. Heroes are who we can become if we diligently pursue our ideas in the furnace of our opportunities. Heroes are those who have changed history for the better. They are not always the men and women of highest potential, but those who have exploited their potential in society's behalf. Their deeds are done not for the honor but for the duty.

Die helde wat ons kies sê iets van dit wat ons glo en van ons ideale en die waardes waarvolgens ons leef. Ons kies helde omdat ons aanklank vind by dit waarvoor hulle staan of dit waaraan hulle glo en dit sê dan iets van onsself ook.
As ek vir julle sou sê, Robert Mugabe of Lance Armstrong is my held. Wat gaan julle van my dink? Waarskynlik nie baie nie. Hulle is nie goeie voorbeelde nie.
Maar as ek sê Desmond Tutu of Moeder Teresa is my helde – dan gaan julle beter van my dink. Die helde wat ons kies sê iets van myself, die waardes wat vir my belangrik is en dit waaraan ek glo.

Ek was onlangs in ‘n gesprek waar iemand vertel het dat een of ander organisasie in Amerika vir 2000 graad 8 kinders gevra wie hulle helde is. Die meeste van hulle het een of ander sport of TV of fliek ster genoem. ‘n Celebrity.
Onder die kinders was daar geen staatsman of vrou, skrywers, skilders, musikante, argitekte, doktors, ruimtevaarders of godsdiens mense nie. Die gevolgtrekking hiervan is dat die helde van ons samelewing mense is wat dit gemaak het, maar hulle is nie mense wat noodwendig iets groots gedoen het om bekend te raak nie.
Dis mos maar hoe die wêreld verander het. Vroeër jare was die helde van die samelewing mense wat iets ontdek of uitgevind het.  Mense wat iets van hulleself gegee het sodat ander kon lewe of die lewe meer kon geniet.  
Vandag se helde is ‘celebrities”. Mense wat bekend geraak het sonder dat hulle veel gedoen het of daarvoor gewerk het. En gereeld lees ons van een of ander skandaal wat hulle ontmasker.
     
Ons het meer helde soos Abraham nodig.  In ons teks word ons voorgestel aan Abraham, maar sy storie kry ons al in Genesis 12. Abraham is iemand wat vir God getrou gevolg het, selfs al het hy nie geweet wat voorlê nie. Hy is iemand wat betekenis gevind het in geloof en die roeping wat God vir hom gehad het. Daarom dat hy as een van die geloofshelde voorgehou word.

Abraham het ‘n goeie lewe gehad. Met ‘n familie en eiendom. Eendag ontmoet hy vir God en sy lewe sou nooit weer dieselfde wees nie. God roep hom na ‘n vreemde land toe en belowe vir hom die seun wat hy graag wou gehad het. Sonder aarseling sê hy ja, hy sal dit doen. Maar dit was nie maklik nie. Sy toekoms is onseker in ‘n vreemde land met vyande wat hom wou vernietig. En toe hy uiteindelik op ‘n hoë ouderdom ‘n seun kry, toe vra God vir hom om sy seun op te gee. Deur dit alles het Abraham se geloof nooit gewankel nie. Daarom noem die Hebreers skrywer hom ‘n geloofsheld. Iemand na wie ons kan opkyk en wie se voorbeeld ons kan volg.   

Abraham het verstaan dat geloof is om seker te wees van die dinge wat ons hoop, om oortuig te wees van die dinge wat ons nie sien nie.
Geloof is om te glo wat jy nie kan sien nie, en om dan te sien wat jy nie kan glo nie – Maarten Luther.
Dis wat ons by Abraham sien.

Geloof is die vermoë om beter te kan sien as wat ander mense kan sien. Dis om met geloofsoë na die wêreld te kan kyk. Geloof maak dat jy vir God kan sien – nie net in die goeie tye van die lewe nie, maar ook in die slegte tye. Veral in die slegte tye. Dis om met God se perspektief na die wêreld te kyk, omdat jy weet Hy sal alles ten goede laat uitwerk.

Hierdie tipe geloof het ‘n paar gevolge:
Dit maak jou wêreld groter. Sonder geloof sien mens mos net raak wat hier rondom jou is. Mens sien net die probleme en die onmoontlike raak. Geloof maak die wêreld vir jou oop en jy sien nuwe moontlikhede, want jy weet God is groter.
Dit laat jou leef met ‘n toekomsverwagting. Johannes Calvyn het gesê mens moet elke dag die heerlike toekoms van God bedink en jouself daaraan herinner. Mense kyk mos net vas in hoe die lewe hier en nou is. En dit maak hulle negatief. God gee vir ons ‘n nuwe toekoms, ‘n positiewe, hoopvolle toekoms. En dit gee vir ons weer moed om die dinge van hierdie lewe te kan hanteer.
Dit moedig jou aan om voluit te lewe. Mens raak maklik moedeloos en leef net vir hulleself en om te oorleef. Mens verval so maklik in ‘n groef. Geloof moedig ons aan om voluit te leef al is jou omstandighede nie altyd so lekker nie.  Want ons weet God kom sy beloftes na en het iets beters in gedagte.

Al hierdie goed sien ons by Abraham. In geloof het hy vir God ernstig geneem en Hom vertrou en dit het sy wêreld groter gemaak, dit het vir hom ‘n toekomsverwagting gegee en gemaak dat hy voluit gelewe het. En as dit nie daarvoor was nie, dan was ons waarskynlik nie vandag hier nie.
Ons almal het helde – mense soos wie ons graag sal wil wees. Mense soos Abraham wat geleef het met ‘n diep geloof in God wat groot dinge deur hom gedoen het. ‘n Geloof in God wat hom deur die goeie en slegte tye laat kom het. Hy is die voorbeeld wat ons kan navolg.   
Om ‘n held te wees het mens nie nodig om aandag te trek nie of om jou naam in die koerante te sien nie. Jy’t nie nodig om ‘n klomp geld of mag te hê nie. Jy het net nodig om geloof te hê en dit uit te leef. 

Luister na lied wat verduidelik hoe geloof werk. Pam Thum: Life is hard




No comments:

Post a Comment