Wednesday, November 27, 2013

Preek 24 November 2013

Kolossense 1: 15-20
Christus die koning Sondag


Vandag is Christus die koning Sondag. Op hierdie Sondag vier vir Jesus wat die koning van ons lewens en van die heelal is.
James Allen Francis het in 1926 die volgende oor Jesus geskryf.
Hier was ʼn man, wat gebore is in ʼn klein dorpie, die seun van ʼn plattelandse boeremeisie. Hy word groot in ʼn ander agter-af dorpie. Hy werk as ʼn timmerman van die dorp totdat Hy 30 jaar oud is.  Daarna is Hy drie jaar lank ʼn rondreisende prediker. Hy het nooit ʼn boek geskryf nie. Hy het geen vername pos beklee nie. Hy het nooit ʼn huis besit nie. Hy het nooit verder as 250 km gereis van die plek waar Hy gebore is nie. Hy het slegs Homself as CV gehad het. Hy het niks in die wêreld besit nie.  Terwyl Hy nog baie jonk was en sommer vroeg in Sy loopbaan, het die openbare mening algaande teen Hom gedraai. Sy vriende het hom in die steek gelaat.  Hy het in die hande van Sy vyande geval.  Hulle het Hom vasgespyker aan ʼn kruis tussen 2 diewe!  Sy laksmanne het ʼn speletjie gespeel oor Sy enigste aardse besittings wat Hy gehad het – die klere aan Sy liggaam. Toe Hy dood was, is Sy liggaam in ʼn geleende graf gelê, die eiendom van ʼn vriend wat vir Hom jammer was.  20 lang eeue het gekom en gegaan en vandag is Hy die Middelpunt van die ganse mensdom en die Leier van vooruitgang en beskawing.  Hy is die begin- en vertrekpunt van die jaartelling van ons kalender.  Ek is volkome binne my reg, wanneer ek beweer dat al die skepe wat al gebou is, al die weermagte wat al gemarsjeer het, al die parlemente wat nog gesit het en al die konings\regerings wat al geregeer het, dat hulle nie die lewe van die mens op aarde so radikaal en volledig beïnvloed het soos hierdie een enkele lewe van Jesus Christus nie!

In die dertiende eeu het iemand 30 bokvelle aanmekaar vasgewerk en ‘n kaart van die wêreld daarop geverf. Dit was 12 voet by 12 voet. Die Latynse naam van hierdie kaart is Mappa mundi Christiana – dit beteken “‘n Christelike kaart van die wêreld”.
Hierdie kaart is in 1843 in ‘n klooster in Duitsland ontdek. Ons het egter nie meer hierdie oorspronkilik weergawe van die kaart nie – dis tydens die Tweede wêreld oorlog in ‘n bomaanval verwoes. Al wat ons daarvan het is foto’s en afdrukke.
Aan die bopunt van die kaart is die kop van Jesus. Aan die twee kante is Jesus se hande en onder is sy voete.  Jerusalem is in die middel van die kaart, waar Jesus se naeltjie sou wees.
Rondom die kaart is daar beskrywings van diere en die skepping van die wêreld. En die Bybelse stede en plekke is oral ingeteken.
Wat die skepper van hierdie kaart wou oordra, is dat Jesus is die een wat die wêreld bymekaar hou. Hy is agter alles. Hy is die middelpunt van alles. Hy raak alles en almal.

Dis waaroor vanoggend se teksgedeelte gaan.  Lees Kolossense 1: 15-20

Paulus skryf hierdie lied aan die gemeente in Kolosse. Daar was dwaalleraars wat die mense verwar het. Hulle het vertel dat Jesus nie regtig so belangrik is nie. Volgens hulle was Hy maar net nog ‘n manier om by God uit te kom. Hulle ontken dus die rol wat Jesus speel in die Christelike geloof en in mense se lewens. In reaksie hierop sê Paulus dan ‘n paar goed oor Jesus.

Jesus is die beeld van God (vers 15a). Paulus sê – as jy wil weet wie God is. As jy wil weet hoe God is. Kyk na Jesus. Jesus maak vir God sigbaar.

Jesus is die eerste (vers 15b-17). Jesus was nog altyd daar. Hy was betrokke by die skepping en Hy is steeds daarby betrokke. So daar is niks in hierdie skepping wat belangriker is as Jesus nie. Hy is belangriker as die heelal en alles wat gesien kan word en alles wat nie gesien kan word nie. Belangriker as enige konings en regerings.  

Jesus, hoof van die kerk (vers 18). Nou skuif die fokus van die heelal af na Jesus se verhouding met die kerk (ons). Paulus bevestig – Jesus is die hoof van die kerk en Hy hou dit in stand. Hy sorg vir sy kerk.

Jesus se werk is versoening (vers 19-20). Jesus het mense en die hele skepping en God bymekaar uitgebring.  Die kruis is soos ‘n brug tussen die wêreld en God. Die kruis het vrede gebring tussen God en die wêreld. 

Paulus doen wat die skepper van die Mappa mundi Christiana wou doen – hy bevestig dat Jesus die oorsprong, die middelpunt en die onderhouer van alles en almal is.

In verse 16-17skryf Paulus: “God het deur Hom alles geskep wat in die hemel en die aarde is: alles wat gesien kan word en alles wat nie gesien kan word nie… voor alles was Hy al daar, en deur Hom bly alles in stand”.

Dis wonderlik om dit te hoor, maar soms voel dit mos nie asof Hy alles in stand hou nie. As ons so kyk na die wêreld waarin ons leef, met al die wreedheid wat mense teenoor mekaar pleeg. As ons so kyk na al die hartseer wat mense beleef. As ons so kyk na die natuurrampe waarin 1000de mense sterf.
Mense beleef seer en hartseer en gaan deur worstelinge. Soms voel dit mos asof die lewe jou so platslaan dat jy net uitmekaar wil val. Dan lyk dit nie asof Jesus alles in stand hou nie.


As dit is hoe jy voel dan wil ek jou vertel van laminien. As jy al ‘n praatjie van Louie Giglio gekyk het, sal jy dalk weet wat laminien is, maar ek het nie geweet wat dit is nie. Eenvoudig gestel – laminien is ‘n extra sellulêre protein in ons liggame. Dit beteken dit lê buite die selle in ons liggame. Dit gee ondersteuning aan die selle en dit bind die selle aanmekaar. Dit sorg dat ons nie uitmekaar val nie. As dit nie reg funksioneer nie kan dit byvoorbeeld lei tot spier distrofie. So dis ‘n baie belangrike protein.
Nou wil ek ook vir julle ‘n foto wys van Laminien wat met ‘n baie sterk mikroskoop afgeneem is. Laminien is in die vorm van ‘n kruis.

Soos wat die laminien ons liggame in stand hou en bymekaar hou, so hou Jesus alles in stand. Ons liggame, ons wêreld, ons lewens. En ja, ons word siek en ons wêreld is deurmekaar en ons lewens is soms chaos en seer, maar Jesus is die een wat ons daardeur help en alles weer bymekaar laat kom. 
Soos Rob Bell in een van sy boeke skryf: “God is putting the world back together, and God is doing this through Jesus."

Wat beteken dit alles vir ons wat onsself Jesus-volgelinge noem?
Ons moet begin deur weer vir Jesus die middelpunt van ons lewens en ons wêreld te maak. Die beste manier om dit te doen is om ‘n slag weer te gaan kyk hoe lyk sy voorbeeld en dit na te volg. Dit beteken ‘n paar goed…
Ons moet leef met liefde teenoor alle mense. En onthou Christene kan nie kies wie hulle liefhet nie.  Soos Jesus moet ons alle mense liefhê.   
Ons moet barmhartigheid bewys aan alle mense.
Ons moet vredemakers wees in ‘n wêreld waar daar baie onvrede is.
Ons moet mense vergewe, soos wat Jesus ons vergewe het.
Ons moet genadig wees teenoor alle mense. Is altyd vir my interessant hoe ons geneig is om Jesus se genade vir onsself toe te eien, maar as dit kom by ander mense, dan is ons traag om genade te bewys.
Ons moet die kwaad in hierdie wêreld oorwin met die goeie.
Ons moet ophou om so pessimisties en negatief te wees. Wanneer dinge sleg lyk en voel moet ons leef soos mense wat glo dat Jesus ons sal heelmaak en dinge ten goede sal laat uitwerk. 

Die punt is – Ons moet Jesus as die koning van ons lewens erken. Maar dis die maklike deel. Die uitdaging is - ons moet dit begin leef ook. Op hierdie Christus die koning Sondag erken en vier ons dat Hy die koning van ons lewens is – veral deur te begin leef soos mense wat erken dat Hy ons koning is.


No comments:

Post a Comment