Sunday, April 11, 2010

Preek 11 April 2010

Handelinge 5: 26-32


’n Vrou kom na haar predikant toe en vra: “Sal jy asb vir my vertel wat jou idee van gehoorsaamheid is?” Die predikant het ’n tydjie gedink en toe ’n skoon A4 bladsy geneem en dit vir die vrou gegee: “Dit is om jou naam onder aan die skoon bladsy te teken en om God toe te laat om dit in te vul soos Hy wil.”

Ons is nou ‘n week na die opstanding. Die opstanding wat gaan oor hoop en nuwe lewe. Hoe reageer mens op die opstanding? Jy reageer deur gehoorsaam aan God te wees. En dis waaroor vanoggend se teksgedeelte gaan: gehoorsaam wees, om te leef volgens God se wil. Al is dit soms moeilik.

Lees Handelinge 5: 26-32

In ons teks sien ons dat die hoëpriester en sy handlangers die dissipels in hegtenis laat neem omdat hulle ongehoorsaam was aan die bevele van die Joodse raad. Die Joodse raad het hulle beveel om nie die mense te leer van Jesus en die opstanding nie. En petrus antwoord hulle dan: “’n mens moet eerder aan God as aan mense gehoorsaam wees.” En van God het hulle tog die opdrag gekry om te gaan vertel van Jesus, die opstanding en die Heilige Gees.

In hierdie een sin waarmee Petrus antwoord definieer hy waaroor dit gaan vir mense wat vir Jesus volg. Mense wat vir Jesus volg is mense wat gehoorsaam is aan Hom.

Soos ons lees in Rom. 14:17 “Die koninkryk van God is nie ‘n saak van eet en drink nie, maar van gehoorsaamheid aan God, vrede en vreugde, wat die Heilige Gees ons gee.”

Dietrich Bonhoeffer bevestig dit in sy boek The cost of discipleship: “Net hulle wat gehoorsaam is, kan glo en net hulle wat glo, kan gehoorsaam wees.”

Hieroor kan ons by die ou Jode iets leer. Hulle het ‘n gebruik wat hulle die sjema noem. Die sjema is ‘n gebed wat in die oggend en aand opgesê word.

Die sjema gaan oor 2 goed: om te luister na God en dan om die regte dinge te gaan doen.

Soos die kerkvader Augustinus gesê het: “Hê God lief, doen wat jy wil!” Maar omdat God jou alles is, sal jy altyd die regte ding wil doen!

Dus: Gehoorsaamheid is om te luister na God en dan daarna die regte dinge te gaan doen.

Dis op hierdie punt wat die hele gedagte van gehoorsaamheid vir my begin moeilik raak het. Wat beteken dit om gehoorsaam te wees aan God? Dis iets wat ons gereeld hoor, maar wat beteken dit regtig? Beteken gehoorsaamheid dat daar ‘n lysie goed is wat Christene mag en nie mag doen nie? As jy hierdie goed doen dan is jy gehoorsaam aan God as jy dit nie doen nie, dan is jy nie gehoorsaam nie.

As ons ‘n lysie goed het waaraan ons gehoorsaam moet wees - Wie bepaal wat die lysie is? Hierdie kerk of skrywer sê dis wat dit beteken om gehoorsaam te wees en daardie kerk of skrywer sê weer dis wat dit beteken om gehoorsaam te wees.

Ek het Maandag by my broer ‘n draai gemaak. Daar was toe ander vriende van my broer-hulle ook by. Op ‘n stadium vra die vriend vir my: wat dink ek van Barack Obama en sy christenskap? Want hy het in die Joy tydskrif gelees dat Barack Obama is gevaarlik, want hy sê sekere goed oor sy christenskap, maar leef iets anders en daar is ‘n lysie van goed wat dit nou bevestig. Onmiddelik is my antennas regop, want aan die een kant kan ek mos nou met my broer se vriende in ‘n debat betrokke raak nie, maar aan die ander kant gaan die gevaarligte by my aan, want jy kan mos nou nie iemand beoordeel op grond van een tydskrif se siening van ‘n saak nie, daar is ook ander christene wat ‘n ander siening en ‘n ander lysie het. Binne die Christendom is daar verskillende sienings, so volgens watter siening beoordeel jy nou of iemand gehoorsaam is aan God of nie?

Dis wat dit moeilik maak vir ons, wat beteken dit regtig om gehoorsaam te wees aan God?

Ek dink, as ek die Bybel reg verstaan natuurlik, dat gehoorsaamheid gaan nie oor ‘n lysie goed nie. Gehoorsaamheid begin by my motiewe. Dis wat ons by Petrus ook hoor. Is ek gehoorsaam om goed te voel oor myself? Is ek gehoorsaam om mense te beindruk of tevrede te stel? Is ek gehoorsaam om in God se goeie boekies te probeer bly? Of is ek gehoorsaam omdat ek dankbaar is vir die kruisiging en die opstanding.

Wat beteken dit om gehoorsaam te wees aan die wil van God? Ek dink ons maak dit te ingewikkeld. Dis nie moeilik om te weet wat God se wil is waaraan ek gehoorsaam moet wees nie. God se wil is dat ons moet lief wees vir God en vir ons naaste. Sy wil is dat ons moet lief wees vir ons vyande of mense wat van ons verskil. God se wil is dat ons liefde moet uitleef – en liefde soek nie sy eie belang nie, dit hou nie boek van die kwaad nie, dit is nie jaloers nie. God se wil is dat ons die vrug van die Gees uitleef. God se wil is dat dit hier op die aarde moet wees, soos in die hemel. God se wil is dat ons moet waarde toevoeg en van die wêreld ‘n beter plek moet maak. So, in alle keuses wat ek maak, besluite wat ek neem, die interaksie wat ek met mense het is hierdie die goed waaraan ek gehoorsaam moet wees.

So, die toets van my gehoorsaamheid is, is nie of ek lysie goed kon nakom nie. Die toets vir my gehoorsaamheid is - Is ek deur my gehoorsaamheid besig om waarde toe te voeg? Gaan dit van die wêreld ‘n beter plek maak? Is ek besig om aan ander te doen wat ek wil hê dat hulle my moet doen? Is ek besig om die beginsels van die liefde uit te leef? M.a.w. dade wat spruit uit gehoorsaamheid sal positiewe gevolge hê, dan weet ek dat ek besig is om na God te luister.

Nog ‘n (ongemaklike) dimensie aan gehoorsaamheid. Met petrus-hulle sien ons dat hulle gehoorsaamheid aan God, is moeilik. Dit bring hulle in die moeilikheid by die Joodse raad. Gehoorsaamheid is nie altyd maklik nie. Dit bring jou soms in konflik met mense. Want as jy daarop uit is om van die wêreld ‘n beter plek te maak en waarde toe te voeg – dan gaan jy jou vasloop in die negatiewe mense, die pesimistiese en moeilike mense. Die mense wat rondom die braaivleisvure die negatiewe goed oor die land en mense kwytraak. Die mense by die werk wat wil wegkom met dinge. Die mense wat nie genade en liefde kan uitleef teenoor ander mense nie. Jy gaan jouself vasloop teen hulle.

Maar die van ons wat werklik gehoorsaam wil wees, gaan soos Petrus-hulle, nie omgee om hulle vas te loop nie. Want ons weet dis wat God wil.

By petrus-hulle leer ons dat:

Gehoorsaamheid maak dat jy bereid is om vas te staan vir dit wat goed is en positief is en waarde toevoeg.

Gehoorsaamheid maak dat jy bereid is om risikos te neem vir die wat goed is en positief is en waarde toevoeg.

Gehoorsaamheid gee ook vir jou die wysheid om te weet wat om te doen en te sê wanneer jy in moeilike situasies is.

Gehoorsaamheid maak jou vry, dit gee vir jou ‘n doel in die lewe – om waarde toe te voeg, om van die wêreld ‘n beter plek te maak.

Ek wil afsluit met ‘n verhaal om dit alles saam te vat:

‘n Klompie teologie studente is in die studie lokaal betrap deur hulle dosent. Hulle het Dambord gespeel in plaas daarvan om die Bybelstudie saam te doen. Baie verleë het hulle gou in hulle Bybelstudiegroepe verdeel. Maar die dosent glimlag en vra of hulle die drie reëls van Dambord ken. Natuurlik! Hulle is dan besig om die speletjie te speel - maar niemand het gewaag om dit te sê nie!!

Daarom verduidelik die dosent vir hulle die reëls van Dambord :

Eerstens, sê hy, ‘n mens mag nie twee skuiwe tegelykertyd maak nie.

Tweedens, ‘n mens mag net vorentoe skuif.

En derdens, as ‘n mens die laaste ry bereik het, kan jy skuif net waar jy wil.

Dit, sê hy, is wat die Bybel ook leer. Dis wat dit ook beteken om aan God gehoorsaam te wees. En hy draai om en stap weg.

Eers baie later het die studente besef wat hulle daardie dag deur Dambord geleer is:

1. Hulle moet nie hulle lewens versmoor met meer as een skuif op ‘n slag nie.

2. Hulle moet die doel waaraan hulle werk, duidelik voor oë hou, al is dit soms moeilik– dit is om ‘n gehoorsame dissipel van Jesus te wees.

3. Hulle sal eers waarlik vry wees as hulle by die laaste ry uitkom. As hulle God en hulle naaste liefhet soos hulleself - dis wat gehoorsame dissipels van Jesus doen. Mense wat waarde toevoeg en van die wereld ‘n beter plek probeer maak.

No comments:

Post a Comment