Sunday, April 18, 2010

Preek: 18 April 2010

Johannes 21: 1-19


In die teksgedeelte sien ons hoe Jesus vir die derde keer na sy opstanding aan die dissipels verskyn. En ook hoe hy dan vir 2de keer Petrus se lewe verander. Dit speel af langs die see van Galilea – dieselfde plek waar Jesus jare tevore die dissipels geroep het om saam met hom te kom en vissers van mense te word. Maar kom ek gaan haal storie by die begin sodat ons die volle prentjie sal verstaan.

Voor Jesus se kruisiging, toe hy die dissipels begin voorberei het daarop dat hy gekruisig gaan word, was die dissipels mos baie dapper. Dit was veral Petrus wat met arrogansie en vol selfvertroue mos gesê het dat hy nooit vir Jesus in die steek sou laat nie. En dit was Petrus wat in die tuin van Getsemande bereid was om 600 soldate man alleen aan te vat, toe hulle gekom het om vir Jesus gevange te neem.

Maar dit was dieselfde Petrus wat by die hoëpriester se huis, langs ‘n koolvuur voor ‘n diensmeisie en ‘n groep slawe vir Jesus verloën het. Drie keer het hulle vir hom gevra: “is jy dan nie een van Jesus se dissipels nie?” En 3 keer het Petrus geantwoord: “Nee, ek ken nie die man nie”.

Hierdie besef dat hy vir Jesus verraai het, het vir Petrus diep geknou. Hy was net nie meer dieselfde voortvarende mens wat hy voorheen was nie. In die proses het hy ook opgegee op sy roeping as ‘n visser van mense. Nie eers Jesus se eerste 2 verskynings na die opstanding kon hom oortuig om weer ‘n visser van mense te word nie. Daarom het hy maar besluit om na sy ou lewe terug te keer. Hy het maar weer gaan visvang, want dis al wat hy geken het. In die proses het hy ook 6 van die ander dissipels met hom saamgevat. Hulle was waarskynlik ook skaam omdat hulle vir Jesus in die steek gelaat het, toe hy hulle nodig gehad het.

Maar die visvangery het ook nie te goed gegaan nie. Op die spesifieke nag het hulle die hele nag lank niks gevang nie. Nie ‘n enkele vis nie. En hulle was mismoedig daaroor.

Maar die volgende oggend, met eerste lig het alles verander. Terwyl hulle so mismoedig op hulle boot sit, besig om terug te vaar strand toe, sien hulle ‘n man op die strand staan. En hy roep hulle en vra: “het julle nie iets gevang om te eet nie?”

“Nee”, antwoord hulle hom.

En toe doen hy ‘n snaakse ding: “hy skree vir hulle, gooi die net aan die regterkant van die boot uit, dan sal julle iets vang.”

Hulle besluit toe, wel, ons het niks om te verloor nie en hulle gooi die net uit – en wonder bo wonder vang hulle 153 vissie, sonder dat hulle net skeur.

Toe hulle dit sien, toe onthou hulle ‘n ander geleentheid, 3 jaar gelede toe hulle ook op grond van ‘n man se advies die nette weer ingegooi en ‘n klomp vis gevang het. En in daai oomblik toe besef hulle dat dit Jesus is wat weer met hulle praat.

Toe Petrus dit besef, toe spring hy van opgewondenheid in die water en hy swem na Jesus toe. En op die strand toe kry hy vir Jesus waar Hy besig is met ‘n vreemde ding. Jesus is besig om ontbyt te maak op ‘n vuur. In die oorspronklike Grieks staan daar, dit was ‘n koolvuur wat Jesus gemaak het. In die Bybel is daar net 2 plekke waar ons lees van ‘n koolvuur. Die toneel hier op die strand en die aand by die hoëpriester se huis toe Petrus vir Jesus verloën het. Dis asof Jesus doelbewus vir Petrus wou herinner aan daardie aand voor sy kruisiging. En so kry Petrus ‘n 2de kans om aan Jesus getrou te wees.

Nadat hulle die ontbyt daar op die strand geëet het, nooi Jesus vir Petrus om saam met hom langs die see te gaan stap. En terwyl hulle so stap, vra Jesus die vrae wat Petrus waarskynlik nie wou gehoor het nie. Net soos die vorige keer toe Petrus vir Jesus na 3 vrae verloën het, vra Jesus vir hom ook 3 vrae:

“Petrus, het jy my lief? Petrus het jy my lief? Petrus het jy my lief?”

En al wat Petrus elke keer kan antwoord is:

“U weet dat ek u liefhet. U weet dat ek u liefhet, U weet dat ek u liefhet.”

En na elke antwoord gee Jesus vir hom ‘n opdrag: ‘n Opdrag om vir ander mense te gaan sorg.

Na sy derde antwoord toe praat Jesus oor Petrus se dood – hy profeteer dat Petrus geweldadig sou sterf.

En ten slotte herhaal Jesus die roeping wat Hy 3 jaar tevore, langs dieselfde see aan Petrus gerig het. “Volg My” sê Hy vir hom. En so word Petrus, die dissipel wat vir Jesus verloën het, vergewe en weer herstel as ‘n apostel. Die rots op wie die kerk gebou sal word.

Winston Churchill, die Britse eerste minister in die tyd van die 2de wêreldoorlog, was bekend as iemand wat vinnig kon dink en met kwinkslae vorendag kon kom waarmee hy mense gereeld op hulle plek kon sit. So, gebeur toe eendag dat iemand baie verbaas was om te hoor dat hy in die laerskool ‘n graad gedruip het. Winston Churchill se reaksie hierop was: “I never failed anything in my life. I was given a second opportunity to get it right.”

Dis wat Jesus met Petrus ook doen na die ontbyt daar op die strand. Petrus was gereed om geoordeel te word, maar Jesus gee vir hom nog ‘n kans. En Hy doen dit vandag nog met elkeen van ons. Hy kyk nie na ons mislukkings nie, hy kyk na ons en sien mense wat ‘n tweede kans verdien.

Watchman Nee, ’n wonderlike Chinese gelowige van die twintigste eeu, vertel van ’n nuwe Christen wat hoogs ontsteld na hom gekom het. “Maak nie saak hoe hard ek bid nie, maak nie saak hoe hard ek probeer nie, maar ek kan net nie getrou bly aan Jesus nie. Ek dink dis verby met my!”

Watchman Nee het vir hom rustig gesê: “Sien jy hierdie hond van my? Hy mors nooit in die huis nie, hy is gehoorsaam aan my en hy is een groot vreugde!

Maar binne in die kombuis het ek ’n babaseun. Hy maak ’n gemors, gooi sy kos rond, maak sy klere vuil. Maar wie is my erfgenaam? Nie my hond nie, maar my seun! Jy is Jesus se erfgenaam, omdat Hy vir jou gesterf het. Hy is lief vir jou.”

Dis wat Jesus vir petrus en vir ons ook wil leer. Ons is God se erfgename, nie omdat ons volmaak is en alles reg doen nie, maar omdat Hy onvoorwaardelik lief is vir ons.

“The grace of imperfection” woorde wat ons in ons huis teen ons muur laat verf het. Dis wat Jesus vir Petrus ook sê: My genade vir jou is genoeg, al is jy nie volmaak nie. Trouens, dit vier ons onvolmaaktheid.

Daardie dag langs die meer sê Jesus vir Petrus: “Dit wat jy gedoen het daar langs die koolvuur by die hoëpriester se huis, dis in die verlede. Fokus liewer van nou af op my liefde en gaan vertel dit vir ander mense.”

So Jesus vergewe hom nie net nie, hy vertrou hom ook met ‘n opdrag. Eintlik bevestig hy maar net die opdrag wat Hy 3 jaar vantevore reeds vir Petrus gegee het. En die opdrag is, die liefde wat ek vir jou het, moet jy ook vir ander mense gaan wys, oral waar jy gaan.

Mag ons ook mense wees wat nie aanhou vaskyk in ons mislukkings nie.

Mag ons mense wees wat die verlede los waar dit hoort - in die verlede.

Mag ons mense wees wat besef dat God ons onvoorwaardelik liefhet.

Mag ons mense wees wat hierdie liefde ook gaan uitleef teenoor ander.

No comments:

Post a Comment