Sunday, May 2, 2010

Preek: 2 Mei 2010

Gesinsdiens met nagmaal

Ons almal speel “follow the leader”. Ek is die leier. Julle doen wat ek doen. Dit wat julle doen wys egter ook terug na my toe. Julle optrede weerspieël my as die leier.

As gelowiges is Jesus mos ons leier. Ons moet hom volg. Nie na-aap nie. Daar is ‘n verskil. As ons hom na-aap moet ons ook sandale en rokke dra, niks besit nie en besny word. Ons moet sy voorbeeld volg. Maar dit wat ons elke dag doen wys mos ook na Jesus toe. Mense kan vir Jesus sien of nie sien nie in die manier waarop ek my lewe leef. Hulle kan sien of ek ‘n volgeling van Jesus is of nie.

Gesels gou in groepe oor die vraag: hoe sien ‘n mens dat iemand ‘n volgeling van Jesus is?

Antwoord: hulle lewe met liefde. Hulle het vir Jesus lief en hulle het ander mense lief. Liefde vorm die fondasie van hulle lewe.

Lees: Johannes 13: 31-35

Jesus gee hier ‘n opdrag. Hy sê “julle moet mekaar liefhê”.

Dan gebruik hy homself as die voorbeeld, die leier wat gevolg moet word, Hy sê: “soos ek julle liefhet, moet julle mekaar ook liefhê”

Dan sê Hy: “as julle mekaar so liefhet, dan sal mense sien dat julle my kinders is.” Dus: die manier hoe julle liefde uitleef is ‘n getuienis van my. Mense gaan weet dat julle my volgelinge is, as julle mekaar liefhet.

So, wat is hierdie liefde?

Iemand het eendag vir kinders tussen die ouderdom van 4-8 jaar gevra: Wat beteken liefde? Hier is ‘n paar antwoorde:

Rebecca (8): “Toe my ouma arthiritis gekry het, kon sy nie meer buig om haar toonnaels te verf nie. So, my oupa het dit toe vir haar gedoen, selfs toe hy al arthiritis in sy hande begin kry het. Dis liefde.”

Chrissy (6): “Liefde is wanneer jy uitgaan om tee et en jy gee die meeste van jou chips vir iemand anders sonder om hulle ted wing om van hulle kos vir jou te gee.”

Nikka (6): “As jy wil leer om beter lief te hê, moet begin met ‘n vriend van wie jy nie hou nie.”

Tommy (6): “Liefde is soos ‘n klein ou vrou en ‘n klein ou man wat nog steeds vriende is al ken hulle mekaar al so goed.”

Elaine (5): “Liefde is wanneer mamma vir pappa die bested eel van die hoender gee.”

Lauren (4): “Ek weet dat my ouer suster baie lief is vir my, want sy gee vir my al haar ou klere en dan moet sy spesiaal gaan om vir haar nuwes te gaan koop.”

Hierdie opdrag van Jesus, om lief te hê is nie onbekend nie, ons hoor dit op ‘n paar plekke in die Bybel, maar wat dit hierdie keer anders maak is die woorde: “soos ek julle liefhet, moet julle mekaar ook liefhê.”Jesus gebruik homself as ‘n voorbeeld. Sy liefde het gemaak dat hy selfs nadat hulle hom gespot en geslaan het steeds gesê het: “Vader, vergeef hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie.”

Maar kom ek vertel vir julle van die samelewing vir wie hierdie gedeelte geskryf is, dan sal ons die liefde waarvan Jesus hier praat baie beter verstaan. Want dit is ook ‘n voorbeeld van hoe die Christene die liefdesopdrag uitgeleef het.

Die was in die tyd van die Romeinse ryk. Hulle het nie sulke goeie dokters en medisyne soos ons gehad nie. So, dit het baie keer gebeur dat daar baie erg aansteeklike siektes uitgebreek het en baie mense het daarvan doodgegaan. Die Romeine het die siek mense op die strate gelos of weggejaag uit die stad, om die risiko van aansteeklikheid te verminder. Die ryker mense het uit die stede gevlug en in die berge en op die platteland gaan woon totdat die siektes verby was.

Maar die Christene was anders. Want ons lees in die Bybel en ook ander verskillende bronne dat hulle het hulle siekes bly versorg, al was dit vir hulleself gevaarlik. Hulle het selfs van die Romeine wat weggejaag is, opgetel en versorg. Hulle het nie net hulle eie mense versorg nie, hulle het ook die vreemdes en heidene versorg. En dit het natuurlik gemaak dat baie van hulle self siek geraak het, maar dit het hulle nie verhoed om aan te hou sorg vir die siekes nie.

Die effek hiervan was: Dit het gemaak dat die Christelike geloof baie gegroei het. Dink net hoe sou ‘n nie-gelowige Roemein en sy familie gereageer het, nadat sy lewe deur die versorging van die Christene gered is. Baie mense het Christene geword omdat hulle gesien het hoe die Christene Jesus se liefde uitleef. Hoe hulle die siekes, die vreemdelinge en die buitstaanders versorg en liefgehad het.

Ongelukkig het ons as Christene en die kerk nie so ‘n goeie rekord as dit kom by die uitleef van Jesus se liefde nie. Ons is baie soos die vrou wat iewers gelees het dat dit gesond is vir honde om elke dag ‘n eetlepel lewerolie in te kry. So elke dag het sy dieselfde roetine. Sy jaag die hond totdat sy hom gevang het, stoei met hom totdat hy stilstaan en dan forseer sy die lepel lewerolie in sy keelgat af. Tot eendag terwyl sy so besig is om met die hond te stoei, toe skop sy die bottel lewerolie om. Sy los toe die hond om ‘n lap te gaan soek om die olie op te vee. Toe sy terugkom toe sien sy die hond is besig om die lewerolie sommer so van die grond af op te lek. Hy was mal oor die lewerolie.

Punt is: die hond het nie ‘n probleem met die lewerolie gehad nie, hy het wel ‘n probleem gehad met die metode waarmee sy baas dit vir hom wou gee.

Met ons as Christene en die kerk is dit ook soms so. Daar is niks verkeerd met die boodskap van die evangelie nie, wel met die metode waarop ons die boodskap oordra. Soos dit vir my lyk het mense ‘n behoefte om te hoor dat God bestaan en vir hulle lief is, maar ons gaan hulle nie oortuig deur allerhande reëls en voorwaardes en lang gesprekke en preke en debatte nie. Ons gaan hulle oortuig deur vir hulle lief te wees soos wat Jesus vir ons en vir hulle liefhet. Onvoorwaardelik, net soos hulle is.

So, kom ons wees nie bang om “follow the leader” met Jesus te speel. Kom ons volg sy voorbeeld, en wees lief vir mense. Selfs vir die moeilike mense en vir die mense van wie ons nie hou nie. En in die proses sal ons ook getuies wees van sy liefde.

Ons gaan afsluit deur na ‘n lied te luister: “Teach me to love”. Jeanette gaan vir ons die woorde uitbeeld met ‘n dans.

Neem ‘n paar oomblikke stilte en dink oor wat hulle gehoor het.

Nagmaal

Die nagmaal is die uiterste teken van Jesus se liefde vir ons. Uit liefde offer hy homself. Ek het grootgeword met die idée dat ek nie nagmaal kan gebruik as daar een of ander sonde in my lewe is, of as ek iets teen iemand het nie. Want anders eet en drink ek ‘n oordeel oor myself. Dit het my bang gemaak vir die nagmaal. Totdat ek ontdek het, dat dit juis nie is waaroor die nagmaal gaan nie. Die nagmaal is ‘n teken van liefde. So, as jy ‘n sonde in jou lewe het of iets teen iemand het, dan moet jy juis die nagmaal gebruik, want dit bevestig vir jou dat God lief is vir jou en dat Hy deur die bloed en die gebreekte liggaam van Jesus vir jou vergewe het. Die nagmaal bevestig God se genade en liefde vir jou.

Stel die nagmaal in

Lied: Ons vader

No comments:

Post a Comment