Sunday, May 16, 2010

Preek: 16 Mei 2010

Johannes 17: 1-9, 11, 13-19, 20-23
My kinders het onlangs met die ou, maar belangrike vraag by die huis aangekom. Hoe eet mens ‘n olifant? Antwoord: een happie op ‘n slag. Dis ‘n proses om ‘n olifant te eet.
Net so is daar mos die spreekwoord wat dieselfde wil sê: “‘n reis van ‘n 1000 km begin met die eerste tree”. Dis ‘n spreekwoord wat onder andere wil sê dat die lewe is ‘n lang reis en ‘n mens moet dit dag vir dag vat. Van ons geboorte af tot die dag wat ons doodgaan is ons besig met hierdie lewensreis.
Iemand het eenkeer oor hierdie lewensreis gesê: “mens kan nie beheer wanneer jy gebore word, waar jy gebore word en in watter familie jy gebore word nie. Jy kan ook nie beheer wanneer jy sterf, waar jy sterf en hoe jy sterf nie. Maar dit waaroor jy wel beheer het, is die tyd tussen jou geboorte en jou sterfdag.”
So die vraag is: Wat maak ek met hierdie tyd? Watter keuses maak ek sodat my lewensreis betekenisvol is? Watter bydrae lewer ek tot die omgewing waarin ek my lewe leef? Maak ek ‘n verskil? Gaan ek gemis word wanneer ek nie meer hier is nie? Is ek gelukkig en het ek vrede in my lewereis?
Mense soek leiding oor hierdie lewensvrae op baie verskillende plekke. Ek hou daarvan om in boekwinkels rond te grawe. En dis nogal opvallend hoeveel selfhelp boeke daar op die rakke is. Boeke wat probeer om hierdie vrae te beantwoord. Boeke wat jou help om vriende te maak, om meer invloedryk te wees, om meer suksesvol te wees, hoe om te glo, hoe om ryk te word en maer te word en dies meer. Dis ‘n multimiljoen rand industrie omdat mense so sukkel om betekenis te vind in hulle lewensreis.
Omdat hierdie lewensreis so belangrik is en maar soms moeilik is, is vanoggend se teksgedeelte nogal vir ons belangrik. Want ons lees hier dat Jesus bid vir ons en vir hierdie lewensreis waarop ons is. Ons is op Jesus se gebedslysie. Trouens ons was al op sy gebedslys lank voordat ons hier was.
Lees vers 1, 9, 20
Hierdie gebed speel af op die nag toe Jesus gevange geneem is. Wat nogal ‘n profound oomblik in sy lewensreis was. Selfs in daardie angswekkende laaste oomblikke neem hy tyd om stil te raak en vir sy volgelinge te bid. Om ook vir ons wat vandag, soveel jare later besig is met ons lewensreise, te bid. In sy gebed gee Hy vir ons leiding vir hoe ons ons lewensreis meer betekenisvol kan maak.

Hy begin deur te vra dat ons in Hom sal glo. Vers 2-3
Jesus praat hier oor die ewige lewe. Dat Hy dit vir ons gegee het. So, hy vra hier dat ons in Hom sal glo sodat ons die ewige lewe sal kry. Hy bid vir ons verlossing. Maar ewige lewe verwys nie net hier na die lewe na die dood nie, dit het ook te doen met die kwaliteit van ons lewe nou al hier op aarde. Jesus bid dat as ons die ewige lewe ken, dan ken ons ook die Vader, Seun en Gees. M.a.w. hulle is nou al deel van ons lewe. Dus, die ewige lewe speel nou al ‘n rol in ons lewens. Om te glo in God en die ewige lewe, maak jou lewe hier op aarde nou al betekenisvol.
Kom ek noem ‘n voorbeeld: John Knox was die bekendste kerkhervormer in Skotland. Hy was die Martin Luther van Skotland. Hy het egter nie net vir skotland kerklik hervorm nie, hy het ook ‘n rol gespeel in Skotland se politiese hervorming. Vers 3 was sy gunsteling vers omdat dit vir hom krag gegee het om te doen wat moes doen. Iemand het eenkeer oor hom geskryf: “Wat Knox vir sy land gedoen het, was ‘n opstanding uit die dood.”
Hy was iemand wat vir God geken het, en dit het ‘n verskil gemaak aan die manier hoe hy sy lewe geleef het. Dit het hom die krag gegee om ‘n verskil in sy land te maak. Hy het op ‘n stadium gesê: “’n mens saam met God is altyd in die meerderheid.”
Jesus se volgelinge het die ewige lewe omdat hulle vir God ken. En dit gee vir ons moed om elke dag voluit te lewe vir God. Dit maak ons lewens betenisvol. Ek het al baie gesê en ek sal dit aanhou sê: ek glo in die eerste plek omdat dit my in die hemel gaan bring nie, dis ‘n wonderlike bonus. Ek glo omdat dit my lewe sinvol maak en betekenis gee.
Hy bid dat ons uitstaan mense sal wees. Vers 14-17
Jesus bid hier dat sy volgelinge anders moet wees as die res van die wêreld. Hy bid nie dat ons onsself moet onttrek uit die wêreld nie, of dat ons veroordelend en beoordelend moet wees teenoor die wêreld nie, maar dat ons anders sal wees, dat ons uitstaan mense sal wees.
Dis soos die toeriste wat ons so baie hier in die Kaap sien. Mens kan hulle mos van ver af al uitken. Met hulle cameras en dis net hulle wat pose by Jan van Riebeeck se standbeeld vir ‘n foto. Hulle staan uit.
Jesus bid dat ons so moet uitstaan, m.a.w. dat ons sal lewe met ander waardes, keuses en ideale. Dat ons nie sal saamgaan met goed net omdat almal dit doen of sê nie. Dat ons ‘n ander voorbeeld sal stel.
Soos Pous Johannes 13de gesê het: “As ons ons gedra soos ware Christene, sal daar geen heidene wees nie.”
Daarom dat Jesus bid dat ons altyd aan die waarheid gebind sal wees – m.a.w. dat ons aan God gebind sal wees. Want Hy is ons kragbron. Die een wat vir krag om as uitstaan mense te leef.
En onthou: Jesus bid nie dat ons uit die wêreld geneem moet word nie, maar in die wêreld as uitstaan mense sal lewe. Jesus-volgelinge vlug nie weg nie, maar leef as God se kinders met liefde, genade, en met hoop in hierdie deurmekaar wêreld van ons. En al dit soms moeilik, veral as jy moet ingaan teen dit wat almal rondom jou doen – op die lang termyn gee dit baie meer betekenis aan jou lewe.
Hy bid dat ons een sal wees. Vers 11, 20-23
Dis belangrik om te onthou wie die mense was wat saam met Jesus was en waarskynlik hierdie gebed gehoor het. Daar was vissermanne, belastinggaarders, ekstroverte en introverte, ouer en jonger mense, mans en vroue. Hulle was ‘n baie diverse groep mense. So Jesus bid nie dat hulle eenders moet wees nie, hy bid wel dat daar eenheid onder hulle sal wees.
Daar is mos die bekende verhaaltjie van die ma wat gaan kyk het hoe haar kind as ‘n polisie-offisier uitpasseer. Al die polisielede het netjies in gelid voor die mense verby marsjeer. Maar die ma se seun was ongelukkig nie in pas met die res nie. Haar reaksie was: “haai kyk, my kind is die enigste een wat in pas is.”
Ons dink mos partykeer dat die kerk, soos ‘n uitpasseringparade moet wees. Almal is in gelid en lyk dieselfde. Dis hoe eendersheid lyk. Die probleem daarmee is dat wanneer iemand uitstaan, dan is dit onmiddelik duidelik en dan verwag ons dat daai person ook soos die res van ons moet word. Ek dink die kerk moet eerder ‘n plek wees waar ons erken dat ons almal maar soms uit pas uit is. En dis Ok so, want niemand van ons is perfek nie. Maar ons kan nog steeds een wees, al is ons nie eenders en al is ons nie almal in pas nie.
William Pollard: “Diversiteit (verskeidenheid) sonder eenheid maak omtrent net soveel sin soos wanneer jy koekmeel, suiker, water, eiers, kakao en bakpoeier op ’n bord bedien en dit ’n sjokoladekoek te noem”.
Jesus-volgelinge is een span. Al is ons verskillend en al dink ons verskillend, ons bly een span. En dis ‘n getuienis aan ‘n wêreld wat baie verdeeld is. En op ons lewensreis het ons ook verskillende mense in ons lewens nodig. Ons het nodig om uitgedaag te word deur mense wat anders lyk en dink as ons. Anders gaan jy met oogklappe deur die lewe en vind daar nooit groei plaas nie.
Dus: Jesus bid vir ons terwyl ons op hierdie lewensreis van ons is – tussen ons geboorte en ons sterfte – dit waaroor ons beheer het. Hy bid dat ons…
In Hom sal glo en die ewige lewe sal ken en dat dit nou al in ons lewens ‘n verskil sal maak.

Dat ons uitstaan-mense sal wees. Sonder om te onttrek aan die wêreld en sonder om veroordelend te wees.

Dat ons een sal wees t.s.v. ons verskille. Dat ons die andersheid tussen ons sal vier, want ons het mekaar nodig.

No comments:

Post a Comment