Sunday, August 8, 2010

Preek 8 Augustus 2010

Jesaja 1:10-20
Marten Luther het mos herontdek dat die Christelike geloof gaan alles oor genade. Genade is ‘n woord wat ons mos baie goed ken en ons gebruik dit ook baie. Wanneer ons bid dan sluit ons mos baie keer af met die woorde: ‘ons vra dit nie uit verdienste nie, maar slegs uit genade”. Dit terwyl ons vinnig is om te vertel hoe hard ons gewerk het om te kom waar ons is. As ons amper in ‘n ongeluk was, maar ons het niks of min oorgekom nie sê ons mos maklik: “sjoe, dit was net genade”. As dit met ons goed gaan dan sê ons: “genadiglik het dit vir ons uitgewerk”. Predikers sê baie keer “alles wat ons is en het, is net genade”. En ons het groot geword in die kerk met die gedagte dat ons “alleen uit genade gered word”.

Net verlede week het ek gepreek dat ons deur die genade van Christus ge-springclean word. Dis wat jesaja ook sê wanneer hy in vers 18 sê dat ons sonde verwyder word en dat ons skoon word soos sneeu en soos wol. Alles net uit genade.

Op so baie maniere, vandat ons kinders was, gebruik ons die woord “genade”. Maar weet ons nog wat hierdie woord regtig beteken? Of het dit maar sommer net ‘n woord geword wat maklik gebruik sonder om eers daaroor te dink?

Ferdinand Deist het iewers geskryf: “Die woord genade het verslyt geraak”. Ek het ‘n t-shirt gehad wat ek baie jare gedra het, totdat hy later so dun en uitgewas was. Genade is soos klere wat ons dra, dit word later verslyt en opgebruik van baie dra. Dis wat Ferdinand Deist bedoel: van teveel gebruik het dit met genade gebeur. Dis opgebruik.

Hierdie is nie ‘n vreemde verskynsel nie. Reeds van die vroegste tye af het mense gesukkel om te verstaan wat genade beteken.

In Deut 6: 10-12 lees ons...
Voordat die Israeliete by Kanaan intrek moes hulle daaraan herinner word dat hulle nie vir hulleself sorg nie, maar dat dit God is wat vir hulle sorg – nie omdat hulle sulke wonderlike mense is nie, maar omdat hy genadig is. Moses wou net seker maak dat hulle dit nie vergeet nie.

In Deut 7:7 lees ons...
So asof Moses sê “julle dink verniet julle is so oulik – julle is wie julle is omdat God se genade so groot is.”
God versorg mense omdat Hy so genadig is.
Dis ook hoekom God ‘n rusdag ingestel het. Dit was ‘n bewys dat God ‘n genadige God is en dat Hy vir ons sorg. Sien, op die rusdag eet jy sonder om te werk, so dis ‘n simbool van God se sorg. Dis hoekom Jesus in Markus 2: 27 dan ook sê: “die Sabbat is daar ter wille van die mens – nie die mens ter wille van die Sabbat nie”. Die Sabbat wil beklemtoon dat alles net genade is.

Maar mense dink mos hierdie genade-ding is te maklik. Alles kan mos nie maar so van God af kom nie. En mens moet mos darem iets doen om te verseker dat God sal aanhou om vir ons te sorg. So toe die Israeliete in Kanaan intrek en hulle beleef die wonderlike goed wat daar in die land van melk en heuning is – toe dink hulle, hulle moet darem iets doen om vir God tevrede te hou sodat hy sal aanhou om vir hulle te sorg. Soos om ‘n polis uit te neem om jou teen enige teenspoed te beskerm. Toe begin hulle godsdientige reels en wette maak wat jy moes nakom om vir God tevrede te hou. Soos jy moes die Sabbat onderhou en daar is seker goed wat jy op die Sabbat mag doen en ander goed wat jy nie mag doen nie. En so was die Sabbat nie meer vir die mens nie, maar die mens vir die Sabbat.

Dis mos maar wat ons ook doen. Ons probeer God tevrede hou met ‘n godsdienstige lewe, deur Bybel te lees en te bid, en elke Sondag kerk toe gaan, en ‘n tiende te gee en te vas. Of jy moet gedoop wees of gedoop word. As ons hierdie goed doen, dan is ons ‘n goeie Christen, dan sal God tevrede met ons wees en dan sal dit goed gaan met ons. En so word godsdiens ‘n verpligting en ‘n wet.

Daarom dat God hier in Jesaja 1 vir die volk sê, Hy is moeg vir hulle feeste en brandoffers, hulle vasdae en gebede. Trouens, Hy sê Hy haat dit. Hier wil ek dit net eers kwalifiseer, hy sê nie dat hierdie goed nie belangrik is nie, want dit is tog belangrik om kerk toe te gaan en te bid en so aan. Maar wat Jesaja hier sê is dat is ‘n probleem wanneer die goed blote rituele is wat mense nie herinner aan God se genade nie. Wanneer dit oor die verpligting gaan en nie meer oor God en sy genade nie.

En Jesaja sê dat hierdie manier van dink sien ‘n mens die beste wanneer mense deur hulle optrede ‘n streep trek deur die genade. En dis die probleem waaroor Jesaja vir Israel aanspreek. Saam met Israel se feesviering en godsdienstige rituele was daar onreg in hulle midde. En hulle doen niks om dit aan te spreek nie.
In vers 13 staan daar: “Ek verdra nie feesvieringe met onreg saam nie”,
In vers 15 staan daar: “selfs al bid julle ook hoe baie, sal Ek nie luister nie, want julle hande is met bloed bevlek.”
Dit wil sê: julle benadeel ander mense. Julle praat oor ‘n genadige God en julle hou selfs die Sabbat as ‘n teken van God se genade, maar julle leef nie soos genadige mense nie. Daar is niks van die genade van God in julle lewens sigbaar nie. Sê Jesaja vir die Israeliete.
Die doel van God se genade was nog nooit om vir ons ‘n versekeringspolis uit te neem of om vir ons ‘n voorspoedige lewe te verseker nie. Die doel van sy genade wat Hy so onverdiend aan ons elke dag uitdeel en waardeur hy ons sy kinders gemaak het, is om deur ons optrede van die wêreld ‘n beter plek te maak. Dat ons deur ons doen en late iets van die hemel op aarde sal laat deurbreek.

Ons sien dit al by Abraham, toe God vir Abraham gesê het: “jy en jou nageslag moet tot seën vir die wêreld wees.” En Abraham is ons geloofsvader, ons is deel van sy geloofs nageslag. Wat beteken dat ons moet ook tot seën van die wêreld wees.

Jesaja sê in vers 17 hoe ons dit doen....

Iemand het gesê:
Die toets of ons regtig kerk is, kan gesien
word in hoe ons hulle behandel wat in
die sonsopkoms van hulle lewe is, die kinders ;
wat in die sonsondergang van hulle lewe is,
die bejaardes; en wat in die skaduwees
van lewe is - die siekes, armes, die weduwees, die eensames, die
gestremdes en ander randfigure.

Ons godsdiens is iets werd wanneer dit nie maar net gaan daaroor om die regte godsdienstige dinge en gebruike en rituele te doen nie, maar wanneer mense deur ons optrede en lewe die genadige God sien en leer ken.
Wat ons vanoggend weer moet hoor is dat God deel genade uit, en Hy wil sien dat ons dit weer aan ander gaan uitdeel. Genade is ‘n geskenk wat ons ontvang en wat ons weer moet gebruik om van die wêreld ‘n genadiger plek te maak.

Ek wil afsluit met Paulus se woorde in Kolossense 3:17 “doen alles – of dit nou met woorde of dade is – asof julle dit namens die Here Jesus doen. So is julle heeltyd besig om deur Hom dank aan god die Vader te bring.”

No comments:

Post a Comment