Sunday, November 14, 2010

Preek 14 November 2010

Lukas 21: 5-19

Ek het onlangs ‘n ding oorgekom wat baie van julle seker ook al oorgekom het. As julle sê julle het nie, dan jok jy of jy is net skaam om dit te erken. Ek was by die hospital om iemand daar te gaan besoek. In die ICU, waar jy eers met ‘n intercom moet sê wie jy is voor jy mag ingaan. En so het ek toe ingegaan en my besoek gedoen. En nou moet ek uitgaan. So ek kom by die deur en ek druk teen die deur, maar die deur wil nie oopgaan nie. En ek sukkel met die deur, totdat een van die susters vir my kom wys daar staan “druk die knoppie om uit te gaan”. Toe voel ek  al klaar bietjie stupid, maar ek druk toe maar die knoppie en ek hoor die buzzertjie gaan af, maar die deur wil nie oop nie. Totdat ek sien daar staan op die deur “trek”. Toe besef ek, ek moet die deur trek en nie druk nie.
Moenie vir my sê dit het nog nie met almal van ons gebeur nie. Ons mense sukkel mos om tekens te lees. Soos die mense vir wie Lukas skryf. Hulle leef in ‘n tyd van baie tekens. Tekens van oorloë en opstande en aardbewings, hongersnood, epidemies en Christene wat vervolg word. En hulle lees die tekens as die eindtyd – die einde van die wêreld. En dit laat hulle onseker en bang voel en hulle gryp na enigiets wat vir hulle sekerheid sal bied – soos die tempel en mense wat vir hulle allerhande goed sê en beloftes maak.

Dinge is nie anders vandag nie, hierdie eeu verskil nie van ander eeue nie – ons beleef ook oorloë, hongersnood, opstande, aardbewings, vloede, epidemies en Christene wat vervolg word.  En dit voel vir my dit raak al hoe meer en erger. En wat doen mense? Hulle lees die tekens en raak onseker en bang en dan raak hulle op hol oor mense wat boeke skryf of preke daaroor preek. Veral as die skrywers en predikers nog voorspel dat hierdie tekens vir ons wys dat ons in die eindtye leef en die einde van die wêreld is naby. 

As dit is hoe ons hierdie tekens lees, dan lees ons dit verkeerd. Want dit is juis nie wat Jesus hier sê nie. Hy sê nie dat hierdie tekens die begin van die einde is nie. Net God weet wanneer dit gaan wees, ons gaan dit nie kan weet uit tekens nie. Hy sê juis dat ons nie paniekerig en bang moet raak as ons die dinge rondom ons sien nie. Dis nie die tekens van die einde nie.
Die Message vertaling sê dit baie mooi: “When you hear of wars and uprisings, keep your head and don’t panic. This is routine history and no sign of the end.”

So wat probeer Jesus doen te midde van al hierdie negatiewe tekens? Miskien sal die volgende beeld help om te verstaan wat Jesus probeer doen.
Twee bekende kunstenaars Christo & Jean-Claude. In die 1960’s en 70’s het hulle bekend geraak vir ‘n baie unieke kunsvorm. Hulle noem hulle werk omgewingskuns. Hulle neem groot stroke materiaal en trek hulle bekende natuurlike en mensgemaakte strukture daarmee oor. So het hulle byvoorbeeld 15 000 vierkante meter oranje lap geneem en aan weerskante van ‘n bekende valley in die Rocky gebergtes in Calorado gehang. Hulle het ook 2 eilande aan die kus van Florida met helder pienk material omring. Op ‘n stadium het hulle ook die Duitse regerings geboue met materiaal toegedraai. Om hierdie kunswerke te skep het natuurlik jare se beplanning en voorbereiding en spesiale toestemming en baie geld geverg.
Hoekom doen hulle dit? Robert Storr, Professor in moderne kuns in new York sê dat “ons loop dikwels verby dit wat reeds daar is, sonder om dit werklik te sien of daaraan aandag te gee. So, hierdie kunswerke is bedoel om dit wat reeds in die wêreld teenwoordig is visueel uit te lig, meer te beklemtoon en op nuwe maniere sigbaar te maak.” Op hulle website sê die 2 kunstenaars:  “In doing so, we see and perceive the whole environment with new eyes and a new consciousness.”

Wat Jesus hier vir die mense leer is dat hulle op ‘n nuwe manier na die lewe en dinge wat in die lewe gebeur moet kyk.
In ‘n tyd van onsekerheid, hardloop mense mos baie maklik agter enige ding of enige mens aan in ‘n soeke na sekerheid.  Dis hoekom die mense so opgemaak was met die tempel. Vir die ou Jode was die tempel die simbool van God se teenwoordigheid. Dit was vir hulle ‘n teken van vastigheid en sekerheid.
Vandag is daar dalk ander goed as die tempel waarin mense sekerheid soek. Dalk goed soos geld, sukses, sport, my werk ens.
Maar Jesus sê vir hulle dat die tempel maklik afgebreek sal word. Dinge wat ons dink vir ons sekerheid gee kan maklik wegval. Daarom moes hulle leer om die lewe op ‘n nuwe manier te sien. Hulle moes leer daar is ‘n stewiger hoeksteen as die hoeksteen van die tempel. Hulle moes leer dat Jesus ‘n baie stewiger hoeksteen is as die hoeksteen van die tempel.

So wat Jesus doen, hy herinner die mense, dat swaarkry maar deel is van die lewe. Ons gaan sulke tye beleef, ons gaan onsekerheid beleef, ons gaan selfs beleef dat mense die lewe vir ons gaan moeilik maak. Soos wat mense die lewe vir Jesus moeilik gemaak het. Maar jy moet op ‘n nuwe manier daarna kyk. In sulke omstandighede is dit juis belangrik om vas te hou aan Jesus, die enigste werklike anker en hoeksteen.

Hulle moes ook leer om nie teveel aan mense vas te hou nie. In daardie tyd van onsekerheid was daar baie mense wat gesê het hulle is die messias en mense het agter hulle aangegaan. En so is die arme mense mislei en hulle onsekerheid is uitgebuit. Lukas herinner die mense daaraan dat dit gevaarlik is om sommer agter enigiemand aan te gaan. Jesus is die enigste mens wat waardig is om gevolg te word. Die enigste een wat jou sal help om sin te maak van die onsekerheid en vir jou perspektief sal gee.

Maar daar is nog ‘n manier om hierdie onsekerheid te hanteer, waarmee Jesus ons help. In sulke omstandighede is dit baie maklik om in ‘n “victim mode” verval, ‘n slagoffer mentaliteit te hê. Om te sê, dis nou maar hoe dit is en ons moet nou maar leef daarmee. Ons is ‘n slagoffer van die tye waarin ons leef. Ons is maar die slagoffer van mense wat dit moeilik maak. Maar Jesus weier dat ons soos slagoffers moet voel. Daarom sê Hy: “ek sal vir julle woorde en wysheid gee, ek sal vir julle help om te volhard.”
‘n Goeie voorbeeld van iemand wat dit verstaan het was Michael Lapsley, hy is ‘n predikant  in die Anglikaanse kerk, hier iewers in die Kaap. In die apartheids jare het hy albei se hande verloor toe ‘n briefbom in sy hande ontplof het. Hy sê daar was 2 dinge wat hom gehelp om homself nie as ‘n slagoffer te sien nie.
Eerste ding was Albert Luthuli se woorde: “Those who think of themselves as victims eventually become the victimizers of others.”
Die tweede ding wat hy vir homself gesê het: “People have asked me how I survived, and my only answer is that somehow, in the midst of the bombing, I felt that God was present. I also received so many messages of love and support from around the world that I was able to make my bombing redemptive – to bring life out of death, good out of evil.”

So dis die boodskap van hierdie teks.
Ja, die goed gebeur, maar dis nie die einde van die wêreld nie.
En ja, dit is sleg en dit maak mens bekommerd en laat jou onseker voel, maar dis nie nodig om jou sekerheid te gaan soek in tydelike goed en in mense wat jou mislei nie, want Jesus is die hoeksteen en ons sekerheid.
En ja, soms voel mens soos ‘n victim en uitgelewer aan die dinge wat gebeur, maar ons hoef onsself nie daaraan oor te gee nie, want Jesus sal vir ons insig en perspektief gee en ons help om te volhard.

Ek wil afsluit met ‘n gebed van Aartsbiskop Desmond Tutu:
“Lord, goodness is stronger than evil;
Love is stronger than hate;
Light is stronger than darkness;
Life is stronger than death;
Victory is ours through You who love us.
Amen

Oordenking
  • Lees die teks
  • Wat spreek jou aan in die teks?
  • Die evangelie van Lukas is ongeveer 60 jaar na die kruisiging geskryf. Baie van die slegte goed in die teks was besig om te gebeur. Hoe sou hierdie teks vir die mense rustigheid gegee het? Hoe sal dit ons help in vandag se tye?
  • Ons weet dat swaarkry maar deel is van die lewe. Ons kan nie daarvan ontsnap nie. Maak hierdie wete dit makliker of moeiliker om dit te hanteer?
  • Die tempel is die plek wat vir mense sekerheid en vastigheid gee te midde van moeilike tye. Wat is vandag die “tempels” wat mense gebruik om sekerheid te kry? En wat is die effek daarvan?
  • Die dissipels vra weer vir ‘n teken. Wat was Jesus se konstante antwoord as dit oor tekens gaan? (vers 9)
  • Hoe dink julle oor die woorde van Albert Luthuli: “Those who think of themselves as victims eventually become the victimizers of others.”
  • Watter uitdagings staar jou op die oomblik in die gesig? Hoe help hierdie teks jou om dit te hanteer?
  • Sluit af deur Jesaja 65:17-25 as gebed te lees.

No comments:

Post a Comment