Sunday, January 16, 2011

Preek 16 Januarie 2011

1 Korintiers 1:1-9

Paulus skryf ‘n brief aan die gemeente in Korinte. Korinte is ‘n handelstad onder Romeinse beheer. Baie kosmopoltities met baie heidense godsdienste en onsedelikheid. Te midde van dit alles moes die groepie christene hulleself probeer handhaaf. 

Lees teks

Ek het een jaar op my verjaarsdag so ‘n multi-tool present gekry. Nogal lekker handige ding, veral as jy gaan kamp. Dis ‘n mes, ‘n sker, ‘n tang, botteloopmaker, skroewedraaier – ‘n klomp funksies in een.
My ma was ook soos hierdie multi-tool. Hoe sy alles gedoen gekry het weet ek tot vandag toe nie. Sy het 4 kinders groot gekry – 3 seuns en ‘n dogter. Sy het dit gedoen sonder om ooit ‘n huishulp te hê. Sy het ons almal se mae vol gehou, ons klere skoon en gestryk gehou, al die huiswerk self gedoen. Sy was die vrou van die skoolhoof op die dorp. Sy was by die kerk betrokke. Sy was saam met ons in die voortrekkers en sy was nog by elke rugby en hokkie wedstryd wat ons gespeel het. Voorwaar ‘n multi-tool.

Paulus beskryf ook ‘n multi-tool in hierdie teksgedeelte. Hy beskryf al die genadegawes wat deur Christus aan die gemeente gegee is. Kyk net wat is al die verskillende dele van die multi-tool wat Paulus beskryf: Genade, seëninge, gawes van woord en kennis, volharding. Dit alles word vir die gemeente gegee om mee te gaan lewe en hulleself te handhaaf in hierdie deurmekaar stad.

Die Nederlandse argitek: Mies van der Rohr het gesê: “God is in the details” en ons sien dit met al hierdie gawes wat God vir die Korintiers gee en wat hy vandag nog vir ons ook gee. Soos Paulus sê: ons ontbreek nie ‘n enkele genadegawe nie.

Tog sukkel ons hiermee, ten spyte van al die genadegawes leef ons asof ons nooit genoeg het nie. Ons voel so maklik dat ons dinge ontbreek in ons lewe, ons familie, ons loopbane, ons gemeenskap, ons kerk. Ons hoor gereeld:
As ek meer tyd gehad het…
As ek meer geld gehad het…
As ek meer mag of invloed gehad het…
As my kerk, my werk, my land tog net meer sus of so was…
Dan kan ek die mens wees wat God wil hê ek moet wees.

Ons kan tog so onvergenoegd wees, terwyl ons hierdie multi-tool van genadegawes van God ontvang het. Ons probleem dink ek is dat ons nooit geleer het om te ontvang nie. En dit veroorsaak dat ons so fokus op dit wat ons nie het nie, dat ons dit wat ons wel het later nie meer raaksien en waardeer nie. 

Rob Bell vertel van ’n keer dat hy, sy vrou en hulle twee seuns op die strand geloop het. Sy seuns was besig om stukkende seeskulpe op te tel en hulle hande was vol daarvan. Skielik is daar ’n pragtige seester besig om in die branders naby hulle te dryf - dis iets wat hulle een seun graag wou gehad het. Met groot vreugde skreeu Rob vir sy seun: “Gaan kry die seester, seun” Sy seun is dadelik in die water om die seester te gryp, maar hy draai om en hardloop weer uit. Dit gebeur so 3 keer na mekaar. Met die vierde keer skreeu Rob Bell vir sy seun in die water: “Seun, waarom gryp jy nie die seester wat by jou is nie? Dis wat jy wil hê?” Sy seun antwoord met sy twee hande uitgestrek: “Ek kan nie, want my hande is vol skulpe!”

Ons is ook dikwels so  -  ons maak ons lewens so vol goed wat ons nie regtig nodig het nie. Terwyl ons net ‘n slag weer dankbaar moet wees, vir dit wat ons wel ontvang het. Daarom dink ek is dit goed om ‘n danklysie op te stel. Die teks help ons daarmee.

Dankie vir genade (Vers 4)
Op 21 Mei 1972 tydens ‘n erediens by die Vatikaan het ‘n man skielik oor ‘n muurtjie in die kapel gespring en met ‘n hammer begin om Michaelangelo se beeld van Moeder Maria stukkend te kap. Toe hulle hom uiteindelik van die beeld af wegkry toe was die beeld in 40 stukke gekap. Die Vatikaan het toe ‘n span deskundiges gekry om die beeld weer reg te maak. Dit was moeilik, maar na 7 maande was die beeld weer herstel. Soveel so dat ‘n kunskenner geskryf het: “Jy kan nie eens die fout lyne en krake wat deur die aanvaller veroorsaak is, sien nie… Dit is pragtig herstel.”
Die verhaal wys vir ons wat God gedoen het. Mense is stukkend, dikwels stukkend gekap deur die lewe, maar aan ‘n kruis is ons herstel, soveel so dat mens nie eers die foute en krake kan raaksien nie.
“Ek dank God altyd oor julle vir die genade wat Hy in Christus Jesus aan julle geskenk het…” vs 4

Dankie dat God getrou is (vers 9)
Daar is ’n wonderlike uittreksel uit die kinderboek van Dr. Seuss, Horton Hatches the Egg.
Horton vertel vir die lui voëltjie, Mayzie, wat nie haar eier wil uitbroei nie:
“I'll stay and be faithful. I mean what I say. I meant what I said and I said what I meant. An elephant's faithful. One hundred percent.”
En Horton was getrou, deur slegte weer, en spottery en dreigemente op sy lewe – totdat die eier uitgebroei het. 
Dit klink mos soos God. Hy bly getrou, maar nie saak waardeur ons gaan nie.

Dan net ‘n laaste gedagte: begin deur die regte vraag te vra.(vers 1-2)
As jy nie in die lokval van onvergenoegdheid wil val nie. As jy nie wil besig raak met goed wat jy nie regtig nodig het nie, moet jy begin deur die regte vraag te vra. 

Christopher Wright  het ‘n boek geskryf: The Mission of God. Die laaste paragraaf in die boek is as volg:
“We ask, “Where does God fit into the story of my life?” when the real question is, “where does my little life fit into this great story of God’s mission.”
We want to be driven by a purpose that has been tailored just right for our own individual lives (which is of course infinitely preferable to living aimlessly), when we should be seeing the purpose of all life, including our own, wrapped up in the great mission of God for the whole of creation.
We talk about the problems of “applying the Bible to our lives,” which often means modifying the Bible somewhat adjectivally to fit into the assumed ‘reality’ of the life we life ‘in the real world.’ What would it mean to apply our lives to the Bible instead, assuming the Bible to be the reality—the real story—to which we are called to conform ourselves?
I may wonder what kind of mission God has for me, when I should ask, what kind of me God wants for his mission.”

Die regte vraag is: waar is God besig in die wêreld en hoe kan ek daarby betrokke raak?  Ek dink hierdie vraag, tesame met ‘n lewe van dankbaarheid is die enigste manier om ‘n lewe van onvergenoegdheid te verhoed.

No comments:

Post a Comment