Sunday, March 13, 2011

Preek 13 Maart 2011

Visiefees en nagmaal
Sagaria 2:1-5, 10-11

Hierdie teksgedeelte beskryf die derde gesig of visioen wat Sagaria gesien het. Hy sien ‘n man met ‘n maatband, wat amper soos ‘n landmeter besig is om die hele Jerusalem op te meet om die grootte van die stad te bepaal. Dan verskyn daar ‘n engel wat vir die opmeter sê dat dit nie nodig is om die stad op te meet nie, want Jerusalem gaan ‘n stad sonder mure wees. Daar gaan so baie mense wees wat terugkeer na Jerusalem, dat mure nie nodig gaan wees nie. Hier sien ons al dat die Here besig is om iets te doen, wat teen die gewone, aanvaarde praktyke ingaan.

In die OT was die mure van die stad baie belangrik. Dit was daar om die stad te beveilig teen gevare van buite. As iemand die stad wou aanval, moes jy eers by die mure verbykom. Die mure was daar om mense uit te hou, veral mense wat anders en vreemd was. So,‘n stad sonder mure is gesien as ‘n swakheid.
Maar dis net hier waar God dit alles op sy kop draai. Want in God se droom vir hierdie stad, is die gebrek aan ‘n muur nie meer ‘n teken van swakheid nie, maar word dit ‘n teken van God se betrokkenheid, van Sy seën oor die stad en sy beskerming vir die stad. Die teks sê dat God self sal soos vuur rondom die stad wees. In die Bybel is vuur die teken van God se teenwoordigheid. Hy self sal in die stad teenwoordig wees om sy mense veilig te hou. Die mure is dus nie meer nodig nie.

So, die mure rondom die stad word weggevat. En God belowe dat Hy in die mense sal woon, tussen hulle en by hulle sal wees. 
Dit herhinner mens aan dit wat ons lees in Johannes 1:14 “Die Woord het mens geword en onder ons kom woon. Ons het sy heerlikheid gesien, die heerlikheid wat Hy as die enigste seun van die Vader het, vol genade en waarheid.”
Die afstand tussen God en mense word oorbrug. Die mure val weg. God word die middelpunt van die stad en van mense se lewens en daarom kan die mure maar wegval.

Een van die gevolge van die mure wat nou wegval – is dat baie verskillende mense nou vir God sal leer ken. Die mure tussen mense val ook weg. Daar is nou nie meer mure wat skeiding bring nie. God is die middelpunt van die stad – Hy is soos ‘n magneet wat mense aantrek. En so word die belofte wat God in Genesis 12 aan Abraham gemaak het vervul – “in jou sal al die volke van die aarde geseën wees.”

Dit werk soos middelpuntvlietende krag teenoor middelpuntsoekende krag.
Middelpuntvlietende krag is wanneer iets weg van die middelpunt af beweeg. Soos ‘n wasmasjien – as die drom draai om te was, sit die wasgoed teen die kante, weg van die middel af, vas.
Middelpuntsoekende krag is wanneer iets na die middelpunt toe beweeg. Soos swaartekrag. Dit word aangetrek deur die middelpunt.
Die stad met mure werk soos middelpuntvlietende krag – dit hou mense weg van die stad af, die skrik mense af, dit hou mense buite.
Maar wanneer die mure wegval, dan word dit soos middelpuntsoekende krag - God word die middelpunt van die stad, dan word mense aangetrek na die stad toe. Want hulle weet God is daar.

Mag ons gemeente ‘n plek wees waar die mure wegval. Waar die middelpuntsoekende krag so sterk is dat mense nie anders kan as om hier te wil wees nie.

Kom ons kyk DVD ("Mure") om dit saam te vat. 

Orkes sing gemeente se visie-lied 

Nagmaal

Stel die nagmaal in met Matteus 22: 1-3, 8-10
  • Die nagmaal is ook so ‘n feesmaal – dis ‘n herdenking en ‘n viering van dit wat Jesus vir ons gedoen het. Dis ‘n feesmaal waar almal welkom is – soos die teks sê: die slegtes, sowel as die goeies. By Jesus se feesmaal is almal welkom. By hierdie tafel is elkeen inderdaad iemand. So gebruik vanoggend die nagmaal met die wete dat Jesus, deur sy groot genade jou iemand gemaak het.
Gebruik nagmaal

In die teks sien ons dat mense uitgestuur word om die ander te gaan haal. Dis ook ons roeping om van die nagmaalstafel op te staan en na ander uit te reik. Ons mag dit nie vir onsself hou nie. Met die inspirasie van die nagmaal – gaan uit en wees tot seen vir die wêreld.

No comments:

Post a Comment