Sunday, March 20, 2011

Preek 20 Maart 2011

Matteus 17: 1-9

Die Kelte het geglo dat jy na sekere plekke kon gaan om nader aan God te wees. Hierdie plekke het hulle “thin places”  genoem.  Hulle het selfs kaarte gehad wat die “thin places” aangedui het - een van hulle was die sogenaamde Holy Island - Lindesfarne. Inderdaad is Lindesfarne vandag nog ’n plek wat vir  jou daardie “dun” ervaring gee. Hierdie “thin places” is volgens die Kelte daar waar ’n mens die teenwoordigheid van God kan voel en ervaar. Net soos wat Petrus, Johannes en Jakobus op die berg ervaar het.
Ons gaan vanoggend kyk na die 3 dissipels se reaksie nadat hulle God se teenwoordigheid so intens beleef het.

In vers 6 lees ons: “Toe sy dissipels dit hoor, het hulle baie bang geword en op die grond neergeval.” (17:6)
Ek dink enige van ons sou bang gewees het, as so-iets met ons sou gebeur. Dis ‘n natuurlike reaksie. Maar dis ook meer as net bang-wees. Wanneer jy so die stem uit die hemel hoor – dan is dit ook ‘n ander soort vrees wat jou beetpak. ‘n Heilige vrees, of die vrees van die Here wat met jou gebeur. Dit gebeur wanneer jy regtig bewus is van God se teenwoordigheid.
Ek onthou, as kind het ek dit nooit verstaan nie. Hierdie vrees van die Here. Ek het altyd gewonder – beteken dit ek moet bangwees vir die Here. Nou weet ek dat dit niks te doen het met bang wees vir God nie, maar wel om met bewondering, verwondering en ontsag voor God te leef. Om te leef met die besef dat ek vir Jesus om elke hoek en draai van hierdie wêreld kan ontmoet. Dis om te besef dat die “thin places” nie net op ‘n bergtop of op sekere plekke gebeur soos die ou Kelte geglo het nie - dit gebeur oral, elke dag. Daarom is dit ‘n goeie idee om aan die einde van elke dag te vra: “waar het ek vandag bewus geraak van God se teenwoordigheid?” Deur watter mens wat vandag my pad gekruis het, in watter situasie waarin ek my vandag bevind het, deur watter besluit wat ek geneem het – waar het ek vandag bewus geraak van God se teenwoordigheid?
    
‘n Ander interessante reaksie kry ons in vers 4 ““Toe sê Petrus vir Jesus: “Here, dit is goed dat ons hier is. As U wil, sal ek hier drie hutte bou: een vir U, een vir Moses en een vir Elia.”
Dis asof hulle die oomblik wil vries. Dis soos wanneer ‘n mens die pause-knoppie op die remote van jou DVD speler druk. Hulle wou die oomblik pause – hulle wou dit vries. Hulle wil nie hê dit moet verbygaan nie. Hulle wou in die oomblik bly. Daar is 2, baie menslike redes hoekom hulle dit waarskynlik so wou doen.

Eerstens was dit vir hulle so ‘n wonderlike oomblik en ervaring dat hulle dit net wou vashou. Dis mos menslik – as iets vir ons lekker is, ‘n goeie ervaring is, dan wil ons dit mos behou. En ons dink mos nostalgies daaraan terug. Ons bou ‘n hut daarvoor.
Kom ek noem ‘n voorbeeld hiervan wat dalk vir julle bekend sal klink.
‘n Predikant vertel hoe hy by ‘n nuwe gemeente gekom het en hom dadelik vasgeloop het in die hutte wat mense bou. Daar was veral een so ‘n hut wat hy veral goed onthou. Dit het gegaan oor ‘n jeuggroep wat in die gemeente was. Dit was ‘n besondere hegte groep jongmense, wat ‘n seën was vir die hele gemeente. Hulle commitment, energie en entoesiasme was aansteeklik. En wanneer mense dan vir hom vertel het van hierdie wonderlike groep jongmense, dan het hulle gewoonlik ook gesê: “daar sal nooit weer so ‘n wonderlike jeuggroep wees nie.” Petrus self kon nie ‘n beter hut gebou het as hierdie mense nie.
Die gevaar is: Wanneer ‘n mens so nostalgies vashou aan dit wat gewerk het, aan dit wat bekend is, dan maak jy die moontlikheid dat God iets nuuts wil doen heeltemal dood.  

Maar daar is ‘n tweede rede hoekom hulle hutte wou bou. Hulle wou die lydenspad vermy. In die vorige hoofstuk het Jesus vir hulle begin vertel dat Hy gaan ly. Deur op die berg te bly kon hulle die lydenspad vermy. 
Dis in reaksie hierop dat Jesus, in vers 9, vir hulle sê: “Wat julle gesien het, moet julle vir niemand vertel voordat die Seun van die Mens uit die dood opgewek is nie.”
Hoekom sê Jesus hierdie vreemde ding. Mens sal mos juis dink dat hulle dit moet gaan vertel. Hy sê dit omdat hy geweet het, dat mense Hom eers regtig sal verstaan na sy lyding, sterwe en opstanding. So, die vryheid wat Hy vir ons bring, gebeur nie sonder lyding nie. Daarmee bevestig hy ook maar net vir ons dat die Vryheid wat hy vir ons gebring het, vrywaar ons nie van lyding en swaarkry nie. 

Die skilder Raphael het iets hiervan saamgevat in sy skildery oor die Verheerliking op die berg. Hy het dit in 1520 in Rome geskilder. Kort voor sy dood. Hy moes sy Bybel goed geken het, want hy het al gebeure van die verheerliking en wat rondom dit gebeur het in die skildery saamgevat.
In die agtergrond sien mens die dorpie, Seserea-Filippi, waar Jesus die eerste keer sy dood aankondig.
In die middel sien ons vir Jesus in wit, met Moses en Elia weerskante van hom en die 3 dissipels wat op die grond lê.
Onder dit alles sien ons ‘n groep dissipels wat wys na ‘n seun. Dit verwys na die gedeelte na die verheerliking op die berg – van vers 14 af. Waar die dissipels die versteurde seun probeer genees en dit nie regkry nie
As julle mooi kyk na die seun – sy oë is gefokus op Jesus en sy hand is na Jesus toe uitgestrek. Te midde van sy pyn en lyding reik hy uit na Jesus toe. So asof hy weet dat Jesus die enigste een is wat hom daardeur kan help.     

Die troos is dat Jesus saam met sy dissipels van die berg afstap en dat hy vandag nog saam met ons stap. Ons kan soos die seuntjie in die skildery uitreik na Hom toe, ons oog gevestig hou op Hom met die wete dat Hy saam met ons deur hierdie lewe stap en ons help ons om deur alles te kom.

Mag ons mense wees wat elke dag in alles bewus raak van God se teenwoordigheid en verwonderd is oor wat Hy doen.
Mag ons mense wees wat nie vasgevang raak in nostalgie nie, maar wat oop is vir die nuwe goed wat God dalk vir ons wil wys.
Mag ons deur hierdie lewe gaan met die wete dat Hy saam met ons stap en ons help om deur alles te kom.

Om oor te dink

Dink aan ‘n keer toe jy God se teenwoordigheid werkilik intens beleef het.

Mense is geneig om “hutte te bou” vir positiewe ervarings of dinge waarmee hulle bekend is en mee gemaklik voel(sien voorbeeld van predikant in nuwe gemeente). Dink aan nog ‘n paar voorbeelde hiervan?

Jesus bevestig dat die vryheid wat Hy bring met lyding gepaard gaan. Wat leer jy hieruit?

Jesus het nie op die berg gebly nie, Hy het afgekom om by mense te bly. Hoe beïnvloed hdit jou antwoord op die vorige vraag?

No comments:

Post a Comment