Sunday, March 6, 2011

Preek 06 Maart 2011

Geseënd om te seen

Ek wil vir julle vertel van 2 bekende bote.
Die eerste een is – “The Love Boat”. Party van julle sal die boot onthou. Dit was die setting van ‘n TV reeks in die 1980’s. Die Love Boat was ‘n plesierboot en die TV reeks het gegaan oor die romantiese en snaakse avonture van die  bemanning en die passasiers.  Die doel van die Love Boat was kuier en plesier. Mense gaan op die boot om te ontspan, te kuier en avonture te beleef. Dis m.a.w ‘n boot wat nêrens heen oppad is nie, maar dit het die belofte van plesier en vermaak.

Die tweede boot is die Mayflower wat ‘n baie belangrike plek het in die Amerikaanse geskiedenis.  Die Mayflower was die skip wat in 1620 van die eerste Engelse setlaars na Amerika vervoer het. Die Engelse of pelgrims het uit Engeland gevlug omdat hulle geloof onderdruk is deur die Engelse regering en kerk. Hulle het ‘n plek gesoek waar hulle hulle geloof vrylik kon uitleef. Daar was 102 passasiers aan boord en tussen 25-30 bemanning. Hulle het Engeland in September 1620 verlaat en na 66 dae op see, waartydens 2 mense gesterf en baie siek geraak het, in November by Cape Cod aangekom. Dis in die staat wat later Massechusetts genoem is. Omdat hulle in die winter daar aangekom het, kon hulle nie dadelik aan wal gegaan het nie. Hulle het daarom eers in Maart die volgende jaar aan wal gegaan, nadat die winter verby was. Tot vandag toe word die koms van die Mayflower in Amerika herdenk en daar is Amerikaners wie se voorvaders op die Mayflower was. Die doel van die Mayflower was om ‘n nuwe wêreld te ontdek en om vir mense wat onderdruk is vryheid en ‘n nuwe lewe te gee.

Hierdie 2 bote kan maklik dien as metafore vir die kerk. Die kerk kan wees soos die Love Boat. ‘n Vriendelike plek waar mense mekaar ontmoet. ‘n Plek waar mense vermaak word, waar dit nice en ontspanne is en waar hulle veilig voel. Waar almal gelukkig en tevrede gehou word. Daar is niks wesenlik verkeerd daarmee nie, want die kerk moet al hierdie goed wees – die kerk moet ‘n plek wees waar almal gelukkig is en mekaar ontmoet en waar dit nice is - maar is dit regtig die doel van die kerk? As dit die belangrikste ding in die kerk, is ons nie dan dalk soos die Love Boat op pad na nêrens nie?

Moet die kerk nie dalk meer soos die Mayflower wees nie – ‘n boot met ‘n doel. ‘n Boot wat op pad is om ‘n nuwe wêreld te ontdek. ‘n Boot wie se taak dit is om mense uit ‘n slegte situasie te neem na ‘n situasie waar hulle vryheid sal beleef, waar hulle ‘n nuwe lewe ontdek en kan omarm. ‘n Boot waar mense mekaar ondersteun en opbou en help sodat hulle reg is om die nuwe lewe tegemoed te gaan. Ek weet nie van julle nie, maar dit klink vir my asof die Mayflower dalk ‘n beter metafoor vir die kerk is.

Die kerk, ons, moet wees soos die Love Boat, maar dit raak gevaarlik wanneer die kerk teveel soos die Love Boat funksioneer en minder soos die Mayflower. Want dan gaan dit net oor ons en om lekker hier bymekaar te wees. 
Kom ons gaan kyk gou wat sê die Bybel hieroor. Ek gaan ‘n paar tekste lees om ons te help verstaan wat die doel van die kerk is.

Matteus 28: 19-20 “Gaan dan na al die nasies toe en maak die mense my dissipels: doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees, en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het. En onthou: Ek is by julle al die dae tot die voleinding van die wêreld.”
  • Klem is op die uitgaan en maak van dissipels sodat hulle leef as volgelinge van Jesus.

Markus 12:30 Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand en met al jou krag. Die tweede is: ‘Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.’ Geen ander gebod is groter as dié twee nie.”
  • Liefde vir God en liefde vir ons naaste is die doel van gelowiges en die kerk.

Johannes 14:12 “Dit verseker ek julle: Wie in My glo, sal ook die dinge doen wat ek doen; en hy sal nog groter dinge as dit doen, omdat ek na die Vader toe gaan.”

Johannes 20: 21 “Vrede vir julle!” sê Hy weer vir hulle. “Soos die Vader My gestuur het, stuur Ek julle ook.”
  • In hierdie 2 tekste het Jesus sy volgelinge uitgestuur om te gaan doen wat Hy gedoen het. Om ‘n lig vir die wêreld te gaan wees. Hy is nou saam met sy vader en hy roep ons om nou in sy plek te gaan doen wat Hy gedoen het.  

Handelinge 1: 8 “Maar julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle sal my getuies wees in Jerusalem sowel as in die hele Judea en in Samaria en tot in die uithoeke van die wêreld.”
  • Die doel van die kerk is om ‘n getuie in die wêreld te wees. Om onder leiding van die Gees ‘n getuie te wees van dit wat God gedoen het en steeds besig is om te doen.

En dan die laaste teks. Die teks wat onderliggend is aan al die ander tekste. Al die ander tekste bou op hierdie een. Dis waar alles begin het. Heel aan die begin van die Bybel gee God vir Abraham hierdie belofte en opdrag. Abraham is die vader van alle gelowiges, dis hoekom gelowiges kinders van Abraham genoem word. So daarom is hierdie opdrag ook op ons van toepassing. . En daarom is dit ook nou ons gemeente se fokusteks.

Genesis 12: 2Ek sal jou seën en jou 'n mens van groot betekenis maak, en jy moet tot 'n seën wees.”
  • Ons is die ontvangers van God se genade en seën wat geroep word om instrumente van God se genade en seën in die wêreld te wees.

Ek dink hierdie tekste gee vir ons ‘n goeie idee oor wat die doel van die kerk is. Dis ‘n plek waar mense bymekaarkom en toegerus word om ‘n instrument van God te gaan wees. Dit sê ook vir ons dat dit nie net die predikant en ‘n paar leiers of sendeling is wie geroep is om God se instrumente te wees nie, dis alle gelowiges se roeping. 

Maar kom ek gebruik ‘n laaste beeld om dit net alles op te som. Ons kan die doel van die kerk vergelyk met ‘n waterstroom.
‘n Waterstroom is ‘n lewende sisteem. Dit bestaan uit verskillende dele wat aanmekaar verbind is en van mekaar afhanklik is. ‘n Waterstroom benodig wat konstant invloei, anders stagneer dit; dit het ‘n bodem waar verskillende lewensvorme ondersteun word en walle wat stabiliteit gee. En dan moet daar ook ‘n plek wees waar die water uitvloei.
Ons kan op dieselfde manier oor die kerk dink. Die kerk is ook ‘n lewende sisteem. Daar moet ‘n invloei wees – dit verwys na nuwe mense met nuwe idees en nuwe energie wat inkom en ook na nuwe lewens en geloofservaringe wat mense in die gemeente beleef.
Die tweede deel van die sisteem is soos die bodem en walle van die waterstroom – dit verwys na alles in die gemeente wat mense help om deur God verander te word, te groei in hulle geloof en waardeur die Gees werk. Goed soos eredienste en sang, toerusting en kursusse, jeugbediening en kleingroepe.
Die derde deel van die sisteem is die uitvloei van die water. Wanneer mense in die gemeente groei, in hulle geloof toegerus is, dan word ons almal uitgestuur om God se instrumente, sy getuies in die wêreld te gaan wees.

En dis die doel en die ritme van die kerk soos wat ons dit in die Bybel sien – dis ‘n plek waar God ons bymekaar roep, waar Hy ons seën met sy genade en die verandering wat Hy in ons bewerk en dan stuur hy ons uit om ‘n verskil te gaan maak.   

Mag ons gemeente soos die Mayflower en soos ‘n waterstroom wees.
Mag ons ‘n gemeente wees waar mense inkom en welkom voel.
Mag ons ‘n gemeente wees waar mense deur God ontmoet word en verander en groei.
Maar mag ons ook ‘n gemeente wees wat as God se instrumente uitgaan in hierdie wêreld en ‘n verskil maak en deur God gebruik word om ander mense aan te raak.

Oordenking
As ons die 2 bote as metafore vir die kerk gebruik – wat leer ons daaruit?

Lees die verskillende teksgedeeltes
  • Watter van hierdie teksgedeeltes spreek jou die meeste aan?
  • Watter implikasies het hierdie teksgedeeltes vir ons as gelowiges?
  • Watter implikasies het dit vir ons as kerk?

Kyk weer na die beeld van die kerk as ‘n waterstroom.
  • Wat maak jou opgewonde daarvan?
  • Wat maak jou bekommerd daarvan?


No comments:

Post a Comment