Sunday, July 24, 2011

Preek 24 Julie 2011


Genesis 29-31
Die eerste desperate housewives

Ons gaan aan met die verhaal van Jakob en vandag se tema is: “die eerste desperate housewives”. Ons gaan die verhaal volg in Genesis 29-31. Hieronder volg ‘n opsomming van die verhaal, met ‘n paar gevolgtrekkings aan die einde.
 
Genesis 29: 1-30
Nadat Jakob die droom gehad het en besef het dat God vir hom iets in gedagte het, trek hy verder totdat hy uiteindelik in Haran by Laban uitkom. Hy was by trou ouderdom en het dus onmiddelik raakgesien dat Laban 2 dogters het. Die beskrywing daarvan is wonderlik: Genesis 29:16-17. “Laban het twee dogters gehad. Die oudste was Lea en die jongste Ragel. Lea het sagte oë gehad, maar Ragel was mooi gebou. Sy was beeldskoon.”

Dan volg een van die mooiste liefdesverhale, met ‘n minder goeie einde. Laban sê as Jakob vir 7 jaar vir hom werk, dan kan hy met Ragel trou. Ons weet nie veel van daardie 7 jaar nie, maar Jakob was so verlief dat dit vir hom gevoel het soos 7 dae.
Dit het my laat dink aan Richard Buckminster Fuller, Amerikaanse argitek. Hy het altyd vir sy vrou gesê dat hy voor haar gaan doodgaan, sodat hy haar kan verwelkom as sy by die hemel aankom. Toe hulle al oud was, toe raak sy baie siek en die dokters het nie vir haar ‘n kans gegee nie. Toe haar einde naderkom het Richard langs haar bed gesit, haar hand vasgehou, sy oë toegemaak en gesterf. ‘n Paar uur later is Annie ook oorlede. Sy wens is vervul. Dis die tipe liefde wat Jakob ook vir Ragel gehad het.  

So werk Jakob toe die 7 jaar en uiteindelik is dit die groot troudag en Laban trek vir Jakob ‘n vuil streep, want onder die sluier is dit toe Lea wat vir Jakob wag en nie Ragel nie. En Laban sê toe dat Jakob nog 7 jaar moet werk om vir Ragel te kry. Wat hy natuurlik toe doen, omdat hy graag vir Ragel wou hê.
Hierdie hele gebeure, het my laat dink aan die spreekwoord van die Kamba volk in Kenia het ‘n gesegde: “no bull rules the same valley for two seasons”. Beteken: jy kan nie aaneem dat jy altyd die ‘upper hand’ gaan hê nie. Jakob die bedrieër word self bedrieg.

Genesis 29:31 - 30:24
Hierdie gedeelte is die Desperate Housewives van die Bybel – so baie intriges is daar. Dis ‘n verhaal van jaloesie en pyn en verwerping. Interessant – die Hebreeuse woord vir “tweede vrou” beteken letterlik – ‘teenstander’. Ons lees van Lea wat moes leef met die pyn dat sy eintlik nie die vrou is wat haar man wou gehad het nie, maar dat sy goed genoeg is om sy kinders te hê. Ragel weer moes leef met die pyn dat sy vir baie lank kinderloos was, terwyl Lea kinders gehad het. Hulle moes almal met seer en pyn saamleef.

Genesis 30:25-43
Jakob se lewe saam met Laban was nie maklik nie. Hy word deur Laban misbruik en in die proses word hy skatryk en Jakob sukkel. Dit klink bietjie soos van die politici in ons land – hulle word net ryker ten koste van die armes. Maar Jakob het toe ‘n plan gemaak om uit Laban se wurggreep uit te kom. 

Genesis 31: 1-21
Die Here het vir Jakob geestelik sterk gemaak en Jakob het genoeg materiele dinge bymekaar gemaak, sodat hy op sy eie bene kon staan. Dit het hom laat besluit om terug te keer na sy pa toe. Hy het toe sy vroue en kinders bymekaar gekry, al sy goed gepak en weggetrek van Laban af, terug na sy pa toe. Dit bevestig natuurlik ook God se vorige belofte aan Jakob dat hy uiteindelik weer sal terugkeer na sy vaderland toe.

So wat leer ons uit hierdie verhaal van Jakob?
Miskien sal die volgende storietjie dit die beste opsom:
’n Dogtertjie begin huil toe sy luister na die storie van Abraham wat Isak wil offer: “Stop die storie! Dis te aaklik!”  ’n Ander kindjie hak laggend af:  “Moenie stupid wees nie. Dis een van God se stories - hulle eindig altyd reg!”    

Hierdie verhaal van Jakob klink soos ‘n soapie – mense wat mekaar inloop, intriges, jaloesie en hartseer. Maar dit eindig reg. Op die oog af is dit nie ‘n vreeslike diep geestelike storie nie. God word nie eers so baie genoem in die verhaal nie. Maar stadig maar seker sien ‘n mens hoe God tog op die agtergrond besig is om vir Jakob voor te berei vir sy taak as een van ons groot geloofsvaders. Soos met enige soapie is daar mos ‘n oomblik wanneer alles tot ‘n punt kom en bekend gemaak word – ons sien dit in Genesis 31:13 “Ek is die God van Bet-El waar jy olie op ‘n klippilaar uitgegiet en ‘n gelofte teenoor My afgelê het. Maak klaar en trek weg uit hierdie land. Gaan terug na jou geboorteland toe.”
Genesis 31:42 “As die God van my voorvaders, die God van Abraham, die beskermer van Isak, nie by my was nie, sou u my met leë hande weggestuur het. Maar God het gesien hoe swaar ek gekry het en hoe hard ek gewerk het en Hy het verlede nag in my guns uitspraak gelewer.” 
Daar kom ‘n punt wat alles in plek van en Jakob besef dat God besig is. Kom ek wys gou vir julle hoe God dit doen.

Lea was nie die gunsteling vrou nie en sy beleef baie verwerping en pyn. Ons sien dit in die name wat sy vir haar kinders gee. Name in daardie tyd het dikwels iets gewys van die belewenis van die ma.
Ruben beteken – “my smart raakgesien”, want God het haar smart gesien.
Simeon beteken – “gehoor”, want God het gehoor dat sy nie liefde ontvang nie
Levi beteken – “gebind wees”, want sy het gehoop dat die kind haar man aan haar sal bind.
Mens hoor dus die pyn en verwerping wat sy beleef het. Maar sy gaan ook met haar seer na God toe. Daar kom ‘n verandering. En dit word weerspieel in haar volgende kind se naam. Juda, wat beteken – “prys”, want hierdie keer wil sy die Here prys. Sy beleef God se onvoorwaardelike liefde.
Miskien sal die storie dit mooi verduidelik.  ‘n Ma vertel van haar seun, Alec, wat verlief is en selfs praat van trou. Alec en sy geliefde is egter 3 jaar oud. Hulle het by hulle skooltjie ontmoet. Hulle sit langs mekaar, speel saam op die speelgrond en deel hulle eetgoedjies met mekaar. Sy was toe nuuskierig om te sien hoe lyk Alec se liefde en een middag toe sy vir Alec gaan oplaai toe sien sy haar – sy is erg skeel en dra so ‘n dik bril. En toe Alec in die kar klim toe vra hy: “mamma het jy haar gesien – sy is darem mooi”.Die ma vertel hoe sy gedink het: dis darem nes God. God se liefde is ook blind. God sien ook al ons onvolmaakthede, maar hy kyk na ons met baie liefde en sê: jy is darem mooi.
Dis hoe God na Lea gekyk het, dis hoe hy na elkeen van ons kyk en dis ons roeping om ook uit te gaan en so na mense te kyk.
Dit was dan uiteindelik ook Lea se seun, Juda uit wie se familielyn Jesus gebore is. En aan die einde van sy lewe het Jakob gevra dat hy by Lea begrawe moes word. 

En dan Jakob – hy moes seker ook gevoel het dat niks vir hom regloop en uitwerk nie. Dat die lewe maar taamlik onregverdig is. Maar ons sien dat God heeltyd met hom besig is en dat Hy al die goed wat met Jakob gebeur, gebruik om Jakob se geloof en sy menswees te vorm. Want God sien die groter prentjie. Ons kyk mos net in die slegte goed vas.
Margaret Mead sê: “Blackberry winter, the time when the frost lies on the blackberry blossoms, without this frost the berries will not set… it is the forerunner of a rich harvest”. 
God het die vermoë om uit die slegte van die lewe goeie goed te laat gebeur.

En in die proses leer Jakob om net aan God vas te hou. Soos die spreekwoord sê: “let go and let God” Jakob ontdek dit wat in Psalm 37: 5 staan. “Laat jou lewe aan die Here oor en vertrou op Hom; Hy sal sorg.”

Ons kan die hele verhaal met die volgende aanhaling saamvat:
“If God is able to place the stars in their sockets and suspend the sky like a curtain, do you think it remotely possible that God is able to guide your life? If your God is mighty enough to ignite the sun, could it be that he is mighty enough to light your path?” (Max Lucado )

No comments:

Post a Comment