Sunday, July 31, 2011

Preek 31 Julie 2011


Genesis 32: 22-32

Ons gaan vanoggend aan met die verhaal van Jakob. Verlede week het geeindig waar Jakob en sy familie begin terugtrek het na sy vaderland toe. Terug na sy pa toe, waar sy broer Esau ook vir hom gewag het. Vanoggend se gedeelte gebeur terwyl hulle op pad terug is. Maar voordat ons daarby kom, wil ek net eers vir julle ‘n interessante verhaal vertel.  

Fred Craddock, 'n Amerikaanse professor in homiletiek (preekkunde), vertel iewers van 'n insident wat 'n groot indruk op hom gemaak het. Hy en sy vrou was met vakansie in ‘n dorpie in die staat Tennessee. Hulle het in ‘n restaurant gesit besig met middagete. Terwyl hulle eet kom daar ‘n ou man na hulle toe en vra of hulle met vakansie is. Hy vra toe wat hulle doen. Fred was nie vreeslik lus vir gesels nie – hy wil rustig saam met sy vrou kuier. Hy sê toe vir die man: “Ek is 'n professor in homiletiek”. Hy het gemeen dat dit die man sou afskud.
"O, so jy is 'n man wat weet van preek", kom dit toe onverwags. "Laat ek vir jou 'n preekstorie vertel". En voordat hulle nog iets kan sê trek die man ‘n stoel nader en begin vertel. Hy vertel dat hy ‘n buite-egtelike kind was, en het nooit geweet wie sy pa is nie. En dit was vir hom baie swaar, want hy is half eenkant geskuif en mense het opmerkings gemaak oor die kind wat nie weet wie sy pa is nie. Hy het baie tyd alleen spandeer en het nie veel vriende gehad nie.
Een dag het daar ‘n bekende prediker na hulle dorpie gekom. Die man vertel dat hy nie eintlik kerk toe gegaan het, maar hy was nuuskierig en het toe tog gegaan om na die predikant te luister. Hy was nogal beïndruk en hy het toe weer gegaan. Maar hy het altyd gesorg dat hy bietjie laat inkom en het weer vroeg geloop, sodat hy nie met enigiemand hoef te praat nie. Een Sondag kon hy egter nie betyds wegkom nie en hy raak toe vasgevang tussen die mense.
En terwyl hy so probeer wegkom, toe voel hy so ‘n groot hand op sy skouer. Toe hy omkyk toe sien hy dis die nuwe predikant, wat toe vir hom vra: Wat is jou naam, seun? Wie se kind is jy?
Die vraag wat hy die meeste gehaat het. Maar voor hy kon antwoord, toe sê die prediker: “Ek weet wie jy is. Jy is ‘n seun van God”.
Nadat die ou man dit vertel het, sê hy: "U weet, professor, daardie woorde het my lewe verander".
Toe die ou man weg is kom die kelnerin toe by Fred en sy vrou en vra of hulle weet die die ou man is. Toe hulle nee antwoord toe sê sy – hy het 2 termyne gedien as goewerneur van Tennessee.

Die predikant het met dit wat hy gesê het – die seun se siening oor homself verander. Dis ‘n identiteitsverandering wat hier gebeur. En die teks waarna ons vanoggend kyk gaan ook oor ‘n identiteitsverandering.

Lees Genesis 32: 22-32

Toe ek weer die teksgedeelte lees, het ek weer begin dink oor die woord, “stoei”. Wanneer ek dink aan die woord stoei, dan dink ek aan hoe ons in die laerskool op die speelgrond gestoei het. Ons het gewoonlik een ou gejaag en platgeduik en almal bo-op hom ‘n hoop gemaak. Jy wou beslis nie onder daai hoop wees nie.
As ek aan stoei dink, dan dink ek ook aan die stoei wat ons op TV gekyk het. Onthou julle vir Jan Wilkens, met sy klein broekie, wat in die 70’s en 80’s hier in die Goeie Hoop sentrum geveg het teen ouens soos Apollo, Big John Studd en Igor Volkoff. Ons was vasgenael voor die TV. Dit was nog regte stoei.
Vandag is dit mos WWE Raw en Smackdown met ouens soos Hulk Hogan, Golddust, Triple H en die Undertaker. Baie daarvan is mos maar gechoreografeer.
Ek onthou ook hoe ek en my broers met mekaar gestoei het, gewoonlik na ons Jan Wilkens op die TV gesien het – tot dit op ‘n stadium wat dit gewoonlik te ernstig geraak het en dan was daar ‘n bakleiery.
Ek dink ook aan die kere wat ek met my eie kinders gestoei het. En wat jy maar toelaat dat hulle jou onderkry en bo-op jou spring.

In hierdie teksgedeelte lees ons van die enigste stoeigeveg in die Bybel. Die Hebreeuse woord wat hier met stoei vertaal word, word net op hierdie een plek in die hele Bybel gebruik. Hier waar Jakob met hierdie vreemde man stoei. Ons weet nie wie die man was met wie Jakob gestoei het nie. Ons weet nie of dit God was, of dalk ‘n engel, of ‘n visioen of ‘n droom, of dalk net sy gewete waarmee hy gestoei het nie. Wat ons wel weet is dat in hierdie stoeigeveg is Jakob verander en het God vir hom ‘n nuwe identiteit gegee.

Die sleutel van hierdie storie is die naam Jakob. Soos ons 2 weke gelede gesien het – die naam Jakob beteken “bedrieër”. En ons het mos gesien dat Jakob sy naam gestand gedoen het. Maar hier langs die Jabbokrivier kry hy ‘n nuwe naam: Israel wat dui op God se betrokkenheid in sy lewe. Op ander plekke in die Bybel sien ons soortgelyke veranderinge – Saulus wat die Christene vervolg wat Paulus die apostel word, Petrus wat Jesus verloën wat die rots word waarop die kerk gebou is.  Jakob se nuwe naam en die heupbesering wat hy opgedoen het word dan tekens van verandering, vernuwing en nuwe moontlikhede.
Belangrik om op te let – Jakob se omstandighede verander nie, dis sy karakter, sy identiteit wat verander. En dit maak dat hy anders reageer op sy omstandighede.

Die digter, James Thurber, het iewers gesê:  “All men must learn before they die, what they are running from and to and why.”
Jakob was besig om van Esau, van sy eie swakhede en die slegte dinge in sy lewe weg te hardloop. Maar hy het in God vasgehardloop, en dit het hom gehelp om met die dinge in sy lewe te deal. Wat ons hier moet hoor : As jy ten volle mens wil wees – ‘n gelukkige en tevrede mens - dan moet jy deal met dinge in jou lewe waarvan jy probeer weghardloop. Jy moet vrede maak met dinge in jou lewe. Daarmee saam moet ons ook vir onsself afvra wat dit is wat maak dat ons lewens so gejaagd is en hoekom dit vir ons nodig is om so te jaag.
Ek dink dis nodig vir ons om so bietjie stil te staan en te dink oor die woorde van James Thurber.(kyk weer na die aanhaling en dink daaroor in terme van jou eie lewe.)
  
Dan sien ons ook dat die manier hoe Jakob na sy broer kyk, verander. God moes hom eers verander voordat hy weer sy broer in die oë kon kyk.
In Genesis 33 sien ons hoe Jakob en Esau mekaar na al die jare weer ontmoet. Jakob is bang vir Esau omdat hy sy eersgeboortereg en seën gesteel het. Hy verwag dat Esau hom iets gaan aandoen. Hy stuur selfs mense vooruit om Esau sag te maak.  
Lees gou wat gebeur: Genesis 33:4 “Esau het hom tegemoed gehardloop en hom omhels. Esau het sy arms om Jakob se nek gesit en hom gesoen, en hulle het gehuil.”

Wanneer Jakob vir Esau ontmoet is hy geskok deur sy broer se vergewende omhelsing.
Die Message vertaling sê dit baie mooi – Genesis 33: 10 “Please. If you can find it in your heart to welcome me, accept these gifts. When I saw your face, it was as the face of God smiling on me.”

Julle het seker al gehoor van Corrie ten Boom. Sy was ‘n jong vrou in die Tweede Wêreldoorlog. Sy en haar gesin het gevoel dis hulle Christelike plig om die Jode te help. Hulle het Jode in hulle huis weggesteek. Uiteindelik het die Nazi’s hulle uitgevang en hulle is konsentrasiekamp toe gestuur. Corrie was die enigste een van haar familie wat die kampe oorleef het. Na die oorlog het sy boeke geskryf en praatjies gehou oor haar ervaringe en oor vergifnis. In haar boek “Tramp for the Lord” vertel sy hoe sy na die oorlog in Duitsland opgetree het. Na een van die optredes het een van die wreedste soldate wat by die konsentrasiekamp gewerk het na haar toe gekom. Sy wou hom nie groet nie, sy wou hom nie vergewe nie, maar het vir die Here gevra om haar te help. En dan skryf sy die volgende: 
 “For a long moment we grasped each other's hands, the former guard and the former prisoner. I had never known God's love so intensely as I did then.  I also know that in my post-war experience with other victims of Nazi brutality, it was those who were able to forgive, who were best able to rebuild their lives.”

By Corrie ten Boom en by Jakob en Esau leer ons ‘n belangrike les – versoening met God, met onsself en met ander mense is die sleutel tot ‘n betekenisvolle, sterk, gesonde en heel lewe.

Om saam te vat:
Mag jy gereelde lewensveranderende ontmoetings met God hê.
Mag jy deal met die dinge wat jou jaag – uit jou verlede en op die oomblik.
Mag jy versoening met God, jouself en ander mense beleef.
Sodat jy ‘n heel en gesonde mens kan wees.

No comments:

Post a Comment