Sunday, July 17, 2011

Preek 17 Julie 2011

Genesis 28:10-22

Ek wil begin deur julle voor te stel aan Ted Williams. Hy kom uit ‘n goeie huis, het na skool weermag toe gegaan en daarna gaan werk. Maar op ‘n stadium het sy lewe uitmekaar geval en hy het aan drank en dwelms verslaaf geraak, was in die moeilikheid by die Polisie, het vervreem geraak van sy familie en het uiteindelik op die strate gewoon. Maar Ted Williams was geseën met ‘n wonderlike stem. Op ‘n dag het ‘n joernalis dit gehoor, opgeneem en op You Tube gesit. Dit het ‘n Januarie vanjaar gebeur. Mense het dit gesien en Ted is genooi na ‘n radio program waar mense hom gehoor en en werk aangebied het.  Vandag is hy ‘n gesogte omroeper en aankondiger vir  advertensiefirmas, sportstasies en nuuskanale. Hy het weer ‘n plek om te bly en hy is met sy familie verenig. (Gaan na die volgende link as julle ‘n clip van Ted wil sien: http://www.youtube.com/watch?v=ExdVwfNbuVo&NR=1.)

Een mens het gekies om iets meer in Ted raak te sien en dit het sy lewe heeltemal verander.Vandag se teks is ‘n verhaal van hoe God gekom het en ‘n “loser” se lewe verander het, sodat hy anders na homself en die lewe gekyk het.

Dis die verhaal van Jakob. Jakob was een van ‘n tweeling. Sy broer was Esau. Maar Jakob is tweede gebore. So Esau was oudste en volgens die gebruike van daai tyd, het hy al die voordele gehad wat daarmee saamgaan. Alles wat sy pa s’n was, was ook syne. Al die rykdom en al die gerief wat daarmee saamgaan. Hy was die alleen erfgenaam omdat hy die oudste was.
Jakob het altyd aan die korste end getrek. Hy het altyd tweede gekom. Hy weier egter om dit te aanvaar en hy probeer alles om sy situasie om te keer. Hy wil ook darem bietjie deel in die voorspoed en sekuriteit wat Esau beleef. Uiteindelik kry hy dit op ‘n oneerlike manier. Toe dit tyd word dat Esau as die oudste geseën word, bedrieg Jakob vir Esau en vir sy pa en hy steel Esau se eersgeboortereg en seën.
Lees Genesis 27: 35-36.
En dan sien ons Esau se reaksie: Genesis 27: 41

So, Jakob was nie baie gewild nie. Hy is ‘n bedrieer en ‘n skelm. Dit word selfs in sy naam weerspieël – die naam Jakob en die Hebreeuse naam vir ‘bedrieg’ is amper dieselfde. Hy verdien alles wat na hom toe kom. Omdat hy bang was vir Esau, het hy toe gevlug. Hy is nou ‘n voortvlugtende – sonder ‘n huis en familie, sonder ‘n plek om te slaap en kos om te eet. Soos ons lees in Genesis 28: 10-11

En dan gryp God in. Een aand toe Jakob met sy kop op ‘n klip lê en slaap, gee God vir Hom ‘n droom. Lees Genesis 28: 12-15.

Hierdie droom bevestig vir Jakob en weer vir ons dat God los ‘n mens nie. God het ‘n droom vir jou lewe en mens kan weghardloop daarvan of afdwaal, maar God hou aan om jou te agtervolg en wanneer jy later moeg gehardloop is, dan is God daar om jou te omhels en op te tel. Sy genade kan deur niks gekeer word nie. Dis nogal ‘n troos om te weet – as ek op die laagste punt van my lewe is (maak nie saak wat dit veroorsaak het nie), dan is God ook die naaste aan my.
Stanley Jones gesê het “Christ is always closest when the cross is heaviest.”

Dit word bevestig deur die leer tussen die aarde en die hemel wat Jakob in sy droom sien. Die hemel is nie meer ‘n plek wat daar ver is waar God woon nie. Die leer in die droom bevestig vir ons dat God hier is, dat Hy betrokke is by die aarde en by mense en dat Hy nuwe dinge wil doen.
God is presies soos hierdie spreekwoord: “A friend is the one who comes in when the whole world has gone out.”

Gevolg van die droom is dat Jakob heeltemal anders begin dink oor homself, oor God en oor die toekoms. Lees Genesis 28: 16-22.

Soos met Ted Williams se verhaal open daar nuwe moontlikhede vir Jakob.
Wanneer God opdaag is Jakob nie meer net die tweede seun wat geen vooruitsigte het nie. Hy is nie meer die loser, die bedrieer die skelm nie wat vlug vir sy lewe nie..
Wanneer God opdaag word Jakob ‘n nuwe mens met ‘n nuwe roeping. Iemand wat nou God se beloftes verder gaan uitdra.
Wanneer God opdaag word Jakob ‘n belangrike rolspeler in die geloofsgeskiedenis het.
En dis nie asof Jakob dit verdien het nie, asof hy daarvoor gekwalifiseer het of selfs daarvoor gevra het nie. Dis iets wat God doen! En dis iets wat Hy vandag nog in mense se lewens doen en wil aanhou doen!

So wat leer Jakob (…en ons!) in die proses?
Hy leer dat God altyd teenwoordig is.
Hy leer dat God hom sal beskerm.
Hy leer dat God hom nooit in die steek sal laat of sal los nie.
Hy leer dat God altyd Sy beloftes sal nakom.
Hy leer dat God ‘n inspraak in sy lewe wil hê en vir hom groot dinge in gedagte het.
Hy leer dat dit nie vir hom nodig is om na God toe te probeer opklim nie, want God het na ons toe afgeklim. Hy is hier, by ons, langs ons.
Hy leer dat die dinge wat hy gedink het belangrik is, soos die status en gemak en rykdom wat Esau gehad, nie so belangrik is nie.
Maar die belangrikste – hy leer van God se genade en liefde, wat nie deur sonde gekeer kan word nie. En wat nie afgeskrik word deur enigiets of enige iemand nie.

Soos Ted Williams key Jakob ‘n tweede kans in die lewe. Nie omdat hy so goed is nie, maar omdat God goed is. Mag ons vanoggend weer dankbaar wees dat God by ons is en aanhou om vir ons tweede kanse te gee. Mag ons dankbaar wees vir genade waardeur God ons ‘iemand’ maak.  

2 comments:

  1. Ons almal se Hemelvader wil nie een van sy skape verlore laat raak nie daarom los hy die negenegetig en gaan soek die verlore mens tot hy hom kry, om die getal honderd vol te maak want hy is die getroue Herder....

    ReplyDelete
  2. Ons almal se Hemelvader wil nie een van sy skape verlore laat raak nie daarom los hy die negenegetig en gaan soek die verlore mens tot hy hom kry, om die getal honderd vol te maak want hy is die getroue Herder....

    ReplyDelete