Sunday, August 21, 2011

Preek 21 Aug 2011

Barnabas die gasvrye

Handelinge 9: 26-31

 

Ons loop vanoggend verder in die spore van Barnabas, wanneer ons by hom leer van die geloofsgewoonte van gasvryheid.
Geoloë het ontdek – in die Sahara woestyn - diep onder harde woestyn landskap is daar groot watermere wat in die steenformasies voorkom. Op sommige plekke borrel die water na die oppervlak om ‘n oase te vorm. Hierdie oases is waar reisgers deur die woestyn water en lafenis kry. Sonder hierdie oases sou dit nie moontlik wees om die woestyn te deurkruis nie. Dit maak die reis veilig. Die kamele kan weer water kry, mense kan ontspan en verkwik word. Sodat hulle reg is om hulle reis voort te sit. Oases is eintlik die woestyn se plekke van gasvryheid.  
Hierdie beeld het my dadelik aan my ma laat dink. My ma is een van daai gasvrye mense. Die huis waarin ek groot geword het was soos ‘n oase. Mens kry mos sulke mense – by wie jy net dadelik tuisvoel. Ek onthou iemand het eenkeer van my ma gesê - sy jou laat voel asof jy al lankal jou eie kamer in haar huis het. Dis gasvryheid.

Dis hierdie tipe gasvryheid wat ons by Barnabas ook kry – veral in die manier hoe hy vir Saulus hanteer het.
Lees Handelinge 9: 26-31

Ek wil net so ‘n stappie terug gee...In Handelinge 8 lees ons “Saulus het die kerk probeer uitroei. Hy het van huis tot huis gegaan, mans en vrouens laat uitsleep en hulle in die tronk laat sit.” Saulus was die vervolger van Christene.
So word Saulus deur die hoëpriester Damaskus toe gestuur om Christene gevange te gaan neem. Op die pad na Damaskus het Saulus egter ‘n ontmoeting met God gehad wat sy hele lewe verander het en hy het begin om die evangelie te verkondig. Die probleem was toe dat toe Paulus in Jerusalem kom het die mense hom nie vertrou. Hulle wou niks met hom te doen gehad het nie, want hulle onthou hom nog die man wat die Christene vervolg het. Niemand wou na hom luister nie, niemand wou vir hom blyplek gee nie. Hy was soos iemand wat in die woestyn rondgedwaal het op soek na ‘n oase.

Totdat Barnabas op die toneel verskyn. Barnabas ontferm hom oor Saulus. Hy gee vir hom ‘n veilige ruimte. So maak hy sy voormalige vyand deel van sy lewe. Hy doen dit op twee maniere: Hy luister na sy storie en stel hom voor aan die apostels.
Dietrich Bonhoeffer: die duitse teoloog wat deur die Nazi’s tereggestel is – het gesê: “die belangrikste diens wat mens aan die gemeenskap kan lewer, is om te luister.”
‘n Groot deel van gasvryheid is om te luister na iemand se storie. Dit laat mense veilig en gemaklik voel. Dit sê vir die ander persoon – jy is vir my belangrik, ek stel stel in jou belang.

Hier is natuurlik ook ‘n sekere risiko aan verbonde. Om regtig te luister na iemand moet jy bereid wees om tyd af te staan en jouself oop te stel. Niemand sou snaaks gedink het as Barnabas ook bang was vir Saulus en nie na hom wou luister nie. Maar hy was bereid om die risiko te neem, homself oop te stel en te luister. In ons wêreld is dit nie altyd maklik nie. Ons is van nature geneig om onsself te beskerm, ons skram weg van mense, ons vertrou moeilik, ons is verdedigend en skepties. Soms is dit net ongerieflik. Ons is bang om risikos te neem.  Maar ons kan ook nie wegkom daarvan dat dit deel is van ons roeping as gelowiges nie. Barnabas wys dit vir ons.

Nadat Barnbas na Saulus geluister het gee dit vir hom die vrymoedigheid om vir Saulus na die apostes toe te bring en vir hulle te sê dat hy oraait is. Hulle kan hom vertrou. Hy is nie meer die Saulus van vroeër nie. Barnabas word dan eintlik Saulus se borg. Dit maak dat hulle vir Saulus en sy bediening erken. En ja daar was nog mense wat skepties was teenoor Saulus en daarom is hy weg na Tarsus, maar daar is Tarsus het hy voorberei vir sy lewe as apostel. Die punt is: Barnabas se gasvryheid het vir Saulus vrygemaak en selfvertroue gegee om sy roeping te gaan uitleef.  


Gasvryheid is ‘n belangrike tema in die Nuwe Testament. Ons lees byvoorbeeld in Hebreërs 13:2: ““Moenie nalaat om gasvry te wees nie, want deur gasvry te wees, het sommige mense sonder dat hulle dit geweet het, engele as gaste gehuisves.”
Dit verwys waarskynlik terug na Genesis 18 waar Abraham 3 besoekers ontvang het wat toe engele was wat vir hom die belofte oorgedra het dat hy ‘n kind sou kry.
Daar is ook die verhaal van die Emmausgangers in Lukas 24 – hulle was gasvry teenoor die vreemdeling wat op die pad by hulle aangesluit het en uiteindelik toe hulle saam eet en die vreemdeling breek die brood – toe besef hulle dat dit Jesus is.
Ons lees in Romeine 12: 13 - “Help die medegelowiges in hulle nood en lê julle toe op gasvryheid.”
In 1 Timoteus 3:23 & Titus 1:8 lees ons dat gasvryheid een van die kenmerke moet wees van die leiers van die kerk.

Gasvryheid is ‘n belangrike tema in die Nuwe Testament. Maar daar is ‘n belangrike kwalifikasie in hoe die Nuwe Testament gasvryheid beskryf. Die Griekse woord wat in die Nuwe testament met gasvryheid vertaal word is philoxenia en dit beteken letterlik ‘liefde of vriendelikheid vir die vreemdeling”.
 Alhoewel gasvryheid natuurlik ook te doen het met lekker kuier saam met vriende en familie, gaan Bybelse gasvryheid meer oor hoe jy vreemdelinge ontvang. Mense wat jy nie ken nie, mense wat anders is as jy. En dis uiteindelik ons grootste uitdaging.
Ek het ‘n Chinese spreekwoord raakgeloop wat my nogal hieroor laat dink het: “Betoon gasvryheid teenoor vriend en vyand wat by jou huis(by jou werk) aanklop. Die boom weerhou sy skadu van niemand nie – nie eens van die houtkapper nie.” 

Ek lees onlangs van ‘n akteur wat vertel van die professionele wêreld van akteurs. En ek het nogal gedink dit is van toepassing as ons praat oor gasvryheid. Hy vertel dat akteurs oefen vir tonele waar hulle liefde, sagtheid en intimiteit teenoor mekaar moet wys maar terselfdertyd is hulle jaloers op mekaar en is hulle so bang hulle maak dit nie dat daar back-stage baie haat, hardheid en skeptisisme teenoor mekaar is. Op die verhoog soen hulle mekaar, maar agter die verhoog wil hulle mekaar slaan. Op die verhoog speel hulle die diepste menslike emosies, maar wanneer die ligte af is net vyandigheid en kompetiese tussen hulle.

Die wêreld waarin ons leef kan ook maklik wees soos akteurs op ‘n verhoog. Teenoor mekaar is daar vriendelikheid en gasvryheid, maar agteraf is dit net vyandigheid, skeptisisme en selfs haat. Dink maar hoe dit dikwels by jou werk gaan. Selfs in die kerk en in families sien mens dit. Dis so anders as Bybelse gasvryheid – bybelse gasvryheid is eerlik, dis eg, dit stel ander mense eerste, dit soek sy eie belang nie, maar is regtig ingestel op ander se belange, dit skep veilige ruimtes vir mense en dit vra: wat wil die Here vir my leer deur hierdie ander mens?

Ons moet onsself afvra:
Waar kan ek ‘n Barnabas wees vir iemand anders?
Wie in my omgewing het dalk ‘n skuilplek, ‘n oase nodig?
Wat gaan ek doen wanneer die Saulusse van hierdie wêreld oor my pad kom? Gaan ek na hulle luister?
Hoe lyk gasvryheid in my werksplek? Veral met moeilike kollegas en mense wat agteraf is?
Ouers met kinders – kinders is ook mos maar net gaste in ons huise. Wat beteken gasvryheid vir my as ouer terwyl die kind in my huis is? Is my huis vir my kinders ‘n veilige ruimte waar hulle veilig voel en kan groei en ontwikkel en uiteindelik vry kan wees.
Hoe lyk gasvryheid teenoor mense wat anders lyk en dink as ek? Mense wat van my verskil? Ons sê maklik – jy kan my gas wees as jy net meer lyk en dink en glo soos ek. Dis menslik want ons is gemaklik met mense wat soos ons is. Maar dis nie Bybelse se gasvryheid nie. Bybelse gasvryheid sê – ek stem nie noodwendig met jou saam nie, maar jy is steeds welkom in my lewe.

Wat beteken gasvryheid vir ons as gemeente? Gasvryheid is deel van ‘n gemeente se DNA. Dit moet deel wees van alles wat ons doen in die gemeente – eredienste, vergaderings, basaar, kleinrgoepe - alles wat ons doen moet dit weerspieël. Almal moet welkom voel hier by ons.

Ek wil afsluit met ‘n laaste gedagte: Gasvryheid gaan oor ‘n verhouding – ‘n mens kan tog nie op jou eie, sonder gaste, gasvry wees nie. So is dit ook met God. Hy tree met ons in verskillende verhoudings en een daarvan is dié van volmaakte Gasheer. Maar meer as dit: Hy word vir ons die feesmaal. En Hy word ook ons Gas – in elke vriend of vreemdeling wat ons drumpel oorsteek. (Matthew Fox)


No comments:

Post a Comment