Sunday, August 28, 2011

Preek 28 Aug 2011


Die Heilige Gees breek mure af; ons moet brûe bou

Handelinge 11: 19-24

 

Die Berlynse muur

Die Berlynse muur was ’n gruwelike grensmuur wat deur die Duitse Demokratiese Republiek (DDR) opgerig is.  Op 13 April 1961 is oornag begin om Wes-Berlyn volledig af te skei van die omringende Oos-Berlyn en Oos-Duitsland.  Dit was alles deel van die koue oorlog tussen Oos en Wes.  Die lang grensmuur van beton het wagtorings ingesluit wat uitgekyk het oor ’n strook niemandsland (ook die doodstrook genoem) waaroor niemand mag beweeg nie.  Jy kon doodgeskiet word as jy dit doen.  Baie mense wat uit Oos-Duitsland wou vlug, het inderdaad hul lewens só verloor. 
Na verskeie weke van politieke onrus het die DDR-regering op 9 November 1989 aangekondig dat DDR-burgers Wes-Duitsland en Wes-Berlyn kon besoek.  Groot skares het op die beheerpunte toegesak en die verdwaasde Oos-Duitse wagte het geen ander keuse gehad as om hulle gewere te laat sak en die hekke oop te gooi nie.  Die skandmuur is oor die volgende weke en maande deur Duitsers, memento-jagters en die owerhede  afgebreek.  Die val van die muur het die weg geopen vir Duitse hereniging, wat op 3 Oktober 1990 plaasgevind het.

 

Mure val in Antiogië

Romeinse stede was gekenmerk deur mure.  Antiogië, waarvan ons in ons teks lees, was die derde grootste stad in die Romeinse Ryk en ’n belangrike militêre sentrum in die oorlog tussen die Romeinse Ryk in die Weste en die Persiese Ryk in die Ooste.
Wanneer die Romeine volke oorwin het, is hulle in stede soos Antiogië in klein ruimtes laat woon, maar hulle was onderling vyandig.  Daarom het die Romeine hul stede in sektore verdeel waar die verskillende bevolkingsgroepe kon bly.  Daar is mure tussen hierdie woonbuurte opgerig.  Daar was verskeie sulke ommuurde sektore in Antiogië.
Die evangelie sou hierdie mure in Antiogië platvee.  Dit steek die grens tussen Jood en Griek oor, en bring mense uit verskillende agtergronde in een nuwe mensheid in Christus saam.

 

Die getuienis van gewone mense laat die mure val

Let op dat dit gewone mense is wat die evangelie aan die mense van Antiogië verkondig.
Dit is die eerste keer dat die evangelie regtig die grens na nie-Jode oorsteek. Verandering kom baie keer van die rante af, van mense wat nie noodwendig in die hart van die beweging/instituut staan nie.
En die mense van Antiogië kom tot geloof in Jesus Christus, erken Hom as hulle Here, en bekeer hulle tot Hom.

 

Nuwe gelowiges is opgewonde en onseker

’n Mens kan jou voorstel wat hulle ervaring was.  Hulle is opgewonde oor die nuwe lewe en verwonderd oor die eenvoud van die evangelie, maar ook onseker. 
·         Wat presies sou hierdie nuwe lewe alles behels? Hoe gaan dit hulle daaglikse en beroepslewe beïnvloed?  Watter tipe lewenstyl moet hulle nou volg?
·         En dan: wat van die Joodse gebruike? Wat sou van hulle verwag word?  Watter rol moet die besnydenis speel?  Moet hulle nou die sabbat onderhou?

 

Barnabas word gestuur om te bemoedig

Hy is presies die regte persoon om die gemeente in Antiogië te bedien.

 

God het Barnabas voorberei

Vir dié enorme verantwoordelikheid was Barnabas op 'n besondere manier deur God voorberei.  Hy was 'n Griekssprekende Jood wat tussen heidene buite Palestina in Siprus grootgeword het en daarom tuis was in die teenwoordigheid van nie-Jode nie.  Maar, hy was ook ’n Leviet wat beteken dat hy volledig onderleg was in die ortodokse Joodse leer.  Hy kon dus die skeiding tussen Grieke en Hebreërs in sy persoon en afkoms oorbrug.  Op die koop toe was hy ook deeglik bekend met die eise van die Christelike geloof as lidmaat van die eerste gemeente in Jerusalem en kon gevolglik as leraar van hierdie nuwe leer optree.
Lukas beskryf Barnabas as 'n goeie man; met die Heilige Gees vervul. Daarbenewens het Barnabas ook 'n vaste geloof gehad.  Sy sekuriteit het hy in God gevind.
·         Barnabas het nie ‘n keuse gehad oor waar hy grootword en oor sy opvoeding nie – en God gebruik dit
·         Maar alles het nie blooot vanselfsprekend gekom nie. Barnabas moes kies om te glo; moes kies om ‘n karakter van integriteit te kweek. ‘n Mens moet kies om die lig van God in die donker hoekies van jou lewe te laat inskyn – en as jy kies om hierdie dinge te doen, word jy ‘n baie kragtige getuie in God se hand, because then you walk the talk; you practice what you preach.

 

Jerusalem stuur Barnabas as bemoediger

Barnabas is voorberei hiervoor.  Hy was bekend vir sy vrygewigheid.  En hy was bekend as ‘n gasvrye mens, wat vir Saulus onder sy vlerk geneem het toe almal nog skepties was oor hom.
Let op wat die gemeente in Jerusalem doen.  In plaas daarvan om te probeer om ’n voorskrif vir die gelowiges uit die heidene te skryf van hoe hulle as Christene moet lewe, en hulle het ’n hele paar mense gehad wat dit sou kon doen, stuur hulle iemand om met hulle in verhouding te tree, iemand wat na hulle kan luister, en saam met hulle kan lewe en op ’n daaglikse wyse kan blootstel aan ’n Christelike lewenstyl.

 

Om met hart en siel aan die Here getrou te bly

Let op wat gebeur toe Barnabas daar kom en waaraan hy aandag gee.  Lukas vertel ons dat hy hom instel om God se werk raak te sien, dat hy spesifiek fokus op hulle geloof in die Here en hulle daarom aanspoor om met hart en siel aan die Here getrou te bly. 
·         Hy praat nie oor die besnydenis nie. Hy praat nie oor die sabbat nie. Later, wanneer hierdie onderwerpe deur sy gehoor op die tafel gebring word, spreek hy dit aan.
·         Hy praat oor hulle getrouheid aan die Here, dié Here waarin hulle nou geglo het en tot wie hulle hul nou bekeer het.  Waarmee hy natuurlik ook bevestig dat dit die belangrikste van alles is – ’n verhouding met God waarin getrouheid aan Homself die spilpunt is waarom alles draai. 

 

God is aan die werk

Soos regdeur die boek Handelinge die geval is, beklemtoon Lukas hier dat die uitbreiding van die evangelie van Jesus Christus onder beheer van God staan.  Dit is God wat met die sending, hierdie beweging oor grense heen, besig is, wat ons met die term Missio Dei uitdruk. 
·         Barnabas was bly om te sien hoe God in sy genade onder hulle gewerk het (11:23). 
·         Lukas sê spesifiek dat “Die Here het die gelowiges gehelp, sodat daar baie mense … hulle tot die Here bekeer het.” (11:21). 
·          Barnabas word beskryf as “vol van die Heilige Gees”.

 

God se gemeente is inklusief

Ons sien hier ook iets van die wyse waarop die gemeenskap van gelowiges altyd moet werk – inklusief, aanvaardend, insluitend.  Die evangelie kan nie agter mure en grense ingeperk word nie.

 

God se gemeente is bemoedigend

Ons sien in hierdie verhaal die effek van bemoediging en ondersteuning.
Wanneer ’n mens voortdurend aangemoedig word tot ’n sekere optrede of lewenstyl kan dit ’n grootrippel-effek hê.  Ons sien dit in die mooi verhaal van Trevor McKinney, wat die wêreld wou verander deur iets goeds te doen vir 3 ander mense - en hulle dan te vra “to Pay it Forward (Catherine Ryan Hyde Pay it Forward).  En dit het ’n beweging geword wat inderdaad ’n hele klomp mense se lewens verander het.
Die impak wat iemand maak kan positief of negatief wees – en dit is langdurig! Dit leef voort, selfs wanneer die persoon nie meer daar is nie. Ons moet versigtig wees hoe ons lewe en watter impak ons maak!
NEGATIEF: Mense het eenkeer ‘n eksperiment met ape gedoen. Hulle het ’n skoot koue water gekry as hulle ’n piesang probeer eet het.  As ’n nuwe aap bykom keer die ander hom om die piesang te probeer eet.  Selfs as al die aanvanklike ape een vir een verwyder word, en daar niemand oorbly wat ooit self die koue water ervaar het nie, keer die ape enige nuweling om die piesang te probeer eet.
POSITIEF: aan die ander kant was daar ’n eksperiment wat bewys het dat mense twee keer langer met hulle voete in yswater kan staan as iemand hulle aanmoedig.  Bemoediging versterk dus jou deursettingsvermoë. 

Wat moet ons vanoggend hoor?
1.    God is aan die werk in die wêreld om ons. Ons moet ontdek waar God werk -  en dan moet ons mense aan God self verbind.
2.    God het deur gewone mense gewerk. Moet dus nie te bekommerd wees daaroor dat jy dalk nie genoeg weet nie, nog baie foute het, nog ‘n jong gelowige is… God slaan ‘n reguit hou met ‘n krom stok!
3.    God gebruik ons verlede. Gee alles wat met jou gebeur het – goed en sleg – vir God. God kan en sal dit gebruik om die wêreld ‘n beter plek te maak.
4.    Ons moet kies om mense met integriteit te wees: goeie mense, wat vrygewig is, wat gasvry is en wat kan brûe bou na ander mense… Ons moet kies om ‘n positiewe impak op ander mense te hê. Ons hoef nie voorskriftelik te wees nie. God stap ‘n pad met mense! Ons moet ‘n goeie voorbeelds stel en hulle liefhê.
5.    Ons omgewing het die afgelope klompie jare baie meer divers geword. Daar is baie kleur, kultuur, taal en ouderdomsgrense om oor te steek! En God wil die mense van ons omgewing graag bereik met die goeie nuus van die evangelie! God wil dit deur ons doen…



No comments:

Post a Comment