Sunday, August 14, 2011

Preek 14 Aug 2011


Barnabas die vrygewige
Handelinge 4: 32-37

Joodse spreekwoord wat sê: “Baie kerse kan van een vlam aangesteek word sonder dat die vlam ooit minder helder brand.
Dis iets hiervan waarvan ons lees oor die eerste gemeente in Handelinge. Op Pinksterdag, net na Jesus se hemelvaart is die Heilige Gees uitgestort. Dit het ‘n ongelooflike impak op die mense gehad. Dit was ‘n geestelike ervaring wat al meer uitgekring het en gemaak het dat daardie eerste gemeente met duidende mense gegroei het. Romeine, Jode, Perse en Arabiere het deel geraak van die gemeente. So het die kerk tot stand gekom. Niks was ooit weer dieselfde nie. Saam met hierdie ervaring kom daar ook ‘n opdrag: Hulle moes getuies wees - “in Jerusalem sowel as in die hele Judea en in Samaria en tot in die uithoeke van die wêreld” (Hand 1:8).
Dit moes nogal oorweldigend gewees het vir die mense, want onthou hierdie gemeente het ontstaan uit ‘n groepie Jode met ‘n  baie eksklusiewe en konserwatiewe godsdienstige agtergrond. En dan was hulle nog arm ook. Hulle wou waarskynlik weet – waar moet ons begin?

So wat doen hulle? Lukas vertel dat hulle 2 goed gedoen het. Eerstens het hulle hulle toegelê op die leer van die apostels en gebed – m.a.w. hulle het hulle toegwy aan God en aan geloofsgroei. Tweedens lees ons dat hulle het hulle toegelê aan hulle verbondenheid aan mekaar en hulle het gereeld saam geëet. Hulle het dus na mekaar omgesien en alles met mekaar gedeel.
Lees daarvan in Handelinge 4: 32-35.

Dan doen God ‘n wonderlike ding – Hy seën hulle deur Barnabas se vrygewigheid. Barnabas is vir hulle ‘n voorbeeld as dit kom by vrygewigheid.
Lees Handelinge 4: 36-37.
Die eerste ding wat Barnabas in die gemeente doen – hy verkoop ‘n stuk grond wat hy gehad het en gee die opbrengs daarvan vir die gemeente. Hy doen daarmee dus wat die ryk jongman in Lukas 18 nie wou doen nie. Barnabas doen afstand van sy besittings om vir Jesus te volg en daarmee word hy bekend as iemand met ‘n groot en warm hart.
Hy word byvoorbeeld deur Alexander Monachus (6de eeuse monnik van Siprus) beskryf - “his face was like that of an angel ... and he had sparkling eyes”.

Met sy vrygewigheid sit Barnabas ‘n hele proses aan die gang wat meer en meer uitkring – soos die klomp kerse wat by een kers aangesteek word. As gevolg van Barnabas se vrygewigheid word die kerk gevestig as ‘n vrygewige plek, waar daar na elkeen se behoeftes omgesien word en waar daar gesorg word vir almal. En dit maak ook dat hulle besef dat God vir hulle sal voorsien. En dit gee vir hulle krag vir hulle groot opdrag.

Wat leer ons uit hierdie verhaal van Barnabas?

God gebruik gewone mense met gewone goed om ‘n verskil te maak. Barnabas het ‘n stuk grond verkoop en daarmee het hy ‘n heeltemal nuwe lewenstyl in die gemeente en gemeenskap gevestig.

Ons leer dat jy vrygewig is omdat jy dankbaar is. Die mense in Handelinge is verander deur Jesus se dood, opstanding en die uitstorting van die Heilige Gees. Hulle dankbaarheid dring hulle om vrygewig te wees. Daarmee saam gee hulle ook omdat hulle dankbaar is dat God in al hulle behoeftes voorsien.

Vrygewigheid gaan ook nie oor myself en die erkenning wat ek daaruit kry nie. Barnabas se vrygewigheid het nie by almal positiewe reaksie uitgelok nie. Ons lees van Ananias en Safira wat ook ‘n stuk grond verkoop het, maar tot hulle eie selfsugtige voordeel. En dinge het nie goed geeindig vir hulle nie. Vrygewigheid is nie iets vir iets nie.Dit gaan nie oor my nie. En ek moet gee sonder om iets terug te verwag.

Ons leer dat dit vir God belangriker is hoe jy gee as wat en hoeveel jy gee. Selfs al het jy nie baie nie, kan jy nogsteeds gee. Barnabas en die mense in die eerste gemeente was nie ryk mense nie, maar het nog steeds gegee wat hulle kon.
Dis iets wat ons ook leer by die verhaal van die arm weduwee in Markus 12. Baie ryk mense het baie geld ingegooi, maar die arm weduwee het 2 muntstukkies ingegooi, wat nie baie werd was nie. Jesus gebruik hierdie verhaal as ‘n les in vrygewigheid: “Dit verseker Ek julle: Hierdie arm weduwee het meer ingegooi as al die ander mense wat iets in die offergawekis gegooi het. Hulle het almal uit hulle oorvloed iets ingegooi, maar sy het in haar gebrek alles ingegooi wat sy gehad het, alles waarvan sy moes lewe” (Mark 12:43-44).
Vrygewigheid is ook moontlik in gebrek nie net in oorvloed nie. Gee wat jy kan.

Ek wil afsluit met ‘n ware verhaal om dit alles op te som.
In die begin van die vorige eeu het daar eendag ‘n dogtertjie, Hattie May Wyatt, naby ‘n klein kerkie gestaan en huil. Die predikant, dr Russel Conwell, kom toe by haar en vra hoekom sy huil. Sy antwoord dat sy nie Sondagskool toe kan gaan nie, want daar is nie plek vir haar nie.
Hy vat toe haar hand en neem haar na ‘n sondagskoolklassie toe. Hy sê toe ook vir haar dat eendag sal hulle nog ‘n plek bou wat groot genoeg is vir almal wat wil kom.
‘n Paar weke later het die dogtertjie ernstig siek geword en gesterf. Haar ouers het toe die predikant laat kom na hulle vervalle woonstelblok en hom gevra om die begrafnis waar te neem. By die begrafnis het die dogtertjie se pa vir die predikant vertel dat sy geld begin spaar vir ‘n boufonds sodat hulle die groter plek kan begin bou en hy gee toe vir hom 57sent wat sy gespaar het.
By ‘n kerkvergadering vertel Dr Conwell toe van die 57sent – die eerste bydrae tot die boufonds. Dit het hulle baie beïndruk en ‘n paar dae later kom een van die kerkraadslede en vertel van ‘n erf daar naby wat hulle kan koop. Dr Conwell gaan praat toe met die eienaar van die erf – wat nie ‘n kerkmens was nie. Hy vertel toe vir hom van die dogtertjie en 57sent waarna die eienaar toe sê hy sal vir hulle die erf verkoop vir 10 000 dollar. As ‘n deposito sal hy die 57 sent neem en die res kan hulle betaal teen ‘n baie lae rentekoers. Die gemeente het toe geld ingesamel en ‘n nuwe kerk  gebou – die Temple Baptist Church in Philidelphia. Vandag is daar ook die Temple Universiteit, die Good Samaritan Hospitaal en ‘n Sondagskool sentrum waar niemand ooit weggewys word nie. Binne die Sondagskool sentrum is daar ‘n skildery van die klein dogtertjie met haar 57 sent en van Dr Conwell.

Vir die gemeente in Phillidelphia het alles begin by 57sent en van daar het dit uitgekring. So die vraag vanoggend vir ons elkeen is: wat gaan jy doen met jou “57sent”?



No comments:

Post a Comment