Sunday, October 16, 2011

Preek 16 Okt 2011


Matteus 22: 15-22

Klompie jare gelede was daar ‘n fliek met Tom Cruise in die hoofrol, Jerry McQuire. Tom Cruise speel ‘n agent vir sportsterre. Daar is ‘n toneel waar sy karakter vir een van sy sportsterre vra: Wat kan ek vir jou doen? Die sportster se antwoord: “Show me the money”

In ons teksgedeelte probeer die Fariseers en die Herodiane vir Jesus vasvra met ‘n vraag oor belasting en Jesus antwoord: “show me the money”.

Daar is 2 groepe wat saamspan om vir Jesus uit te vang: 2 totaal uiteenlopende groepe. Die Fariseers en die Herodiane. Die Herodiane was ‘n groep wat vir Herodus Antipas ondersteun het. Hulle het hulle beywer vir nouer bande met die Roemeinse owerheid en vir belastings aan die owerheid.
Die Fariseërs was weer ‘n Joodse godsdienstige groep wat gekant was teen enige belastings aan die Romeinse owerheid. Hulle het gevoel dis godslasterlik om dit te doen.  Hulle rede hiervoor was dat die muntstuk van daardie tyd – die Dinarius – het aan die eenkant ‘n afbeelding gehad van Keiser Tiberius met die inskripisie Divi Filius – “seun van God”. Dit was vir die Jode net te erg en te Godslasterlik. So hulle het hulle eie koper muntstukke gehad sonder enige afbeeldings en inskripsies.
Dis moeilik om te sien hoe hierdie 2 groepe kon saamwerk, maar hulle het, want albei wou vir Jesus uitvang en daarom werk hulle saam. So, hulle vra vir Jesus – “is dit reg om aan die keiser belasting te betaal, of is dit nie?”

Jesus het ‘n dilemma, hy is in ‘n catch 22 situasie. Amper soos die man wie se vrou vir hom vra “laat hierdie jeans my vet lyk?” as jy ja antwoord en as jy nee antwoord is jy in die moeilikheid.
As Jesus ja antwoord, dan gaan die Jode vir hom kwaad wees en hy het nogal ‘n groot groep volgelinge onder die Jode gehad. As hy nee antwoord, dan sou die Herodiane hom aangekla het by die owerhede omdat hy teen belastings praat.

Jesus is slimmer as dit – hy gee vir hulle ‘n dubbele antwoord.
“Gee die keiser wat hom toekom” – dis immers sy naam en afbeelding wat op die muntstuk voorkom. Hulle moet dit gee, want hulle gebruik immers die voordele wat die Romeinse regering bied. Dis hoekom ons ook belasting moet betaal. Al is ons soms ongelukkig oor dit wat die regering met ons belastinggeld doen, ons geniet ook die voordele wat dit bring. Dis die makliker deel van Jesus se antwoord.

Dis die tweede deel van Jesus se antwoord wat moeiliker is: “Gee aan God wat aan Hom behoort”. Die muntsuk dra die afbeelding van die keiser. Ons is geskep na die beeld van God. As gelowiges dra ons dus ‘n afbeelding van God in ons. Daarom behoort ons hele lewe aan God en daarom dat Jesus sê ons moet ons hele lewe, alles, aan God gee. Dit behoort eintlik al klaar aan Hom.

Hy antwoord dus: Belasting behoort aan die keiser of dan die regering, ons lewens behoort aan God.

Gee aan God wat aan Hom behoort. Hoe werk dit? Miskien sal die volgende storie dit verduidelik:
Luciano Pavarotti, die beroemde tenoor, vertel dat sy pa, ’n bakker, hom bekendgestel het aan die wonder van sang.  Hy het hom aangemoedig om sy stem te ontwikkel, later het Pavarotti ook by ’n onderwyskollege gaan leer. By sy gradeplegtigheid het hy vir sy pa gevra: “Moet ek sanger of onderwyser word?”
Sy pa se antwoord was: “Luciano, as jy op twee stoele probeer sit, sal jy tussendeur val. In die lewe, moet jy een stoel kies.”
Pavarotti het later geskryf: “Ek het een stoel gekies. Wat ook al ons kies, commitment bly die sleutel - kies een stoel!”

In die lewe werk dit ook so. Ek het ook ‘n keuse tussen 2 stoele. Die een gaan net oor myself. Die ander stoel gaan oor Jesus. Ek kan nie op albei stoele sit nie. Ek moet kies. As ek kies om op Jesus se stoel te sit, dan erken ek ook dat my hele lewe aan Hom behoort. Alles gee ek aan hom. Elke deeltjie van my lewe.
Daar is nou nie meer ‘n onderskeid tussen my geestelike lewe aan die eenkant en my huislike en werkslewe aan die ander kant nie. Alles behoort aan God en gebeur in Sy teenwoordigheid.

Ek wil ‘n ou lied gebruik om dit bietjie prakties te maak: “Neem my lewe, laat dit, Heer.”
Ek gaan dit as ‘n gebed doen.

Vers 1
“Neem my lewe, laat dit, Heer, u gewy wees meer en meer. Laat my hart gedurig juig en van dankbaarheid getuig. “
Here, vat my lewe, dit behoort aan U. Alles, elke deel van my lewe, behoort aan U. en ek is so dankbaar daaroor dat ek nie anders kan as om te juig en getuig daarvan nie.  

Vers 2
“Neem my hande, maak hul sterk – diensbaar in U goeie werk. Neem my voete, skoei hul, Heer, met bereidheid tot U eer.”
Here, my tyd, my gawes en talente, behoort aan u en ek wil dit in hierdie wêreld gebruik in u diens en tot U eer. Wys my waar, wanneer en hoe U my wil gebruik.

Vers 3
“Neem my stem en laat my sing – aan U, Here, hulde bring. Laat my mond die boodskap dra: Hul sal vind wat na U vra.” 
Here, my lewe, my liggaam, my stem behoort aan U en ek wil dit gebruik om U te loof en prys en van U te getuig sodat die mense wat elke dag oor my pad kom, iets van U sal ontdek.

Vers 4 
“Neem my goud en silwer, Heer – niks noem ek my eie meer. Al my kennis en verstand stel ek in U vaderhande.”
Here, al my besittings, al my geld, al my goed behoort aan U. Al die kennis wat ek deur die jare opgedoen het, alles wat ek geleer het behoort aan U. Dankie dat U dit vir my gun. Here dit is vir my moeilik om daarvan weg te gee. Help my om uit dankbaarheid vir U terug te gee.

Vers 5
“Maak my hart vir U tot troon deur U Gees wat in my woon. Rig my wil, gevoel en daad altyd na U wyse raad.”
Here, my wil, gevoelens en dade is soms so selfsugtig en net op my eie behoeftes en begeertes ingestel. Ek gee dit nou vir U om daarmee te maak soos U wil. Help my om minder op myself ingestel te wees en meer op U en op ander mense.


No comments:

Post a Comment