Sunday, October 2, 2011

Preek 02 Okt 2011

Matteus 20:1-16

 ‘n Groep geleerdes en teoloë van oor die hele wêreld het eendag in Engeland ‘n konferensie gehou waar hulle gepraat het oor verskillende gelowe en oor wat dit is wat uniek is aan die Christelike geloof. Hulle het toe verskillende moontlikhede gedebateer:
Jesus se menswording? Nee, daar is ander gelowe wat ook melding maak van gode wat as mense verskyn.
Opstanding? Nee, ander gelowe het ook verhale opstandings uit die dood.
En so het die debat aangegaan totdat CS Lewis by die konferensielokaal ingestap gekom het. “Waaroor is julle besig om te praat” – wou hy weet.
Hulle antwoord dat hulle besig is om oor die Christelike geloof se unieke bydrae tussen die wêreld gelowe te praat. 
“O, dis maklik” reageer CS Lewis toe. “Die ding wat die Christelike geloof uniek maak, is genade” 

Iemand het gesê: “Justice is when you get what you deserve.  Mercy is when you don't get what you deserve. Grace is when you get what you don't deserve.” (Anoniem)

Dis waaroor vanoggend se diens gaan. Genade. Dis die tema van vanoggend se preek en dis wat ons weer deur die doop gaan beleef. Mag julle weer opnuut onder die indruk van genade kom.

Lees Matteus 20:1-16

Iemand het eenkeer oor hierdie teks gepreek en na die preek toe kom een van die ouderlinge na hom toe en sê: “You know, preacher, there are parts of the Bible that are difficult to abide, and other parts that aren't. The story you preached on today is one that I find totally offensive!  It's just not fair to pay everyone the same wage when some have worked hard and some have hardly worked. Jesus was just wrong about that. I think you should have preached on something less offensive.”

Jesus gebruik die beeld van ‘n wingerd-eienaar wat tydens oestyd arbeiders op verskillende tye van die dag in diens neem. Aan die einde van die dag betaal hy hulle almal dieselfde – of hulle nou die hele dag gewerk het of net ‘n gedeelte van die dag. Dis mos onregverdig, ek kan heeltemal verstaan dat die wat die hele dag gewerk het ongelukkig is. Almal kan mos nie dieselfde betaal word nie.
Dan sluit Jesus die storie af met die woorde: “so sal die laastes eerste wees en die eerstes laaste”. Dis nogal belangrik dat ons hierdie woorde verstaan, want dis die kern van die evangelie. Dis hoe God werk.

Kom ek vertel ‘n storie om dit te verduidelik:
Die storie gaan oor Fiorello LaGuardia – hy was die burgemeester van New York in die tyd van die Groot Depressie en die Tweede Wêreldoorlog. Sy bynaam was “The little flower” want hy was ‘n kort mannetjie en Fiorello beteken “little flower” in Italiaans. Hy was ‘n baie gewilde en baie goeie burgemeester.  Hy was nogal ‘n kleurvolle en eksentrieke karakter wat daarvan gehou het om op die stad se brandweer waens te ry, hy het gereeld hele weeshuise gevat om bofbal te gaan kyk en toe die stad se joernaliste en radio omroepers  gestaak het, het hy self die kinderstories op die radio gaan lees. Hy was ook ‘n advokaat wat dikwels in die munisipale hof as landdros opgetree het in kleiner oortredings soos winkeldiefstal, verkeersoortredings.
So gebeur dit dat hy eendag optree as landdros in een van die armste dele van die stad. Die eerste saak wat toe voor hom dien, was ‘n verwaarloosde vrou wat aangekla is omdat sy ‘n brood by ‘n winkel gesteel het.  
Sy vertel toe vir LaGuardia dat sy dit gedoen het omdat haar dogter ernstig siek is en haar 2 kleinkinders het niks om te eet nie. Maar die winkelier, van wie sy die brood gesteel het, het geweier om die klagtes te laat vaar, want hy wou gehad het dat hulle van haar ‘n voorbeeld moes maak. In hulle buurt is daar baie sulke diefstal en as sy gestraf word, sal dit vir die ander mense ook ‘n les wees.
LaGuardia sê toe vir die vrou dat hy haar moet straf, want dis die wet. Haar straf was toe ‘n boete van 10 Dollar of 10 dae in die tronk.
Nadat hy die straf uitgespreek het – steek hy sy hand in sy sak , haal 10 dollar uit en gooi dit in sy hoed en hy sê: “Hier is die geld vir haar boete en ek beboet almal in hierdie hofsaal met 50c omdat julle in ‘n stad woon waar iemand nodig het om brood te steel sodat haar kleinkinders iets het om te eet.”
En hy beveel die klerk van die hof om die boete op te neem en die geld vir die vrou te gee.
Die volgende dag het die koerante berig hoe almal in die hof van die misdadigers wat gewag het dat hulle sake voorkom, die polisie en die winkeleienaar 50c gegee het vir die vrou en hoe almal vir LaGuardia hande geklap het.

Vraag is: het die vrou gekry wat sy verdien het? Natuurlik nie, sy het gesteel en maak nie saak wat haar redes was nie, sy moes gestraf word daarvoor.

Maar LaGuardia gee vir haar wat sy nie verdien nie. Dit is genade. Dis wat die wingerd eienaar gedoen het en dis wat God met ons elkeen doen. Ons verdien straf vir dit wat ons al gedoen het – maar hy gee vir ons wat ons nie verdien nie.

Genade is ‘n geskenk – ons kan niks doen om dit te verdien nie. Ons kan dit maar net ontvang. Maak nie saak wie ons is nie, wat ons titel is nie, hoeveel ons besit of wat ons al in ons lewe gedoen het of nie gedoen het nie. Genade word vir ons almal gegee.

Genade gaan nie oor regverdigheid nie. Genade is eintlik baie onregverdig. Regverdig is dat die werkers wat korter gewerk het, minder betaal word. Regverdig is dat die vrou wat die brood gesteel het gestraf word. Regverdig is dat jy kry wat jy verdien. Maar genade is nie regverdig nie – jy kry wat jy nie verdien nie.

Genade is vir die wat eerste is en vir die wat laaste is.
Kom ek verduidelik dit met ‘n beeld. Ek het ‘n paar van julle nodig om my te help. Staan in ‘n ry, asof jy in die bank is. Die wêreld waarin ons leef werk mos met rye. Daar is ‘n volgorde – die wat eerste is en die wat laaste is – survival of the fittest. Nou lyk dit asof Jesus dit alles omkeer as hy sê – die wat eerste is sal laaste wees. Die ry word net omgekeer. Dit bly nog steeds ‘n ry. Maar dis nie wat Jesus bedoel nie.
Staan gou in ‘n sirkel. Dis wat Jesus bedoel – by God is daar nie rye nie. God laat ons almal in ‘n kring staan. Daar is nie meer ‘n eerste en laaste nie. By Hom is almal ewe belangrik.

Genade sê: Almal is ewe spesiaal en belangrik. In die wêreld se terme is dit onregverdig, maar dis genade. Dis daar vir ons almal. Dit gaan alles oor genade!

Een van die oomblikke waar ons genade die beste beleef is die doop. Ouers en babas kom vorentoe.
Een van die kragtigste tekens van genade is die doop. God verbind Hom aan hierdie kinders, nie omdat hulle so oulik is nie, nie omdat hulle dit verdien nie, nie oor wie hulle ouers is nie, maar oor wie God is. Omdat God liefdevol en genadig is. En Hy belowe dat Hy by hulle sal bly deur hulle hele lewe. En Hy sal aanhou om vir hulle genade te bewys maak nie saak wat met hulle gebeur nie.

No comments:

Post a Comment