Sunday, October 23, 2011

Preek 23 Okt 2011

Psalm 90

Ek was Woensdagmiddag by iemand wie se ma Dinsdagaand skielik in haar slaap oorlede is. Ons het so gesit en gesels onder andere oor die dood wat so finaal is. Ek het besef hoe moeilik ons oor die dood praat – dis asof ons bang is om daaroor te praat – dit terwyl die dood so ’n integrale deel van die lewe is.
In die fliek “Star Trek Generations” sien die  bose Dr. Soran tyd:  “You can try to avoid it with doctors, medicines, new technologies ... but in the end, time will hunt you down, and make the kill!”

Lees Psalm 90: 3-6

Die dood is ongelukkig deel van die lewe. Dis omtrent die enigste ding in hierdie lewe waarvan ons almal seker kan wees. Daarom het ek gedink dat ek vanoggend hieroor wil gesels.

Wanneer jy jonk is, lyk die lewe of dit vir ewig gaan aanhou. Praat met ’n  kind oor dood en sy begrip daarvan is beperk. Praat met ’n tiener: “Sterf?, nie nou-al nie!”.  Die 20-plussers sal weer sê: “Verseker… maar eers eendag!” Die 40-plussers sal weer op hulle beurt sê: “Nie nou al nie, maar ek het waarskynlik die halfpadmerk bereik.”
As mens by die 70 plus kom, dan begin jy aanvaar dat die dood dalk nie meer ver is nie.
Soos ‘n gelowige 70 jarige eenkeer gesê het:  “With faith in God, death is my friend. The hope of dying is the only thing that keeps me alive.”

Ek het hierdie statistiek raakgelees oor die VSA. Uit elke 100,000 persone, bereik 88,361 50 jaar.  Meer as 70,000 maak dit tot 70 jaar en amper 17,000 word 85 of meer.
Dis presies in lyn met Psalm 90 vers 10: “Ons lewe maar sewentig jaar, of, as ons baie sterk is, tagtig, en dié is vol swaarkry en leed. Dit is gou verby, ons vlieg na ons einde toe.”
Die vraag is: wat doen ek met die 70-80 jaar wat vir my gegun word?

Hiermee help Psalm 90 ons ook. Vers 12: “Leer ons ons dae so gebruik dat ons wysheid bekom.”

In die eerste paar verse wat ek nou-nou gelees het erken die skrywer dat die lewe kort is, dat die dood ongelukkig deel is van die lewe. Hy erken dat ons nie daarby verby kan kom nie. Wanneer hy dit besef raak hy nie depressief nie, hy raak vir God kwaad daaroor nie, hy vra ook nie vir God dat God hom moet red van die dood nie of dat Hy die tyd moet laat stilstaan nie, hy vra ook nie vir onsterflikheid nie.
Hy sê vir God – die dood is ‘n realiteit, ek gaan nie daarvan kan wegkom nie. So, Here, leer vir my wysheid om my lewe ten volle te leef en die meeste daarvan te maak.   
Soos iemand oor hierdie vers gesê het: “If ‘wisdom’ means the art of living, then the ability here asked of God is a petition to say ‘yes’ to life and to live that ‘yes’.
Dit gaan nie oor hoe lank jy lewe nie, dit gaan oor wat jy met jou lewe maak.

Hierdie wysheid waarvoor die skrywer vra beteken ‘n paar dinge, veral as ons kyk na Prediker en Spreuke.

Ons moet ons tyd baie versigtig gebruik.
Ons moenie ons tyd omwens of mors nie. Die lewe is heeltemal te kort daarvoor. Selfs 5 minute kan gebruik word om iets konstruktiefs te doen. Ons moet die beste gebruik maak van elke dag en elke geleentheid wat die Here oor ons pad bring.

Om met wysheid te leef beteken dat ons naby aan God moet leef.
In die lied “God is liefde” sing ons dat God ons eerste liefgehad het en dat ons uit hierdie bron van liefde kan leef. God se liefde maak ons meer, dit empower ons, dit maak ons vry om werlik te gaan leef. Wysheid beteken om met hierdie liefde en uit hierdie liefde te gaan leef. 
God help ons ook om perspektief te behou. Ons leef in ’n wêreld waar mense vasgevang raak in materiële dinge, om geld te maak en suksesvol te wees en status te hê. God help ons om te besef daar is belangriker dinge in die lewe – soos familie en vriende, plekke om te sien wat jy graag wil sien, om die goed te doen waarvoor jy lief is.

Wysheid leer vir ons dat die lewe werklik belangrik is.
Jesus het gesê: “Ek het gekom om vir julle die lewe in oorvloed te gee.” Daarom moet ons leef asof elke dag ons laaste is. Ons moet die beste maak van elke oomblik en elke geleentheid wat die Here oor ons pad stuur. Ons moenie aan die einde van ons lewe kom en spyt wees oor ’n klomp goed nie.

Gandolf, die wyse ou man in die “The Lord of the Rings” boeke het dit baie goed opgesom:  “All you have to do is decide what to do with the time that’s been given you.”

Ek wil afsluit met ’n storie wat alles saamvat:
Dit speel af by ’n universiteit. Op die eerste dag van die nuwe jaar in ’n eerstejaarklas het die professor vir die klas gesê: hulle moet die ander studente rondom hulle groet en hulleself voorstel. Een van die mansstudente draai toe om en daar sit ‘n ’n ou tannie agter hom met ’n groot glimlag en sy sê vir hom: “Hi, my naam is Rose en ek is 87 jaar oud. Ek het altyd daaroor gedroom om ’n universiteitsgraad te hê en nou gaan ek dit kry.”
Rose het ’n legende op die kampus geword. Op ’n keer het hulle haar gevra om die gasspreker te wees by die universiteit se sport dinee. In haar toespraa toe sê sy die volgende:
“We do not stop playing because we are old; we grow old because we stop playing. There are only four secrets to life.1. You have to laugh every day. 2. You've got to have a dream. When you lose your dreams, you die. 3. There is a huge difference between growing older and growing up. Anybody can grow older. That doesn't take any talent or ability. The idea is to grow up by always finding the opportunity to change. 4.  Have no regrets. The elderly usually don't have regrets for what we did, but rather for things we did not do. The only people who fear death are those with regrets.”  
’n Week na hulle gradeplegtigheid is Rose oorlede. 2000 studente het haar begrafnis bygewoon, want by haar het hulle geleer dat dit nooit te laat is om alles te wees wat God vir jou in gedagte het nie.


No comments:

Post a Comment