Sunday, January 22, 2012

Preek 22 Jan 2012

Waarde van eenvoud
Matteus 6: 25-33

Ons het 4 waardes identifiseer wat hierdie jaar ons fokus gaan wees: eenvoud, betekenisvolle verhoudings, gestuurdheid en egtheid. Hierdie is waardes wat belangrik is vir ons as individue en as gemeente. Elke kwartaal gaan ons op een van die waardes fokus. Die waarde vir die eerste kwartaal is Eenvoud.

Ek het in die opbou tot kersfees ‘n pamflet van ‘n avontuur en sport winkel gesien. Om jou aan te moedig om hulle produkte as kersgeskenk te koop. Dit het die volgende gesê:
“The time of immaculate consumption is upon us. From a flaming kayak paddle to an indestructible laptop that can pinpoint your exact location on earth, we’ve gathered the hardest, softest, smoothest, and sleekest gear of the year in our annual holiday-swag blowout. PLUS: More gift ideas for everyone on your list, from books and CDs to travel gear.”
Saam met dit was daar ‘n artikel vol resensies van die nuutste gadgets en toerusting vir advontuursporte.
Ek het nogal gehou van die frase “immaculate consumption” want dit beskryf wat van kersfees geword het. Gaan meer oor die beste geskenke en materialisme as oor die boodskap.

Ek dink dit beeld die probleem van ons samelewing nogal goed uit. Ons samelewing is gekompliseerd en skeefgetrek. Ons samelewing maak…
  • Dat ons smag na goed wat ons nie regtig nodig het of regtig geniet nie
  • Dat ons goed koop wat ons nie nodig het nie om mense te beïndruk wat ons nie eers van hou nie.
  • Dat ons te skaam voel om met ‘n ouer kar te ry
  • Dat ons tog net uit die mode moet wees nie
  • Dat ons hebsug en gierigheid sien as ambisie
  • Dat ons mense se belangrikheid meet aan hoeveel hulle produseer en hoeveel hulle verdien en in watter huis hulle bly.

Hierdie gesindheid sluip selfs in die kerk in. Hoe baie keer hoor ons nie dat ‘n suksesvolle kerk is een met 1000de lidmate, ‘n bekende predikant, ‘n indrukwekkende gebou en baie geld, en verskillende programme wat in alle mense se behoeftes vervul. En as daar ‘n indrukwekkende band is en eredienste wat op die TV uitgesaai word – dan is dit ‘n suksesvolle gemeente.    

As Christene word ons geroep om anders te leef, met ander waardes. Daarom is dit goed om so aan die begin van die jaar ‘n slag hieroor na te dink. Wanneer ons almal so beplan en droom oor die jaar. Een van die waardes om oor te dink is die waarde van eenvoud. Waarna verwys dit? Kom ons kyk eers wat dit nie is nie.
‘n Lewe van eenvoud beteken nie ‘n mens moet al jou besittings verkoop nie of dat jy niks moet besit. Dit beteken nie ons moet geld en rykdom afskryf nie. Eenvoud verwys ook nie na ‘n behoefte om arm te wees nie.

“Simplicity does not mean getting rid of all your possessions, but rather integrating them into your life’s purpose” (Mary Gregory).
Eenvoud gaan met ander woorde oor dit wat regtig belangrik is en dit wat jy regtig nodig het. Dis die doelbewuste keuse om nie deur die dinge van hierdie wêreld ingesluk te word nie

Richard Foster beskryf eenvoud as…“an inward reality that results in an outward life-style”. Eenvoud is dus iets wat binne ons begin en dan ‘n effek het op die manier waarop ons lewe.
Dis soos die verskil tussen ‘n termometer en ‘n termostaat.
‘n Termometer meet die temperatuur. Dit het dus nie ‘n invloed op die temperatuur nie – meet dit net. Die temperatuur het ‘n invloed daarop.
‘n Termostaat reguleer die temperatuur. Dit bepaal warm of koud. Dit het ‘n invloed op die temperatuur.
As jy toelaat dat die samelewing jou beinvloed, dan is jy soos ‘n termometer. Jy gaan beinvloed word deur die waardes van die samelewing.  Terwyl die waarde van eenvoud eerder soos ‘n termostaat moet wees – eenvoud wat hier binne jou begin en bepaal hoe jy jou lewe leef.

Dis waarvan ons ook lees in Matteus 6: 25-33

Eenvoud begin hier binne ons – in ons harte en gedagtes. Jesus sê dat ons nie moet worry oor die materiele dinge van die lewe nie – begin eerder deur God se koninkryk te soek. Eenvoud begin wanneer ons die belangrikste dinge eerste stel. En God is die belangrikste. En wanneer ons die belangrikste eerste stel, sal die ander goed ook gebeur, maar dit sal nie die houvas op ons hê wat dit sou gehad het as ons dit eerste gesoek het nie.  God is met ander woorde die termostaat wat binne ons werk en wat bepaal hoe ons ons lewe leef.
Eenvoud gaan nie oor wat ons besit nie, maar deur wie en wat ons besit word. As ons baie besittings nodig het om goed te voel oor onsself en goed te lyk vir ons bure, dan word ons nie deur God bepaal nie, maar deur ons besittings en ons bure. Eenvoud begin wanneer ons die koninkryk van God eerste soek, wanneer ons deur God bepaal word en die res van die goed sal op sy tyd kom. Alles begin by God.

Kom ek verduidelik dit met ‘n beeld: Toe my kinders baie kleiner was was dit altyd ‘n nagmerrie om winkels toe te gaan. Het julle al gesien kinders in ‘n winkel – met hulle een hand hou hulle pa of ma se hand vas, met hulle ander hand gryp hulle goed van die rakke af. Net so werk dit met eenvoud. Terwyl ons elke dag nmet die invloed en die waardes van die samelewing gebombardeer word, moet ons altyd ons ander hand in God se hand hou. En ons moet elke nou en dan opkyk na Hom toe om seker te maak dat ons nog optree volgens Sy wil en waardes vir ons lewe. 

Wat is die effek van eenvoud in ons lewens? As ek dit in een frase moet opsom – dit bring Vryheid.
  • Dit maak dat ek meer op God gefokus is eerder as op dit wat God vir my kan doen.
  • Die maak dat ons optrede en dit wat ons sê meer eerlik is.
  • Die smagting na status en posisie is weg, want jy word nie meer gedefinieer deur jou status en posisie nie.
  • Dit gaan nie meer oor wat jy kan koop, waarmee jy ry, hoe jy lyk en watter selfoon jy het nie – nie omdat jy nie kan bekostig nie, net omdat dit nie meer soveel saak maak nie.
  • Besittings is nie meer iets waaraan jy vasklou nie – dis iets wat jy bereid is om te deel.
  • Die issues van hierdie wêreld soos die ekologie, klimaatsveranderinge en armoede begin ‘n invloed hê op die manier waarop jy jou lewe leef en die keuses wat jy maak.
  • Jy gaan meer vrede, vergenoegheid, tevredenheid en geluk en vryheid beleef.
  • Jy gaan weer leer om die eenvoudige goed van die lewe te geniet, soos tyd met jou gesin en die natuur. 
  • Dit maak dat jy meer tyd het en minder gejaagd en angstig is.

Ook wat die gemeente betref: dit bring meer fokus.
  • Dit gaan nie meer gaan oor die blote najaag van getalle nie, maar oor die invloed en die rol wat ons as gemeente in mense se lewens speel.
  • Dit gaan nie meer oor die bymekaarmaak van geld nie, maar oor wat met die geld gedoen word.
  • Dit gaan nie meer oor ons status in die gemeenskap nie, maar oor diens aan ons gemeenskap.
  • Dit gaan nie meer oor hoe goed die musiek en die prediking is nie en oor hoe fancy die geboue is nie – dit gaan nou meer oor hoe ons vir God en ons gemeenskap met al hierdie goed dien.
  • Dit gaan nie meer oor die hoeveelheid programme ons aanbied nie, maar eerder oor die diepte en die kwaliteit van dit wat ons doen.

Sluit af met ‘n DVD clip wat die beginsel van eenvoud mooi beskryf. Gaan kyk dit gerus by http://www.youtube.com/watch?v=JT49cveoEm4

No comments:

Post a Comment