Sunday, February 12, 2012

Preek 12 Feb 2012

1 Konings 5: 1-14

DIE STORIE
Naäman was die hoof van die leer van Aram gewees.  (interessant, dit beteken ‘regverdig’). Hy was ‘n baie gesiene man en het baie hoë aansien in die koning se oë gehad.  Hy was ook ‘n baie magte leier gewees.  Deur hom het die Here ‘n oorwinning aan die Arameers oor Assirië besorg. 
Hierdie oorloë was niks snaaks gewees nie.  Volkere het mekaar gereeld binne geval.  Dan baklei die een teen daardie een, en dan weer daardie een teen hierdie heen.  Wanneer die volke mekaar binne geval het, het hulle die stede en dorpe verwoes.  Maar hulle het nog meer as dit gedoen.  Hulle het die mans en seuns doodgemaak en die meisies terug gevat om vir hulle as bediendes te werk.

Op ‘n keer, tydens hierdie aanvalle, het Naäman so ’n Israelitiese dogtertjie teruggebring om vir sy vrou te werk. Sy was heel moontlik so tussen 12 en 14 jaar oud gewees. Die Bybel se nie vir ons wat haar naam was nie.  Wat erg was, was dat haar huismense waarskynlik deur die generaal se soldate doodgemaak is of dat sy nie eens geweet het wat van haar ma geword het nie. Sy was alleen in hierdie vreemde land.  SY moes bang gewees het vir hierdie mense wat haar kom ontvoer het. 

Elke dag as sy vir Naäman moes bedien het, kon sy sien hoe hy sieker en sieker raak.  Hy het ’n nare uitslag op sy vel gehad. Sy het gehoor sy vrou sê hy het die siekte melaatsheid. Niemand kon iets vir hom doen nie.  Hy sou uiteindelik sterf van hierdie siekte.

Die dogtertjie wou vir hom sê hoe hy genees kon word. Maar sy kon nie met die generaal gepraat het nie.  SY was nie toegelaat nie. Sy het buitendien gesukkel met die taal - en met haar gevoelens oor die man wat haar mense laat doodmaak het. Miskien, het sy gedink, is die siekte die Here se manier om die man te straf. Maar sy het saam met die Here grootgeword. Sy het geweet sy MOES iets doen om die arme man te help.

Eendag skraap sy al haar moed bymekaar en sê toe vir Naäman se vrou: “Ag, as meneer net by die profeet in Samaria wil uitkom, dan sal hy vir Meneer van sy melaatsheid genees.”  Omdat Naäman radeloos was, gaan hy toe na die koning toe.

Naäman het by die koning gekom en hom vertel wat die dogtertjie uit Israel vir hom gesê het.  Die koning sê toe: “Gaan gerus, ek stuur jou met ‘n brief na die koning van Israel toe”.
Hy vertrek toe met 342 kg silwer, 68 goud en tien stelle klere. Daar gekom, wys Naäman die geskenke vir die koning en gee die brief vir hom: Daarin het die volgende gestaan: “ EK het my dienaar Naäman met hierdie brief na jou toe gestuur.  Wanneer hy by jou uitkom moet jy hom van sy melaatsheid genees”.

Die koning van Israel het die brief gelees, sy klere geskeur en hom geantwoord: “ Is ek dan God wat mense laat sterwe of aan hule die lewe gee dat hierdie man iemand na my toe stuur om hom gesond te maak?  Dit moet vir my duidelik wees hy soek net skoor met my”.

Intussen het die profeet Elisa van die storie te hore gekom. Hy laat weet toe die koning dat hy die man van Damaskus na hom toe moet stuur. En die generaal gaan toe na hom toe. Toe Naäman nog met sy wa en perde op pad is, het die profeet dit al geweet.

Elisa se toe vir een van sy boodskappers: “Ek hoef nie vir Naäman persoonlik te sien nie,”. Gaan gee net vir hom die boodskap dat hy hom sewe maal in die Jordaanrivier moet gaan bad.”

Naäman het hom vererg en gese: “  EK het gedink hy sal uitkom en gaan staan, die Naam van die Here sy God aanroep, dan sy hand heen en weer oor die plek beweeg en so die melaatsheid wegneem.  Is die riviere van Damaskus nie beter as al die water van Israel nie.  Kan ek my nie daarin was om rein te word nie”.  Naaman was woedend het wou daarvandaan net terugry huis toe. 

Maar die generaal se amptenare probeer hom toe keer en se: “Moenie so hardkoppig wees nie, Generaal. As die profeet iets moeiliks van u verwag het, sou u dit nie gedoen het nie? Hoeveel te meer nou dat hy eenvoudig vir u gese he: was jou en jy sal rein wees?”

Toe stop Naäman by die Jordaanrivier. Liggelowig bad hy homself sewe keer in die water. Toe hy die sewende keer opkom uit die water, kyk hy stomgeslaan na sy vel: so glad en sag, en heeltemal gesond!

Hy draai net daar om en gaan toe haastig terug na Elisa se huis toe en daar het hy uitgeroep: “Ek weer nou; daar is geen God op die hele aarde nie behalwe in Israel nie.  Aanvaar asb hierdie geskenke van my”.

Elisa wou egter nie die geskenke geneem het nie.  Naaman vra toe of hy maar van die grond kan terugneem huis toer. Terug by die huis het Naaman die grond afgelaai en ‘n altaar gebou waarop hy offers vir die Here gebring het.

Wat hoor ons in hierdie verhaal?
Hierdie is ‘n verhaal waaruit ons baie kan leer.  Dis ‘n verhaal wat baie oor God vertel.  Dis ‘n verhaal waaroor meer as een preek gemaak kan word, maar daar is een of twee spesifieke goed wat vir my baie duidelik geword het in die tyd wat ek met die teks geworstel het.

Toe ek die verhaal die eerste keer gehoor het, kon ek nie anders as om dadelik te dink aan die verskillende mense wat God in hierdie verhaal gebruik om vir Naaman te genees nie.  Ons lees eers hoe God die dogtertjie gebruik om die boodskap van die profeet aan hom te gaan oordra, dan hoor ons later weer, nadat Naaman woedend is vir Elisa en net wil terugkeer huis toe, hoe sy slawe/amptenare hom keer en oortuig dat hy hom moet gaan was in die Jordaanrivier. 

Eers gebruik God ‘n dogtertjie wat eintlik geen stem gehad het nie.  Hierdie dogtertjie is uit Israel uit ontvoer en het as kinderslaaf vir Naaman gewerk. Daar is van die begin af geen rede hoekom hy vir haar sou luister nie, sy was ‘n nikswerd Israeliet maar dan is sy nog ‘n kind ook. Kinders het geen se gehad enigsins binne enige geselskap nie. Hulle was letterlik daar om gesien en nie gehoor te word nie en meeste van die tyd mag hulle ook nie gesein geword het nie. En in die derde plek was sy nog ‘n vrou ook. En vrouens se rol binne die samelewing was basies soos die van die kinders – hulle het geen regte gehad nie. Dit was slegs in baie uitsonderlike gevalle wat vrouens enigsins ‘n rol binne die samelewing gespeel het.  Tog, t.s.v. al hierdie onwaarskynlikhede , kies God juis om haar te gebruik.  God kies die heel onwaarskynlikste persoon moontlik en hy gebruik haar!  Hy kon dit mos self vir Naaman gesê het, of vir sy vrou, of een van die belangrike mense, maar nee, God kies om deur hierdie vreemde dogtertjie te praat.  Die dogtertjie wat hy ‘gesteel’ of ‘ontvoer’ het uit haar eie land.

God stop egter nie daar nie. God gaan verder en gebruik Naaman se slawe om te keer dat hy teruggaan Damaskus toe voordat hy nie in die Jordaan gewas het nie.  Hierdie klink dalk nie so vreemd nie, maar ons moet onthou dat hierdie mans almal vir hom gewerk het, dat hulle soos sy slawe was en dat hulle eintlik nie kon waag om hulle monde oop te maak nie. Slawe se regte was in baie gevalle gelyk met die van vroue soos wat ek hier bo gesê het. Daarom was dit waarskynlik nie eers in hulle gewoonte dat die slawe eerste met hom gepraat het nie. Tog moes God so sterk met hulle gepraat het, dat hulle nie anders kon as om iets te se nie. En dalk was hulle ook so bietjie nuuskierig om te sien of hierdie besigheid gaan werk. Wat ookal hulle rede was, God gebruik hulle ten spyte van hulle posisie in die samelewing. Nes vir die dogtertjie. 

Twee keer in hierdie verhaal sien ons hoe God die onwaarskynlikste persone gebruik.  Of ek moet dalk eerder sê: onwaarskynlik vanuit ons menslike perspektief. Want hierdie mense was heel duidelik vir die God die heel obviouste keuse. Twee keer verskil die mense wat ons obvious keuse sou gewees het, met die wat God kies.Hoekom doen Hy dit? Of hoe dink God anders as ons. Wat moet ons hoor uit die besluite wat Hy neem?

Dalk moet ek begin deur te vra: Met wie assosieer jy jouself vanoggend?  Voel jy dalk soos Naaman, of dalk die dogtertjie, of dalk sy amptenare?

As jy soos Naaman voel: asof daar nie meer hoop is nie en al die obvious antwoorde en stemme nie gewerk het nie: Dalk wil God dan vanoggend vir jou kom herinner aan die verskillende stemme in ons lewe.  Dalk wil Hy jou kom vra: wie is die stemme na wie ek en jy luister?  Luister ons makliker na stemmer van mense uit blink motors met netjiese klere – die mense wat dit ‘gemaak’ het in die samelewing, of wil God dalk vir ons kom bewus maak van die stemme van mense op die rand van die samelewing wat dalk meer het om te se as wat ons sal verwag.  Luister ons eerder na mense met lewenservaring, of wil God ons kom herinner aan die stemme van ons kinders wie se waarnemings vermoe so fyn is dat ons sukkel om enige iets meer van hulle weg te steek en wie dalk in die naiwiteit van hulle oplossings meer te sê het as die bekommernisse wat baie grootmense se antwoorde vul.Luister ons eerder net na dominees en geleerde mense op preekstoele, of wil God weer vir ons kom bewus maak van soveel ander mense by wie ons kan leer en deur wie Hy ook werk?  Wil God ons nie vanoggend kom bewus maak van hierdie onwaarskynlike stemme rondom ons deur wie Hy wil  deurdring tot ons nie?

Dalk is jy aan die ander kant van die spektrum: dalk voel jy vanoggend soos die dogtertjie of soos Naaman se amptenare.  Dalk is jy te skaam om te praat en voel jy bang, want wat as.  Dalk voel jy jy is nog te jonk, te onbelangrik.  Dalk voel jy jy is nie slim genoeg nie, of nie geleerd genoeg nie.  Dalk voel jy minderwaardig...Dalk wil God vanoggend vir jou kom sê: praat my kind, moenie skaam wees nie.  Praat my kind, staan op vir wat reg is.  Praat, in my oë is jy belangrik.  Praat, ek wil jou gebruik. Praat my kind..

Die teksgedeelte sluit af met ‘n vreemde gebaar:  Naaman neem ‘n vrag vol grond terug na sy land toe.  Van als wat Hy kon saamneem kies hy grond.  Waarom sal Hy dit doen??  Dit sluit aan by wat God nog die heeltyd in hierdie verhaal doen.  God kom gebruik die onwaarskynlike stemme om ‘n boodskap oor te dra.  Naaman neem die grond terug na sy land toe en bou ‘n altaar.  God gebruik dus vir Naaman om te getuig van Hom in n land waar mense afgode aanbid.  Ja, vir ‘n derde keer kies God iemand onwaarskynlik, Nie die profete nie, nee, vir Naaman, die hoof van die weermag.

Die idee van God wat vreemde stemme gebruik is beslis nie n vreemde idee nie.  Ons kry dit keer op keer in die Bybel.  Dink aan Moses se verhaal.  Die hakkelende man wat God kies om te gaan praat...  Dink aan Dawid, die kleinste man van almal is die een wat God kies om die fillestyne te gaan verslaan. Paulus ... die Jood wat die Christene vervolg en vermoor het en op die ou einde ‘n bediening juis aan die nie-Jode gehad het. Jesus ... die nederige timmerman uit die klein onbelangrik dorpie van Nasaret. Dink aan jouself vanoggend, dink aan die keer wat jy voel dat God jou nie hier kan of sal gebruik nie.  Dink aan hoe ons altyd dink God net sekere mense gebruik.  Die verhaal kom keer daardie beeld heeltemal om.  Hierdie verhaal maak dit duidelik dat ons ‘n God dien wat hou daarvan om die mense te kies op die rand van die samelewing, mense wat ander nie hoog ag nie.  God kies onwaarskynlike mense, ja, soos ek en jy.

Die wonderwerk in die verhaal is dat Naaman uiteindelik genees word.  Maar hy word nie net fisies genees van ‘n dodelike siekte nie, nee, Naaman word ook geestelik genees.  Dit was nodig vir Naaman om hierdie pad te stap waarin hy geleer het om na die onwaarskynlike stemme te luister sodat hierdie genesing kon plaasvind.  Naaman het na ‘n ‘quick fix’ gesoek, maar God wys vir hom ander planne.  God leer hom om gehoorsaam te wees, om na ander se stemme te lusiter.  God kom wys hom dat Hy soms eers ander paaie met mense wil stap. Maar wanneer ons bereid is om daardie paaie te stap en na daardie mense te luister, dan vind wonderwerke plaas.

Mag ek en jy vandag bewus word van die verskillende stemme om ons.  Mag ons bewus word van ons eie stem en dat God ons ook wil gebruik.  SO klein en nietig soos wat ons ookal is.  Mag ons besef dat die paaie wat God met ons stap, nie altyd die maklike pad is nie, maar dat God getrou bly aan sy belofte en sy woord. 

No comments:

Post a Comment