Sunday, March 11, 2012

Preek 11 Mar 2012

Rentmeester van my potensiaal
2 Kronieke 24:1-25

Verlede week het ons gepraat oor rentmeester van my besittings. Ons moenie toelaat dat ons besittings ons baas word nie. Of ons dien vir God of ons dien ons besittings.

Vir vandag se tema het ek ‘n potplant saamgebring. Dis ‘n clivia. Soos hy hier staan het hy die potensiaal om 1 keer in ‘n jaar te blom. Hier is nie ‘n blom nie, so moet glo hy het die potensiaal om te blom. Om sy potensiaal om te blom te verwesenlik moet ek vir hom water en kos gee. Anders begin hy as ‘n plant met die potensiaal om te blom, maar hy gaan dan dood sonder om sy potensiaal te verwesenlik.

Met dit in gedagte wil ek julle voorstel aan een van die meer onbekende figure in die Bybel – in die Ou Testament.  Sy naam is Joas. Ons lees van hom in 2 Kronieke 24: 1-25. Ek gaan nie dit alles lees nie, ek gaan so ‘n oorsig gee van sy lewe.

Joas het nogal ‘n interessante geskiedenis. Hy was 7 jaar oud toe hy koning van Juda geword het en hy het vir 40 jaar in Jerusalem geregeer. Hy het sy termyn as koning baie goed begin. Hy het opdrag gegee dat die Leviete geld moes insamel om die tempel in ere te herstel.  En toe hulle genoeg geld bymekaar gehad het, het hulle die tempel herstel. Lees vers 12-14.
Dit was ‘n goeie tyd vir die volk – tempel is herbou, aanbidding is herstel, die mense is regverdig behandel. Die land was rustig – die mense was gelukkig. Hulle was lief vir hulle jong koning.
Toe verander alles. Joas het ‘n mentor gehad met die naam - Jojada die priester. Hy het ‘n positiewe rol in Joas se lewe gespeel. Jojada was al oud en het gesterf. Nie lank daarna nie het Joas begin om onder die invloed van die magbehepte leiers van Juda gekom – hulle was nie ‘n positiewe invloed op die jong koning nie. Dit het gemaak dat hy wegbeweeg het van God af en begin het om afgode te aanbid. Die land het agteruitgegaan en die mense het vertroue in hom verloor.
En toe Sagaria, Jojada se seun, hulle waarsku en het Joas hom laat vermoor. Uiteindelik het die Arameërs Juda binnegeval – hulle het Jerusalem oorgeneem en al die leiers doodgemaak. Hulle het vir Joas gewond agtergelaat en hy is toe deur sy eie amptenare in sy bed vermoor.
Joas het so agteruitgegaan dat sy eie mense teen hom gedraai het. Hy is nie eers in die koninklike begrafplaas begrawe nie. Hy het soveel potensiaal gehad, maar dit eindig tragies.
Ek dink dis seker een van die hartseerste dinge is om aan die einde van jou lewe te kom en terug te kyk en te weet, ek het nie my potensiaal verwesenlik nie.

Ons praat vanoggend oor Rentmeester van my potensiaal. En ek het gedink om Joas se verhaal hiervoor te gebruik, want ons kan baie leer uit sy foute.

Die eerste ding wat die verhaal weer vir ons bevestig is dat God elke mens met ongelooflike potensiaal geskep het. Luister net weer na Ps 8:4-6. Draai gou na iemand langs jou en sê vir mekaar wat beteken Ps 8 vir jou?
Iemand gesê het:  'Any fool can count the seeds in an apple. Only God can count the apples in one seed.'" Dis hoe God na elkeen van ons kyk – hy sien die ongelooflike potensiaal in ons.

Ons sien hierdie Godgegewe potensiaal by Joas Hy was ‘n jong koning wat sy mense georganiseer en geinspireer het. Hy was ‘n leier, ten spyte van sy ouderdom. Hy het dinge gedoen gekry. Hy het soveel potensiaal gehad. Maar die les wat ons moet leer is, om goed te begin waarborg nie sukses nie. Dis soos al die mense wat vandag die Argus ry – om hard te oefen en weg te spring waarborg nie dat jy gaan klaarmaak nie – tussen die wegspring en die eindpunt lê ‘n klomp harde werk. God gee vir ons die potensiaal – maar dis ons verantwoordelikheid om iets daarvan te maak.

Dis wat Joas nie besef het nie. Joas het teveel staat gemaak op Jojada – hy het niks gedoen om sy potensiaal te ontwikkel en te groei nie. En toe Jojada sterf – toe val Joas uitmekaar uit.
Om jou potensiaal te ontwikkel is dit belangrik om jouself te leer ken. Dis belangrik om te ontdek wat jou sterk- en swakpunte is. Dis belangrik om te weet wat jou gawes en talente is. Dis belangrik om seker te wees van jou oortuigings. Dis hoekom Joas so maklik deur die slegte leiers beïnvloed is – hy het nie sterk oortuigings gehad nie. Hy het geen fondasie gehad om hulle slegte invloed te weerstaan nie.
Soos ons lees in Spreuke 4:23 “Wees veral versigtig met wat in jou hart omgaan, want dit bepaal jou hele lewe.  
So die vraag wat elkeen van ons vir onsself moet vra – waar is jy nou? Ken jy jouself – jou swak en sterkpunte, jou gawes en talente? Wat doen jy om dit te ontdek of te ontwikkel? Sodat jy jou potensiaal sal verwesenlik.

By Joas sien ons ook dat die verwesenliking van jou potensiaal word beïnvloed deur die mense met wie jy jou omring. Jojada was ‘n positiewe invloed op Joas – hy het die beste in Joas na vore gebring. Die ander leiers met wie Joas gemeng het na Jojada se dood was ‘n slegte invloed en hulle het Joas tot ‘n val gebring.
In 1 Korintiërs 13:33 lees ons: “Moet julle nie langer laat mislei nie: “Slegte geselskap bederf goeie sedes.”
Ben Zander, dirigent van die Boston Filharmoniese orkes en motiveringsspreker praat van die spiraaleffek wat mense het. 2 Soorte mense – Afwaartse spiraal mense en Opwaartse spiraal mense.

Afwaartse spiraal mense sê vir jou:
  • Dit gaan nooit werk nie. Jy gaan dit nie reg kry nie. Jy het nie genoeg geld nie.
  • Ons land is ‘n gemors en gaan nooit ‘n sukses wees nie. Regering is korrup.
  • Gemeente: bediening gaan nooit werk nie. Die musiek is nie goed nie. Dominee doen nie dit of dat nie. Die gemeente bevredig nie my behoeftes nie.

Opwaartse spiraal menses ê vir jou:
  • Dit gaan moeilik wees, maar ek weet jy kan dit doen. Ek sal jou ondersteun.
  • Ons land het wonderlike mense, kyk na die versoening wat daar al was. Ons kan baie vermag as ons saamwerk.
  • Geen gemeente is perfek nie, maar ons het baie om voor dankbaar te wees. Kom gee die bediening ‘n kans. Wat kan ek doen om te help. Waar kan ek betrokke raak.

Afwaartse spiraal mense is negatief en onderdruk potensiaal. Opwaartse spiraal mense is positief, wil help en bemagtig potensiaal. Die vraag is: Na wie luister jy? Wie is die mense met wie jy jou omring? Is dit mense wat jou poetnsiaal steel of mense wat jou potensiaal opbou?

Ek wil afsluit met ‘n verhaal van Steve Jobs. Hy was die stigter van Apple rekenaar maatskappy wat verlede jaar aan kanker oorlede was. Hy was paar jaar gelede genooi om die gasspreker te wees by die gradeplegtigheid van Stanford Universiteit. Al wat hy gedoen het – hy het 3 stories uit sy lewe vertel. Die laaste storie het gegaan oor die realiteit van die dood. Hy vertel dat hy vir die eerste keer met die dood gekonfronteer is toe kanker by hom gediagnoseer is. Hy het besef dat die dood is die enigste ding in hierdie lewe waarvan ons almal definitief seker kan wees. Daarom moet mens seker maak dat jy die meeste van jou potensiaal en jou lewe maak. Hy sluit dan af deur vir die groep studente te sê: “ontwikkel jou potensiaal, moenie iemand anders se lewe probeer leef nie.”

Ons is die mense oor wie Ps 8 geskryf is. Dis hoe God ons sien. Hy gee vir ons potensiaal. Wat gaan jy daarmee maak? Gaan jy soos Joas wees? Of soos Steve Jobs? Wat gaan jy met jou Godgegewe potensiaal maak?

No comments:

Post a Comment