Sunday, March 4, 2012

Preek 04 Maart 2012

Rentmeester van my besittings

Ons begin vandag ons reeks oor Rentmeesterskap. Dit is in lyn met die waarde van Eenvoud waarop ons in hierdie kwartaal fokus. Eenvoud gaan oor ‘n manier waarop jy jou lewe leef. In ‘n wêreld wat meer en meer eise aan ons stel en al hoe meer kompleks raak beteken eenvoud  dat ons met ‘n innerlike vrede, tevredenheid en vergenoegdheid sal leef. Dit geld ook vir die manier waarop ons gemeente funksioneer. Rentmeesterskap sluit hierby aan. Rentmeesterskap gaan nie net oor geld nie – dit verwys na die manier waarop ek my lewe leef. As gelowiges glo ons dat God gun vir ons al die dinge van ons lewe – potensiaal, besittings, geld, familie, die natuur. Rentmeesterskap gaan oor hoe ons al hierdie goed bestuur en nurture en die meeste daarvan maak. So, ons begin deur te kyk na wat dit beteken om ‘n goeie rentmeester van my besittings te wees.

Wie van julle het een of ander oefenapparaat by die huis – oefenfiets, roeimasjien, abflex, gewigte, enige van daai goed? Wie van julle gebruik dit?
Het julle al opgelet hoe baie van hierdie oefenapparate staan by Cash Crusaders? Ek het ‘n teorie – een van daai conspiracy theories. Ek is oortuig dat daar ‘n ooreenkoms is tussen Cash Crusaders en die vervaardigers van oefenapparate. Ek vermoed hulle is dalk dieselfde mense wat geld maak aan albei kante. Hulle verkoop oefenapparate aan ons wat ons nie gebruik nie en dan maak hulle weer geld wanneer ons dit na Cash Crusaders toe neem. Ek dink dis ‘n briljante plan.
Het julle al opgelet hoe baie takke van Cash Crusaders en ander soortgelyke winkels en markte daar deesdae is. Plekke waar jy tweedehandse goed kan gaan koop. Dit bevestig net vir my – ons hou van stuff. Ons hou daarvan om dit te koop, ons hou daarvan om dit hê en ons hou daarvan om meer daarvan te gaan soek. Ons het so baie daarvan dat dit vir ons nodig is om elke nou-en-dan te springclean, sodat ons ontslae kan raak daarvan, sodat ons plek het vir nuwe stuff. Dis ook hoekom daar so baie van die self-storage plekke hier in ons omgewing gebou word en hoekom baie van ons garages het wat nie plek het vir ‘n kar nie. Ons hou van stuff!

Jesus waarsku ons teen hierdie kultuur van bymekaarmaak. Lukas 12:15-21 & 16:13

Hierdie tekste is ‘n sterk teregwysing vir die gierigheid van ons wêreld. Dit dwing ons om selfondersoek te doen oor wat dit is wat ons dryf. Word ek gedryf deur ‘n gierigheid na meer aardse goed of word ek deur God en sy roeping vir my gedryf?
Wanneer ‘n mens obsessief raak oor die bymekaarmaak van alles wat nuut is, en blink is, en oop-en-toe kan maak, dan word jy slagoffer van stuff, van rykdom en van gierigheid en dan is dit baie maklik om te vergeet van God en sy bedoeling met jou lewe.

Hier wil net kwalifiseer – ek wil nie daarmee sê dat ons van alles ontslae moet raak en armoedig moet begin leef nie. Maar ons moet begin dink oor hoekom ons al die goed bymekaarmaak, wat gaan ons daarmee doen en hoe gaan dit tot voordeel kan wees vir my verhouding met God en mense. Ek moet dink oor my motiewe.

Dink net ‘n oomblik hoeveel makliker gaan jou lewe wees as jy minder goed het. Hoeveel beter jy dalk met jou geld gaan uitkom. Dink net hoe baie nood kan aangespreek word as ons van ons stuff begin ontslae raak en met die geld wat ons sal spaar as ons nie nodig het om stoorplek te betaal nie.
Die meeste van ons dink dat ons nie die bronne het om ander te help nie, maar ek reken as ons anders begin dink oor ons goed sal ons ontdek, ons het meer as wat ons gereken het.

Klompie jare gelede was daar ‘n fliek, Schindler’s List oor Oskar Schindler wie 100de Jode se lewe gered het in die Tweede Wêreld oorlog. Aan die einde van die fliek is daar ‘n toneel– nadat Schindler al sy geld spandeer het om ‘n Duitse SS offisier om te koop om sodoende die lewe van 1100 Joodse werkers te spaar. Wanneer hy dan by die Jode kom begin hy huil, want hy voel hy kon meer gedoen. As hy sy kar verkoop het kon hy nog 10 mense gered het. Sy lapelwapen is 2 mense word.
Schindler se situasie is ekstreem want hy het letterlik mense se lewens gered deur geld en besittings weg te gee. Nie baie van ons sal hopelik in so ‘n situasie beland nie. Maar soos Schindler word ons ook elke dag gekonfronteer met die keuse oor hoe ons ons lewens, ons geld en ons besittings gaan spandeer.  Hy het besluit dat mense belangriker is as besittings en daarvoor het hy baie opgeoffer.

Die Bybel sê, ons kan nie 2 base gelyk dien nie. Ons kan nie ons besittings en vir God dien nie. Ons moet ‘n keuse maak.
Dit vra dat ons baie mooi moet dink oor dit wat ons regtig nodig het en dit wat ons graag wil hê. Ons moet kies of ons skatte hier op aarde bymekaar gaan maak en of ons eerder ryk by God gaan wees. Ons gaan moet kies of ons gaan vasklou aan ons goed en of ons dit ook gaan gebruik ter wille van ander mense en om die wêreld ‘n beter plek te maak. Ons gaan moet kies tussen die gevangeneskap van goed en ‘n lewe van vryheid.
Ons gaan moet kies of ons vir God en sy koninkryk eerste gaan stel en hom gaan vertrou om vir ons te voorsien.

Ek wil afsluit met ‘n storie om dit alles saam te vat:
Glen Adsett, ‘n Amerikaanse sendeling wat baie lank in China gewerk het vertel die storie. Dit was ‘n moeilike tyd om ‘n sendeling in kommunistiese China te wees. Die sendelinge is baie vervolg deur die owerhede. So het dit gebeur dat hy en sy familie lang tye onder huisarres geplaas is. Na so ‘n lang tyd in huisarres kom een van die soldate na hom toe met die nuus dat hulle na Amerika gedeporteer gaan word. Saam met dit kom toe die voorskrif dat hy en sy vrou net 100kg bagasie saam met hulle op die vliegtuig mag vat.
So begin die worsteling oor wat hulle gaan vat en wat hulle gaan los. Hulle was baie jare in China en 100kg was min. So begin die familie argumente toe:
Wat van my boeke? Ons kan nie sonder ons eetstel gaan nie! Wat van ons nuwe rekenaar met al ons inligting op? Wat word van al ons CD’s?
Hulle het alles geweeg met ‘n skaal en dan moes hulle weer goed afhaal. Uiteindelik, met baie meet en pas en met ‘n ongeduldige soldaat wat oor hulle skouer loer het hulle presies 100kg se besittings bymekaar gehad. En hulle was albei min of meer tevrede.
Die soldaat vra toe: is julle gereed om te gaan?
Ja, antwoord hulle.
Het julle alles geweeg? Vra die soldaat
Ja, kom die antwoord.
Toe hulle uiteindelik by die lughawe kom toe kom die vraag wat hulle koud gelaat het.
Wat weeg die kinders? Het julle hulle ingereken by julle 2 se toegelate 100kg?
Wat weeg die kinders – ewe skielik het die boeke, rekenaar, CD’s en ander besitting net nie meer saak gemaak nie.


No comments:

Post a Comment