Monday, May 14, 2012

Preek 06 May 2012


1 Korintiers 13: 5
Die liefde vergewe altyd

Soos julle reeds weet praat ons die afgelope paar weke oor die liefde en die impak wat dit in ons lewens het. Die eerste week het Jalize gepraat oor die uitdaging van Agape-liefde – om lief te hê ten spyte van. Die tweede week het ek gepraat oor die liefde wat geduldig en vriendelik is – dit maak dat mens aanhou om die goeie te soek in mense en dit bepaal hoe ons van mekaar verskil en dit vra dat ons mekaar seën met goedheid. Verlede week het Niel gepraat oor liefde wat hou van die waarheid. Liefde en waarheid loop saam, Waarheid hou liefde eerlik en liefde verhoed dat waarheid seermaak.

Vandag praat ons oor die liefde wat altyd vergewe. Ek het baie gewonder hoe ek hierdie saak moet aanroer. Vergifnis is nie ‘n maklike ding nie en ek wil ook nie vir julle net ‘n klomp teorie daaroor gee nie. Ek wil byvoorbeeld nie vanoggend vir julle vertel hoe ‘n mens iemand anders moet vergewe nie. Ek wil dit ook nie eenvoudig laat klink nie, want dit is nie eenvoudig nie – dis soms ‘n lang en moeilike proses wat met seer gepaard gaan. Ek voel in elk geval nie bevoeg om daaroor te praat nie – ek het nog nooit nodig gehad om deur ‘n lang, moeilike vergifnisproses te gaan nie. Ek kan maar net dankbaar wees daarvoor. Al wat ek vanoggend gaan doen is kortliks te praat oor die 2 belangrikste redes hoekom dit belangrik is om te vergewe en dan gaan ons ‘n kort DVD-clip kyk wat eintlik alles sê wat ons moet hoor oor vergifnis.  

1 Korintiers 13: 5:Die liefde…hou nie boek van die kwaad nie”
Verskillende vertalings:
“Love…does not keep account of evil. (JB Phillips Translation)
“Die liefde…hou nie boek van die kwaad wat jou aangedoen is nie.” (NLV) 
“Om nie elke liewe dingetjie wat iemand verkeerd doen te onthou sodat jy hom kan terugkry nie.” (Die Boodskap)
“Love…Doesn't keep score of the sins of others,” (The Message)
“Die liefde…onthou nie altyd dat mense slegte dinge aan hom gedoen het nie.” (Die Bybel vir almal)

Wat ek in al hierdie vertalings hoor is dat vergifnis ontken nie en vergeet nie die slegte, kwade goed wat my aangedoen is nie, maar dit help my om op ‘n nuwe, vryer manier vorentoe te kyk, sonder om die goed wat my aangedoen is te vertroetel of heeltyd ou koeie uit die sloot te gaan grawe.
CS Lewis het gesê: “Ons sal almal sê vergifnis is ‘n wonderlike idee, dat dit reg en noodsaaklik is – totdat ons self iemand moet vergewe.”
Ek vermoed dat vergifnis waarskynlik die grootste toets vir die liefde is – hoe jy optree teenoor iemand wat jou seergemaak het of ontnugter het of teleurgestel het.
Dit is een van die moeilikste aspekte van Agape-liefde. Agape-liefde is om lief te hê ten spyte van hoe jy voel. Mens voel meestal nie om te vergewe nie. Vergifnis is dus ultimately ‘n keuse wat jy maak al voel jy nie so nie. Daar is 2 redes om die keuse vir vergifnis te maak.

Ons vergewe ander omdat God ons en hulle vergewe het.
Kolossense 3:13 “Wees geduldig met mekaar en vergewe mekaar as die een iets teen die ander het. Soos die Here julle vergewe het, moet julle mekaar ook vergewe.

As God my vergewe, sê Hy daarmee dat ek vir Hom so waardevol is dat Hy bereid is om my verlede te vergeef en vir my ‘n ruimte te gee om weer te begin. So die vraag is dan nou: Hoe kan ek dit dan waag om my medemens, wat net soveel waarde in God se oë het, nie te vergewe nie? Onthou, God het sy seun vir elke mens laat sterf. Hy het dit vir my gedoen en ook vir daai persoon wat my seergemaak, of ontnugter of teleurgestel het. Hoe kan ek hulle dan nie ook vergewe nie?

In die afgelope week het daar ‘n brief in Die Beeld verskyn wat geskryf is deur ‘n Zimbabwiese boer, Henry Jackson nadat sy plaas op 24 April afgevat is. Hy skryf oor wat gebeur het en hoe hy dit beleef het. Dan skryf hy onder andere die volgende:   
Matteus 5:44 sê: ‘Maar Ek sê vir julle: Julle moet julle vyande liefhê, en julle moet bid vir dié wat julle vervolg, sodat julle kinders kan wees van julle Vader in die hemel ...’
Is Jesus se opdrag vir ons bedoel of nie? Waarom sien ek so baie Christene met sulke diep rassehaat en bitterheid wat in hulle kook? 
Moet ons nie kinders van ons Hemelse Vader wees wat sy karakter uitstraal nie? Watter getuienis leef ons uit as ons met siedende woede reageer? Hoe is ons dan beter as die wêreld?
Waarom sal ek dan toelaat dat my hart gevul word met haat vir ’n man vir wie Jesus gesterf het? Ek wil liewer sien dat dié man en sy gewelddadige vriende in die Koninkryk ingebring word.
Jy sal nooit die oorlog van rassehaat met haat wen nie. Dit kan slegs gewen word met liefde en vergifnis. Die sterkste krag ter wêreld is nederige liefde. Het Hy nie gesê: ‘Die sagmoediges sal die aarde beërwe’ nie?

Die boer het alle rede gehad om kwaad te wees, maar hy het besef hy moet vergewe, omdat God hom vergewe het en die plaasbesetter vergewe het. En dit het gemaak dat hy met ander oë na die plaasbesetter gekyk het.

Ons moet vergewe omdat bitterheid jou diep ongelukkig maak.
Stel julleself gou die volgende prentjie voor: Jy sit elke week die swartsak met die vullis in die drom sodat die vullisverwyderaars dit moet kom haal. Maar dan, wanneer jy die vragmotor hoor aankom, hardloop jy uit, gryp die swartsak en bring dit weer binne toe en plaas dit op die hoop swartsakke wat besig is om in jou kombuis op te gaar.
Later stink dit verskriklik, die bure dreig om jou aan te kla, jou vriendekring raak al hoe kleiner, jou gesin wil later wegtrek…maar jy gaan maar net aan om die vullissakke op te gaar. Dis ‘n absurde storie…tog is dit wat baie mense doen. Nie letterlik nie, maar met hulle onvergewensgesindheid. Onvergewensgesindheid is om heeltyd sakke vol vullis op te gaar en met jou saam te sleep totdat jy later stink daarvan. In plaas daarvan dat jy toelaat dat God die sonde-vullis vir altyd wegvat.

Ons noem dit ook die tronkvoël effek van vergifnis. Om nie te vergewe nie, is om jouself in ‘n tronk van bitterheid toe te sluit terwyl die ander persoon aangaan met hulle lewe.   
Lewis B Smedes skryf: The first and often the only person to be healed by forgiveness is the person who does the forgiveness … When we genuinely forgive, we set a prisoner free, and then discover that the prisoner we set free was us.
Om iemand anders te vergewe is soos om ‘n gevangene te bevry, en dan agter te kom die gevangene was jyself.
Ons moet vergewe want overgewensgesindheid veroorsaak bitterheid en bitterheid is ‘n tronk wat jou diep ongelukkig maak, dit kan jou selfs siek maak. Om te vergewe aan die ander kant maak jou vry.

Die boer van Zimbabwe het dit verstaan. Hy het alle rede gehad om bitter te wees, maar hy kies om eerder te vergewe en vry te raak.
Hoor net wat het hy vir die plaasbesetter gesê:
“al het ek nêrens om heen te gaan nie en al het jy op een dag my lewensdroom van my weggeneem, sal ek nie bitter of kwaad vir jou wees nie.
‘Ek wil jou seën as jy die plaas oorneem. Ek wil jou help sover ek kan. Ek wil hê jy moet dié plaas soveel geniet as wat ek dit geniet het.’

DVD-clip: Dis van ‘n seun wat vir sy pa in die tronk gaan kuier en met flitskaarte deur glas met hom kommunikeer. Hy vertel hoe sy pa hom verwaarloos het, sy vermoë om te vertrou gesteel het en sy ma vermoor het. Dan eindig dit met die seun wat sy pa vergewe.
Kliek hier om die video te kyk of "copy & paste" die volgende in u "browser" - http://bit.ly/NQPGT

Gee tyd vir stilte.
Om te kan vergewe, moet ons besef dat God ons vergewe het. Het jy al God se vergifnis aanvaar? Ek wil vir jou bid.
Ek vermoed dat hier van julle is wat sukkel om te vergewe, wat dalk in die tronk van bitterheid vasgevang is. Ek wil vir jou bid om vry te raak.

No comments:

Post a Comment