Sunday, July 22, 2012

Preek 22 Julie 2012


Die hart van die Vader
Lukas 15: 11-32

Ons tema vir hierdie kwartaal is die waarde van “gestuurd wees”. Die volgende 4 Sondae gaan ons dit so ‘n bietjie unpack. Vandag begin ons dan die reeks deur te kyk na wat behels die hart van die Vader. Dis mos waar alles begin.

Ons teks vir die oggend is Lukas 15: 11-32

Lied: Amazing Grace

As ons hierdie verhaal hoor en die Amazing Grace sing dan is dit maklik om onsself in die skoene van die jonger seun te plaas. Ons sien onsself as die verlore kind wat tot inkeer kom en reageer op God se liefde. Maar ek wil vandag die verhaal vanuit ‘n ander hoek bekyk. Ek wil hê ons moet vandag probeer identifiseer met die vader in die verhaal. Want uiteindelik word ons geroep om meer soos die vader te wees.

In Lukas 15 is Jesus besig om te reageer op die vrae en beskuldigings van die fariseërs en skrifgeleerdes. Ons lees dat die tollenaars en die sondaars die gewoonte gehad het om na Jesus te luister – hulle was gemaklik by Hom. Ons lees dat Jesus by hulle gaan kuier het en saam met hulle geeet het.
Die Fariseers en skrifgeleerdes het daarmee ‘n probleem gehad – hulle het gevoel Jesus moet meer tyd spandeer met hulle wat godsdienstig is en alles reg doen. Nie met die mense wat sondig is en nie die wet nakom nie. Dan vertel Jesus hierdie verhaal juis om te beklemtoon dat Hy gekom het vir sondige mense.

Dis die verhaal van ‘n Midde-Oosterse pa en sy 2 seuns. ‘n Pa, wat ‘n metafoor vir God is, wat nie optree soos ‘n pa in Jesus se tyd nie. ‘n Pa wat op baie onverwagte en verassende maniere optree.
Die verhaal begin met ‘n vertrouensbreuk in die familie. Wanneer die jongste seun vir sy erfporsie vra, sê hy daarmee: ‘ek vertrou jou nie as ‘n rentmeester van my erfporsie nie. Ek het jou nie nodig nie, ek wans jy was eerder dood.”
Jesus se gehoor sou hier verwag het dat die pa sy seun moes aanspreek en teregwys, maar die pa doen dit nie. Hier kry ons dus die eerste verassing van die storie.
Hier is ‘n pa wat bereid is om seergemaak en verneder te word deur sy kind - sonder om wraak te neem of sy kind te straf. Dis ‘n pa wat vir sy kind die ruimte gee om sy liefde en omgee te verwerp.

So kry die seun toe sy deel van die erfporsie en hy vertrek na ‘n ander land toe waar hy ‘n losbandige lewe lei en die geld uitmors. Die gevolg daarvan is dat hy in armoede en hongersnood verval en varke oppas. Iets wat vir ‘n Jood die ergste ding moes gewees het.
Jesus se gehoor moes hiervan gehou het, want die seun kry mos nou wat hy verdien. Hy word gestraf vir die sonde wat hy aan sy pa gedoen het. Dis sy verdiende loon.

Maar Jesus gaan aan en vertel hoe die seun dan tot sy sinne kom en ten spyte van  sy vernedering besluit om terug te gaan na sy familie toe. Hy verwag ook nie veel van sy pa nie. Om soos een van die plaaswerkers behandel te word sal vir hom genoeg wees.
Hier is dit weer belangrik om te dink hoe Jesus se gehoor sou dink. Hulle sou verwag dat die Midde-oosterse pa streng sou wees, trots sou wees, en kwaad sou wees vir sy seun. Dat hy aan iets sou dink om vir sy seun ‘n les te leer.
Maar hier kry ons nog ‘n paar verassings.

Eerstens sien die pa sy seun van ver af aankom. Dit dui daarop dat hy vir sy seun gewag het. Dat hy waarskynlik elke dag by die deur gaan staan en kyk het of hy nie dalk net sy seun sien aankom nie. Gehoop het dat vandag die dag sal wees waarop sy seun gaan terugkom. Hy wil sy kinders by hom hê.

Tweedens hardloop hy hom tegemoed en omhels en soen hom. Vir ‘n ryk Midde-oosterse pa was dit ongehoord om te hardloop en sy seun te omhels en te soen. Hy het status in die gemeenskap gehad. Hy het ‘n duur mantel gedra. Jy was veronderstel om rustig en met waardigheid te stap en nie gevoelens en emosies te wys nie. Om jou mantel op te tel en te begin hardloop en dan nog jou seun te omhels en te soen, was net nie kultureel aanvaarbaar nie.

Derdens sou mens verwag dat hy van die seun sou verwag om eers vergifnis te vra en sy lewe uit te sorteer voordat hy hom weer in sy huis terug verwelkom. Maar hy doen dit nie, hy verwelkom hom sonder enige voorwaardes. Belangrik om op te let die vers waar ons lees van die pa wat hom terugverwelkom is voor die vers waar die seun verskoning vra. Hy is terug verwelkom voordat hy vergifnis gevra het. Dit bevestig ook wat Paulus later sou sê: God het ons liefgehad en vergewe, terwyl ons nog sondaars was. God neem altyd die eerste stap.   

Vierdens kry die seun sy waardigheid terug. Deur vir hom nuwe klere te gee en ‘n partytjie te hou word hy terug verwelkom in die familie en die gemeenskap. Hy word weer iemand gemaak.

Mens sou  verwag dat die verhaal by die partytjie sou eindig. Maar Jesus wou ‘n laaste boodskap aan die fariseers en skrifgeleerdes oorbring. Hy het geweet hulle is kwaad vir hom en daarom vertel hy ook van die ouer seun wat kwaad was. Hy was immers die broer wat altyd die regte goed gedoen het en al die reëls en wette nagekom het. Hy is kwaad dat hy nie eers wil inkom na die partytjie toe nie. Hy is nie oop daarvoor dat sy broer weer deelraak van hulle familie nie.
En weereens verras Jesus ons. Hy vertel dat die pa ook uitreik na hierdie oudste seun toe en hom nader trek.

Niks in hierdie verhaal is soos dit behoort te wees nie. Dis juis die punt wat Jesus wou maak. God se hart is total anders as wat mens sou verwag. God se liefde is genadig, dis wyd, dis oop, dit het geen grense nie. Niemand word uitgesluit nie. Hy reik uit na alle mense. God se liefde is soos ‘n gebou sonder mure. Dit moes totaal nuut en verassend gewees het vir Jesus se gehoor, maar dit is God se hart vir mense en dit is vandag nog dieselfde.
Onthou die konteks van die verhaal – Jesus vertel dit omdat hulle kwaad was vir hom omdat hy met die verkeerde mense uitgehang het. Jesus sê dus – ek hang saam met hulle uit, want God is lief vir hulle. God het compassion vir hulle, Hy wil hulle deel maak van sy familie.
En die uitdaging van die verhaal is dat ons soos die vader moet wees, want Hy stuur ons om uit reik na mense en hulle nader te trek en deel te maak van sy familie.

No comments:

Post a Comment