Sunday, July 29, 2012

Preek 29 Julie 2012


Gestuur deur die Vader
Johannes 20: 19-22 ea


Ons gaan voort met ons reeks oor die waarde van gestuurdheid. Verlede week het ons gekyk na die hart van die Vader, want dis waar alles begin. God se hart is genadig, oop en vol liefde en Hy wil alle mense na Hom toe trek en by Hom hê.
Vandag praat ons oor hierdie Vader wat ons stuur na mense toe.  Ons gaan lees uit Johannes 20.
Eers net bietjie agtergrond.  In Johannes 20 besoek Jesus sy dissipels nadat hy uit die dood opgestaan het. Hy het reeds aan Maria Magdalena verskyn en Petrus en Johannes  was reeds oortuig van die opstanding nadat hulle die leë graf gesien het. Dis die eerste keer dat Hy aan die hele groep dissipels verskyn.  Ek gaan lees van vers 19 af, met fokus op vers 21.

Lees teks Joh 20: 19-22

Jesus ontmoet sy dissipels. Ons lees dat hulle baie bang was en die deur gesluit het. Hulle is bang vir Jode, die mense wat vir Jesus gekruisig het. Daarmee saam was hulle ook onseker, want Jesus is gekruisig en begrawe, so wat gaan hulle nou doen. Hulle het waarskynlik al begin wonder of hulle moet teruggaan na hulle vorige lewens toe – vissers, boere en dies meer. Hulle moes taamlik hopeloos gevoel het, want alles waarin hulle geglo het en op gehoop het is van hulle weggeneem.

So hulle is bang en onseker, in hierdie vertrek met die deure wat gesluit is en dan verskyn Jesus aan hulle. En die eerste woorde wat Hy vir hulle sê is: “Vrede vir julle”. Dit moes vir hulle wonderlik gewees het om dit te hoor. Jesus wie hulle gedink het dood is, wat hier voor hulle kom staan en God se vrede oor hulle kom uitspreek.
En dan wys Hy vir hulle sy hande en sy sy om te bevestig dat dit regtig Hy is. Ons lees in die teks – “hulle was baie bly toe hulle Hom sien”. Ek dink dis ‘n understatement – hulle was waarskynlik meer as bly – hulle het sekerlik op en af gespring en Jesus geloof en geprys van verligting en blydskap.

So Jesus kom en spreek vrede oor hulle uit. Maar Hy doen meer as dit, Hy gee ook vir hulle ‘n opdrag. “Soos die Vader my gestuur het, stuur Ek julle ook”.
Ons weet mos dat God die Vader sy seun Jesus gestuur na die aarde toe. Hy het hom gestuur en toegerus vir ‘n taak hier op die aarde. Dis die evangelie.
Nou gebeur dieselfde met sy volgelinge. Terwyl Jesus op aarde was het Hy sy volgelinge toegerus en geleer en nou moet hulle dieselfde gaan doen. Hulle moet Jesus se taak gaan voortsit. Dis die opdrag.
En daarmee word hierdie groepie mense se lewens verander. Hulle kan nie nou maar net weer teruggaan na hulle lewe soos dit voorheen was nie. Hulle is veranderde mense met ‘n nuwe visie. God het iets groters vir hulle in gedagte.     

“Soos die vader my gestuur het, stuur ek julle ook”. Hierdie opdrag is nog nie verby nie. Dit gaan nog aan. Daar is nog baie mense wat die wonder van die evangelie moet beleef. En ons is die mense wat nou gestuur word om dit te gaan doen.  
Wat beteken dit om deur Jesus gestuur te word. Kom ons lees gou ‘n paar tekste waar Jesus praat oor sy taak in die wêreld.

Lukas 4: 18-19
“Die Gees van die Here is op My omdat Hy My gesalf het om die evangelie aan armes te verkondig. Hy het My gestuur om vrylating vir gevangenes uit te roep en herstel van gesig vir blindes, om onderdruktes in vryheid uit te stuur, om die genadejaar van die Here aan te kondig.”

Markus 10: 45
“Die Seun van die mens het ook nie gekom om gedien te word nie, maar om te dien en sy lewe te gee as losprys vir baie mense.”

Johannes 8: 12
“Op 'n ander keer het Jesus vir die mense gesê: “Ek is die lig vir die wêreld. Wie My volg, sal nooit in die duisternis lewe nie, maar sal die lig hê wat lewe gee.”

Dinge het nog nie verander nie. Daar is nog steeds armes, onderdruktes, gebrokenes, eensames, mense wat in die duisternis lewe. En Jesus wil hulle nog steeds vrymaak en nader trek. Daarom sê Hy vandag nog steeds vir ons: “soos die Vader my gestuur het, stuur ek vir julle ook”.

Ek wil vir julle nog ‘n paar verse lees net om hierdie opdrag verder te beklemtoon:

Matteus 28: 19-20
“Gaan dan na al die nasies toe en maak die mense my dissipels: doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees, en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het. En onthou: Ek is by julle al die dae tot die voleinding van die wêreld.”

Lukas 24: 46-47
“Verder sê Hy vir hulle: “So staan daar geskrywe: ‘Die Christus moet ly en op die derde dag uit die dood opstaan, en in sy Naam moet bekering en vergewing van sondes aan al die nasies verkondig word, van Jerusalem af en verder.”

Matteus 5: 14-16
“Julle is die lig vir die wêreld. 'n Stad wat op 'n berg lê, kan nie weggesteek word nie; ook steek 'n mens nie 'n lamp op en sit dit onder 'n emmer nie maar op 'n lampstaander, en dit gee lig vir almal in die huis. Laat julle lig so voor die mense skyn, dat hulle julle goeie werke kan sien en julle Vader wat in die hemel is, verheerlik.”

The Hill vuurtoring is in die Donkin reservaat in Port Elisabeth. Naby die Middestad van Port Elisabeth. Die vuurtoring is op 1 Junie 1861 vir die eerste keer aangesteek. Daar was baie konflik oor waar die vuurtoring opgerig moes word – die Hawe Raad wou dit op die heuwel gebou hê, terwyl die Hawe Meester dit bo-op die poskantoor wou oprig. Uiteindelik het Sir George Grey toe besluit dat dit op die heuwel opgerig moes word. Soos die tyd verby gegaan het en die stad gegroei het, het die geboue al hoe nader aan die vuurtoring beweeg, wat beteken het dat die lig al hoe moeiliker was om van die see af te sien. Op 31 Oktober 1973 is The Hill se lig finaal afgeskakel.  Nou is dit ‘n museum.

Hierdie vuurtoring was gebou vir veel meer as dit. Dis gebou om vir mense te wys waar die gevare is en waar dit veilig is. Dis ‘n stewige gebou wat gebou is om die egste PE winde en storms te kan hanteer. Dis nie gebou om ‘n museum te wees nie. Dis nie gebou om net mooi te lyk nie. The Hill vuurtoring is gebou vir iets meer, iets groters.

“Soos die Vader my gestuur het, stuur ek julle ook”. Ons is ook gebou vir iets groters en iets meer. Ons is gebou om deel te wees van God se lig in hierdie wêreld - in ons huise, in ons woonbuurte, in ons kantore, oral waar ons kom. Ons is nie gebou om vir onsself te lewe nie.

Ek weet nie almal van ons is dieselfde nie. Party van ons is meer ekstrovert en aksie-georienteerd, ander is weer meer introverte en introspektief. Dis hoe God ons gemaak het. Maar almal van ons moet maniere vind om te connect met Jesus se opdrag en dit te gaan uitvoer.
En daarom lees ons ook in vers 22, dat Jesus Sy Gees gee om ons hiermee te help. Hy los ons nie alleen nie. 
Hy stuur ons en sê vir ons: gaan uit, raak besig terwille van my koninkryk. Gaan wys vir mense die goeie nuus. En dit hoef nie flashy goed te wees nie. Die goed wat God in die wêreld doen gaan oor liefde uitleef en diens aan mense en omgee en gebed. Dis nie flashy goed nie, dis dikwels ondankbare goed, maar dis die goed wat die wêreld verander.

Jesus sê: “Soos die Vader my gestuur het, stuur ek julle ook”. Gaan ons dus soos ‘n vuurtoring wees wie se lig helder skyn of gaan ons wees soos The Hill vuurtoring, wat mooi lyk, maar dis ‘n museum met geen lig nie.

No comments:

Post a Comment