Sunday, July 1, 2012

Preek 01 Julie 2012


Markus 5: 21-43

Vanoggend se teks gaan oor 2 genesingsverhale. Die genesing van Jaïrus se dogtertjie en die genesing van die vrou met bloedvloeiing. Dis ‘n lang gedeelte, so ek gaan nie alles lees nie, ek gaan eerder net die storie vertel. Terwyl ek dit vertel gaan fotos verskyn van skilderye wat oor die verhale geskilder is.

Die storie begin met die raadslid van die sinagoge, ‘n belangrike en godsdienstige man, Jaïrus, wat desperaat na Jesus toe kom, omdat sy dogter sterwend is. Elkeen van ons wat al ‘n siek kind gehad het, verstaan iets van die man se nood, wanneer hy op sy knieë voor Jesus neerval en hom smeek:
“My dogtertjie lê op haar uiterste. Kom lê tog u hande op haar, sodat sy kan gesond word en lewe.”  
Die siekte is ernstig en vereis Jesus se onmiddelike en dringende aandag. Jesus hoor die dringendheid in die man se stem en reageer onmiddelik deur saam met Jaïrus na die man se huis toe te gaan.

Maar op pad soontoe, gebeur daar ‘n interessante ding. Ons lees dat daar ‘n groot skare mense saam met Jesus na Jairus se huis toe op pad was. Hulle was nuuskierig en ongeduldig en wou sien wat gaan gebeur. En almal het teen mekaar en teen Jesus gedruk en gestamp. Hulle wou tog net nie iets mis nie. In hierdie geharwar was daar ‘n vrou wat al 12 jaar aanbloedvloeiing gely het. Sy was desperaat en wou met alle mag by Jesus uitkom.
Ons weet min van hierdie arme vrou, net dat sy chronies siek was. Sy het al al die verskillende mediese moontlikhede probeer, maar niks het gewerk nie. Trouens die Bybel sê dat sy gely het onder al die behandeling van die verskillende dokters en sy het alles bestee wat sy gehad het. Sy was moedeloos en sy het niks oorgehad nie, maar haar toestand het net vererger.
Daarmee saam was sy sosiaal heeltemal verstoot. Volgens die Joodse wette was sy permanent onrein as gevolg van die bloedvloeiing. Sy was onwelkom in die sinagoge, die tempel en in die algemene sosiale omgang. Sy was siek, arm en oral onwelkom.
Geen wonder sy doen alles om by Jesus uit te kom nie. Sy vestig haar laaste hoop op Jesus. Sy wil nie eers met hom praat nie, as sy net aan sy klere kan raak, sal sy genees word.    

Sy raak aan Jesus se klere en onmiddelik word sy genees. Jesus kom dadelik agter dat daar van sy krag gebruik is en hy begin soek die persoon wat aan sy klere geraak het.
Sy dissipels verstaan dit nie, want wat maak dit saak wie aan Hom geraak het, hulle is immers haastig om by Jaïrus se dogter uit te kom.
Die vrou weet sy is skuldig. As ‘n onrein vrou mag sy nie eers in die skare gewees het nie, en veral nie aan Jesus geraak het nie. Daardeur maak sy hom ook onrein. Sy val daarom skuldig voor Jesus neer en vertel vir hom haar geskiedenis.
In plaas daarvan dat Jesus haar teregwys, prys hy haar geloof en Hy seën haar met vrede. Hy genees haar nie net fisies nie - Hy gee ook haar lewe vir haar terug. Hy maak haar weer iemand. Ongelooflik!  

Hierdie onderbreking moes waarskynlik vir Jaïrus louter hel gewees het, want sy dogter is besig om te sterf. En toe gebeur die ergste, iemand kom aangehardloop en breek die nuus dat sy dogter gesterf het. Maar Jesus sê so terloops, ‘moenie worry nie, glo net.”
En toe hulle by die huis kom, is almal ontsteld en aan die huil oor die kind wat gesterf het. Maar Jesus sê vir hulle – moenie so onsteld wees nie, sy slaap net. Ek dink nie enigiemand kan die skare kwalik neem dat hulle vir hom begin lag het nie.
Jesus beveel toe almal om uit te gaan, hy stap na die dogtertjie toe, vat haar hand en beveel haar om op te staan. Tot almal se verbasing, het sy opgestaan en begin loop.     

Ek gaan so ‘n paar dinge uitlig wat my in die verhaal opgeval het en julle kan self verder daaroor gaan dink.

Alhoewel dit belangrik en dringend was om by Jaïrus se dogter uit te kom, maak Jesus tyd om aandag aan die siek vrou te gee.
Waar die dissipels en die skare ongeduldig is om by die dogtertjie uit te kom, is Jesus geduldig en bereid om tyd te maak vir die vrou. Hy onderbreek as’t ware Sy program om aandag aan die vrou te gee.
Hoe baie gebeur dit nie dat ons besige en gejaagde lewens, ons vol en bedrywige dagboeke in die pad staan van mense wat ons nodig het nie?
Hoe baie keer lei ons verhoudings met die mense wat die naaste aan ons is nie daaronder nie?
Hoe baie keer lei ons geloof nie daaronder nie? Ons geloof en die kerk is mos die eerste goed wat moet plek maak vir ons besige lewens. 
Jesus wys vir ons, daar is altyd tyd vir mense.

Hy keer die Joodse wette en gebruike van die tyd op hulle kop, deur aandag te gee aan ‘n onrein en sosiaal onaanvaarbare vrou.
Deur Sy hele bediening sien ons hoe Jesus die godsdienstige wette en reëls uitdaag en omkeer. Hoe hy tyd maak om met die verkeerde en sondigste mense tyd te spandeer.
Hoe baie keer laat ons toe dat godsdienstige reëls en dit wat volgens ons reg en verkeerd is in die pad staan van mense wat Jesus se liefde nodig het?
Hoe baie keer gebeur dit dat ons vooroordele en vooropgestelde idees oor mense, hulle weg hou van die kerk en van Jesus se liefde?
Hoe baie keer oordeel en veroordeel ons mense omdat hulle volgens ons prentjie anders en onrein en onaanvaarbaar is?   
Jesus wys vir ons – as dit oor (verstote) mense gaan, is Hy bereid om die reëls te breek.

Jesus se kalmte en hoop staan uit.
Ek kry die idee dat die mense resultate wou sien. Hulle was ongeduldig om te sien wat Jesus gaan doen.  Maar teenoor die ongeduld van die dissipels en die skare straal Jesus geduld en kalmte uit. Teenoor die wanhoop van die huilendes straal Jesus hoop en vrede uit.
In ons land met al haar probleme en deurmekaarheid, hoor mens dikwels dat mense ongeduldig en bakleierig en wanhopig raak. Ons hoor dit om braaivleisvure en ons sien dit in die media.
Christene is veronderstel om anders te wees. Om ‘n volgeling van Jesus te wees beteken dat ons altyd kalmte en hoop by ‘n plek en by ‘n gesprek moet indra.
Soos William Barclay skryf oor die skare wat Jesus uitgelag het:
“They laughed at Jesus because they thought his hope was groundless and his calm mistaken. But the great fact of the Christian life is that what looks completely impossible with men is possible with God... but their laughter must have turned into wonder when they realized what God can do.” 

Jaïrus en die vrou se gebrekkige geloof is opvallend.
Soms weet ‘n mense mos nie wat om te bid nie. Soos die vrou in die storie – na 12 jaar se gesukkel is sy radeloos en moedeloos. Dis hoe sy na Jesus toe kom – sonder woorde, met net ‘n uitgesterkte hand.
Soos Jaïrus, die raadslid van die sinagoge – ‘n belangrike en godsdienstige man. Hy is desperaat oor sy dogter wat besig is om te sterf. Hy weet nie meer nie. Dis hoe hy na Jesus toe kom – desperaat, op sy knieë en smekend. 
Nie een van hierdie 2 mense kan as tradisionele geloofhelde voorgehou word nie.
Geloof is nie ‘n prestasie nie. Geloof is ‘n vaste vertroue dat God die beste weet. Geloof is op sy sterkste wanneer ek nie meer weet wat om te vra nie. Soos Paulus dit so mooi verwoord – juis wanneer ek swak is, is ek sterk.
Juis as ek moedeloos is, wanneer ek sug, wanneer ek clueless is, wanneer ek nie meer weet wat om te bid nie, dan is ek oop om te ontvang wat Jesus wil gee.  
Maar ons word mos geleer dat geloof altyd sterk moet wees. Dat moedeloosheid en twyfel tekens is van ‘n swak geloof. Ons word geleer dat ons al die antwoorde het. Dat ons net harder en meer moet bid, want gebed sal alles regmaak.
Dis nie wat hierdie verhale vir ons leer nie. Hier leer ons - soms is dit genoeg om net ‘n moedelose hand na Jesus toe uit te steek en staat te maak op sy genade en ontferming.

Ek wil dit alles opsom met ‘n laaste storie.
Een van die beste basketbalspelers van alle tye was Larry Bird van die Boston Celtics. By sy uittrede het hulle vir hom ‘n vreeslike fancy seremonie gehou, met ‘n ete, en oorhandigings en toesprake. K.C. Jones, ‘n vorige afrigter van die span vertel toe van ‘n keer toe hy tydens ‘n spanpraatjie besig was om sy taktiek aan die span te verduidelik.
En terwyl hy nog so praat toe onderbreek Larry Bird hom met woorde: “Just get the ball to me and get everyone out of my way”.
Jones het gereageer toe hierop: “I'm the coach, and I will call the plays.”
Daarna draai Jones toe na die ander spelers toe en sê: “Get the ball to Larry, and get out of his way.” 

Miskien is dit wat ons ook vanoggend by hierdie wonderlike genesingsverhale moet hoor: Gee die bal vir Jesus en kom uit die pad uit. Dan sal ons ook soos Jaïrus en die vrou ontdek dat Hy vol ontferming en liefde is en dat Hy ons nie in die steek sal laat nie.




No comments:

Post a Comment