Sunday, August 12, 2012

Preek 12 Aug 2012


Psalm 130


Het skuldig ook trappe van vergelyking? Kan ons sê skuldig, skuldiger en skuldigste.
Ons kry dit mos baie keer by kinders – as hulle in die tuin speel en die blomme plat trap dan hoor ons mos gewoonlik iets soos: “hy het gesê ons mag maar in die tuin speel” of “hy het gesê ons moet die blomme met die stokke afslaan”. So asof die een skuldiger is as die ander een. 
Dit werk dalk by die huis so as jy in die moeilikheid by jou ma is, maar in ‘n hof sal dit nooit so werk nie. As jy aangekla word van diefstal, dan is daar nie iets soos minder of meer skuldig nie – al wat tel is skuldig of onskuldig.
Ook by God is daar nie trappe van vergelyking vir skuldig nie. Ons is mos skuldig of onskuldig. Of so dink ons. Want as dit waar is dat daar by God net skuldig of onskuldig is, dan is ons almal in die moeilikheid. Ons doen mos maar almal op ‘n gereelde basis verkeerde goed en as die opsies net skuldig of onskuldig is – dan is ons almal die heeltyd skuldig.
Gelukkig is God nie so ‘n rigiede reg of weg, swart of wit God nie. Hy het vir ons ‘n opsie gegee tussen skuldig en onskuldig. Hy noem dit vergifnis.
Psalm 130 help ons om te verstaan dat God mense wil vergewe – dadelik en volledig.      

Lees Psalm 130

Hierdie Psalm het deur die eeue vir baie mense baie beteken. Hulle vertel dat die kerkvader Augustinus dit op sy kamermuur geskryf het, sodat hy dit kan lees voor hy sterf.
‘n Ander aangrypende plek waar ons die psalm vind, is op die plek waar die konsentrasiekamp, Dachau gesetel was. Duisende Jode is in die 2de wêreldoorlog by Dachau vermoor. Nou is daar ‘n muur van herinnering met die eerste 5 verse van Psalm 130 daarop.  

Die psalmdigter roep na God omdat hy worstel met een of ander sonde of siekte of nood in sy lewe. Ons weet nie wat dit is nie, maar ons kan sien dis iets waarmee hy nogal geworstel het en waarvoor hy verlossing soek. Wanneer mens soms in die moeilikheid is, in die donker dieptes is, wanneer jy worstel met iets dan kan jy maar net soos die Psalmdigter uitroep en vertrou dat God jou hoor. 

Die skrywer Dallas Willard verwoord dit mooi: “I found God’s address. It’s at the end of my rope!” Iets hiervan wat ons beleef by die psalmdigter.

Gelukkig weet ons mos ook dat God hoor ons as ons uitroep. Daar staan in Jesaja 59:1
“Die arm van die Here is nie te kort om te help nie en Sy oor is nie te doof om te hoor nie.”

Omdat ons weet dat God ons uitroepe hoor, kan ons ook soos die Psalmdigter wag op die Here.
Soos hy sê in vers 5: “Ek stel my vertroue in die Here, ek vertrou op Hom, ek wag op die vervulling van Sy woord. 
Hierdie wag op die Here is ‘n passiewe, agteroorsit tipe wag nie. Dis ‘n hoopvolle wag, ‘n afwagting, gesetel in volle vertroue op God om die uitkoms en verlossing te bring.
Hy gebruik die beeld van wagte wat op die stadsmure wag gehou het. Ek onthou van my weermagdae, as jy in die nag moes wagstaan – dit raak nogal lank, so as jy die son in die vroegoggend sien opkom – dis ‘n gevoel van verligting, want die nag is verby.
Jy wag, want jy weet die son sal weer opkom. Jy wag op die Here, want jy weet Hy sal weer lig gee, selfs in die donkerste tye van ons lewens. Hy sal weer sin gee.

Ek dink net dat die probleem met ons moderne mense, is dat ons nie meer weet hoe om te wag nie. Omdat ons leef in ‘n samelewing waar alles vinniger en beter raak, het ons verleer om net geduldig te kan wees. Daarom maak ons ook soms stupid keuses, omdat ons nie bereid is om te wag nie.
Daar is ‘n spreekwoord: “All good things happen to those who wait”
Daar is Franse spreekwoord wat sê: “Wees geduldig! Alles gebeur op sy tyd. Die windpomp gaan soek nie die wind nie.”
Ek dink die psalm herinner ons weer hieraan.

Die Psalm herinner ons ook weer daaraan dat God al ons sondes vergewe.
In vers 4 lees ons: “ Maar by U is daar vergifnis: daarom word u steeds gedien.”
Die Message vertaling sê dit baie mooi: “If you, God, kept records on wrongdoings, who would stand a chance? As it turns out, forgiveness is your habit, and that’s why you’re worshiped.”

Daar is ‘n baie mooi storie wat dit uitbeeld.
Iemand vertel van ‘n vriend van hom wat op ‘n trein langs ‘n baie angstige en bekommerde jong man gesit het. Hy begin toe met hom gesels en uiteindelik vertel die jong man sy storie. Hy is so pas uit die tronk vrygelaat en hy is op pad huistoe. Sy misdaad het groot skande gebring oor sy familie. Hulle het nooit in die jare wat hy in die tronk was vir hom geskryf of hom besoek nie. Hy het maar gehoop dat die rede daarvoor was dat hulle arm en ongeletterd was. Daar was nie geld om hom te besoek nie en hulle kan nie skryf nie.
Hy was nie seker of hulle hom vergewe het nie en hy het daarom nie geweet wat om te verwag as hy by die huiskom nie. So, het hy toe vir hulle ‘n brief geskryf waarin hy gevra het dat as hy met die trein verby die plaas net buite sy tuisdorp ry, hulle ‘n geel lint rondom die groot appelboom naby die treinspoor moet bind as hulle hom vergewe het. As hulle hom nie wou sien nie, moet die appelboom leeg wees en dan sou hy nie van die trein afklim nie.
Toe die trein nader aan sy tuisdorp kom, kon hy nie meer die spanning hanteer nie en hy was bang om by die venster uit te kyk. Die ander het toe aangebied om namens hom te kyk en hulle het toe plekke geruil. ‘n Paar minute daarna, wat soos ‘n ewigheid gevoel het vir die jong man, het die ander man gesê: “alles is reg…die hele boom is geel van al linte”
Die man het later vir sy vriend vertel: “Ek het gevoel ek beleef ‘n wonderwerk.”

Dis wat hierdie psalm ook weer vir ons wil bevestig: vergifnis is ‘n gewoonte by God en daarvan kan ons seker wees. Soos vers 7 dit so mooi stel: “wag op die Here Israel, want by die Here is daar troue liefde, by Hom is die verlossing seker.”

Ons gaan afsluit deur te doen wat die psalm sê. Ons gaan ons verootmoedig voor die Here, ons gaan roep na Hom en staat maak op die vergifnis wat in die Psalm belowe word.
Ons gaan dit doen met ‘n lied van oorgawe en ‘n gebed waarna ons gaan afsluit met die Ons Vader.

Lied van oorgawe: Kom en vul ons met vrede.

Kom ons bid die volgende gebed:

Heilige God, niks wat ek doen is vir U ‘n geheim nie. Waar ek voor u staan, weet ek: Al my maskers moet afval. Ek wil myself nie eers probeer verdedig nie. Ek smeek net:
Here, wees my genadig!
U liefde maak my skaam. U versorg my, terwyl ek u dikwels vergeet.
Ek kan so beïndruk raak met die dinge van die wêreld, so meegesleur deur my eie dinge…
Here, vergewe my!
U roep my om alle mense lief te hê.
Maar U weet hoe sukkel ek om selfs my vriende, familie en mense wat soos ek is en dink eerste te stel.
Here, vergewe my!
Here, U wat armes, gevangenes, sukkelaars en sondaars u broers en susters noem; voor u bely ek my verwaandheid, arrogansie, beterweterigheid en hooghartigheid teenoor my broers en susters.
Here, vergewe my!
Here, die eer vir my suksesse neem ek gewoonlik vir myself en die verwyte vir my mislukkings slinger ek na U em my medemense.
Here, vergewe my!
O God, skep tog opnuut opregtheid en liefde in my binneste, sodat ek nie langer net vir myself sal lewe nie, maar vir U en my naaste.

Gee paar oomblikke van stilte.

Wanneer  ons onsself so voor Hom verootmoedig dan beloof Hy ook vir ons die volgende:
Hoe kan ek jou prysgee?
Hoe kan ek jou laat vaar?
Ek kan dit nie oor my hart kry nie, my liefde vir jou brand te sterk.
Ek is God, nie ‘n mens nie.
Ek is die Heilige wat jou vergewe en altyd by jou is.

Slotlied: Ons Vader

No comments:

Post a Comment