Sunday, August 5, 2012

Preek 05 Aug 2012


Waar ons woon, werk en speel
1 Petrus 2: 4-10

Ter wille van die besoekers wat vandag hier is, dalk net vinnig iets oor die preekreeks waarmee ons tans besig is voor ons verder gaan. Na ‘n lang proses het Tableview gemeente verlede jaar op vier waardes besluit waarna hul graag in die gemeente wil streef – eenvoud, betekenisvolle verhoudings, gestuurdheid en egtheid.  Ons het sovêr hierdie jaar probeer om elke kwartaal stil te staan by een van hierdie temas/waardes.  Hierdie kwartaal is ons besig met die tema van GESTUURDHEID. 
Hierdie blote tema maak dit moeilik om enige iets vandag te sê want dit is ‘n woord waardeur baie van ons, baie vinnig afgeskrik word.  Moet ons dan nou almal in Afrika invaar?  Almal sendelinge word onder volkere wat vreemde tale praat en nog nooit van Jesus gehoor het nie?  Dit is gewoonlik die eerste konnotasie wat ons aan hierdie woord koppel.  Wel, dit kan beslis waar wees vir sommige mense, maar meeste van ons is geroep om sendelinge te wees net daar waar ons is.  Daarom is vanoggend se tema:  Waar ons werk, speel en leef!

Agtergrond
Die teksgedeelte wat ons vanoggend gaan lees, is 1 Petrus 2.  Die hoofdoel van die brief was aanvanklik om gelowiges wat onder druk was en vervolg is, te bemoedig.  Jesus se dood, opstanding en veral die feit dat Hy weer kom, is die fondament waarop hulle geloof gebou is of soos wat ons vandag sal hoor: die hoeksteen.  Dit het gemaak dat hulle aanhou glo het, dat hulle aanhou hoop en veral volhard het. 

Lees 1 Pet 2: 4-10

Ek wil vanoggend stilstaan by die vraag: Wie is die kerk?  En om hierdie vraag te beantwoord moet ons na twee metafore in die teks gaan kyk. Die eerste is Jesus as lewende steen en die tweede is ons as lewende stene. En ek noem dit metafore omdat die partisipium ‘lewende’ wat ons hier voor ‘steen/klip’ kry, ‘n aanduiding van metaforiese gebruik is. Dit is ‘n beeld wat gebruik word om op ‘n gedagte uit te brei. Petrus brei hier uit op die idee van kerk. Hy vergelyk as te ware die kerk met Christus deur soortgelyke metafore vir albei te gebruik. Die kerk, sê hy, is soos Christus. Daarom word die kerk se identiteit ook afgelei van Christus. In vers 9 en 10 kry ons ook te doen met verskeie beelde uit die Ou Testament wat Paulus gebruik om gelowiges se identiteit te bepaal. Ek gaan weer hierna later verwys. Ooreenkomstige verse wat of na Christus of na die kerk verwys, help ons om te verstaan hoe hierdie metafore by mekaar aansluit:
Christus is die lewende steen(2:4)                              Gelowiges is lewende stene (2:4a)
Gelowiges is ’n geestelike huis (2:5)                           Christus is die hoeksteen van die huis (2:6a)
Gelowiges moenie beskaamd wees nie(2:6b)           Die hoeksteen verleen eer aan gelowiges (2:7a)

Christus as lewende steen
In vers 4 verwys Petrus na Jesus as die Lewende Steen, die een na wie toe die mense moet gaan.  Hierdie is nie die eerste keer dat die metafoor in so ‘n konteks gebruik word nie.  Jesus self het hierdie beeld gebruik in Markus 12 toe Hy die beeld van die Messias as die steen op Homself van toepassing gemaak het.  Ook in die vroeë Christendom lees ons dat ‘die klip’/’steen’ ‘n profetiese verwysing na Jesus Christus was. 
Een so ‘n voorbeeld is die aanhaling wat Petrus in vers 6 maak. Hy haal Jesaja 28:16 aan om te verduidelik hoekom gelowiges na Jesus, die lewende steen, moet kom en hulle tot ‘n geestelike huis moet laat opbou.  In hierdie aanhaling uit Jesaja word daar gepraat van ‘‘n hoekklip’.  Vandag gebruik ons dalk eerder die woord ‘hoeksteen’.  Destyds was ‘n hoeksteen meer as net ‘n simboliese steen met mense se name op, soos vandag.  Dit was ‘n reghoekige steen wat eerste gelê is.  Hierdie steen het dan die lyne waarvolgens die gebou gebou moes word, bepaal.  Die hele gebou is dan gebou volgens wat hierdie steen aangedui het.  Vandag sal iets soos ‘n waterpas baie van hierdie werk doen.

Net soos wat die gebou dan sy vorm/struktuur aanneem volgens die hoekklip, so word daar van die kerk gevra om haar oriëntasie van Jesus af te lei.  Hierdie geestelike huis wat hulle moet bou met die gemeentelede as die lewende stene, moet van Jesus, die hoofsteen, afgelei word. 
Met hierdie idee van Christus as hoeksteen is ons redelik bekend, maar wat dan nou van ons as stene?
Ons as lewende stene
In vers 5 word daar van die mense gevra om hulle te laat opbou as lewende stene tot ‘n geestelike huis.  Hierdie is egter ook nie die eerste keer dat so iets gesê word nie.  In Psalms 118 word Israel as die klip beskou wat deur ander volke verwerp is en as waardeloos beskou is, maar wie by God weer ‘n plek van eer toegeken is. 
Petrus kom vra van die kerk om hulle karakter, hul identiteit, af te lei van Jesus as lewende steen.  Elke gelowige is dus soos ‘n steen wat saam ‘n geestelike ‘tempel’ of ‘huis’ vorm.  ‘n Klomp gelowiges saam vorm nou hierdie ‘tempel’, soos in die Ou Testament, waarin God woon. 
Petrus vra van die gemeente dat hulle die stene van die tempel sal wees.  ‘n Klomp gelowige mense, wat lewende stene is, moet saam ‘n geestelike huis bou, en nie blote, gewone, klei bakstene nie.  Mense moet die gewone klip bakstene vervang en lewende bakstene wees.  Iets wat leef, wat lewendig is en dus die vermoë het om te kan beweeg.  Hierdie geestelike huis, gebou met lewende  stene, moet nie soos ‘n dooie gebou wees wat stilstaan nie, nee, dit moet tussen die mense beweeg.  Orals waar die gemeente gaan, daar moet die ‘tempel’ wees.  ‘n Lewende kerk gebou volgens die lewende waterpas van Christus.

‘n Koninklike Priesterdom...?
SO hierdie is nie ‘n nuwe of vreemde beelde vir die lesers nie. Hulle was goed bekend met hierdie metafore, maar dit bring my steeds by die vraag: Wat beteken dit vir ons?
In vers 9 beskryf Petrus hierdie geestelike huis as ‘n uitverkore volk, ‘n koninklike priesterdom, ‘n nasie wat vir God afgesonder is, die eiendomsvolk van God, die volk wat God se verlossingsdade moet verkondig. 
Petrus noem die gemeente ‘n uitverkore volk:  soos wat Israel die uitverkore volk van God was, is almal wat hulself nou laat opbou as lewende stene en deel vorm van hierdie geestelike huis, die uitverkore volk.  God roep nou Christene vanuit alle nasies, rasse en volke om getuies van SY dade te wees.  Petrus tref geen onderskeid tussen Jood en Heiden nie.  Almal kan nou deel wees van hierdie uitverkore volk. 
Hulle is ‘n koninklike priesterdom, ‘n nasie wat vir God afgesonder is, die eiendomsvolk van God, en laastens, hulle is die volk wat God se verlossingsdade moet verkondig.  As Petrus noem dat hulle ‘n koninklike priesterdom is, dan vra hy dat hulle soos priesters die verhouding tussen God en ander mense bemiddel.  Hy vra van hulle om heilig te leef – want hulle is ‘n nasie wat afgesonder is vir God, net soos die priesters afgesonder was vir God. 

Wat kom vra die teks vandag van ons?
So as hierdie dan ook waar is van ons en ons self hierdie lewende stene is en dus ook ‘n heilige priesterdom is, watter implikasie het dit vir ons woon- werk- en speelplek. Hoe beïnvloed dit die manier wat ons ons eie gestuurdheid verstaan?
In die Burger-rubriek ‘Godsdiens-Perspektief’ ‘n tydjie gelede, skryf Stephan Joubert onder die opskrif “Christus se volgelinge is Sy aardse adres” die volgende:
“Iemand vra onlangs ’n vriend van my waar die een of ander kerk is. “Sien jy die dame wat daar anderkant in die koffie restaurant sit?” sê hy. “Sy is ’n volgeling van Jesus. As jy die kerk soek, gaan praat dadelik met haar.”

Is dit nie hoe die kerk moet wees nie?  Meeste mense koppel ‘die kerk’ aan ‘n gebou, of ‘n plek waar daar op Sondae bymekaargekom word.  Dit is nie dat dit verkeerd is om daardie konnotasie te maak nie – kerkgeboue is tog ‘n spesiale plek, dit is tog ‘n plek waar baie van ons vir God kan ervaar, ‘n plek waar ons vir God saam met verskeie ander gelowiges aanbid. 

Maar sien, ‘n kerkgebou is niks heiliger as enige ander plek of gebou nie.  Daarom kan ons nie van die kerk praat as die ‘huis van die Here’ nie.  Petrus kom bevestig dit in hierdie brief.  Maar hy is nie die enigste een nie.  Paulus skryf in sy brief aan die Korintiërs drie keer dat God nie in geboue van klip en steen woon nie, maar in menslike tempels. Petrus praat van die lewende stene:  ons, sy volgelinge, is nou die huis van die Here. 
Daarom, wanneer klomp volgelinge van Christus op Sondae in ‘n kerkgebou saamkom, is dit waar dat dit die huis van die Here is, want al die ‘lewende huise’ of ‘lewende stene’ wat hier saamkom, vorm die huis van die Here.  Die doel van die kerk is om ‘n plek te wees waar mense versterk word, ‘n plek waar mense se wonde geheel word, ‘n plek waar ons saam leer, ‘n plek waar ons God loof.
Maar ‘kerk’ hou nie op sodra die erediens verby is nie.  As die ‘lewende stene’, ek en jy, by hierdie deure uitstap, dan vat ons ‘kerk’ in die wêreld in.  Dan moet ons gaan kerk wees daar waar ons ‘woon, werk en speel’.  Ons kan dus nie ‘kerk’ meet aan hoeveel projekte of bedienings hierdie gebou / gemeente het nie, maar eerder aan die vraag: waar is die kerkgangers betrokke?  Is die lewende stene van die kerk besig met verhoudings gedrewe aksies?  Is ons besig om die armes te versorg, met die ondersteuning van die wat alleen is, die siekes, die straatkinders, die jongmense, die bejaardes, die wat soekend is?

Kom ek noem nog paar voorbeelde:
Boer wat een keer ‘n week in sy huis saam met sy werkers Bybelstudie doen en Saterdae saam met hulle rugby kyk. Dit is kerk.
Prokureur wat 50% van sy tyd gee om mense te help wat nie ‘n prokureur kan bekostig nie. Dit is kerk.

Daarom is vandag se tema:  waar ons woon, werk en speel.  Juis na hierdie plekke, daar waar ons elke dag besig, daarheen is ons gestuur.  Juis daar kan ons ‘n verskil maak.  Juis daar moet ons kerk wees.
Wanneer ons hierdie dinge begin doen, wanneer ons ons identiteit van Christus aflei en gaan optree met Jesus as die hoeksteen, die waterpas, die rigting-aanwyser, eers dan het ons samekoms op Sondae werklik sin.  Nie anders om nie.

No comments:

Post a Comment