Sunday, August 26, 2012

Preek 26 Aug 2012


Doop & nagmaal

Ons kan die doop met opvoering of ‘n toneelstuk vergelyk. Die opvoering bestaan uit 4 karakters.
Hoofkarakter is God:  Alles begin by Hom. Hy neem die inisiatief in julle kinders se lewe. Hy ken julle kinders reeds van voor hulle geboorte af. Hy staan vanoggend voor julle kind en Hy sê: “Ek wil jou God wees.” “Ek wil ‘n rol in jou lewe speel.” “Ek belowe ek sal altyd by jou wees.”

Die kinders: Julle kinders is nog babas - hulle verstaan niks nie. Hulle kan niks doen om God se liefde te verdien nie. Tog is God lief vir hulle en verbind aan hulle. Dit noem ons genade. Ons kry van God wat ons nie verdien nie.

Die ouers: Julle wei vandag julle kinders aan God. Julle is ook God se instrumente in hierdie kinders se lewens. Julle moet hulle groot maak volgens dit wat ons glo, sodat hulle eendag self kan kies om hulle lewe saam met God te leef. Julle moet vir hulle die voorbeeld stel, julle moet vir hulle ‘n rolmodel wees. Hulle moet in julle lewens kan sien wat beteken om ‘n gelowige te wees.

Die gemeente: Ons is die getuies van hierdie doop. Ons is ook die geloofsfamilie waarby julle baba nou in getrek word. Ons is julle broers en susters wat julle wil ondersteun en julle wil help met die taak wat God vir julle gegee het.

Bedien die doop
Met die 4 karakters van hierdie opvoering in gedagte…
Aanvaar julle die God se inisiatief in julle kind se lewe en dat Hy ‘n rol in hulle lewens wil speel. Aanvaar julle dat God Hom aan julle kinders verbind en dat Sy genade genoeg is.
Aanvaar julle julle verantwoordelikheid as God se instrumente in julle kinders se lewens.
Aanvaar julle dat julle kinders ook nou ingetrek word en deelgemaak word van God se geloofsfamilie.

Lied: Laat Heer u seën

Preek
Psalm 139: 13-15 & Jesaja 43: 1
Hierdie tekste bevestig dit wat ons nou net met die doop weer beleef het. Ons behoort aan God. Ons is verbind aan Hom. Hy ken ons. Ons is syne. Dit word ook weer en weer in die Bybel vir ons bevestig. 
Maar tog lyk dit vir my asof ons dit nie aldag so maklik glo nie.

Soms voel ons dit is waar en ons is dankbaar daaroor en ons voel naby aan God. Maar baie keer voel ons net niks nie. En dit laat ons twyfel of ek regtig God se kind is. As ek was, dan sou dit mos anders gevoel het.

Soms as ons so na ons lewens kyk, dan ontdek ons dat ons lewens het verander as gevolg van God se betrokkenheid in ons lewens. En dit gee vir my moed en ek weet dat ek wel God se kind is. En ek loof Hom daarvoor. Maar dan kom daar ook tye wat ek nie daarin slag om te leef soos Sy kind nie. Ek het hierdie wonderlike voornemens om te leef soos sy kind, maar dan kry ek dit nie reg nie. Dan voel dit weer vir my of God ver is en ek is nie ‘n kind van God nie. kyk maar net na my lewe.

Soms luister ek so na die getuienis van medegelowiges en ek word daardeur opgebou en versterk en dan weet ek weer: ‘ek behoort aan God. Ek is syne.” Ander kere luister ek weer na hierdie ervarings van my medegelowiges en ek dink: “So, iets het nog nooit met my gebeur nie.” “Is ek dan goed genoeg?” Is ek regtig ‘n kind van God?

Soms verloop die lewe vir my voorspoedig. Dit gaan goed en dis maklik. Maar dan gebeur daar iets wat alles omkrap en alles deurmekaar krap. En dan gaan dit nie meer so goed nie. Dan beleef ek die donker dieptes waarvan Ps 23 praat. En ek wonder hoekom dit nou met my moes gebeur. Waar is God in dit alles?

Die punt is: Ons hoor die beloftes van Ps 139 en Jes 43. Ons hoor die beloftes van die doop – dat ons aan God behoort en dat Hy altyd by ons sal wees. En ons glo dit, maar ons sukkel ook daarmee, want die lewe maak dit vir ons moeilik. Dit maak dat ons sukkel om die beloftes te glo.

Dis hoekom God vir ons die nagmaal gegee het. Die nagmaal maak die twyfel in ons ‘n bietjie stiller. Dit maak dat ons weer die goeie nuus wat Jesus vir ons gebring het kan glo. Met die nagmaal is dit asof Hyself voor ons kom staan en vir ons sê: “Hierdie brood en wyn is die tekens van my liggaam en bloed. Dit is vir jou om te eet en te drink, want ek het jou daarmee gekoop. Dit bevestig vir ons weer die belofte van die doop. Jy is myne en jy hoef nooit weer daaroor te twyfel nie.

Gee paar oomblikke stilte om dankie te sê.

Lees Psalm 23
     
Lied: Song 23

Stel Nagmaal in

Gesamentlike geloofsbelydenis en gebed:
Vir die brood wat ons geëet het,
vir die wyn wat ons gedrink het,
vir die lewe wat u gegee het:
Vader, Seun en Heilige Gees, wil ons U prys.

Vir die lewe van Christus in ons,
vir die beloftes van ons doop,
wat ons help om vrese te oorwin:
Vader, Seun en Heilige Gees, wil ons U prys.

Vir die mag van Christus om ons te lei
in lewe en in dood,
tot aan die einde saam met al U mense:
Vader, Seun en Heilige Gees, wil ons U prys.

Slotlied

Seengroet


No comments:

Post a Comment