Sunday, October 28, 2012

Preek 28 Oktober 2012 (Johannes)


Dankbaarheidsfees

’n Skotse predikant het elke Sondag in sy preek God gedank het vir die goeie wat in die vorige week gebeur het, maak nie saak hoe die week verloop het nie. Op ’n Vrydagnag het daar ’n storm oor sy dorpie losgebars. Huise se dakke is afgewaai. Strate is verspoel, bome is ontwortel en sneeu het geval. Die gemeente het toe gewonder waarvoor hy dié Sondag die Here sou dank. Daar was tog niks goed aan die storm nie. In sy preek het die gemeente nie veel van dankbaarheid soos gewoonlik gehoor nie. Maar hy het ook oor niks gekla nie. Toe begin die prediker met sy gebed ná die preek. Eers die gebruiklike verheerliking van God. Toe het hy in dankbaarheid tot die Vader gebid. ‘Dankie, Here, dat elke nag en dag nie soos gisteraand en vandag is nie.’

Vertel vining vir mekaar waarvoor jy vanoggend dankbaar is.

In Afrikaans het ons ‘n spreekwoord: “ons kla met die witbrood onder die arm”. Ons verloor so maklik perspektief. Ons is so geneig om vas te hak by en te kla oor al die slegte goed in ons land en in die wêreld dat ons al die goeie goed miskyk. Ons fokus is so op die negatiewe, dat ons al die positiewe goed miskyk. Ons verloor perspektief.

Ek wil gou vir julle lees van iemand in die Bybel wat ook perspektief verloor het. Dit kom uit die storie van die verlore seun. Ek het al paar keer hieroor gepreek, maar daar is soveel rykdom in hierdie storie. Net om weer te recap. Dit gaan oor ‘n pa met 2 seuns. Die jonger seun vra sy erfporsie en vertrek na ‘n ander land waar hy alles uitmors en uiteindelik tussen die varke beland. Hy besluit dan om huis toe te gaan. In plaas daarvan dat sy pa hom straf, wegjaag of verwag dat hy eers moet verskoning vra, verwelkom hy hom onvoorwaardelik terug. Dis ‘n storie van ongelooflike genade en liefde. Ek het al in vorige preke hieroor, gefokus op die pa en op die jongste broer. Vandag wil ek fokus op die oudste broer, want hy is die een van perspektief verloor het.


Die oudste broer was onvergenoegd en ondankbaar. En ons sien hoe dit maak dat hy perspektief verloor.

Wanneer hy by sy pa begin kla, sê sy pa vir hom: “kind, jy is altyd by my”. Die oudste broer se onvergenoegdheid maak dat hy nie meer raaksien watter voorreg dit was om heeltyd in sy pa se teenwoordigheid te wees nie. Die jonger broer het in ‘n ver en vreemde land eers besef hoe gelukkig hy was om in sy pa se teenwoordigheid te kon wees. Die ouer broer was die heeltyd by sy pa, maar hy sien nie raak hoe bevoorreg hy is nie. Hy verloor perspektief.

Die ouer broer se onvergenoegdheid en ondankbaarheid maak dat hy nie waardering het vir dit wat hy het nie. Die gebruik in daai tyd was dat die oudste seun twee derdes van sy pa se boedel kry en die jongste seun een derde. Die jonger broer het reeds sy deel gekry, so alles wat oorbly behoort aan die ouer broer. In plaas daarvan dat hy geniet wat hy het, kla en baklei hy eerder.
‘n Onvergenoegde en ondankbare hart maak jou blind vir die mooi en goeie dinge rondom jou. Ons moenie fokus op dit wat ons nie het nie of overgenoegd voel oor ander mense wat meer het as jy nie. Fokus liewer op dit wat jy wel het. Kom ek noem ‘n voorbeeld – ons kla mos maklik oor ons salarisse. Ons almal dink ons moet meer verdien. Het julle geweet – as jy R10 000 of meer in ‘n maand verdien, dan verdien jy meer as 80% van die mense in ons land. Ons verloor maklik perspektief.

Die ouer broer se onvergenoegdheid en ondankbaarheid maak dat hy nie kan raaksien wat regtig belangrik is nie. Waaroor kla die ouer broer? Hy kla oor die partytjie wat vir sy jonger broer gehou word. Hy kla in soveel woorde dat sy pa nog nooit vir hom en sy pelle ‘n bokkie gegee het om te slag vir ‘n lekker party nie. Sy partytjie is vir hom meer belangrik as sy broer se welstand. In plaas daarvan dat hy dankbaar is dat sy broer veilig terug is; in plaas daarvan dat hy dankbaar dat sy broer sy fout agter gekom het en teruggekom het huis toe, kla hy oor ‘n partytjie. Ondankbaarheid en onvergenoegdheid maak jou blind vir dit wat regtig belangrik is.

Ondankbaarheid en onvergenoegdheid belemmer jou verhoudings met ander mense. As die ouer broer van sy jonger broer praat, dan noem hy hom, “hierdie seun van pa”. Hy erken hom nie eers as sy broer nie. Hy fokus op dit wat sy jonger broer verkeerd gedoen het. Hy fokus op sy jonger broer se sonde.
Ons almal is soms skuldig hieraan – ons is vining om te fokus op dit wat mense verkeerd gedoen het, op hulle sondes. Ons kyk met vooroordele en oordeel na mense. In plaas daarvan dat ons net dankbaar is dat hulle by ons is.    

Al die ander mense in die storie van die verlore seun is dankbaar dat die jongste seun teruggekom het. Die pa is dankbaar, die werkers op die plaas is dankbaar, die engele in die hemel is dankbaar. Selfs ons wat na hierdie storie luister is dankbaar. Die oudste seun distansieer hom van sy broer. Ondankbaarheid maak dat jy nie met menslikheid na mense kan kyk nie.

Op hierdie dankbaarheidsondag is hierdie verhaal van die ouerbroer soos ‘n spieël wat voor ons elkeen gehou word. Dis sodat ons ons eie lewens weer sal ondersoek. Dis om ons te help om perspektief te behou en te besef dat ons baie meer het om voor dankbaar te wees as wat ons dink.

In Filippense 2: 14, 15 lees ons: “Doen alles sonder kla of teëpraat. Tree onder mense op as ligdraers in die wêreld deur die woord van die lewe uit te dra.”   

1 Tess 5:18:  “Wees in alle omstandighede dankbaar, want dit is wat God in Christus Jesus van julle verwag.”

Om heeltyd te fokus op die negatiewe en te kla, bring net verdeeldheid en frustrasie en dit gee vir die duiwel ‘n vatkans. Dit maak jou ongehoorsaam aan God (soos uiteengesit in bogenoemde verse); dit maak dat jy nie ‘n ligdraer vir God is nie; dit maak dat God jou nie kan gebruik nie en dit maak dat mense nie van jou hou nie.

‘n Interessante ding van die verhaal van die verlore seun, is dat dit nie ‘n einde het nie. Ons weet nie wat met die ouer broer gebeur het nie.  Ek dink die verhaal van die ouer broer is ons elkeen se verhaal en daarom het dit ‘n onvoltooide einde. Ons moet ons verhale klaar gaan skryf. As ons vanoggend hier uitstap het ons elkeen ‘n verantwoordelikheid om ons verhale van dankbaarheid klaar te gaan skryf.

Ek sluit af met ‘n aanhaling wat ek raakgeloop het. Dit is ook my gebed vanoggend. Lees dit saam met my op die skerm.

Be Thankful
Be thankful that you don’t already have everything you desire,
If you did, what would there be to look forward to?
Be thankful when you don’t know something
For it gives you the opportunity to learn.
Be thankful for the difficult times.
During those times you grow.
Be thankful for your limitations
Because they give you opportunities for improvement.
Be thankful for each new challenge
Because it will build your strength and character.
Be thankful for your mistakes
They will teach you valuable lessons.
Be thankful when you’re tired and weary
Because it means you’ve made a difference.
It is easy to be thankful for the good things.
A life of rich fulfillment comes to those who are
also thankful for the setbacks.
GRATITUDE can turn a negative into a positive.
Find a way to be thankful for your troubles
and they can become your blessings.
Amen.

No comments:

Post a Comment