Sunday, October 14, 2012

Preek 14 Oktober 2012


Amos 5: 6-8; 10-14

Amos was ‘n welvarende skaapboer uit Tekoa – ‘n dorpie naby die Dooie see, suidoos van Bethlehem.  Hy profeteer in die tyd van Koning Jerobeam II. Dit was ‘n tyd van militêre suksesse en ekonomiese voorspoed.
Daar was ‘n opbloei in die handel
Die Bounywerheid het floreer
Huise het vermeerder en het weelderiger geword
Binnenshuise versiering was baie spoggerig
Wynbou en veeteelt was winsgewind
Nuwe musiek is gekomponeer
Op godsdienstige gebied het die offergawes gegroei en die godsdienstige feesdae is swierig gevier.
So, dit was ‘n goeie tyd, die mense was optimisties en het gedink die Here is aan hulle kant.

Maar daar was ook ‘n donker kant aan hierdie samelewing. Die ekonomiese opbloei het net die rykes bevoordeel. Die rykes het ryker geword en die armes het armer geword. Dit was nie omdat hulle lui was nie, dit was as gevolg van uitbuiting, korrupsie en die verdraaing van die reg om die rykes te bevoordeel.
Die rykes het die grond van die armes gevat as hulle nie dadelik hulle skuld kon betaal nie. Met die armes wat dan as slawe op hulle eie grond moes werk.
Die armes is op die markte ingeloop met onbehoorlike pryse vir goedere wat hulle self geproduseer het.
Die howe het nie die armes beskerm nie en die reg is toegepas om die rykes te bevoordeel.
Mense wat opgekom het vir die reg en vir dit wat reg is, is gehaat en gebrandmerk.
Dit alles het mense moedeloos gemaak en eerder laat stilbly omdat hulle bang was om geviktimiseer te word. 
Die land is ingepalm deur ‘n bevoorregte elite wat in weelde geleef het ten koste van die minderbevoorregtes.

Dit alles het gebeur terwyl daar ‘n opbloei in die godsdiensbeoefening en die erediens was. Die rykes het die godsdiens gesien as ‘n goeie belegging, as ‘n waarborg teen onheil. Solank as wat hulle al die godsdienstige reëls en feeste nakom, sal dit aanhou goedgaan met hulle. So, hulle het godsdienstig al die regte dinge gedoen en geld gegee en offers gebring en swierige godsdienstige feeste aangebied, maar terselfdertyd die armes uitgebuit en hulle nie aan reg en geregtigheid gesteur nie.   

Terwyl ek in die week met hierdie teks besig was, is my gedagtes elke keer teruggeruk na die situasie in ons land.  Ek kon nie anders as om ons land se situasie raak te sien in die situasie in Amos se tyd nie. Hoe meer dinge verander hoe meer bly dit dieselfde.

My gedagtes het heeltyd gaan draai by die geweldadige stakings in die mynbedryf en die vervoersektor wat dreig om ons land se ekonomie tot stilstand te bring.
Die stakings oor dienslewering deur mense wat net smag na huise en lopende water.
Die krisis in die onderwys in Limpopo en die Oos-Kaap waar kinders nie boeke het om voor te berei vir die eksamens nie.
Ek wil dinge nie vereenvoudig nie, maar ons leef in ‘n land waar mynbase al hoe ryker word, terwyl die ouens wat die gevaarlikste werk in die myne doen nie ordentlik vir hulle gesinne kan sorg nie. 
‘n Land waar mense nie ordentlike huise en lopende water het nie, terwyl ons president R200 miljoen rand spandeer om sy privaat woning op te kikker.
‘n Land waar mense gryp en ten alle koste vasklou aan politieke mag omdat dit vir hulle finansiële voordeel inhou. Ons sien dit veral in die aanloop tot die ANC se leierskapverkiesing later vanjaar in Mangaung.
‘n Land waar vakbonde speel met mense se lewens en met skoolkinders se toekoms sodat hulle hulleself kan verryk.
‘n Land met groot kerke en pastore wat skatryk word terwyl hulle lidmate swaarkry.
En ons moet vir geen oomblik dink dat ons land uniek is nie. Ons sien dieselfde goed in Europa, in die VSA, in die Midde-ooste en in Australië. 

Maar kom ek kom terug by Amos. Amos kom na die mense toe en hy gee vir hulle ‘n “wake-up call”. Vir die mense van sy tyd, maar ook vir ons vandag.

Amos sê dis verwerplik om ryk te word op die rug van ander mense.
Amos sê godsdienstigheid deur mense wat onregverdig optree teenoor hulle medemens is verwerplik.
Amos sê dat dankoffers wat gesteel is en deur uitbuiting bekom is, is verwerplik.
Amos sê godsdienstige liedere wat gesing word terwyl mense vertrap word, is ‘n geraas in God se ore.
Amos sê mens kan nie jou diens aan God losmaak van jou diens aan jou medemens nie. Jou verhouding met God word gekenmerk deur jou verhouding met jou medemens.
Thomas a Kempis: “Wanneer ons staan voor die Ewige Regter, sal Hy nie vra wat het ons gesê nie, maar wat het ons gedoen.”
Ons dade vertel eintlik vir almal (en vir God) hoe ernstig ons met ons woorde is.

En dit begin by myself. Ons kan nie net agteroor sit en die politici en die vakbonde kritiseer nie. Dit help nie ons vlug Kanada of Australië toe nie. Dit begin by myself. So die vraag is: watter keuses gaan ek maak? Hoe gaan ek my vermoëns aanwend? Hoe gaan my getuienis lyk? Hoe gaan ek die mense rondom my hanteer?

Daarmee saam sê Amos dat dit net God is wat mense so kan verander. Om dit te verduidelik gebruik hy die mooi beeld in vers 8.
“Hy deur wie die Sewester en Orion gemaak is, Hy wat die donker in oggendlig verander en die dag donker nag laat word, Hy wat die water van die see roep en dit oor die aarde uitstort, sy Naam is die Here.”

Die Sewester was verbind met die winter en Orion met die somer – God bring verandering soos wat die winter in die somer verander.
Soos wat nag weer dag word en dag weer nag word – so bring God verandering.
Soos wat water van aarde opgeneem word om weer as reën op die aarde te val – so bring God verandering.
Die punt wat Amos wil maak  - as jy hierdie God aanbid, kan jy nie anders as om te verander nie. Aanbidding gaan altyd gepaard met verandering - groot en klein veranderings.  God verander jou sodat jy kan sterkstaan in Hom en kan uitstaan vir Hom. Sodat jy sal goed doen. Sodat jy sal liefhê wat goed is. Sodat jy sal opkom vir dit wat reg is en vir die reg. Sodat jy reg sal laat geskied aan hulle wat swaarkry. 

Om op te som: Ek reken Ferdinand Deist het dit alles baie mooi opgesom.
“Waar mense uitgebuit word, waar mense se regte verkrag word, waar mense nie meer mense kan wees soos wat God hulle gemaak en bedoel het nie, kom God self in beweging. Daarom dat Amos so by die mense aandring om radikaal te verander: hulle moet liefhê wat goed is en opkom vir die reg van die eenvoudige mense. Dán sal hulle lewe”

No comments:

Post a Comment