Sunday, October 21, 2012

Preek Sondag 21 Oktober 2012 - (Neil)


21 Okt 2012                      Hosea 11:1-8


Soos julle dalk gesien het, gaan ek vandag bietjie gesels oor Onvoorwaardelike liefde in Suid-Afrika.  Ek glo dat as ons hierdie land wil verander, as ons hierdie ‘n beter plek vir almal wil maak om te woon, dan moet ons mekaar onvoorwaardelike liefde, soos wat God dit aan ons kom bewys het.

Gebed

Daar is hierdie boek in die Bybel waaroor daar nogal min gepraat word.  Sommige mense het dalk nog nooit hiervan gehoor nie.  Maar ek dink dit het een van die aangrypendste verhale in.  ‘n Verhaal wat my al baie laat dink het.  ‘n Verhaal wat ek nie altyd verstaan nie.  Dit is die verhaal van Hosea!  Hierdie is nogal ‘n wille verhaal.  Baie wild.  Ek dink dat daar dalk ‘n ouderdomsbeperking op moet wees. 

Hierdie verhaal begin waar God vir die profeet Hosea ‘n opdrag gee.  God vra vir hom om met Gomer te trou.  Hierdie opdrag mag dalk nie so vreemd wees nie, totdat jy besef dat sy ‘n prostituut is nie!  Ja, God kom vra van Hosea om met ‘n prostituut te trou.  Hierdie klink nogal baie onbillik van God.  Maar Hosea, die baie gehoorsame profeet gaan trou dan met haar. 

Ongelukkig gebeur dit wat almal maar seker verwag het – Gomer is ontrou.  Baie nagte het sy net nie teruggekom huis toe nie.  Sy het gereeld by ander mans geslaap.  Maar, Hosea bly getrou.  Al laat sy hom soveel keer in die steek, kan Hy nie anders as om lief te bly vir haar nie.
Hy bly getrou t.s.v. haar ontrouheid.

Dan kom God en Hy gebruik hierdie huwelik tussen Hosea en Gomer as ‘n metafoor.  Hy vergelyk vir Israel met Gomer en Homself met Hosea.  Net soos wat Gomer ontrou was, keer op keer, so was die volk van Israel ook.  Israel was keer op keer ontrou gewees aan God.  Maar aan die ander kant, net soos wat Hosea getrou gebly het, soos bly God ook getrou. Keer op keer. 

Ek wil vir julle lees uit Hosea 11.  Ek sien hierdie gedeelte amper as ‘n opsomming van die hele boek.  Die van julle wat wil saamlees kan julle Bybels oopmaak by Hosea 11.

Lees Hosea 11: 1 – 8

Ek wil vir julle 5 vergelykings in die Ou Testament wys – 5 maniere hoe die volk na God verwys het.  Dit was 5 maniere hoe hulle vir God beskryf het. 

1.  Ons lees dat die volk na God verwys het as die Pottebakker – God was die pottebakker en ons (die volk) die klei.  Hierdie is ‘n redelike bekende beeld.  Dink daar is ‘n liedjie hieroor wat ons vandag nog sing.
2.  Die tweede beeld waarmee hulle vir God vergelyk het, was die van ‘n Skaapwagter of Herder.  God was die skaapwagter en die volk die skape.  In Jesaja lees ons hiervan: 
Jesaja 40:11  Hy sal sy kudde laat wei soos ‘n herder; Hy sal die lammers in sy arm vergader en aan sy bors dra; die lammerooie sal Hy saggies lei.
3.  Die derde vergelyking waarmee ons te doen kry, is met God wat vergelyk word met ‘n Geneesheer/Dokter. 
Ex 15:26  en gesê: As jy getrou na die stem van die HERE jou God luister en doen wat reg is in sy oë, en luister na sy gebooie en al sy insettinge hou, dan sal Ek geeneen van die siektes op jou lê wat Ek op Egipteland gelê het nie; want Ek is die HERE wat jou gesond maak.
4.  Vierdens kry ons die vergelyking met ‘n moeder.  Ja, hulle beskou God as een wat troos, net soos ‘n moeder haar kinders troos.
Jes 66:13  Soos iemand wat deur sy moeder getroos word, so sal Ek julle troos; en julle sal in Jerusalem getroos word
5.  Laastens kry ons te doen met die beeld van God as ‘n Tuinier. 

Dalk is dit bietjie ver gevat, maar een ding wat hulle hierdie beeld vir my in gemeen het, is vuil hande.  Jy kan nie enige van hierdie dinge doen sonder dat jou hande vuil raak nie.  As ‘n Pottebakker se hande skoon bly, dan het hy/sy beslis nog nie ‘n pot gemaak nie, of as ‘n tuinier se hande skoon bly, kan dit net wees omdat hy/sy handskoene aangehad het.  Selfs ‘n moeder wat doeke omruil se hande kan nie altyd skoon bly nie (ek wil net duidelik maak dat ek nie dink net moeders hoef doeke om te ruil nie).

As ons hierdie beeld in gedagte hou terwyl ons Hosea lees, is dit tog vir ons duidelik dat God bereid is om met ons te werk, al is ons lewens dalk vuil.  Al voel dit vir ons niemand sal iets met my te doen wil hê nie, niemand sal my kan liefhê nie, is dit tog duidelik dat God bereid is om sy hande vuil te maak om met ons te werk.

Al het ons Hom al soveel keer teleurgestel, al het ons al hoeveel keer ons rug op Hom gedraai of eerder gekies om die afgode te aanbid,  God se liefde brand so sterk dat Hy ons nie kan laat vaar nie.  Hy kan nie.  Hy is selfs bereid om ons daar te ontmoet waar ons nou is, al is ons op ‘n plek waar ons dalk vuil voel.  Baie van ons het mos al hierdie idee gehad dat ek eers my lewe moet regruk of dat ek eers al die regte dinge moet doen voor God my weer kan liefhê of voor ek weer in die kerk kan kom. Hosea se boodskap en die beelde wat Israel gebruik het om na God te verwys, kom bewys hierdie verkeerd.  God gee nie om hoe ons lewens nou lyk nie, Hy is bereid om ons te ontmoet net daar waar ons nou is.  Hoe vuil ons ook al mag voel.  Die kerk is juis ‘n plek vir hierdie mense.

Hierdie tipe liefde waarvan ons in Hosea 11:8 lees, is onvoorwaardelike liefde.  Dit is ‘n liefde wat niks terugvra nie.  Dit is dieselfde liefde wat Jesus aan die kruis laat sterf het.  God het ons lief net soos ons is, maar Hy het ons ook lief genoeg om ons nie te los nes ons is nie. 

Ek wil nou uitkom by vandag se tema:  Onvoorwaardelik liefde in Suid-Afrika. 
Hoe kan ons mekaar liefhê soos wat God ons lief het.  Jesus beklemtoon dit ook keer op keer in die evangelie – ons moet mekaar liefhê, onvoorwaardelik.  Ek dink as ons mekaar kan begin onvoorwaardelik liefhê in hierdie land, dan kan dit nogal ‘n groot verskil maak.  Maar ek wil vandag spesifiek kyk na hoe hierdie onvoorwaardelike liefde in Suid-Afrika lyk.  Elke omgewing of land se konteks is anders en mag dalk ‘n ander onvoorwaardelike liefde vra – maar hoe sal dit lyk in Suid-Afrika? 

 Kom ons kyk bietjie na ons land: 
1.  Ons leef in die land met die 4de hoogste sterftesyfers vir mense met Vigs, maar tog leef baie mense nog as of die siekte nie bestaan nie.  Ons is die land met die hoogste syfer vir mense wat leef met MIV.  6 miljoen mense.  ‘n Vriende van my vertel hoe hy by ‘n ryk gemeente in Pretoria gepreek het en toe ook hierdie statistieke genoem het.  Hy kon sien hoe een vrou trane in haar oe kry.  Toe hy egter vra wie in die gemeente iemand ken wat HIV positief is, het niemand hulle hande opgesteek nie.  Ons leef in ‘n land met 6 miljoen MIV positiewe mense, waarvan baie kinders is, maar ons ken nie hierdie mense nie.
2.  Ons leef in ‘n land met ‘n verskriklike hoe werkloosheidsyfer.  Ons is die land met die 3de hoogste werkloosheidsyfer.  25% van ons bevolking. 
3.  Ons leef met die grootste gaping tussen ryk en arm.  Bykans 50% van ons land lewe onder die broodlyn.
4.  Ons leef in ‘n land met van die hoogste syfers vir misdaad en verkragting.
5.  Daar word beraam dat ons ongeveer 3miljoene weeskinders in die land het.
6.  Dan wil ek nie eers praat van ons ekonomie al die korrupsie waarvan ons elke dag in die koerante lees nie.

Hierdie syfers kan mens bang maak.  Dit maak sommige so bang dat hulle dit as redes gebruik om na ‘n ander land te verhuis.  Ons hoor keer op keer hoe mense sê dat hulle nie meer die korrupsie kon hanteer nie.  Hulle kon nie meer hulle ‘klein’ salarisse verdra nie.  Die armoede was vir hulle net te veel.  Hulle glo dit dit beter sal gaan waar hierdie statistieke beter lyk. Daar in Kanada of Australië. 

Maar dan kry jy ander mense wat in ons land bly, en as jy hulle vra oor hoekom hulle bly, dan gebruik hulle hierdie selfde redes:  want die misdaadsyfer hier is hoog, hier is miljoene weeskinders, hier is ‘n groot gaping tussen ryk en arm, die werkloosheid...  Dieselfde redes, maar ‘n ander uitkyk.  Hulle verstaan dat God hulle juis daar wil gebruik waar dit sleg gaan, daar waar dinge nie net maanskyn en rose is nie. 

Terug by Onvoorwaardelike liefde in Suid-Afrika.  Hoe het ek dan onvoorwaardelik lief in ‘n land waar dit so swaar gaan. 
Ek hoor hierdie week die verhaal van ‘n bekende persoon in ons land.  Klomp slegte dinge het al met hom gebeur en hy het as kind lank op straat gebly na beide sy ouers oorlede is.  Daar het hy gereeld met die gereg gebots en is gereeld deur die polisie gevang en geslaan.  Maar hy sê dat hy sy hart vir die Here gegee het die dag toe Hy by ‘n Christen gesteel het. Hy was weer die dag honger en het besluit om by die koswinkel op Heidelberg te gaan steel.  Toe hy die vrug so van die rak af haal, toe gryp iemand om aan die arm.  Hy het al gevoel hoe slaan die polisie hom weer.  Maar toe hy omkyk, staan daar hierdie vrou.  Sy vat hom toe na buite waar sy eers vir hom vra wat sy naam is.  Toe vra sy of hy honger is – ‘Ja tannie’ antwoord hy toe.  Sy neem hom toe na haar huis waar sy toe vir hom kos gee en toe ook later aanneem as haar eie kind.  Dink net hoeveel mense se lewens kan aangeraak word as hulle by Christene steel.

Die aantal weeskinders in ons land mag dalk baie klink, maar dit is maar klein as dit vergelyk word met die aantal gelowiges in hierdie land.  Wat sou kon gebeur as ons besluit om onvoorwaardelik liefde te bewys teenoor hierdie kinders? 

Soveel mense en besighede dink baie keer dat Onvoorwaardelike liefde dieselfde beteken as Geld.  As ons net ons geld sal weggee vir die armes of vir organisasie, dan sal alles beter gaan., ja, dan het ons onvoorwaardelik lief.  Alhoewel die nodig is om organisasie te ondersteun, is dit nie wat die wêreld gaan verander nie.  Ons moet onvoorwaardelik liefde leef wat gespel word – moeite!  MOEITE. Eerder as om volgende keer verby iemand te stap en net R5 in sy/haar hand te druk en te dink dit is ware liefde, wat van jy gaan sit rustig by daardie persoon om te hoor hoe dit regtig gaan.  Wat die rede is dat die persoon moet vra vir geld.  Of nooi die persoon oor vir ete.  Sonder enige vooroordele!  Selfs al is die iemand wat jou al teleurgestel het.  Shaine Claiborne, die skrywer van Irresistible Revolution se dat die grootste probleem nie is dat ons nie weet van die armes nie, die grootste probleem is dat ons hierdie mense nie ken nie.

As ek God se liefde reg verstaan, en ook dit waarvan ek in Hosea lees, dan het God geen vooroordele gehad nie.  T.s.v. alles wat die volk verkeerd gedoen het, het God hulle steeds lief en kom gee Hy hulle nog ‘n kans. 

Ons sien hierdie tipe liefde ook by Jesus.  Hy kuier saam met sondaars, saam met die tollenaars, by ‘n prostituut...Jesus het geen vooroordele gehad nie.  Hy het net onvoorwaardelik liefgehad.  Ons sien ook hoe hy moeite doen met sondaars.  Hoe Hy by hulle gaan eet.  By hulle gaan sit om te hoor hoe dit gaan.

As ons werklik begin verstaan hoe lief God ons het, as ons verstaan dat Hy ons nie kan laat vaar nie, dat sy liefde te sterk brand om ons net te laat gaan, dan kan ons nie anders as om hierdie liefde, hierdie onvoorwaardelike liefde met ander te gaan deel nie.  Ek glo as ons mekaar onvoorwaardelike begin liefhê, dan kan hierdie land ‘n ander plek wees!

No comments:

Post a Comment