Sunday, February 10, 2013

Preek 10 Februarie 2012


Eksodus 34: 29-35

Greg Boyle is die stigter en direkteur van Homeboy industries. Dis ‘n nie winsgewende besigheid wat bestaan uit ‘n groep plastiese chirurge wat  tatoeermerke van oud-bendelede se lywe verwyder. Dis baie belangrik vir hulle om dit te laat doen sodat hulle kan aanpas in die samelewing as hulle wegbreek uit die bendes uit.
Hierdie tatoeermerke is gewoonlik die merktekens van die bendes waaraan die mense behoort. Dit sê aan watter bende jy behoort. Dit bevestig dat jy die eiendom van die bende is. Dis ‘n ewige herinnering dat jy vir altyd deel is van die bende en nie sonder hulle kan klaarkom nie. 
Wanneer hulle wegbreek uit die bendes uit het hierdie tatoeermerke negatiewe en gevaarlike gevolge vir hierdie oud-bendelede. As mense dit sien – is hulle bang vir die ouens. Werkgewers is ook traag om vir hulle werk te gee as gevolg van die tatoeermerke. Hulle lewens is ook in gevaar want as ander bendelede hulle sien, dan kan hulle doodgemaak word as verraaiers of drosters.
Homeboy Industries help hierdie oud bendelede om van hierdie tatoeermerke ontslae te raak, sodat hulle nuut kan begin.
Om so ‘n tattoo te verwyder is te verwyder is ‘n baie pynlike proses. Tog groei die waglys by Homeboy Industries.
Wat hierdie storie vir ons bevestig, is dat alhoewel voorkoms nie alles is nie, is daar tog tye en plekke waar dit belangrik is. Vra maar enige bendelid wat uit die bendelewe wil ontsnap.

In ons teks sien ons ook dat voorkoms ‘n geweldige impak gehad het. Nadat Moses daar op die berg ‘n ontmoeting met God gehad het, verander sy voorkoms - sy gesig het geblink. Dit het ‘n geweldige impak op die Israeliete gehad. Waar hulle voorheen nie vir Moses geken en vertrou het nie – het dit gemaak dat hulle met meer respek na Moses en die wet gekyk het. 

Kom ons kyk net gou na die groter prentjie sodat ons hierdie teks beter kan verstaan.

In Eksodus 24 word Moses en die ander leiers beveel om teen Sinaiberg op te klim om die Here te gaan ontmoet. Maar net Moses mag tot heel bo klim. Terwyl hy daar bo is ontvang hy die 2 klippe met die 10 gebooie daarop. Hierdie gebooie is amper soos ‘n tattoo in ‘n bende – dit bevestig dat die volk aan God behoort.  
Moses bly lank weg en die volk begin dink dat hy nie weer terugkom nie. Daarom lees ons in Hoofstuk 32 dat hulle toe ‘n goue kalf maak om te aanbid. En kort voor lank aanbid en dans hulle voor hierdie goue kalf.
Toe Moses uiteindelik van die berg afkom en sien wat die volk besig is om te doen is hy so kwaad en ontsteld dat hy die 2 klippe met die wet daarop stukkend gooi.
Maar ten spyte van sy woede en teleurstelling hou Moses aan om vir die volk by God in te tree. Hy smeek eintlik by God om hulle nie te los nie.
God hoor hom en bevel hom om weer teen die berg op te gaan. En daar ontvang hy dan 2 nuwe klippe met die wet daarop. So, ten spyte van hulle ongehoorsaamheid en afgodery gee God vir die volk ‘n tweede kans.

Dis tydens hierdie tweede keer wat Moses se gesig anders lyk. Letterlik staan daar “die vel van sy gesig het geblink”. Dit het gebeur omdat hy in God se teenwoordigheid was. Hy weerkaats die teenwoordigheid van God. En dit het gemaak dat die volk anders na hom gekyk het. Waar hulle voorheen nie veel respek vir hom gehad het nie en hom afgeskryf het, ontvang hulle hom nou met respek. Skielik het hy nou gesag by die volk.
Die boodskap daarvan is dat God in ‘n spesiale verhouding met Moses staan. Hy is God se verteenwoordiger en die volk moet sy boodskap ernstig neem.

In die Nuwe testament sê Paulus dat hierdie weerkaatsing van God se teenwoordigheid wat Moses se gesig laat blink het, is op ons almal van toepassing.
1 Korintiërs 3:18 – “Ons almal weerspieël die heerlikheid van die Here, want die sluier is van ons gesig af weggeneem. Ons word al meer verander om aan die beeld van Christus gelyk te word. Die heerlikheid wat van ons uitstraal, neem steeds toe. Dit doen die Here wat die Gees is”

Hoe nader ons aan Christus kom, hoe meer weerspieël ons gesigte ons geloof. Ons gesigte gaan nie noodwendig blink soos Moses se gesig nie, maar elke keer wat ons ‘n ontmoeting met God het behoort ons anders te wees en anders op te tree. 

Die boek Pelgrim se reis, gaan oor die geloofsreis van elke Christen. In een toneel voel die Pelgrim/christen dat die reis teveel en te moeilik word. Dan vra die Evangelis vir hom:  “Sien jy daar anderkant ʼn hek?” Hy antwoord: 'Nee.' Toe sê die Evangelis vir hom: “Sien jy daar anderkant ʼn lig wat skyn?” Pelgrim antwoord:” Ja, ek sien dit!” Toe het Evangelis gesê “Hou daardie lig altyd in jou oog en stap in die rigting van die lig en dan sal jy die hek sien!”

As ons Jesus se lig dophou, dan bly ons op die regte pad. Dan gebeur met ons wat met Moses gebeur het. Hy verlig ons lewe. Hy verander ons. Net soos Hy met ‘n klomp mense in die Bybel gedoen het. Kom ek noem ‘n paar voorbeelde.
Op sy eie het Moses skape in die woestyn opgepas – saam met God het hy die Jode uit Egipte gely.
Op sy eie was Dawid ‘n skaapwagter van sy pa se skape – saam met God het hy die beste koning van Israel geword.
Op sy eie was Johannes die doper ‘n mislukking – saam met God was hy ‘n profeet wat die pad vir Jesus voorberei het.
Op haar eie was Maria ‘n onbelangrike tiener dogter – saam met God was sy Jesus se ma.
Op sy eie het Petrus vir Jesus verloën – saam met God het hy voor duisende mense gepreek.
Op sy eie was Paulus hoogmoedig en ‘n vervolger van Christene – saam met God het hy die grootste sendeling geword. 
Uit hierdie voorbeelde sien ons: God verlig ons. Verander ons. Maak ons meer. Hou ons op die regte pad.

Hierdie ontmoeting met God bring ons ook in beweging. Moses kom van die berg af met die 10 gebooie in sy hand. Die 10 gebooie was bedoel as riglyne vir die lewe. In die Nuwe Testament word dit opgesom as liefde vir God en liefde vir jou naaste.
Paulus bevestig dit ook as hy skryf in 1 Korintiers 3: 18 – “ons almal weerspieël die heerlikheid van die Here”. Dit beteken – gelowiges wys iets van God in die wêreld. Gelowiges maak dit makliker vir mense om vir God raak te sien.

Hoe doen ons dit? Ek wil vir julle ‘n lied speel wat dit verduidelik. Dis ‘n lied deur Jewel en die lied se naam is “Hands”.
 
Dis waartoe hierdie verhaal van Moses ons oproep.
Mag ons gereeld sulke veranderende ontmoetings met God hê.
Mag ons lewens weerkaatsings wees van hierdie ontmoetings.
Mag mense God se oë en hande van liefde deur ons beleef.

No comments:

Post a Comment