Sunday, February 17, 2013

Preek 17 Februarie 2013


Sondag 17 Februarie 2013
Trots om 'n Christen genoem te word!

Willie Steyn se storie

Ek het verlede naweek huweliksvoorbereiding gedoen met ‘n paartjie wat in April trou. Die man, Peter, se ma het dit gereël. Haar naam is Petrovna. Ek was nuuskierig oor haar naam, want sy is so Afrikaans soos wat jy kan kry en wou weet waar haar Russiese naam vandaan kom. Toe vertel Peter vir my die volgende fantastiese storie…
Sy oupa grootjie was Willie Steyn, een van die boere se bevaamde kommando-leiers. Willie Steyn se vrou en kinders wat in Seepunt se konsentrasiekamp toe hy gevange geneem is. Hy is saam met ‘n klomp ander boere-gevangenes op ‘n skip gesit wat onderweg was Ceylon toe (in Indië).
Vyf gevangenes (Lourens Steytler, George Steytler, Willie Steyn, Piet Botha en ‘n Duitser) het op weg Ceylon toe ontsnap deur oorboort te spring. Hulle moes meer as 8km swem om by ‘n Russiese skip uit te kom, wat hulle genadig was en uit die water gehaal het. Die kaptein se naam was Vladimir Petrov.
As ‘n kaptein jou red, was jy lewenslank aan hom verbind omdat hy jou lewe gered het – en soms moes mense vir die res van hull ewe vir daardie kaptein werk. Maar nie alle kapteine het hierdie gebruik afgedwing nie. Vladimir Petrov het hulle laat teruggaan huis toe…
Na ‘n lang terugreis en vele ander draaie is Willie Steyn weer met sy gesin herenig. Hy en sy vrou het nog een kind gehad – en hulle het hom Vladimir Petrov genoem, ter nagedagtenis en uit dankbaarheid vir die kaptein wat sy lewe gered het.
Vladinir Petrov Steyn het met trots sy naam gedra en, toe sy oudste kind gebore is, haar die vroulike vorm van Petrov genoem: Petrovana… Ook sý dra haar naam met groot trots! En raai wat het sy háár oudste seun genoem? Darem nie die Russies weergawe nie, maar die Engelse weergawe: Peter. Petrov – Petrus – Peter. En ook hy dra sy naam met groot trots!

Ons stories

Wat ‘n wonderlike storie? Maar toe ek later verder daaroor nadink, besef ek: dit is ons almal se storie! Ons is gered deur ‘n ‘kaptein’ met die naam Jesus Christus; ons is ons lewe aan Hom te danke – en ons dra Sy naam. Ons word Christene genoem! En, net soos Peter en sy ma en sy ouma, behoort ons ons naam met groot trots te dra!

Ons fokustekste

Om Christen te wees – en met trots – het implikasies vir ons lewe… Ons fokustekste van vanoggend spel dit baie duidelik uit:
1.      Matteus 5: 14 – 16 Julle is die lig vir die wêreld. 'n Stad wat op 'n berg lê, kan nie weggesteek word nie; ook steek 'n mens nie 'n lamp op en sit dit onder 'n emmer nie maar op 'n lampstaander, en dit gee lig vir almal in die huis. Laat julle lig so voor die mense skyn, dat hulle julle goeie werke kan sien en julle Vader wat in die hemel is, verheerlik.”
2.      Filippense 2: 15 Sorg dat julle bo alle verdenking staan en opreg bly, onberispelike kinders van God te midde van ontaarde en korrupte mense. Tree onder hulle op as ligdraers in die wêreld deur die woord van die lewe uit te dra.”
Christene, soos Christus, moet uitstaan! Christene is mense wat met ander tipe waardes lewe as al die ander mense in ons samelewing. Christene het die lig gesien en die bron van die lewe ontdek. Christene het ‘n roeping om hulle lig te laat skyn en die lewe in hulle te laat oorvloei na ander…

Maar wat beteken dit prakties?

Ek wil twee voorbeelde gee van mense wat sigbaar hulle ‘naam’ met trots dra.
Eerstens: Hashim Amla
§   Hy is ‘n Moslem, maar word deur almal gerespekteer, wat ook al hul geloofsoortuigings
§   In 2006 het Dean Jones, ‘n Australiese kommentator, gesê: “The terrorist has got another wicket.”  Hy’t nie besef die microfoon was aan nie. Amla was bitter ontsteld, maar die manier waarop hy dit hanteer het, het wêreldwyd groot respek afgedwing
§   Vanwee sy geloofsoortuigings weier Amla om die Castle logo op sy hemp te dra en weier hy ook om die geld te aanvaar wanneer Castle ‘n toets / wedstryd borg – dit word aan welsyn geskenk. Daar is ander Moslems in sy span en hulle deel nie sy oortuiging nie, maar almal respekteer sy besluit en hy probeer dit nie op sy mede-spelers afdwing nie. Hy laat hulle nie voel dat hy beter is as hulle nie…
§   Ons kan twee dinge by hom leer: 1) hoedat hy rustig, dog onwrikbaar, opstaan vir wat hy glo – al staan hy alleen en al moet hy ‘n prys betaal; en 2) dat hy dit op so manier doen dat mense vir hom respek het en dat hy nie neersien op mense wat ander oortuigings het nie.

Tweedens: Euan Murray
§   Hy is ‘n Christen rugbyspeler van Engeland wat weier om op Sondag rugby te speel. Hy het as jong kind besluit dat dit nie reg is nie, en hy hou vandag nog by sy besluit.
§   Het verlede Sondag uitgesit toe Skotland teen Frankryk gespeel het in die 6-nasies toernooi.
§   Rugby en Christus is sy twee groot liefdes en dis vir hom baie moeilik wanneer die twee in stryd is. In ‘n onderhoud met hom kon ‘n mens duidelik die hartseer in sy stem hoor toe hy praat oor die wedstryd wat hy gemis het: "‘I missed being part of it,’ he says quietly. ‘Someone actually told me the score the last time and I was really, really happy that we'd won’.”
§   Die joernalis het vir hom gevra of hy seker is dat hy die regte besluit geneem het. Na ‘n lang stilte het hy gesê: “Volgens wat ek glo was dit die regte besluit”. Toe vra die joernalis: “Was dit emosioneel die regte besluit?” Hy het sy asem stadig uitgeblaas en geantwoord: "Well, when you really become a Christian, life's a battle. You're going against the tide. The crowd are going one way and you're going another. It's always going to be a battle to be different. The easy thing is to go along with the crowd, everybody's doing it. You know? Try going the opposite direction to a crowd. It's hard..."

Wat beteken dit om trots te wees om ‘n Christen genoem te word? Wat doen ‘n mens om jou lig te laat skyn en lewe uit te dra? Die antwoord sal vir elkeen van ons anders wees, maar dit sal van dieselfde plek af kom: ons persoonlike verhouding met God. Ons moet elkeen saam met God duidelikheid kry oor wat ons glo – en dan onverskrokke daarby hou!

Maar hiervan kan ons seker wees: ons almal sal by tye uitstaan…! Daar salt ye wees wanneer ons nie sal meedoen met die mense om ons nie. Daar sal tye wees wanneer ons uitsit, agterbly, wegstap, omdraai en standpunt inneem.
Waarin ons ook al glo, ons moet rustig, dog onverskrokke daarby hou en daarvoor opstaan! Want dit is wat Jesus gedoen het…!

Gedagte vir die week: Those who stand for nothing fall for anything (Alexander Hamilton) 

No comments:

Post a Comment