Sunday, September 1, 2013

Preek 01 September 2013

Die wel en weë van Jona
Jona 1: 17 – 2: 10


Verlede week het ons gepraat oor die roeping van Jona om die goddelose stad Nineve aan te spreek en op te roep tot bekering. Jona wou dit nie doen nie en het eerder ‘n boot Tarsis toe gehaal. Ons is maar almal so – ons vlug weg van God se opdrag om in Nineve ‘n verskil te maak. Ons wil eerder in veilige Tarsis bly, maar God roep ons om in die Nineve’s van hierdie wêreld ‘n verskil te maak.

As ons oor Jona praat, dan is die eerste gedagte mos – VIS. Vandag gaan ons praat oor die gedeelte waar Jona in die vis se maag beland het. Verlede week het ek gesê dat sommige mense verstaan die verhaal letterlik, ander sien dit weer meer metafories. Uiteindelik maak dit nie saak hoe jy dit verstaan nie, want daar is ‘n boodskap wat groter is as die vis. En dis waarby ons wil uitkom.
“I was so obsessed with what was going on inside the whale that I missed seeing the drama inside Jonah!”
So, kom ons vergeet vanoggend van die vis en probeer by die boodskap uitkom.

Kom ek recap net gou weer die storie voordat ek by die teks uitkom. Jona is op die skip op pad na Tarsis. Skielik breek daar ‘n groot storm uit wat almal bang maak. Die matrose op die skip het begin om te bid – elkeen vir sy eie god. Hulle het begin om goed oorboord te gooi sodat die skip ligter is. Terwyl dit alles gebeur, slaap Jona lekker. Omdat die mense nie al die wetenskaplike kennis van weerpatrone en storms het wat ons vandag het nie – as so iets gebeur, soos hierdie storm, het hulle dadelik gevra – wie se skuld is dit dat hierdie storm oor ons kom. Jona sê toe, hy dink dis sy skuld omdat hy van God af wegvlug. Die uiteinde is dat hulle hom toe oorboord gooi. Dis waar ons teks vanoggend begin.

Lees die teks.

Ek dink die punt van hierdie gedeelte is dat verlossing van God af kom – soms op snaakse en onverwagte maniere. Na ‘n paar slegte dae, waarin Jona moes gevoel het dat sy tyd hier op aarde verby is, ervaar hy God se verlossing op ‘n baie onverwagte manier. Met die hulp van ‘n groot vis.

Terwyl hy daar in die vis is, bid Jona ‘n gebed. Sy gebed is ‘n dankgebed, wat natuurlik vreemd is, omdat hy dit bid voordat hy die verlossing beleef het. Hy dank vir God vir verlossing voordat hy nog die verlossing beleef het – terwyl hy nog binne-in die slegte omstandighede is. Die gebed is eintlik ‘n profetiese gebed waarin hy uitsien na die verlossing wat nog gaan kom. Dus: te midde van die chaos en slegte omstandighede waarin hy hom bevind kies Jona om dankbaar te wees eerder as om te kla.

Wanneer ons deur slegte of moeilik goed gaan in die lewe, dan is dit mos baie natuurlik en baie maklik om te kla daaroor.
Here, hoekom gebeur dit of dat met my?
Here, hoekom gebeur dit juis nou op hierdie stadium met my?
Here, wat het ek gedoen om dit te verdien?
Ons almal vra hierdie vrae. Dis natuurlik en ek dink nie God neem ons daarvoor kwalik nie. Dis maar deel van menswees.
Maar ons kan ook leer by Jona – in daardie slegte omstandighede gee Hy vir God ‘n offer van lof. Hy kies, m.a.w. om nie te kla nie, maar om eerder te fokus op dankbaarheid.
Sielkundiges, dokters ens. sal ook vir ons sê dat dit baie beter vir ons is om soos Jona op dankbaarheid te fokus. Dis goed vir ons geestelike, emosionele en fisiese gesondheid.

Maar dan is daar ook ‘n ander kant van Jona wat ons in sy gebed kan raaksien. Nêrens in die gebed vra Jona vergifnis nie. Nêrens bely hy dat hy verkeerd was nie. Trouens in vers 3 sien ons dat hy vir God blameer:
U het my die diepte ingegooi, diep in die see, en die watermassa het my omring. U het golf na golf oor my laat gaan.”    
Hy neem geen verantwoordelikheid daarvoor dat dit sy keuse was om God te ignoreer en eerder Tarsis toe te vlug nie. Hy blameer liewer vir God. Hy is maar net die victim.

Jona is ook lekker veroordelend. In vers 8 bid hy:
Die wat op nuttelose afgode vertrou, verlaat Hom wat liefde aan hulle betoon.”
Dit verwys waarskynlik na die tyd toe hulle op die boot in die storm was en die matrose tot hulle afgode gebid het, terwyl Jona gelê het slaap het. So, Jona is afwysend en veroordelend teenoor die mense wat op afgode vertrou, maar hy dink nie daaraan dat die matrose op daai oomblik in die storm meer geloof in hulle afgode gehad het, was wat hy in God gehad het nie.
Jona is ook arrogant. Nadat die vis hom uitgespoeg het, sou mens dink Jona het sy les geleer en dat hy dadelik Nineve toe sou gaan. Maar nee, God moet hom ‘n tweede keer vra om te gaan.

So, Jona vra nie vergifnis nie, hy sien homself as ‘n victim en hy is bietjie arrogant en veroordelend.

Maar die wonderlike is – tog kies God om vir Jona te gebruik. God se keuse van Jona hang nie af van Jona se goedheid nie. Dit hang alles af van God se genade. God se genade word steeds oor Jona uitgestort al hardloop hy weg en al is hy arrogant. God se genade is nie net vir uitgesorteerde mense nie. Sy genade reën op die uitgesorteerdes en op die onuitgesorteerdes. Sy genade reën op die geregverdigdes en die ongeregverdigdes. Ons almal kry dit sonder dat ons dit verdien.

Ek is ook soos Jona. Ek hardloop ook soms weg van die goed wat God van my vra. Ek hou ook van my comfortzone. Ek kla ook as dinge nie uitwerk soos wat ek gehoop het nie. Maar ek vind troos daarin dat as God lief gebly het vir Jona, dan sal hy ook lief bly vir my. Ons sondes en ons foute sal nooit God se genade wegvat nie. En daarvoor kan ons soos Jona sing van dankbaarheid.

So, alles kom terug na dankbaarheid toe. Wees dankbaarheid eerder as om te kla. Wees dankbaar vir genade wat nooit opraak nie. Koester dankbaarheid en gaan oefen dankbaarheid. Bid elke dag daarvoor want dit kom nie vanself nie. Laat dankbaarheid uit jou vloei sodat jy ‘n seën vir ander kan wees.

Gebed
Miskien is jy vanoggend soos Jona – vasgevang in slegte omstandighede. Dalk oor verkeerde keuses. Dalk oor goed wat gebeur het. Jou respons is om te kla en ‘n slagoffer te wees. Dan bid ek vir jou vir dankbaarheid vir dit wat jy wel het en vir die verlossing wat God sal gee. Want Hy belowe Hy sal alles ten goede laat uitwerk.
Miskien voel jy vanoggend, jy is nie goed genoeg nie. Jy is vol foute en nie uitgesorteer nie. Miskien voel jy - Hoe kan God vir my lief wees. Hoe kan Hy my gebruik? Hoe kan Sy genade vir my genoeg wees, ek verdien dit nie? Dan bid ek vir jou, dat jy onder die indruk sal kom van God se genade en liefde vir jou. Dat jy sal besef jy hoef nie goed genoeg te wees vir God nie. Sy genade is vir jou genoeg. Jy hoef net daarvoor dankbaar te wees.


No comments:

Post a Comment