Sunday, September 29, 2013

Preek 29 September 2013


Die stad Sarajevo is die hoofstad van Bosnië-Hersegovina. Dis ‘n pragtige stad geleë tussen berge en ‘n rivier wat daar deur vloei. Dis ook ‘n stad wat bekend is vir kulturele en godsdienstige diversiteit.  Dis die enigste stad in Europa waar jy ‘n moskee, katolieke kerk, ortodokse kerk en ‘n sinagoge in dieselfde woonbuurt kry. Daarom word dit ook genoem die “Jerusalem van Europa”. Dis ‘n stad met ‘n lang en besondere geskiedenis. Dit is ook die stad waar die 1984 Winter Olimpiese spele gehou is.
Maar dis ook vir ‘n ander, meer ongelukkig rede bekend.  Dit is bekend as die stad wat die langste onder beleg was in die geskiedenis van moderne oorlogvoering – van 1992 tot 1996.
Dit het gebeur in gedurende die tyd van die Bosniese oorlog. Dit was ‘n etniese konflik tussen die Serwiese en Bosniese mense wat uitgebreek het nadat Bosnië- Hersegovina in 1992 onafhanlik geword het van die ou Joego-Slawië. Dit was ‘n baie wrede oorlog waarin baie onskuldige mense vermoor is. 

In hierdie tyd wat die stad so onder beleg was het daar iets gebeur wat uitgestaan en hoop gegee het. Op 27 Mei 1992, het daar ‘n lang ry mense geduldig vir brood gestaan en wag by die laaste bakery in die stad toe daar ‘n bom op hulle neergeskiet is – 22 mense is slag dood.

Verdran Smailovic - ‘n baie talentvolle tjellospeler, wat lid was van die Sarajevo filharmoniese orkes, het toe besluit om iets aan die oorlog te doen – met dit wat hy die beste ken - musiek.
So, het hy begin om sy tjello te speel in verwoeste geboue in Sarajevo. Hy het ook gereeld by begrafnisse gespeel terwyl die begrafnisse deur sluipskutters geteiken was.

Coenie de Villiers – die bekende Afrikaanse sanger het ‘n aangrypende liedjie geskryf oor die Tjellis van Sarajevo. Kom ons luister daarna.

Te midde van die chaos, die verwoesting, die dood en hartseer het die tjellis van Sarajevo die mooiste musiek gemaak. Dis heeltemal uit plek uit. Maar dis hoe dit werk met dade wat hoop gee. Dis hoe God werk – op heeltemal onverwagte en uit plek uit maniere. In die Bybel is daar ook so ‘n verhaal.


Dit was die swaarste tyd in die geskiedenis van Israel – die Babiloniërs sou in ’n kwessie van dae die stad Jerusalem plunder en hulle sou in ballingskap weggevoer word. Daar was geen hoop meer oor nie… menslik gesproke natuurlik.
Jeremia is in dié tyd in die tronk toegesluit. Toe doen Jeremia ‘n eienaardige ding. Amper soos om tjello te speel terwyl die skote om jou klap.


Te midde van die slegte, gevaarlike  omstandighede, koop hy ‘n stuk grond vir 200 gram silwer – waarskynlik baie geld in daardie tyd. Wat dit nog gekker maak was dat die Babiloniese weermag op daai stadium op hierdie stuk grond in Anatot gekamp het. Hy koop dus ‘n stuk grond waarop hy self nooit ‘n huis sou bou of druiwe sou oes nie. Om die waarheid te sê, hy koop ‘n stuk grond wat hy waarskynlik nooit self sal sien nie. Soos om tjello te speel terwyl die skote klap.

Die tjellis en Jeremia gaan heeltemal in teen wat verwag word. Hulle gaan heeltemal in teen die realiteit van hulle situasie. Hulle is optimisties wanneer die res pessimisties is. Hulle is uit pas met die wêreld, maar hulle is in pas met God.
Om tjello te speel terwyl die skote klap, om grond te koop wanneer alles van jou af weggevat word wys dat hulle nie net praat van hoop nie, hulle glo daarin. Hulle doen hoop. Want dis hoe God is. Dis wat God doen. God doen dikwels dinge op onverwagte, verrassende maniere. 

Hoop gebeur nie wanneer mens in jou omstandighede vaskyk nie. Hoop gebeur wanneer mens vir God begin raaksien al is jou omstandighede sleg.
As die tjellis net vasgekyk het in die verwoeste geboue en die dooie mense, het hy nie veel gehad om op te hoop nie. As Jeremia net die stuk grond gesien het waarop die Babiloniese weermag kamp – dan het hy nie veel gehad om op te hoop nie. Maar die oomblik toe hy raaksien dat God ‘n plan met die stuk grond het – toe het hy hoop.

Vir baie mense lyk hoop soms belaglik, want dit maak nie sin as jy kyk na die werklikheid en die omstandighede nie. Maar hoop is om God se melodie te hoor ten spyte van die werklikheid en omstandighede. Dis om in pas te wees met God.

Die omstandighede lyk nie altyd goed nie – ‘n huwelik wat sukkel. ‘n Verhouding wat uitmekaar geval het. Families wat konflik het. Ouers wat kinders afgeskryf het. Misdaadvlakke in ons land wat baie hoog is. Waar jy sukkel om werk of blyplek te kry.

Hoop maak dat huweliksmaats kies om weer te probeer eerder as om op te gee. Dis waar verhoudings herstel word of waar jy die moed kry om te vergewe en aan te beweeg waar dit skeefgeloop het. Dis waar families en ouers en kinders besluit om mekaar nog ‘n kans te gee. Waar iemand besluit om ‘n verskil te maak eerder as om net te kerm en te kla oor wat alles sleg is in ons land. Hoop gebeur waar iemand teen die verwagting in ‘n werkie kry. Waar iemand hulle huis oopstel om vir iemand ‘n tydelike blyplek te gee. Dit gebeur op Maandae aande hier by die kerk waar uiteenlopende mense saam eet en na mekaar se stories luister.

Dis net so onwaarskynlik soos om tjello te speel waar die skote klap of om ‘n stuk grond te koop waarop die soldate kamp, maar dis wie God is. Die God wat beloof Hy sal alles ten goede laat uitwerk. Die God van tweede, derde, vierde kanse.

Mag ons hoop vind in die onwaarskynlikste plekke.
Mag ons hoop vind ten spyte van ons omstandighede.
Mag ons kies om hoop praktise uit te leef soos Jeremia en die tjellis van Sarajevo.

Gebed
Here, daar is mense wat hulle in ’n hoekie opgekrul én gesterf het.
Om geen ander rede nie, as dat hulle hoop verloor het.
Here, leer ons dat ons hoop nie in onsself lê nie, ook nie ons tegnologie, ons regering of ons wette, ons taaiheid of ons moed nie …
ons hoop lê in U.
Amen.




No comments:

Post a Comment