Wednesday, September 11, 2013

Preek 08 September 2013

Die wel en weë van Jona
Jona 3: 1-10


Ons is steeds besig met die reeks oor die wel en weë van Jona. Vandag kyk ons na hoofstuk 3, maar laat ek net vining weer recap.
Twee weke terug het ons gesien hoe God vir Jona roep om in die goddelose Nineve ‘n verskil te gaan maak. Maar Jona is ongehoorsaam en vlug liewer weg van God en Sy opdrag af na Tarsis toe waar dit veilig is. Iets wat ons ook mos graag doen.
Verlede week het ons stilgestaan by Jona se gebed terwyl hy in die vis was. Dit was ‘n gebed van dankbaarheid nog voor hy verlossing beleef het, terwyl hy nog in die slegte omstandighede was. Ons het ook gesien dat God se genade vir Jona nie opgeraak het nie, al was hy ongehoorsaam,  arrogant en veroordelend. God wil hom nog steeds gebruik.


Daar word die ware storie vertel van Warren Bennis, ‘n baie belowende  junior finansiële bestuurder by IBM.  Hy was betrokke by ‘n baie riskante projek wat uiteindelik misluk het en IBM 10 miljoen dollar gekos het.  Die CEO(Hoof) van IBM,  Tom Watson snr,  die stigter en leier by IBM vir 40jr lank, het Warren ingeroep.  Natuurlik was hy vreesbevange toe hy die kantoor van die legende van die finansiële wêreld binnestap.  Met trane in sy oë het hy uitgeroep:  “U het my seker ingeroep om my af te dank.  Ek gaan u die moeite spaar:  Hier is my bedanking.  Ek bedank!”  Hierop het Watson glo geantwoord:  “Jy maak seker ‘n grap.  Ek het so pas 10miljoen dollar in jou opvoeding belê.  Ek kan dit nie bekostig om jou af te dank nie!

Dis iets hiervan wat ons ook sien in die manier hoe God vir Jona hanteer. God het reeds so baie in Jona belê en daarom gee Hy hom ‘n tweede kans. Jona se storie kan ons in ‘n paar woorde opsom: hy was ongehoorsaam, onbetroubaar, ‘n droster, arrogant – tog gee God hom ‘n tweede kans. En dit bevestig net weer vir ons – God is ‘n God van tweede kanse…derde kanse…vierde kanse. En dis nie oor wie Jona is nie. Dis nie oor wie ons is nie. Tweede kanse gebeur oor wie God is – vanuit sy genade en liefde vir mense.

So Jona kry nog ‘n kans. En hierdie keer is hy gehoorsaam en doen hy wat God vra. Hy gaan Nineve toe. In Nineve stap hy ‘n hele dag lank rond – so asof hy probeer moed kry vir dit wat hy moet sê. Uiteindelik preek hy die seker die kortste preek wat daar is. “Nog net 40 dae en Nineve word verwoes”. Agt woorde in Afrikaans, 5 woorde in Hebreeus. ‘n Lekker kort preek.
Laat my dink aan die storie van die ds. wat eendag vir sy belydenisklas gevra het: waar dink julle moet ek preek? Een van hulle antwoorde toe: oor enigiets, solank dit net die oor 15 minute is nie.

Hierdie kort preek en Jona se ronddwaal in die stad laat dit lyk asof sy hart nie in hierdie boodskap was nie. Asof hy nie eintlik geglo het dat dit ‘n effek sal hê nie. Maar weereens verras God hom.

Lees Jona 3: 5-8

Twee weke gelede het ek julle vertel hoe ‘n wrede en gevaarlike plek Nineve was. Veral vir ‘n Jood was dit ‘n gevaarlike stad, want die Assiriërs was die Jode se vyande. En dan kom hy nog met ‘n oordeelsboodskap ook. So, die feit dat hulle hom nie doodgemaak het nie, is ‘n downright miracle.
Wat dit nog meer merkwaardig gemaak het, was dat hulle na hom geluister het. Jona se woorde lei daartoe dat die mense hulleself voor God verootmoedig en tot bekering kom. Selfs die koning klim van sy troon af en erken God as koning in sy lewe. ‘n Ongehoorde ding vir ‘n Oosterse koning. Ek dink nie Jona het dit verwag nie.

Dit alles wys vir ons dat die mense dalk reg was vir Jona se boodskap. Dat hulle reg was vir verandering.
Die ouens wat navorsing doen oor die agtergrond van die Bybel sê dat daar, net voor Jona se koms Nineve toe, 3 goed gebeur het wat gemaak het dat die Assiriërs reg was vir Jona se boodskap. Goed wat hulle laat dink het oor hulle lewens.
In die jaar 765v.C. het duisende mense aan ‘n verskriklike plaag gesterf. 
Twee jaar later, in 763v.C, was daar ‘n onverwagse sonsverduistering. 
En in die jaar 758 vC volg nog ‘n meer dodelike plaag. 
Hierdie goed sou volgens hulle verstaan vir hulle ‘n “wake-up call” gewees het. Dit het hulle ontvanklik gemaak vir Jona se boodskap en die verandering wat God bring. 

Dit het my laat wonder – is ons soos Jona wat nie regtig dink dat hierdie boodskap ‘n verskil kan maak nie? Glo ons nog regtig dat God ‘n verskil kan maak? Het ons nie dalk so gewoond geraak aan die goddelike boodskap van verlossing dat ons blasé is daaroor nie?
Glo ons nog dat God ‘n verskil kan maak in ons omgewing en in ons land?
Glo ons nog dat God ‘n verskil kan maak in mense se lewens en in hulle omstandighede? Miskien is dit hoekom ons so bang is om uit te reik na mense en by hulle nood betrokke te raak, want ons glo nie regtig meer dat God ‘n verskil kan maak nie. Het ons so sinies geword dat ons nie meer dink God kan mense verander nie?
En wat van myself? Glo ek nog dat God dat God my kan verander? Glo ek nog dat God my wil en kan gebruik?

En dit bring ons dan by die laaste 2 verse van Hoofstuk 3: 9-10

Miskien sal God van plan verander? Miskien sal God nie meer kwaad wees vir ons nie? Dis seker van die mees aangrypende woorde wat daar in die Bybel is. En onthou dis die goddelose mense van Nineve wat dit vra.

Om dit regtig te begryp moet ons verstaan hoe die mense God en die gode in die algemeen verstaan het. Hulle het nie ‘n nabye en persoonlike God geken nie. Hulle het God verstaan as iemand wat daar ver is. Iemand wat koud, afsydig en onbegrypbaar is. Iemand wat streng is en nie kan verander nie. Soos daai ou liedjie van Bette Midler: God is watching us, from a distance.
Dis hoe hulle vir God beleef het.

Ek vermoed dis hoe ons ook soms vir God beleef. As ‘n God wat daar ver is. ‘n God wat onveranderlik is. Mense hoor dit baie keer wanneer mense bid – dis asof hulle God wil forseer en sy arm wil draai om tog net te luister en te verander. Dit terwyl God naby is. God luister en hoor. En soos ons in vers 10 sien – Hy verander.

En hy verander nie omdat die mense hom gesmeek het of sy arm gedraai het nie. Hy verander omdat Hy God is en omdat hy vol liefde en genade is. Nineve het nie verdien om gered te word nie – hulle het verdien om vernietig te word. Hulle word gered omdat God genadig is.
Dis die wonder van God se liefde vir elke mens – hy hou niks teen ons nie. Hy hou nie boek van die kwaad nie. Die vraag is: glo ons dit regtig?

So, in Jona 3 hoor ons van ‘n God wat nooit opgee op mense nie. ‘n God van tweede, derde, vierde kanse. ‘n God wat Vir Jona en vir Nineve nog ‘n kans gee.
‘n God wat regtig ‘n verskil kan maak. ‘n Verskil wil maak in die wêreld en in mense se lewens.
‘n God wat ons, gewone mense, wil gebruik om ‘n verskil te maak in die wêreld en in mense se lewens.
‘n God wat nie anders kan as om sy planne te verander nie, want Hy is net te genade en te lief vir mense om hulle te los soos hulle is.


No comments:

Post a Comment