Sunday, October 13, 2013

Preek 13 Oktober 2013

Deuteronomium 6: 4-13

Die Jode het wonderlike gebruike vir die uitlewing van hulle geloof. Een daarvan is ‘n besonderse gebed wat hulle baie gereeld bid. Die Shema. Hulle sê – as jy die shema bid dan erken jy dat God die heerser van jou lewe is.
Dan is geen gedagtes of gevoelens vir God meer weggesteek nie.
Dan is jy verseker dat God die hele dag en nag oor jou die wag sal hou.
Met die Shema erken jy ook dat reg is vir die hemel.
Die Shema kry ons in Deuteronomium 6: 4-5 “Luister, Israel, die Here is ons God, Hy is die enigste Here. Daarom moet jy die die Here jou God liefhê met hart en siel, met al jou krag.”

Daar is spesifieke tye wanneer dit gebid moet word en hoe dit gebid moet word.
Die Shema word in die sinagoges opgesê, wanneer iemand dood gaan. Daar is ook baie getuienisse waar die Shema deur Joodse martelare gebid is. Ook tydens die tweede wêreldoorlog in die konsentrasiekampe en in die gaskamers het jy dit dikwels gehoor.  
Maar dit word veral ook in hulle huise gebid.
Bid dit in die oggend wanneer dit begin lig word, maar voor die son opkom.
Bid dit in die aand voor middernag, verkieslik wanneer jy drie sterre kan sien.
Dit word ook gebid wanneer jy in die bed klim sodat jy met die woorde van die Torah op jou lippe aan die slaap raak.
Die shema word beskou as iets baie kosbaar, so jy moet dit met baie konsentrasie en ontsag en eerbied bid. Soos wanneer jy ‘n brief lees wat van ‘n koning af kom.
Jy moet ook jou oë toedruk met jou regterhand, sodat niks jou aandag aftrek nie.
Jy moet dit ook met ‘n stadige, singende stem sê, want dit beklemtoon God se liefde vir ons en ons liefde vir Hom.

Omdat hulle so ernstig is oor die Shema moet daar in hulle huise daaroor gepraat word. Dit moet vir die kinders geleer word
Daar was ook uitwendige tekens wat hulle daaraan herinner het. So word die woorde van die Shema op klein perkament rolletjies geskryf, in leerhouertjies gesit en vasgebind op jou voorkop en jou linkerhand terwyl jy die shema bid. Dis ook in houers by hulle deurkosyne geplaas. Alles sodat hulle nie vergeet wie God is en dat hulle God se kinders is nie.

Die volk is op die punt om by die beloofde land in te gaan. Hulle is onseker, hulle weet nie wat vir hulle voorlê nie. Daar is vreemde mense met allerhande vreemde gode. So in hierdie omstandighede het die Shema ‘n tweeledige doel….
·         om hulle lojaliteit en gehoorsaamheid aan God te beklemtoon – die god wat hulle uit Egipte gered het en aan hulle die 10 gebooie gegee het. 
·         Om die uniekheid van God te bevestig – hulle was in ‘n omgewing waar daar baie verskillende gode aanbid is. Die Shema bevestig dat God die enigste God is.

Die fondasie hiervan is die genade verbond wat God met Israel gesluit het. God het vir hulle gesê dat Hy hulle God is en dat hulle sy kinders is. En dit hang nie af van hoe sterk hulle geloof is of wat se goeie gelowiges hulle is nie – dis God wat die insiatief neem sonder dat hulle dit verdien. Hy belowe Hy is aan hulle verbind en dat Hy vir altyd aan hulle verbind sal bly.
So, met die shema bevestig hulle die verbond en hulle lojaliteit en gehoorsaamheid aan die verbond.

Ons het ook ‘n teken wat dieselfde doen as die shema en dis die doop. Die doop se fondasie is ook die Verbond. Dit wil ook vir ons bevestig dat God ons reeds ken voordat ons hom kan ken. Dat Hy aan ons verbind is reeds van voor ons geboorte af en aan ons verbind sal bly deur ons hele lewe. Dat Hy van altyd af vir ons lief was en vir altyd vir ons lief sal bly.

Soos die Shema herinner die doop ons aan die wonder van God. Die God wat ongelooflik geduldig en vol liefde en genade is vir sy volk en in al hulle behoeftes voorsien.

Soos die Shema herinner die doop ons dat God die enigste God is te midde van baie afgode. Ons het wel ander afgode, maar ons het ook afgode – soos materialisme, geld, sukses, prestasie, selfsug, mag. Die doop herinner ons dat ons nie moet toelaat dat enige iets anders God se plek in ons lewens moet oorneem nie.
Soos Martin Luther gesê het: “No one can have one God unless he clings to Him alone and trusts Him alone: otherwise he will be snatched off into a variety of works and will devise various gods.”    

Soos die shema is die doop ook ‘n waarskuwing dat ons nie so maklik van God moet vergeet nie. Ons raak so besig met ons daaglikse lewe dat ons maklik van God vergeet.
Ons is so besig om ons kinders te leer hoe om te oorleef in die moderne wêreld dat ons nie daarby uitkom om hulle van God te leer nie. Ons praat skaars oor God in ons huise.
Ons luister nie na God se insette as ons besig is met onderhandelings en groot besluite nie. Ons ontmoet Hom net op Sondagoggende, maar die res van die week vergeet ons van Hom. Ons soek sy hulp wanneer ons swaarkry, maar wanneer dit goed gaan dan is ons doodstil.    
Doop herinner ons weer aan die werklikheid van God in ons lewens en dat ons dit met ons kinders moet deel.

Soos die shema is die doop ook ‘n teken van hoop. Dit herinner ons daaraan dat God getrou sal bly, maak nie saak wat gebeur nie. Dis ‘n teken van hoop waarvolgens ons kan gaan lewe. Dit bevestig vir ons – “He’s got the whole world in His hands…His got you and me in His hands…”   

As ‘n herinnering dat jy gedoop is: Sit jou hand op jou voorkop en dan sê ons die shema hardop saam as ‘n geloofsbelydenis.
Luister, die Here is ons God. Hy is die enigste Here. Daarom moet ek die Here my God liefhê met hart en siel, met al my krag.  



No comments:

Post a Comment